Marita van der Vyver is ’n gebore Kapenaar. Sy was op laerskool in Bellville en Welgemoed, en op hoërskool in Menlopark en Nelspruit. Haar matriekjaar, 1975, was ook die Afrikaanse Eeufeesjaar. In ’n landwye kompetisie vir matriekleerlinge het sy met haar vroeg ontwikkelde woordgevoeligheid ’n studiebeurs vir vier jaar losgedig. Sy is na Stellenbosch, waar sy in 1978 ’n B.A. verwerf het. In 1979 het sy honneurs in joernalistiek verwerf, en ’n paar jaar later, as deeltydse student, ’n meestersgraad in joernalistiek met ’n tesis oor die vrou in die Afrikaanse pers.
Ná universiteit het sy ’n jaar oorsee gewerk, onder andere as au pair in die suide van Frankryk en as skottelgoedwasser in Londen. “Reis doen baie meer vir my siel as ingevoerde rome vir my gesig,” het sy in ’n onderhoud gesê.
Met haar terugkeer het sy as verslaggewer by Die Burger gewerk, as kopieskrywer by Leserskring, en daarna as artikelskrywer by Sarie. In 1987 het sy vryskut begin werk om meer tyd vir skryf te hê.
Haar jeugverhaal Van Jou Jas (1982) is bekroon met ’n beginnersprys in ’n wedstryd van Tafelberg en Sarie. Haar volgende twee jeugboeke,Tien vir ’n vriend (1987) en Eenkantkind (1991) was albei Sanlam-finaliste, en laasgenoemde is bekroon met die ATKV-prys vir Jeuglektuur.
Haar eerste roman vir volwassenes, Griet skryf ’n sprokie, het in 1992 verskyn en was ’n blitsverkoper. Marita was ’n sensasie — sy was op die radio, die TV en in haas elke publikasie, van Die Kerkbode tot Scope. Die roman is bekroon met die ATKV-prys, die M-Net-boekprys en die Eugène Marais-prys. Dit is wêreldwyd vertaal, o.m. in Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans, Spaans, Sweeds, Tsjeggies, en selfs in Chinees en Hebreeus. In 1997 is dit as toneelstuk tydens die Klein Karoo Kunstefees opgevoer, en daar is sprake van ’n rolprent.
Marita se volgende roman, Dinge van ’n kind (1994), was ’n inisiasieroman oor tieners se grootword in die jare sewentig; ’n boek oor die begin van vrouwees en die verlies van onskuld op seksuele, politieke en morele vlak. Traumatiese gebeure soos die grensdood van ’n vriend, selfmoord, dwelms en ’n tienerswangerskap vorm deel van die intrige. Dit was ’n baanbrekerboek wat die grens tussen jeugboek en volwasse fiksie verskuif het.
In 1997 is haar eerste boek vir jong kinders, Olinosters op die dak(Human & Rousseau), met die Tienie Holloway-medalje vir kinderlektuur bekroon. In dié jaar het sy ook die Internasionale Beurs van die Stigting vir Skeppende Kunste gewen, wat haar in staat gestel het om aan die International Writing Program van die Universiteit van Iowa in die VSA deel te neem.
Terwyl sy aan Wegkomkans gewerk het, het sy langer as ’n jaar in ’n idilliese Middeleeuse dorpie in Provence, Frankryk, gewoon. Sy het die roman in Suid-Afrika voltooi. Wegkomkans is reeds aangekoop deur Amerikaanse en Britse uitgewers. In 1999 het sy haar in Frankryk gevestig. Deesdae woon sy en haar Franse man, Alain, en hulle vier kinders op ‘n klein dorpie in Provence
In 2001 publiseer sy Griet kom weer, wat reeds in Engels, Hollands en Duits vertaal is, en in 2002 weer ‘n jeugboek, Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, wat bekroon is met die tweejaarlikse Sanlamprys vir Jeugfiksie en aangewys is as IBBY (International Board on Books for Young People) se “Afrikaans Honour Book” vir 2004. Dis haar eerste jeugroman wat in Engels vertaal word. Hanna Hoekom is na ‘n film verwerk.
Haar volgende volwasse roman, Vergenoeg, is reeds voor publikasie in Oktober 2003 deur ‘n Duitse uitgewer aangekoop.
Die prenteboek, Mia se Ma, het in 2005 by Tafelberg verskyn.
Die mooiste sprokies van Grimm (Illustrasies Piet Grobler), Human & Rousseau, 2010. Marita het haar persoonlike gunstelinge onder die broers Grimm se sprokies gekies – die bekendstes, natuurlik, maar ook sommige minder bekendes en selfs onbekendes – om te vertaal, af te stof en op te poets.
Rimpelstories: Boomklim, Kagiso Education, 2004;
Rimpelstories: Die simpel dinge wat mense mis, Kagiso Education, 2004
Marita se webtuiste: http://www.maritavandervyver.info/index.html