(Katrien neul by haar pa)
Pappa, Pappa, wanneer ry ons?
(Luister)
Maar dit was nou-nou al nou-nou!
(Luister)
Jippie!
(Trippel oor die verhoog na die kar en gaan sit ongeduldig)
Ouch, Pieter! Moenie my stamp nie!
(Kyk by die venster uit terwyl hulle ry)
(Wip opgewonde op haar sitplek rond) Ek sien die mallemeule! Ek sien hom!
(Stry met haar sussie) Is nie – ek het hom eerste gesien! Jy jok, Jana!
(Spring uit die kar uit en is dadelik weer opgewonde)
Pappa, Pappa, kan ek op die mallemeule ry?
Eers kaartjies kry? Agge nee!
(Staan ongeduldig in die ry)
Pappa, maak gou, asseblief, Pappa.
(Glimlag breed en begin aanstap na die verskeie ritte)
Oe, Pappa! Stampkarretjies! Asseblief, asseblief kan ek daar gaan ry?
So boem-boem, brrrrrrr, eeeeuuh, doef! (Maak of karretjies ry)
(Trippel na die karretjies en meet haarself by die lengtemeter)
Wat? Nie lank genoeg nie?
(Frons en steek lip uit, vou arms baie ontevrede)
Maar hoekom mag Pieter en Jana dan ry? Dis onregverdig!
(Gaan sit moedeloos op die grond en kyk)
(Mompel by haarself) Dis onregverdig… ek wil ook! Ek is oud genoeg, net nie lank genoeg nie!
(Kyk op na broer en suster asof hulle klaar is) Moenie vir my sê hoe lekker dit was nie! (Steek tong uit)
(Staan op en loop na die volgende rit)
(Spring opgewonde op en af)
Kyk die boot! Kyk die boot! Ag asseblief, Pappa, kan ek op hom gaan ry?
(Gaan staan opgewonde voor die lengtemeter – staan op tone)
Nie lank genoeg nie? Wat!
(Doen weer dieselfde – ontevrede)
Hoekom mag Pieter en Jana alles doen? Dis onregverdig!
(Kyk op na Ma)
Ja, ek wil op iets anders gaan ry waar Pieter en Jana nie mag nie!
(Trippel agter Ma aan en gaan staan voor die rit)
Mamma, ek wil nie perdjies ry nie. Dis vir babatjies!
(Klim ongewillig op `n perd se rug)
(Mompel ontevrede) Ja, al wat ek mag ry is die baba-perdjies! (Praat eentonig) Al in die rondte, al in die rondte… kyk hoe opgewonde is ek! Die perdjies is baie lekker! Lekker, lekker!
(Klim van die perdjies af)
(Glimlag sarkasties) Ja, dit was lekker. Maar ek wil eerder op daai ding gaan!
(Loop opgewonde soontoe, meet)
Alweer te kort? Ek sal liewer in die kar gaan sit en wag!
(Kyk na Ma)
Goed. Ek sal op iets anders gaan ry.
(Loop na `n rit)
Dis die baba-treintjie. (Nie in haar skik) Mamma, kan ek nie op iets anders ry nie?
(Luister) Goed dan. (Sug)
(Klim op die treintjie en lyk verveeld)
Treintjie-ry, treintjie ry, hoera… Lekker, lekker.
(Sing verveeld) Tjoeke-tjoeke-paf, tjoeke-tjoeke-paf-paf, kyk hoe ry ons in die babatrein…
(Klim van die treintjie af)
Mamma, kan ons nou huistoe gaan?
(Luister)
(Sug) Okay, as ek dan rêrig moet…
(Stap na `n rit) Dis dan die mallemeule! Hulle gaan seker hier ook sê ek is te kort!
(Skop die sand)
Vir enige iemand? Rêrig? So ek kan ry?
Jippee!
(Klim met nuwe energie in die mandjie saaam met die res van die gesin)
Wheee! Uiteindelik is daar een rit wat ons almal saam kan ry!
Ek, Pappa, Mamma, Pieter en Jana!
(Glimlag tevrede)
Monoloë – Laerskool
Oupa noem my Toffie
(MEISIE SIT OP ‘N STOEL IN DIE WAGKAMER VAN ‘N DOKTER.)
‘n Dokter se wagkamer is ‘n simpel plek. (KYK ROND OF STAP VAN EEN PLAKKAAT NA DIE VOLGENDE) Al wat hier is is vaal skilderye, en plakkate oor siektes en medisynes, (MAAK OF JY ‘N TYDSKRIF OPTEL EN DAARIN BLAAI.) en vervelige tydskrifte. Oú vervelige tydskrifte.
(SKUD KOP MOEDELOOS.) Gewoonlik is hier darem mense ook. Mense wat wag en vervelige tydskrifte lees. Siek mense – maar darem mense. Gewoonlik is die suster ook hier, maar sy’s al nétnou weg. Ma is al só lank by die dokter. Dis eintlik vir my wat hy moet sien, maar nou is Ma daar in! (WYS NA ‘N DEUR EENKANT.) Dis oor die toetse se uitslae, dis daarom dat ons dié tyd van die dag moes inkom as almal al huis toe is.
Jaaaa, (SUG MOEDELOOS) ek sal maar my kaartjies lees. (HAAL KAARTJIES UIT SAK EN BLAAI DAARDEUR.)
“Word gou beter. Ons mis jou. … 0/12 Netbalspan.”
“Liefkind, een van die dae is jy heeltemal gesond. Pappa.”
“Ons is lief vir jou Toffie – van Oupa en Ouma.” (GLIMLAG EN DRAAI NA DIE GEHOOR OM MET HULLE TE GESELS.)
My oupa noem my Toffie.
Nee, dis nou nie daai taai toffies wat mens by die snoepwinkel koop nie.
Toffie kom van op-tof. Dis ook net Oupa’s wat so ‘n woord ken. Oupa sê ek tof my altyd op.
Ek dink nie hy is reg nie (SKUD KOP).
Ek dra mos nie grimering nie, en ek het nie lang naels nie (GRIL). Juffrou (voeg naam in) sal in alle geval raas, en wie wil nou by háár raas kry?
Dalk is dit wat ek aantrek? (TREK AAN KLERE, DRAAI IN DIE RONDTE) Maar dis tog nie optof nie? (TREK SKOUERS OP) Ek trek maar net aan wat in my kas is. En wat kan ek nou maak as ek ‘n niggie het wat gou met haar klere verveeld raak, en ‘n ouer sussie wat uit haar klere uitREK (WYS HOE IEMAND LANGER WORD). Wat kan ek help as ek nie eintlik groei nie? (HARTSEERDERIG)
(MAAK PONIESTERT ONGEMERK LOS.)
Ek dink nie ek tof op nie! (SKUD HARE SODAT PONIESTERT LOSGAAN EN VLEGSELTJIES RONDOM KOP SWAAI.)
Ouma sê dis oor my háre wat Oupa sê ek tof op.
Ek hou van my hare! (LAAT VINGERS DEUR VLEGSELS GLY) Ek hou van hare opmaak.
(GESELS MET DIE GEHOOR) Ek dink ek was so twee jaar oud toe ek en ‘n maatjie ‘n skêr in die hande gekry en mekaar se hare geknip het! Sulke happe in. (WYS) Gelukkig het ons nie mekaar se oë uitgesteek nie! My ma het toe my hare kort gesny om al die snaakse happe weg te steek.
Maar kan jy glo, die hare het skaars uitgegroei toe het ek weer die skêr beetgekry! (VIR GEHOOR.) Dink julle nie grootmense moet skêre beter wegsteek nie?
Hóékom ek my hare gesny het, weet ek nie. Kort hare is tog vir my ááklig!
Maar ek dink dis daar waar my ding met hare begin het. Ek het al allerhande dinge met my hare gedoen. Ek hou van knippies en strikkies en snaakse bobbeltjies en haarbande en…
(OPGEWONDE) Ek hou van vlegsels en poniesterte en bollas.
Ek hou van honderde klein vlegseltjies wat as mens dit uitkam, so krrrittss (WYS) langs my kop staan. Mens vleg URE aan sulke vlegseltjies. (INGEDAGTE) Eers was dit maklik, maar nou word my arms lam daarvan… (GAAN EFFENS UITASEM EN MOEG OP STOEL)
(TREK SKOUERS REGOP ASOF SY NUWE MOED SKEP EN STAAN WEER OP.)
Maar moenie dink dat ek net van gewone vlegsels en poniesterte hou nie. O nee, ek is ‘n meisie vir kombinasies (SPREEK MET KLEM UIT: KOM-BI-NA-SIES). Partykeer maak ek ‘n poniestert aan die een kant, en ‘n vlegsel aan die ander kant… My nuutste is om my hare in klein vlegseltjies te vleg, ‘n bolla te draai, én allerhande interessante dinge in die bolla te steek. (DEMONSTREER).
(REAGEER AS DIE MA UIT DIE DOKTER SE SPREEKKAMER KOM. HULLE KRY HAAR BESIG OM HAAR HARE IN ‘N BOLLA TE DRAAI.)
Ma? Ma was lank … Hoekom huil Ma?
Kom Ma, sit nou eers. (MAAK OF SY IEMAND OP DIE STOEL LAAT SIT.)
(PRAAT MET DIE DOKTER) Hoekom huil my ma, dokter? (BEKOMMERD)
(SY LUISTER AS DOKTER PRAAT.)
(PRAAT MET HOM.) Leu… Leukemia? Wat beteken dit, dokter?
(LUISTER)
Ek kan gesond word, dokter, nê. En dan sal ek groei en groot word en weer netbal kan speel en…
(LUISTER)
As ek die behandeling kry? Ek drink mos dan al pille?
(LUISTER)
Ander behandeling? Bestraling en che-mo-tera-pie. Is dit erg?
(LUISTER)
Behandeling wat my eers sieker gaan maak voordat ek gesond word. (LUISTER). En wat? (LUISTER EN GRYP NA KOP) Gaan my hare uitval, dokter? Gaan ek… gaan ek… heeltemal kaalkop word?
(LUISTER)
(SPEEL MET HAAR HARE.) Eers kort sny… en later dalk heeltemal niks hare nie… Vir ‘n ruk, vir ‘n paar maande… Maar ek sal gesond word, nê dokter?
(LUISTER EN KNIK HAAR KOP. DRAAI DAN NA HAAR MA.)
Kom Mamma, kom ons gaan huis toe.
(WANNEER HULLE AMPER VAN DIE VERHOOG AF IS, KOM SY TERUG EN PRAAT MET DIE GEHOOR.)
(LIG KOP EN SKOUERS – KYK NA GEHOOR MET NUWE MOED.) Ek is Toffie. Ek tof nie net op nie… ek is ook so taai soos ‘n toffie.
Ek sál gesond word!
Wil jy nie koeksisters koop nie?
(MANDA STAAN, KYK VIR DIE MENSE, HEELTYD BESIG OM MENSE TE NADER OM KOEKSISTERS TE KOOP. SY HOU ELKE KEER ‘N SAKKIE OP EN GLIMLAG VRIENDELIK.)
Tannie … ek wil nie pla nie …
(DIE SIN RAAK BIETJIE WEG, OMDAT DIE VROU NIE AAN HAAR AANDAG GEE NIE. MANDA KYK DADELIK ROND OM TE SIEN WIE SY NOU KAN VRA.)
(PRAAT MET ‘N HOND OP DIE SYPAADJIE.) Hallo Hond! Waar loop jy rond, jong?
(NADER WEER DIE VOLGENDE PERSOON.)
Wil tannie nie koeksisters koop nie? (SY LOOP ‘N ENTJIE SAAM MET DIE VROU. DIE VROU IS HAASTIG EN KYK NIE EINTLIK NA MANDA NIE.) Dis net tien rand ‘n pakkie. (LUISTER) Tannie eet nie koeksisters nie? Sal tannie se man nie … (KRY ‘N AFJAK.) ‘Skuus tannie …
(GLIMLAG.) Lekker koeksisters, oom. Dis net tien rand ‘n pakkie. (LUISTER.) O, het oom nie nou soveel geld nie. Dis reg, Oom, ek sal môre ook hier wees.
(ARM WORD MOEG. RUIL DIE MANDJIE OM NA HAAR ANDER HAND.)
(GLIMLAG.) Lekker koeksisters. Dis net tien rand ‘n pakkie. (LUISTER.) Nee… dis vars gebak. Gister. (LUISTER.) Bietjie klein? (MAAK ‘N PLAN:) Jy kan dit kry vir agt rand. (LUISTER.) Ja, ek het kleingeld. (NEEM NOOT EN SOEK KLEINGELD IN HAAR SAK, KEER KLEINGELD UIT EN OORHANDIG ‘N PAKKIE KOEKSISTERS.)
(TEL DIE PAKKIES IN DIE MANDJIE.) Twee, vier, vyf, sewe, agt, nege, tien. Nog tien pakkies oor. Honderd rand – as ek alles verkoop kry. Ma sal bly wees.
(STAAN NOG EN RONDKYK – SPRING DAN VINNIG UIT DIE PAD UIT.)
Simpel! (KYK AGTERNA.) Mens ry nie fiets op ‘n sypaadjie nie! (ROEP AGTERNA.) Dis ook net jy, André! Weet nie van beter nie, nê! Simpel!
(PROBEER HAAR ORE TOEDRUK, MAAR DIS MOEILIK MET DIE MANDJIE WAS SY VASHOU) Ek hoor jou nie! Ek hoor jou nie! Sussie met die koeksisters, Sussie met die koeksisters!
(SY SKUD HAAR HARE AGTERTOE.) Maak of jy hulle nie hoor nie, sê Ma. (WORD DRIFTIGER.) Dis nie so maklik nie! Hulle hou so aan en aan. Pouses en in die klas en op die stoepe – altyd as die onderwysers weg is. Altyd waar net die kinders hulle kan hoor: Sussie met die koeksisters, Sussie met die koeksisters!
(SY RUK HAAR REG AS DIE VOLGENDE MENS NADER KOM.) Wil tannie nie koeksisters koop nie? (LUISTER.) Tannie het ook kinders in die skool? Dis nie vir die skool nie…
(NADER VOLGENDE PERSOON.)
Oom … ek wil nie pla nie … (DIE SIN RAAK BIETJIE WEG, OMDAT DIE MAN NIE AAN HAAR AANDAG GEE NIE. LAAT SAK DIE MANDJIE WAT SWAAR GEWORD HET. SY GAAN SIT MOEGERIG MET DIE MANDJIE LANGS HAAR.)
(PRAAT NA DIE GEHOOR TOE.) Nee, dis nie vir die skool nie. Dis vir onsself… dat Ma die huur kan betaal. Die hele karavaan ruik al na koeksisters – na olie en suikerstroop. (SY PRAAT ASOF SY ANTWOORDE VIR DIE VERSKILLENDE MENSE GEE.)
Dis vars oom, regtig. Ma het dit self gebak. As ek en Bennie wakker word, dan het Ma klaar die deeg geknie en gesny – reg dat ek die koeksisters kan vleg. (MAAK DIE BEWEGING SOOS MENS KOEKSISTERS VLEG EN VASDRUK.) Maar sy wag met die olie tot ons skool toe is. Sy’s bang Bennie brand. En as dit gebeur, sê Ma, is daar groot probleme. (TREK HAAR SKOUERS OP.) Ma is nog erger nadat die tannie van die welsyn by ons was.
Hulle het agter in die jaart gestaan en gesels, sy en Ma, toe ons van die skool af gekom het. Dis mevrou Conradie, het Ma gesê. Sy kom net kyk hoe dit met ons gaan.
(JAAG ‘N HOND WEG.) Sjoe! Voertsek hond. Jy kan nie die koeksisters eet nie! Gaan bedel op ‘n ander plek!
(PRAAT WEER MET DIE GEHOOR – Opmerking: Sy kan dalk ook met die hond praat – besluit self.) Sy wou alles weet, die vrou met haar lêer en deftige hare. (BEDUIE) Of ons die oggend geëet het, of ons ‘n broodjie skool toe kry, waar ek my huiswerk doen. (SKUD HAAR KOP.) Waar anders! By die tafeltjie in die karavaan – nadat ons Ma gehelp het om die sakkies te pak. Mens se hande word so taai. (LEK VINGERS AF.) Eers het ons daarvan geëet ook, maar nou nie meer nie. Naderhand eet mens dit nie meer nie. Maar ek weet dis lekker. (KNIK KOP)
Ma het haar ‘n sakkie koeksisters gegee – vir die vrou van die Welsyn. “Dis tien rand, Ma!” het ek nog gesê toe die tannie in haar kar klim, “en Ma sê altyd suiker en olie en meel is so duur. En ons moet nog die gas ook betaal!”
(SKUD HAAR KOP.) Ma het net haar kop geskud en ons styf vasgehou. Sy het nie gepraat nie. Sy het eenkant toe gekyk, sodat ons nie kan sien dat daar trane in haar oë is nie.
Ma probeer wegsteek dat sy huil. Sy het gehuil toe Pa sy werk by die myn verloor het en omdat hy so baie gedrink het en … en toe hy eendag net weggeraak het. Sy’t gehuil toe ons uit die huis getrek het. (SIT BIETJIE EN DINK – TREK DAN HAAR SKOUERS REGOP.) Maar toe het sy nie meer gehuil nie. Sy sê ons sal regkom. Ons sal mekaar help. Sy maak mos staat op ons, sê sy. (SY SNUIF. STAAN OP EN VAT WEER DIE MANDJIE ASOF SY NUWE MOED HET.)
(GLIMLAG.) Lekker koeksisters, oom. Lekker koeksisters, tannie.
Lekker koeksisters, oom. Dis net tien rand ‘n pakkie.
Tannie … ek wil nie pla nie …
(KYK BY DIE VROU VERBY.) Agge nee! Daar kom André weer. (PROBEER UIT DIE PAD UIT STAAN, MAAR ANDRé GRYP NA DIE MANDJIE. DIT PLUK HAAR VORENTOE EN DIE SAKKIES VAL UIT OP DIE SYPAADJIE.)
Haai! (SKRIK.) Simpel! Simpel, André! Kyk wat het jy nou gedoen! Al die pakkies het uitgeval.
(NABY AAN TRANE. KNIEL OP SYPAADJIE OM DIE PAKKIES KOEKSISTERS WAT VERSPREID OP DIE SYPAADJIE Lê OP TE TEL. VAN DIE PAKKIES HET OOPGEBARS.) Kyk hoe stukkend is die sakkies! Die koeksisters is almal pap!
(RAAS MET ‘N HOND WAT NADERKOM.) Voertsek hond, jy kan nie hiervan eet nie! (GOOI ‘N KOEKSISTER EENKANT TOE.) Nou goed, gaan vreet dan maar! Niemand kan dit tog nou eet nie.
(TEL AL DIE PAKKIES OP EN SIT DIT IN DIE MANDJIE TERUG. SIT ‘N OOMBLIK SO EN LOOP DAN MOEDELOOS VAN DIE VERHOOG AF.)
(NET VOOR SY VAN DIE VERHOOG AF IS, STOP SY AS IEMAND MET HAAR PRAAT.)
Oom? Was dit lekker koeksisters, oom? Dis reg, Oom. (KYK NA DIE GEHOOR, TREK HAAR SKOUERS REGOP) Ek sal môre ook hier wees.
Ek wil…
(sit moedeloos, alleen en wag vir haar ma op die sypaadjie by die swemskool met ken in hand)
Ek voel al soos ʼn goudvissie!
(vat albei wysvingers en duime en trek ooglede groot oop) Darem staar niemand my met groot oë aan nie.
(staan op en vou arms voor lyf) Maar nog steeds, vir swem is ek nou moeg!
(maak groot swembewegings) Van kleins af word jy in die water gegooi en al wat arme ek moet doen is swem… sodat ek net by die kant kan uitkom!
(sit albei hande agter ore om ʼn bakkie te vorm) Al wat ‘n mens van die kant af hoor is “swem! Sussie swem!”
(staan met albei hande op heupe) Om net by die kant uit te kom is glad nie goed genoeg vir Mamma en Pappa nie, hulle soek ‘n goue medalje om my nek!
(klink benoud) Winter en somer, regdeur is dit net swem!
(kry koud) Wie gee nou om of jy koud kry!
Of ook dalk lus is om bietjie lui te wees voor die televisie (maak of jy ‘n beker in die hand het en daaruit drink) en warm sjokolade te drink.
(staan met hande op heupe) Die antwoord is in groot vet gedrukte letters, NIEMAND!
(een hand op heup en die ander hand wys ‘nee’ met wysvinger) O, nee! En om te dink jy sou dalk “chill” by huis…
(albei hande weer op heupe) Nee, wat. Daarvan kan jy ook vergeet, Ma en Pa is amper erger as my afrigters by die swem en my onderwysers oor al die skoolwerk.
(wys met linkerhand na links en trek met regter hand vanaf links na regs ʼn horisontale lyn) Maandag regdeur tot Donderdag is dit skool toe, swem toe, huiswerk, bed. En dis wat ek elke dag doen.
(trippel op tone, baie opgewonde) Maar wag Vrydag, Vrydag is ook nog daar!
(klink verlig) Ja Vrydag, ‘n bietjie tyd vir myself om aandag te gee aan my poppe!
(geïrriteerde stemtoon en arms om lyf gevou) Toe onthou ek, Vrydae kom eet Ouma en Oupa mos by ons dan moet ek heel middag by Mamma staan en kos maak.
(opgewonde) Maar Saterdag!
(vries met hand in die lug en staar vir ‘n oomblik na die dak, in ‘n hartseer stem, arms sak stadig tot langs sye) Ag, nee! Op Saterdae is dit dan die een kompetisie op die ander en teen die tyd wat ek by die huis kom het (vryf oë) Klaasvakie lankal sandjies in my ogies gestrooi.
(arms gevou) Sondag… wel Sondag is dit vroeg opstaan, kerk toe, huis toe, eet en leer, leer, leer!
(val plat op sypaadjie neer, moedeloos) Ek wil nie meer nie, al my maaitjies dink ek is ‘n vis, want al wat ek doen is swem.
(groot oë en arms in die lug) Ek! Ek!… ek wil ook aan iets eksoties deelneem soos, soos om te dans!
(staan op en voer dans passies uit) Ja, ‘n danser so soepel soos… ag nee wat van om eerder ‘n seevaarder te word!
(dink na) Of liewers nie Mieke, as ek ‘n seevaarder word is dit terug na water toe.
(vou hande agter rug) Wat van ‘n…
(opgewonde) Ek het dit! Ek wil aan drama deelneem, ‘n aktrise, soos Charlize Theron. Ja, dit klink perfek!
(vat aan hare) Dink net my lang hare (verbeel jouself in die rok) in ‘n spierwit aandrok, op die rooi tapyt en al die ligte, aandag en kameras is (gooi hande in lug) op my.
(sit hand soos ‘n bakkie agter oor) Al wat jy hoor is my naam, Mieke, wat almal uit roep!
(gevoude arms) Ag toe-toe, skrik tog net wakker, Mieke, al wanneer jou naam uitgeroep sal word is wanneer jy alweer moet swem vir ‘n goue medalje!
(gaan sit weer plat) Mamma sê drama is vir mense wat graag skouperde wou wees, hulle en modelle soek net een ding en dit is aandag, en dat swem by my pas!
(rus ken op hand) En dit help nie eers om met Pappa te praat nie, hy fokus net op swem, swem, swem …
(staan op en loop na linker kant van gehoor) Miskien moet ek weer met Mamma en Pappa oor die swem.
(lyk geloofwaardig) Ek is tog al ‘n jaar ouer en weet mos vir swem is ek nou moeg.
(loop na regterkant van gehoor en waai vir ma wat aangery kom)
Vanaand sal ek Mamma-hulle bietjie besigheid gesels.
(ligte verdoof en beweeg van verhoog af)
Want my ma hou van rugby
Nou, ouens laat ek vir julle een wille ding vertel (‘n kort stilte). My ma is dol, been af, heeltemal gek… (kort stilte) na rugby. (Sug) Ja, ja, elke ma is mal daaroor om te kyk na haar kind as hy of sy ‘n doel gooi of drie druk of ‘n ses slaan in krieket, en ja, elke ma raak ‘n bietjie luidrugtig as hulle kind die een is wat die span laat wen.
Maar my ma, my ma raak kranksinnig. Nie net as ek iets verkeerd of as ek ‘n drie druk nie… nee (skud sy kop en lag half bitter onder sy asem). Sy skreeu vir die ‘ref’, vir die ander span, vir die dominee, vir die onnies, vir my en dan sommer my pa ook. “Ag nee, goeiste, Jannie, druk nou man!” (hy stamp sy voet en hou sy hand by sy mond asof hy harder wil gil. Sy stem is hoër as vroeër en hy maak sy ma na) “Go Jannie!…GOOOOOO!” en dan, dan raak sy eers opgewarm. Sy staan dan sommer penorent op daardie paviljoen en die hande swaai (hy swaai sy hande) kompleet soos ‘n windmeul of ‘n ligtoring in die verte. “Haai ou…” laat my spanmaats hulle dan hoor, “jou ma hou baie van rugby”. Ja, ja liewe vriende my ma hou baie van rugby. (Skud weer sy kop en gooi die bal een of twee keer op en af).
Sien, my probleem is nie die ondersteuning nie… my probleem met haar geskreeuery het begin toe sy die PEEP (hy maak ‘n ‘peep’ geluid na) woorde gebruik. (Sit die bal op die vloer neer, hy fluister half en kyk rond asof hy nie wil hê iemand moet hoor nie). Die vrou raak baie behep met die PEEP woorde, veral as die ander span vuil speel. Man, as my lewe ‘n strokiesprent was, sou dit kompleet met daardie sterretjies en kruisies wees in die praatborrels. (‘n rukkie stil asof hy dink)
Eendag staan sy mos op en dreig om self die spel klaar te speel. “Jy luister nou baie mooi vir Mamma, Jannie, (maak sy ma na) jy wys daai skepsels! (beduie in die gehoor in met ‘n frons) GO, Jannie, Mamma sê mos, go! (druk vuis in lug op). Ref, jy beter blaas as daardie bullebak weer so stamp… (wys ‘I’m watching you’). Komaan, Piet, jy kan beter… Tannie sien jou, Johan…GO … GO … (waai vuis vir aanmoediging) Ag nee, liewe Aarde, ek kan beter as dit! Jannie, as daai kind weer so aan jou stamp kom ek self na daai veld toe en wys hulle hoe dit gedoen word!”
(maak sy oë toe met sy hand en skud sy kop) Ons almal het toe ekstra hard begin speel, voluit vir die trots van ons skool, ons name en sommer ons ma’s ook.
Almal ken my ma. (Knik sy kop op en af met groot oë). Ouens, julle verstaan nie my pyn nie. (Uitdrukkingloos met arms gevou en skud sy kop in wanhoop) Almal ken (wys aanhalingstekens in die lug) ‘tannie-Jannie-se-ma’, of ‘die-tannie-wat-rugby-love’. Sy bring ook altyd Energade en lemoenskywe vir Afrika en die ouens geniet natuurlik die gratis proviand gate uit.
Almal op die paviljoen kyk dan na my ma asof sy ‘n engel gestuur is van die hemel, ‘n perfekte ma wat tyd en krag het vir alles. Min wis al die ander ooms en tannies hulle kinders gaan nou deurloop as referee ‘Jannie-se-ma’ aan die skreeu gaan. Wanneer my ma dan begin skreeu, of ‘cheer’ (wys aanhalingstekens) soos sy dit noem, raak die paviljoen skoon omgekrap, onrustig, en ons skool se ma’s kompeteer met mekaar om te sien wie kan die hardste bulder.
“Jannie! Kry daai PEEP bal nou!”
“Alex, jy kan mos sien jy moet keer!”
“Maggies, Piet, mooi so seun kry hom!”
“Daardie PEEP ref moet oppas ek klim nou hier af!”
En dan begin die ouens in my span weer kliphard speel vir al die skreeuende ma’s.
Julle wonder seker hoekom ek so aangaan oor my ma en rugby? Wel, eintlik is ek baie trots. Terwyl ander ma’s koekies bak, naaldwerk doen en hulle naels verf (maak asof hy naels droog blaas), staan my ma soos Victor Matfield (tel weer die rugbybal op) en bulder vir ons om harder te probeer, sodat ons goed doen, sodat ons die oormag kan wen met ‘n bietjie probeer.
Maar om ‘n lang storie kort te knip (‘n kort pouse). Ons het toe die trofee vir die beste rugbyspan hierdie seisoen gewen. En ‘tannie-Jannie-se-ma’ was in die skare besig om kliphard saam met die ander ma’s te juig.
En wat sê ek, Jannie, as mense my vra hoe ek kaptein gaan word van die Springbokke?… (gooi bal weer op en af )
Ek sê doodeenvoudig (trek sy skouers op): Want my ma hou van rugby.