So maak mens – seniors

Die volgende riglyne is opgestel na aanleiding van redenaarsrepliek. Dit is handig vir Ma wat moet gaan sit en toespraak skryf of wat later die klein redenaar moet afrig. Die kommentaar geld veral vir die ATKV se redenaarskompetisie, maar is natuurlik ook toepaslik op ander redenaarsgeleenthede.

SENIORS

Alles wat vir die juniors geld, is ook ter sprake vir die senior sprekers. Hier volg net addisionele raad en inligting.

  • Redenaarskompetisies is in die eerste plek daar om jou vaardigheid in taal uit te beeld. Die gemak waarmee jy praat is amper die belangrikste eienskap van ‘n goeie toespraak. ‘n Ontspanne spreker laat die gehoor ook ontspan.
  • Redenaarskompetisies is ook leergeleenthede – ‘n deel van jou opvoeding. Neem kennis van kommentaar en kritiek op jou terugvoer van die beoordelaars. Dis al hoe mens leer! 
  • Daar is nou maar eenvoudig iets soos persoonlike smaak. Selfs die mees gesoute beoordelaar soek ‘n X FAKTOR by ‘n spreker, daardie IETS wat die spreker doen of sê, wat vir hom/haar spesiaal is. Weet dus dat die wenner van die aand dalk nie almal se persoonlike gunsteling is nie, maar dié van die beoordelaar. Daar is algemeen aanvaarde kriteria, bv
    o Houding
    o Spraakkwaliteit – intonasie, duidelikheid, tempo, uitspraak
    o Inhoud van toespraak – uiteensetting, oorspronklikheid, ens
    o Entoesiasme en oortuiging
    o Bewyse van navorsing/logika
    o Gehoorkontak
    o Hantering van humor/ hulpmiddels
  • Aangesien die wenners van die aand na die ATKV-kompetisie deurdring, moet die spreker ook onvoorbereid kan praat. Die top drie sprekers gaan teruggeroep word vir ‘n onvoorbereide toespraak. Lees asb die nota’s betreffende die Geleentheidstoespraak.
  • Hulpmiddels: kaartjies – netjies, nie groter as A5 nie. Ander hulpmiddels moet effektief deel wees van die toespraak en nooit die aandag aflei van die woord nie. Geen plakkate of oudiovisuele hulpmiddels nie, asb!
  • Verwysings: vir senior redenaars, moet daar ‘n verwysing vir elke paragraaf wees. Dieselfde bron kan natuurlik meer as een keer in ‘n toespraak gebruik word. Oppas vir internet verwysings! Dit raak ongelooflik irriterend om na ‘n rits verwysings te luister wat almal begin met: “Ek lees op die internet op die webblad www.pietskietdiekat.co.za” of wat ookal. Varieer die manier waarop jy verwys, bv:
    – Die stigter van Microsoft, Bill Gates, sê is sy boek The Road Ahead, dat rekenaars nog in hul babaskoene staan.
    – Microsoft se tuisblad bevat interessante statistiek rakende internetgebruikers
    – ‘n Artikel deur Charles Malan op die Litnet webwerf van 19 Mei, beweer dat…
    – Ek stem saam met die dramaturg, William Shakespeare wat destyds geskryf het, “All the world’s a stage…”


    Sterkte aan julle een en almal!

So maak mens – Juniors

Die volgende riglyne is opgestel na aanleiding van redenaarsrepliek. Dit is handig vir Ma wat moet gaan sit en toespraak skryf of wat later die klein redenaar moet afrig. Die kommentaar geld veral vir die ATKV se redenaarskompetisie, maar is natuurlik ook toepaslik op ander redenaarsgeleenthede.

JUNIORS

  • Alhoewel die gr i en ii leerders nog baie klein is, moet hulle en hul ouers reeds kennis neem van die formaat van ‘n redenaarstoespraak. ‘n Algemene tema word dikwels gegee, bv. “Kompetisie”. Die tema klink dalk heel eenvoudig, maar elke kind moet nou (natuurlik met behulp van die ouers) sy eie onderwerp formuleer. Onthou ook: ‘n redenaar moet altyd oor iets redeneer en nie bloot vertel nie. Wenk aan ouers: formuleer ‘n vraag wat aansluit by die tema, en bou dan die toespraak daarom. Byvoorbeeld: “Vriende” is die tema; julle vraag binne hierdie tema kan dan wees: “Is vriende nodig?” “Word jy aan jou vriende geken?” “Hoekom kan vriende jou in die moeilikheid laat beland?” ens. Iewers binne die eerste twee paragrawe van die toesprakie, moet daar nou ‘n vraag gevra word of ‘n stelling gemaak word waaroor daar geredeneer kan word.

  • Hou die toespraak binne die leefwêreld van die kind – waak teen té verhewe aanhalings en hoogdrawende taal. Voorbeelde wat uit sy eie gesin/leefwêreld aangehaal word, is aan te beveel. Moenie bang wees om eie ouma, pa of oom aan te haal nie. Dit hoef nie Winston Churchill of Bill Gates te wees nie. 
    Hou jou oë oop vir koerantberigte wat kan aansluit by julle tema. Dis altyd ‘n goeie verwysing. Die juniors sal selde iets sê soos: “Ek lees in Beeld van 10 Oktober…”; nee, dan eerder “My ma lees nou die dag vir my in Beeld van 10 Oktober dat…” Ouer leerders sal natuurlik self die koerant gelees het (hopelik!)

  • Moenie bang wees vir ‘n bietjie humor nie! En moenie bang wees vir ware situasies uit julle eie huis nie. Dis altyd oorspronklik en genotvol. Maar onthou: die insident is altyd net ‘n aanknopingspunt. Moenie ‘n ellelange storie vertel nie.

  • Aanhef: Die toesprakie begin NIE met die tema nie, bv “Hallo, my naam is Pietie en ek praat oor Respek” nie. Aanhef kan bv wees:
  • Goeienaand voorsitter en maats, ek is mal oor speel, en julle?
  • Voorsitter en maats, ons land is vol ongeskikte mense wat geen respek by die huis geleer het nie.
  • Geagte voorsitter, wie sal die planeet bewaar as ons dit nie nou doen nie?
  • ‘n Aanhaling, rympie,grappie of liedjie mag selfs die toesprakie inlui.

  • Dit is tradisie/gebruik dat die voorsitter erkenning kry (nie die beoordelaar nie!) Die ouer kinders spreek wel die gehoor aan as “Dames en here”, maar die kleintjies kan maar gerus na “maats” verwys.
  • Gehoorkontak is belangrik. Dit is nuttig om ‘n vraag te stel of aanvegbare stelling te maak – sodoende bly die gehoor betrokke by die argument. Humor wat die gehoor laat skater is vir die beoordelaar ‘n teken dat die gehoor die toespraak geniet. Nie dat ‘n grapppige toespraak noodwendig die beste een is nie! En niemand hoef “Dankie” aan die einde te sê nie: eindig net met ‘n lekker sterk slot. “End it with a bang, and not a whimper!” 

  • Gehoorkontak word ook bewerkstellig as volg:
    • Oogkontak – kyk na die gehoor, en moenie net die beoordelaar aanspreek nie. ‘n Goeie spreker sal die rustig sy oë oor die gehoor laat dwaal, soms na een persoon spesifiek kyk en ‘n stelling maak, dan weer die oë terug na die middel laat beweeg. Die essensiele is dat dit NATUURLIK moet lyk, asof die spreker met die hele gehoor wil gesels.
    • Praat hard en stadig genoeg, sodat die gehoor elke woord kan hoor
    • Pouseer – skep stiltes of wissel tempo af, sodat die toespraak nie temerig raak nie. ‘n Pouse kan spanning skep, bv nadat ‘n vraag aan die gehoor gevra word, eers ‘n pouse, dan die antwoord.
    • Nota’s is net ‘n hulpmiddel – dit kan ‘n skeidingsmuur raak tussen die gehoor en die spreker. Party blaai verwoed deur die nota’s en maak die gehoor eintlik angstig. Ander raak weer so notagebonde dat die toespraak gelees en nie voorgedra word nie.
    • Tempo: ‘n spreker wat gespanne is en te vinnig praat, maak die gehoor ook gespanne. Selfs ‘n puik toespraak gaan so verlore.
    • Hande wat vroetel – as jy nie kaartjies het om vas te hou nie, hou gerus jou hande agter jou rug vas of ontspanne langs jou sye.
    • Gebare: gebare kan baie effektief of steurend wees, afhangende van hoe gepas dit in die toespraak gebruik word

Skryf vir my ‘n toespraak

Ma, skryf vir my ‘n toespraak, Ma?   

Kan ek Redenaars doen, Ma?

Ons moet Maandag in die klas praat, Ma. Sal Ma my help?

Drie vrae wat ‘n ma gillend die strate in kan jaag!  Met die ATKV Redenaarskompetisie op hande, is baie ouers hande in die hare óf hande in die sakke: dis of  ses ure en sestien opgefrommelde papiere wat op jou wag, óf die makliker, duurder uitweg om ‘n toespraak te koop. Daar is talle onderwyseresse en skrywers wat hierdie diens lewer. Meer nog, daar is ‘n hele dosyn of meer webwerwe waar julle kan aanklop vir hulp. Byvoorbeeld,
www.redenaars.co.za
redenaars@gmail.com (Raakpraat Redenaars)
carolina@kansvatter.co.za (Kansvatter Redenaars)
Die webwerf van Radikale Redenaars kan ook besoek word.

Inteendeel: gaan op enige soekenjin en tik in: redenaars + toesprake, en jy is in besigheid. Vir die ouer met ‘n paar honderd rand in die agtersak, is dit ‘n maklike uitweg.

Maar wat daarvan as jy beginselbesware het of dalk finansieel nie vir al vier jou bloedjies kan toesprake koop nie?
Dan lê die sestien opgefrommelde papiere vir jou voor.

Hier is raad:

  • Jy is nie alleen nie. Kry ‘n vriendin of drie bymekaar, wat net soos jy wroeg. Gaan sit om ‘n tafel, met pen en papier en begin praat. En beter nog, kry die kinders se insette. Laat hulle saam met julle idees rondgooi. Moenie hulle kreatiwiteit onderskat nie! En uiteindelik gaan dit daarom dat die kind self ‘n opinie oor ‘n saak moet hê en dit self moet kan verdedig.
  • Analiseer die temas wat aan julle gegee is. Vanjaar se tema’s is byvoorbeeld Speelgoed/Kos/Familie vir die gr 1-3 fase. Hoe ouer die kinders, hoe meer insette moet hulle help lewer. Dis soms ondraaglik om alleen met ‘n toespraak te wroeg: maar sit ‘n paar ma’s en ‘n paar pelle om ‘n tafel, en dit raak vet pret.
  • Dis nou waar drie koppe beter as een is: hou ‘n breinstorm. Gooi idees op die tafel oor byvoorbeeld “Speelgoed.”  Gesels eers oor die kinders se gunsteling speelgoed, dan oor wat hulle begeer, oor ouma en oupa se speelgoed, die prys van speelgoed, elektroniese speelgoed, waar speel ek die lekkerste, waarom speel ons, waarmee speel ma en pa… Gooi die net wyd! Waarmee speel aliens?  Watter diere was die lekkerste speelgoed op die ark?
  • Begin nou ‘n argument formuleer. Onthou: in Redenaars gaan dit in die eerste plek oor die beredenering van ‘n stelling. Die argument moet ‘n kort en kragtige sin wees, wat in drie tot vier punte verdedig moet word.
  • Kom ons ruk ‘n paar argumente uit die hoed: Meisies se speelgoed is koeler as seuns s’n; Barbiepoppe is uit die Bose; Kinders speel te min; Van sit en speel kom niks gedaan; Omdat ons nie speel nie, kan ons nie wiskunde doen nie; al verskil tussen pappas en seuns is die prys van hulle speelgoed; boomklim en kleilat is weg saam met die ossewa; Tegnospeletjies maak van my ‘n IT-spesialis, “Slimfoon-…dom kind”. Hoe duurder die speelding, hoe korter die genot. Speelgoed vernietig ons planeet; Sofapokkels speel te min; Speel-speel raak ek slimmer; Lego is my paspoort na ‘n graad in ingenieurswese.; Popspeel gaan van my die beste mamma maak….
  • Sodra julle ‘n argument geformuleer het, is julle koppe deur!
  • Dink nou aan ‘n interessante manier om die toespraak in te lui. ‘n Grappie of rympie werk altyd goed, solank dit kort en toepaslik is. Gaan blaai deur die volgende rympieboeke vir idees:

Wurms met Tamatiesous – Jaco Jacobs; Die teddiebeerbus: Jaco Jacobs, Speels Verse, saamgestel deur Daniel Hugo; Onder die Reënboog,  saamgestel deur NJ Snyman; Mallemeueleman, deur Philip de Vos; Nuwe Kinderverseboek saamgestel deur Riana Scheepers en Suzette Kotze-Myburgh; Kleuterverseboek deur DJ Opperman; AG Visser se gediggies… die lys is lank. Gaan sit in die plaaslike biblioteek of boekwinkel en blaai deur kinder verseboeke. Jou oog vang dalk net ‘n gediggie wat perfek sal werk.  Probeer grappe soek uit: Lekker lawwe Lagboek of Grappe van A-Z deur Maritha Snyman (LAPA)

  • Jy kan jou toespraak ook met ‘n grappige of interessante gebeurtenis uit jul eie huis begin: soos bv “Die dag toe my oupa met die vark aan ‘n leiband  by die huis kom, het ek geleer hoe goed my ouma kan Frans praat. Ja, daar is baie maniere om ons  taal kreatief  te gebruik!”
  • Sodra jy nou ‘n inleiding het, is jy lekker aan die gang. Dan moet jy nog net ‘n paar standpunte kry om jou argument te verdedig en jy is by die wenpaal.
  • Die standpunte moet gestaaf word met verwysings, waar nodig. Kyk gerus op die ATKV Redenaars se webwerf, www.atkv.org., hoe die verwysings gedoen moet word. Vir heel jong kinders kan ma en pa, oom en tannie, juffrou of skoolhoof, gerus maar as bronne aangehaal word, soos bv:” My oupa sê, ‘n man sonder ‘n knipmes, is soos sop sonder sout.” “My ouma sê dat “Te” voor ‘n woord nooit ‘n goeie ding is nie, buiten in “te perd” .”
  • Ouer kinders se bronverwysing moet toepaslik en geloofwaardig en volledig wees.
    • BV: “……..”, sê Piet Verdriet op die voorblad van Beeld, 22 September 2012
    • . “…..” raak Lance Armstrong op 17 Februarie 2013 kwyt, in sy onderhoud met Oprah Winfrey op die kanaal Entertainment.
    • So sê minster Justic Baloyi aan Justice Kennerly op 21 Maart 2012 op die rsg- program Spektrum.
    • Dr William Spock, bekende opvoedkundige skryf in sy boek, Taming Toddlers, op p 45, dat vloermoere normaal is.
    • Anet Schoeman skryf ‘n artikel getitel “Basta met Boelies”, in die rooi rose van 21 November 2012, dat kuberboelies ‘n groot probleem is.
  • Die slot moet weer by die inleiding aanpas. Probeer die toespraak as ‘n sirkel sien: begin en eindpunt moet mekaar aanvul. Jy kan selfs in jou slotparagraaf jou drie punte weer noem. BV  “Dames en here, julle moet saamstem: seuns se speelgoed is gevaarlik, vervelig en verbeeldingloos  Dis tyd dat seuns begin popspeel!”

Ter illlustrasie, ‘n paar toesprake se inleidings, net om julle gedagtes te prikkel.

Tema: TAAL

1.
“Hoezit my blaar?” tune die wolf vir Rooikappie.
“Zik, my pappie,” tune sy hom terug.
“En waan’toe rol jy?” Vra Wolf
“Ek gaan my bewekoppie check. Sy’s lippe teen die klippe,” se Rooikappie.

2.
Voorsitter, dames en here,
Hierdie storie is in zeftaal vertel. Vir baie mense is zeftaal ‘n tameletjie.
.
Is zeftaal koel of is dit nie? Laat zef ons taal vrot, of gee dit Afrikaans ‘n hupstoot?  Dis nou ‘n taai tameletjie dié. As ek hom so kou en kou, dan word hy al hoe lekkerder. Mmmm! Ek glo dat zeftaal ons taal smaak gee.

Tema: Speelgoed

Speelgoed is die beste medisyne vir ‘n dikbek! Daarvan kan ek getuig.
Voorsitter en maats
Dit gee nie om hóé oud ons word nie, speel bly lekker. Maar speel is nie net lekker nie, dis ook goed vir ons gesondheid. Dokters sê dat ons breine hormone  afskei as ons gelukkig is. Dis ‘n mengsel van dopamien en serotonien, sê Dr Piet Oosthuizen van die Tygerberg hospitaal,  in die Sarie van Februarie 2013. As ons speel, is ons propvol goedvoel-hormone. Dit is waarom almal in ons huis speel. Ons speelgoed plak ‘n glimlag op ons gesigte.

Tema: talente

Talente staan soms in ons pad na sukses.

Almal hou van talentvolle mense, nie waar nie? Maar ek wil vandag ‘n klip in die bos gooi, ‘n stok in die wiel steek en die leeu se snorbaard trek.  Talente is soms juis struikelblokke op ons pad na sukses. Klink dit na ’n paradoks? Wel, kom stap gerus saam met my op die snaakse, klipperige pad van talente. Dalk oortuig ek u: talente staan soms in die pad van sukses.

Tema: Sleutel

Die sleutel tot sukses? Dis eenvoudig. Jou sleutel is daardie een wat jou by die deur van die lewe laat inkom het.  Dié een wat jou uit die donkerte van vrugwater na die lig toe genooi het. Skielik was jy daar, pienk en skreeuend! Gereed om die volgende sleutel op jou skattejag van die lewe te ontvang. Wie is daardie sleutel?  Dis jou ma. Inderdaad! My ma is die sleutel tot my lewe!

Tema: Taal

O die blikkitaar en die uitkapwyn
Die rooi kalotjie en die tierlantyn
Vanaand se aand
As die misvuur brand
Trap ek al my worries op die misvloer fyn!
Heita! Maar hoe lekker klink Afrikaans as ‘n kapenaar hom gooi!  Mens wil sommer saam met Vincent vander Westhuizen op sy Oujaarsrympie begin dans. Kan so ‘n lekker taal dan doodgaan?  Nie as dit van my afhang nie. Dames en here, ontmoet een van die kragtigste wapens om die voortbestaan van ons taal te verseker: ek, moi en myself. ‘n Doodgewone graad agt snotkop. Noem my gerus agent 008. (blaas op sy vinger soos James Bond) : In diens van haar majesteit, Afrikaans. Want vriende, wette kan geen taal laat floreer nie.

Tema: Toeskouers

Die skone Helena van Troje
As meisiekind was sy ‘n mooie –
Maar toe, met die jare
Kom nare spatare
Plus plooie… en nou’s sy ‘n dooie.

Voorsitter. 
Die lewe is kort. Dis wat hierdie limeriek van Philip de Vos eintlik sê. Van Helena van Troje se skoonheid sou ons vandag niks geweet het, as dit nie vir toeskouers was nie. Die getuies van haar lewe het haar legende voortgedra. En ek en jy dan? Wat van ons klein lewetjies? Het ons ook getuies? Gewis en seker! My toeskouers speel ‘n lewensbelangrike rol in die spel van my lewe.

Tema: Kommunikasie

“Noudat ek 16 is, weet ek dat Kersvader en die Paashaas en al die freaky feëtjies net so werklik soos my eie lewe is,” skryf Jackie Nagtegaal in Daar’s Vis in die Punch.

En net so voel ek toe ek op 16 Januarie 2013 my toespraakonderwerp  tuis aankondig. 
“Tienerkommunikasie”, sê-vra my ma ongelowig, “dis nou vir jou ‘n paradoks.  Vertel my net hóé mens met ‘n graad 10 seun praat – dis makliker om jellie teen ‘n muur vas te spyker.”   My pa snork net en sê: “Tienerkommunikasie is ‘n oksimoron. Dis soos polisie intelligensie; of Afrika Demokrasie. Die twee terme kan doodeenvoudig nie langs mekaar staan nie.”
 Dit is presies my punt! Moenie ons forseer om te praat nie. Nee. Luister na ons stiltes. ‘n Tiener kommunikeer hard en duidelik as sy stilbly.

Die middeljare

(Ma staan met haar rug na die gehoor en is besig om die agterste kombuiskaste skoon te maak. Sy het ‘n stywe jean aan, met ‘n hemp wat tot by haar naeltjie optrek. Haar hare is wanordelik bo-op haar kop gestapel en haar grimering is swaar aangewend.)

Ma: Die lewe is ‘n lied, ja, dit is of jy voël is of mens… ( word op ‘n hoë noot gesing en word vals oorgedra. Die liedjie gaan aan maar op ‘n veel sagter noot sodat Karissa gehoor kan word. Ma beweeg haar heupe ritmies op die deuntjie.)

Karissa: Ag, Pieter, vergeet van Melanie! Sy sal nooit vir ʼn wortelkop soos jy gaan nie. ( Karissa se stem word vanaf die voordeur gehoor, terwyl sy Pieter uitdagend aankyk. Hulle kan duidelik deur die kombuisdeur gesien word.)

Pieter: Dis nie rooi nie! Ma sê dis ‘n strawberry blonde. (Pieter klap die voordeur hard agter hom toe.)

Karissa: Sy moet dit sê man, sy is jou… (haar woorde verdoof en sy steek vas in die middel van die kombuisdeur met haar oë op haar ma.) Ma?

Pieter: Toe, gee pad man! (bots teenaan Karissa en mik verby haar. Erg geïrriteerd. Hy stap dadelik na die tafel, en gaan sit op ‘n stoel met sy gesig na die gehoor. Gooi sy tas hard neer en trek die koekieblik nader  en begin daaraan peusel, onbewus van als.)

Ma: Uiteindelik! Waar was julle so lank? (Ma draai haar kop na Pieter sodat die oormaat grimering duidelik sigbaar word. Die klein hemp en jean word duidelik beklemtoon.)

Pieter: Dis Karissa! Sy en haar boyfriend het mekaar amper ingesluk na skool. Ma sal haar moet dophou, sy aard na die common kant van die familie. (mond vol koekies, wat plek-plek by sy mond uitval. Hy kyk Karissa uitdagend aan en steek vir haar tong uit.)

Karissa: (Onbewus van Pieter se aanmerking, met haar oë nogsteeds op haar ma gerig) Ma… is dit my jean daardie?

Ma: O, ag jy weet mos ek en jy is amper dieselfde grootte, toe dog ek dit sal my goed pas… ek het tog die ekstra bates daarvoor! (Kyk Karissa simpatiek aan) Toemaar my kind, jy sal nog in dit ingroei! (Ma haal die tamaties uit die yskas, haal die mes uit die laai en begin dit te sny.)

Karissa: (Doodkalm, maar duidelik ontsteld) Ma, daardie hemp het ek in graad 7 laas gedra, want hy was te klein vir my. (Sy gooi haar hande moedeloos in die lig op, en rol haar oë van ergenis.)

Ma: (Draai verbaas na Karissa, terwyl Pieter hulle stilweg beskou.) Maar my kind, het jy dan gewig aangesit dat die hemp nou nie meer pas nie? Ten minste pas hy my darem mooi né? (duidelik in haar skik begin sy die tamaties verder sny. Karissa beweeg stadig na die tafel terwyl sy haar nael kou. Sy gooi haar sak hard neer.)

Karissa: O, tog (Sy sak oorkant  Pieter in die stoel in, haar gesig nog sigbaar en begin teensinnig aan ‘n koekie kou.) Wat gaan die mense sê?

Pieter: (Verstik amper aan sy koekie en praat met ‘n mond vol koekies) Wat mompel jy nou al weer?

Karissa: (Duidelik vererg)  As jy ophou vreet, wortelkop, sal jy sien dat jou ma soos ‘n tiener in ‘n ouma se lyf lyk. (Karissa kyk weer na haar ma wat besig is om kos te maak en ‘n rilling trek deur haar lyf.) Gross.

Pieter: (Hardop) Ma lyk al te pragtig vandag. (Hy glimlag sarkasties in Karissa se rigting en begin dan weer ‘n koekie te eet. Karissa klap hom hard agter sy kop dat die koekies by sy mond uit trek.)

Ma: O, ja voor ek vergeet, dominee Marx kom vanmiddag. (kyk streng na hulle) Sorg maar dat julle netjies lyk. (Sit die slaai in die yskas en begin by die kombuisdeur uit te loop.)

Karissa: Die dominee? Wat sal die gemeente sê as hulle ma so sien? (Lig haar hand melodramaties na haar voorkop en maak haar oë toe)

Pieter: Hulle kan maar net bid. (Sedig, en naby aan lag)

Karissa: Jy dink dis ‘n grap né? Wel terwyl jou 50-jarige ma soos iemand uit Pretty Women lyk, kan jy vergeet om vir Melanie te beïndruk.

Pieter: (Die koekie stop halfpad na sy mond, en hy raak ernstig) Jy is seker reg…

Karissa: (Val hom in die rede) Natuurlik is ek reg, die vraag is net wat het haar besiel? (Karissa staan van die stoel af op en begin op en af in die kombuis loop. Sy gaan staan voor die venster) Ek bedoel sy word môre 50, en nou wil sy skielik sexy word? Waar in die lewe kry jy ‘n mens oor 40 wat sexy is? (Hewig ontsteld. Sy gaan na die yskas en haal ‘n groot stuk sjokolade uit.)

Pieter: Ek dink daar behoort ʼn ouderdomsbeperking op sulke klere te wees. (Diep ingedagte)

Karissa: (Vat ‘n groot hap van die sjokolade) Ek meen sy is al lankal oor die muur!

Pieter:  Muur? Watter muur? Waar?

Karissa: (Ongeduldig) Dis net figuurlik.

Die voordeurklokkie lui.

(Pieter en Karissa verstyf, kyk na mekaar en hardloop na die voordeur.(Hulle kyk na mekaar en maak teensinnig die deur oop.

Deur kraak oop.

Karissa: Dominee, wat ‘n onverwagse verassing!

Dominee: Middag, dogter.

Pieter: Hallo, dominee.

Dominee: Hallo, Pietman.

(Ongemaklike stilte. Dominee maak keelskoon.)

Dominee: Nou ja, mag ek maar binnekom?

Karissa: Dominee sien… (aarsel) my ma is…is (kyk hulpsoekend na Pieter)

Pieter: … Op die toilet.

Karissa: (Merkbaar verlig, maar tog ontsteld oor die aanmerking.) Ja, dominee sien, hier is so ʼn aaklige maagvirus wat die ronde doen.

Pieter: Ja, en die hele huis is geïnfekteer met kieme. (Kry ʼn hoesaanval, waarna Karissa by hom inval.)

Dominee: (Ongemaklik)  Dalk moet ek ‘n gebed vir julle doen?

Pieter: Ai, dominee u is nes die… die barmgatige Samaritaan. Om u gesondheid nou so vir ons te wil opoffer! (woordspeling op ‘n barmhartige. Hy kyk die dominee grootoog en onskuldig aan. Karissa kyk gespanne van die een na die ander.)

(Karissa begin weer hoes, reg op die dominee se pak.)

Dominee: (Skielik haastig en ongewillig) Dis nes julle daar sê, dalk moet ek later terugkom.

(Karissa laat haar arm gedwonge, maar met liefde om haar broer se nek gaan.)

Karissa: Baie dankie dat dominee verstaan, Totsiens!

Dominee: Totsiens dan… (Nog voor die dominee klaar gepraat het word die deur toegeklap.)

(Saam stap hulle terug na die kombuis en val moeg in die stoele neer.)

Pieter: Van wanneer af lieg jy so?

Karissa: (Kyk onskuldig by die venster uit) Ek lieg nie… ek verdraai bloot die waarheid so bietjie. (Daar is ʼn ruk stilte)

Pieter: Jy weet ma verjaar môre?

Karissa: (Lê op haar hand en staar by die venster uit, diep ingedagte) Ja, so?

Pieter: Sy word 50…

Karissa: Ek kan wiskunde doen Pieter, al het ek wieletjie wiskunde! (Omgekrap)

Pieter: (Ignoreer die snedige aanmerking)  Wel Sarel het my vertel dat sy ma allerhande snaakse goed aangevang het toe sy 50 geword het…

Karissa: (Sit regop, duidelik meer geïnteresseerd) Soos wat?

Pieter: Sy het glo haar somersklere in die middel van die winter aangetrek omdat sy sulke… sulke hitte gloede kry, en ek het al gesien hoe sy sulke snaakse giere kry!

Karissa: En jy dink dit het iets met die 50-wording te doen? (Luister aandagtig)

Pieter: (Skielik opgewonde, en laat val sy koekie uit sy hand) Ja, man! Sarel sê mens noem dit iets soos men… meno,( kry nie die regte woord nie) Ag man, iets soos die middeljare!

Karissa: Natuurlik! (Spring opgewonde uit haar stoel. Dit val agteroor.) Sy gaan deur Menopouse…Sy is definitief oud genoeg.

(Duidelik minder ontsteld en dankbaar dat daar ‘n verduideliking is vir haar ma se gedrag,  tel sy haar sak van die grond af op.)

Karissa: (Kyk alwetend na haar jonger broer, wat haar verward aanstaar.) Agtoemaar dis nie ‘n terminale aansteeklike siekte nie, dit sal oorwaai! Sy moet net tot by daardie selferkenningsfase kom. (Beduie melodramaties met haar hande op haar hart gerig.)

(Karissa haal haar sakspieëltjie uit haar tas en bekyk haar gesig krities. Sy maak dit weer toe.)

(Pieter se gesigsuitdrukking wissel van verbaas na verward en hy weet nie wat om te dink nie.)

Karissa: Nou, ja, dan sal ek seker my vriende vir eers iewers anders moet gaan entertain tot ma oor die… ding gekom het. (Sy gooi haar tas oor haar skouer en met ‘n wuif stap sy uit die kombuis uit en by die voordeur uit.)

(Pieter sit vir lank alleen, met die ligte wat sy verwardheid uitbeeld. Hy dink terwyl hy aan ‘n koekie knibbel. Ma kom die kombuis binne. Die broek begin al plek-plek te skeur en die toppie lig al hoe hoër op. Ma begin naarstigtelik na een van haar resepteboeke soek.)

Ma: Wie het vroeër die klokkie gelui?

Pieter: Ag, sommer so iemand wat vir die siekes bid. (bang om vir sy ma te jok.)

Ma: Wil seker net weer geld hê! Pietman het jy daardie Diëte wat werk boek van my gesien?”

Pieter: Nee glad nie ma, wat sal ek nou met dit wil doen? (Ontken dit hewig, maar voel duidelik skuldig oor iets.)

(Ma wil by die kombuisdeur uitloop.)

Pieter: Ma (Kyk aandagtig)

Ma: Ja, Pietman (draai om.)

Pieter: Ma hoe lank al terug is ma oor die muur? (Baie ernstig)

(Ma verstil merkbaar. Die ligte verdof.)

SLOT

Die monster

CINDY: (fluister) Boetie?….. Boetie ek het iets gehoor. Hey, is jy wakker? (Sy skud aan hom) Boetie, word wakker!

BRIAN: (Slapering) Gaan weg. Ek slaap.

CINDY: (Klim op bed) Maar boetie, ek het iets gehoor!

BRIAN: (trek kombers oor sy gesig) Dit is jou verbeelding. Gaan slaap! (Daar is ‘n harde geluid en Brian sit skielik regop.) W…w..wat was dit? Het jy dit gehoor? (Hy skakel die lamplig aan.)

CINDY: Ek het jou gesê ek het iets gehoor! Ek het jou gesê!

BRIAN: (skrikkerig) Sjuut. Netnou hoor hulle ons.

CINDY: (saggies) Is jy ook bang?

BRIAN: (bewerig) Bang. Ek. Nooit. 

(‘n HOND BLAF.)

BRIAN: (opgewonde) Hoor hoe blaf Max! (dan huiwerig) Hy sal net blaf as daar fout is.

CINDY: (paniekerig) Boetie, gaan maak die opwasser wakker. ‘Seblief

BRIAN: Oppasser. Ons kan nie jy weet ons gaan in die moeilikheid hom as ons nog wakker is.

CINDY: (bars in trane uit) E…..e…ek wil vir Mamma hê. Boetie wanneer kom sy huis toe?

BRIAN: Ek weet nie. Wag. (Klim van sy bed af en gaan krap in speelgoedboks.) Moenie huil nie, sus. Hier so, vat my gun. (Hy hou ‘n klein speelgoed geweertjie na haar toe uit.)

CINDY: Hoe werk hy? (bekyk die geweertjie)

BRIAN: Maklik, jy aim net en dan skiet jy.

CINDY: (sit geweertjie neer) Wat van jou?

BRIAN: (Krap verder en haal ‘n krieketkolf uit.) Ek sal hulle met my bat sommer stukkend slaan.

‘N HARDE GELUID SOOS GLAS WAT BREEK LAAT DIE KINDERS WEER VERSTYF. DADELIK SPRING HUL ONDER DIE BED IN, SODAT NET HUL GESIGGIES UITSTEEK. NA ‘N RUKKIE IS DIT WEER STIL.

CINDY: (bewerig) D…di..dink jy hulle is weg?

BRIAN: (skrikkerig) Ek weet nie

DAAR IS WEER ‘N GELUID, DIE KEER HARDER EN NADER AS DIE VORIGE KEER.

CINDY: (verskrik) Hy is by die deur! (Elkeen hul ‘wapens’ voor hulle. Dan gaan die deur oop.)

CINDY EN BRIAN: Aaaaaaaaaaagggggggghhhhhhhhhhh (Hulle hou vinnig op met skree en begin dan hard op te lag.)

BRIAN: (Kruip onder die bed uit.) Dit is net Max.

CINDY: (Kruip ook uit.) Kom hier, Max

BRIAN: Sien dit was niks om oor bang te wees nie.

CINDY: Jy was ook bang.

BRIAN: Was nie.

CINDY: Was.

BRIAN: Was nie.

CINDY: Was.


DIE GORDYNE GAAN TOE TERWYL CINDY EN BRIAN STRY.

Die rapport

PA: Lukas, jy beter NOU hierbinne kom! Ek gaan nie vir jou wag nie!

(Lukas blaas ‘n diep sug uit en loop stadig in die sitkamer in.)

LUKAS: Ja. Wat nou weer, Pa?

PA: Lukas, ek en jou ma het jou rapport in jou skooltas gekry. Ek wil graag met jou gesels daaroor. Sit.

(Lukas se pa wys na die bank wat voor hom neergesit is. Lukas val neer op die bank en loer geiriteerd op na sy pa.)

PA: Elke dag as ek by die huis aankom, dan hoor ek daardie eentonige geluid van gewere wat deur daardie ‘Speelstasie’ van jou weergalm.

LUKAS: ‘n Mens noem dit ‘n ‘Play Station 3’, Pa.

PA: Maak dit aan my saak? Al waaroor ek omgee is die feit dat jy altyd voor daardie ding sit, en nie by jou huis- en leerwerk uitkom nie.

LUKAS: Ek het baie hard geleer, Pa.

PA: Nie waarvan ek weet nie, jy sit alewig by daardie ding en kom nooit by jou werk uit nie. Jy gaan nie leer hoe algebra werk deur speletjies te speel nie, jongman.

(Lukas rol sy oë en sug weereens.)

PA: As jy so aanhou, seun, gaan jy nie te ver in die lewe kom nie. Hoe wil jy eendag gaan studeer en ‘n lewe maak? Ek sidder om te dink hoe jy vir ‘n gesin wil sorg.

(Pa vou sy arms vinnig en kyk weg van Lukas af.)

LUKAS:  Pa…

PA: Jy betree nou die dieper jare van jou tienerlewe, ek dink dit is tyd dat jy ‘n bietjie grootword en dink aan jou toekoms, seun. Ek en jou ma gaan beslis nie vir die res van jou lewe vir jou sorg nie.

LUKASs: Pa…

PA: Jy het soveel potensiaa,l seun, en ek sien nie dat jy tot jou volle vermoë werk en presteer nie. Jy kan soveel beter.

(Lukas sak dieper in die stoel in, skud sy kop so ‘n bietjie en loer weer geïriteerd op na sy pa.)

PA: Van nou af, gaan ek maar polisieman moet speel om seker te maak dat jy tyd voor jou boeke spandeer, want só aangaan, gaan jy nie.

LUKAS: Pa…

PA: Jy kan eenvoudig net nie…

(Lukas sit regop en waai na sy pa om sy aandag te kry.)

PA: Wil jy iets sê, Lukas?

LUKAS: Baie graag, ja pa. Ek wil pa net ‘n paar vrae vra.

(Pa frons verward, hy knik sy kop en vou sy arms.)

PA: Goed dan, Lukas, sê jou sê.

LUKAS: Sukkel Pa om vir Pa se gesin te sorg en seker te maak dat daar altyd kos op die tafel is?

PA: Nee, ek sal nie sê ek sukkel nie, seun.

LUKAS: Sukkel Pa om ‘n lewe te maak?

PA: Nee, ek sukkel nie.

LUKAS: Het Pa gaan studeer?

PA: Ja, ek het gaan studeer.

LUKAS:  En laastens, het Pa ‘n sukses van Pa se lewe gemaak?

PA:  Ek sal so sê, Lukas.

(Lukas glimlag en grou agter in sy broeksak en trek ‘n ou papier uit.)

PA: Wat is dit, Lukas? Sê wat jy wil sê.

LUKAS: Pa, ek het hierdie in die garage gekry. Ek sien dat dit pa se graad 10 rapport is. Voogonderwyser Mevrou Poggenpoel?

(Pa se oë rek groot, soos hy nader betree sê Lukas weer vinnig;)

LUKAS:  Pa se Wiskundepunt is heelwat slegter as myne, en dan praat ons nie eers oor Pa se Afrikaans en Engels nie. Die kommentaar wat Pa se graadvoog hieronder geskryf het, sê: “Luister nie in die klas nie, doen nie huiswerk nie.”

(Lukas se pa sit sy hand op sy kop.)

Lukas: Wat het Pa so besig gehou daardie tyd dat Pa nie harder kon werk en beter presteer nie? Het Pa dalk Speelstasie gespeel?

(Lukas giggel so effens en dan fokus hy weer.)

LUKAS: En hier is Pa nou, Pa sorg vir Pa se gesin, Pa het ‘n graad agter Pa se naam en Pa het ‘n sukses van Pa se lewe gemaak.

PA:  Maar, Lukas…

LUKAS: Pa, al wat ek sê is dat Pa ook jonk was.

(Lukas glimlag, hy gee die rapport vir sy pa, en stap weg.)

Dankbaar

Man sit by die tafel en maak ernstig berekeninge. Sug-kort-kort hardop en vryf moedeloos oor sy grys kop en verrimpelde gesig. Kry koud. Klok slaan een- uur. Hy skrik, kyk op en ontspan dan weer. Gaan weer aan. Vrou kom in en hang ‘n kombers om sy skouers en sit koffie neer.

VROU: Hier is ‘n bietjie koffie. Die suiker is ongelukkig op. 
MAN: Mmm. 
VROU: (Gaan staan agter hom, vryf sy skouers) Kom slaap tog ou man. Dis koud en laat en môre moet jy weer vroeg op wees. 
MAN: Amper, Ella. Nie meer lank nie.
Vrou loop uit vertrek, kom oomblik later weer terug met stopwerk. Gaan sit op stoel en begin.
VROU: (Na ‘n hele ruk) Lyk dinge al beter, Willie?
MAN: Alles behalwe. Soos ek bereken kan ons die plaas vir ‘n maand, dalk twee nog onderhou. Tensy dit binnekort begin reën.
VROU: (Staan op en loop na venster. Maak dit oop en steek kop buite uit. Trek terug, maak venster toe en draai na man.) Nie vanaand nie, my man. Kan elke laaste ster sien. Ons moet maar net aanhou bid.
MAN: Ek’s moeg gesmeek (Haal bril af, gooi dit vererg neer, vryf oor oë en neem koffiebeker.) ‘n Man kan net soveel keer op sy knieë gaan voordat hy ander planne moet maak.
VROU: A nee a, Willie! Jy kan nie so praat nie! (Loop na tafel, gaan staan en begin papiere bymekaar maak.) Ons het soveel om voor dankbaar te wees.
MAN: (Snak verontwaardig.) Soos wat?
VROU: Soos die plaas. En die huis!
MAN: Waarvan ons beide binnekort gaan verloor, Ella!
VROU: (Kalmer, paaiend.) Ou Man; ‘n bietjie droogte tref almal maar hard.
MAN: ‘n Bietjie droogte! (Ontstoke.) Ek kan nie eers meer onthou wanneer laas daar ‘n ou nattigheidjie geval het nie!
VROU: Bedaar, Willie..!
MAN: (Staan op, slaan koppie hard neer.) Bedaar? Hoe moet ek bedaar wanneer ons alles wat ons, ons lewens lank so hard voor gewerk het binnekort gaan moet opgee? (Loop na gehoor met sy rug na Ella gekeer.)
VROU: (Gaan staan agter hom.) Die Here sal voorsien, Willie.
MAN: Maar wanneer Ella? Wanneer? (Loop en gaan sit op bank, maak koerant oop.)
VROU: (Loop na fotorak en vat versigtig aan foto’s.) Ek verlang na die kinders. Wonder hoe dit met hulle gaan. (Loop na man.) Dit is iets om voor dankbaar te wees. Herinneringe wat ons lewens met geluk gevul het en wat niemand ooit van ons kan wegneem nie.
MAN: Vier herinneringe wat duisend myl hiervandaan is, terwyl hul pa met sy gat in die skuld sit! (Steeds agter koerant.)
VROU: (Loop na ander tafel, tel kombers op en sit dit op die tafel neer.) Ek hoor Bettie Haasbroek van Klipfontein is annerdag oorlede.
MAN: Mmm. (Steeds agter koerant.)
VROU: Gesondheid, Willie.
MAN: (Laat sak koerant.) Hoe sê jy, Ella?
VROU: Ons kan dankbaar wees vir dit, ons gesondheid. Jy’s 68 jaar oud, Willie!
MAN: Gesondheid? My rug is gedaan, my knieë het’n kwarteeu gelede al die gees gegee en my tande val vinniger uit as die paar hare op my kop!
VROU: Maar, Willie….
MAN: Nee, Ella! Dit alles terwyl ek dag na dag vir ure lank in die landerye sweet om te red wat daar te redde is! (Gooi koerant neer en staan op.) Vir wat Ella? Vir wat?
VROU: Vir mekaar Willie, vir mekaar. (Kyk na ringvinger met eenvoudige troupand.) In meer as 40 jaar het ek nog nooit eers daaraan gedink om hierdie ring af te haal nie. Vir daardie voorreg is ek dankbaar, Willie. Ek is dankbaar vir ons! (Draai met rug na hom.)
MAN: (Man laat sak kop en lyk ietwat skuldig/ongemaklik. Loop na waar kombers lê, tel dit op en draai dit om haar. Draai haar gesig na hom toe.) Ek ook Ella, Ek ook! 
Loop af terwyl donderweer brul en blits en reën teen ruite afloop.

Romeo en Juliet 2: Die Hiernamaals

(Die ligte kom aan. In die middel is daar ‘n park-bankie. JULIET kom op.Sy is alleen, bang. Sy het ‘n mes wat by haar maag uitsteek. Sy is op soek na ROMEO.)

JULIET: Romeo! Romeo? Waar is jy tog my Romeo?

ROMEO: (af) Juliet?

(ROMEO verskyn uit ‘n donker vleuel uit. Hy is so wit soos ‘n laken.)

ROMEO: Juliet!

(Hulle hardloop na mekaar en wil mekaar omhels, maar die mes in Juliet se maag keer hulle.)

ROMEO: En dit? (wys na die mes) Is dit ‘n fashion statement of iets?

JULIET: (kyk af) O, ja. Hou jy daarvan? Ek het dit vir jou gedoen.

ROMEO: Dit is so cool! En dit pas so mooi in hierdie plek se modes in.

JULIET: Ek het so opgelet. Die mense hier is so gevrek. Waar is ons?

ROMEO: Ek… ek is nie seker nie.

(Hulle gaan sit op die bankie.)

ROMEO: Kom ons sien. Toe ek laas by was, was jy dood. Toe drink ek ‘n botteltjie gif…

JULIET: Nee, jou idioot. Ek was nie dood nie! Blêddie tipies mansmens. Ek kan nie my oë vir ‘n minuut rus nie dan dink jy daar is fout.

ROMEO: Wil jy vir my sê ek het verniet daardie aaklige Rattex gedrink?

JULIET: Ja, jy het. En nou moet ek ook met die nagevolge saamleef. (Sug) Ai, die dinge wat ‘n mens nie vir liefde sal doen nie.

ROMEO: Kom weer? Wat presies het jy vir liefde gedoen?

JULIET: O, ja. Jy weet mos nie! Toe ek jou so leweloos daar sien lê het ek myself doodgesteek. (Sy wys af na die mes.)

ROMEO: Regtig? Dit is so sweet van jou! As dit nie vir daai mes was nie het ek jou nou gedruk.

JULIET: Daar is ook nog ‘n ander probleempie: ons weet nog steeds nie waar ons is nie. (Sy sien iemand verbyloop.) Daar gaan Macbeth nou. Gaan vra hom.

ROMEO: Juliet, asseblief. Ek kan dit self uitfigure.

(Stilte. Romeo sit en dink waar hulle is. Juliet lyk ongeduldig.)

JULIET: Weet jy al?

ROMEO: Nee.

(Nog ‘n stilte.)

JULIET: En nou?

ROMEO: Nee.

(Juliet vererg haar.)

JULIET: Aag, as ons op jou manlike instinkte moet staatmaak gaan ons vir ewig hier sit. Gaan vra die man nou!

ROMEO: Vergeet dit! Net swakkelinge vra vir aanwysings.

(Juliet vererg haar self weer.)

JULIET: (spring verwoed op) My ma het altyd gesê as jy iets gedoen wil hê, moet jy dit self doen. (Sy loop na die denkbeeldige Macbeth.) Meneer, kan jy my asseblief sê waar ons is?

(Sy kom doodstil, geskok terug na Romeo. Hy kan sy nuuskierigheid nie meer hou nie.)

ROMEO: Wat’s fout? Wat sê hy?

JULIET: Ons is…

ROMEO: Wat? Waar is ons?

JULIET: Ons is in die… die Hiernamaals.

ROMEO: Nee! Dit kan nie wees nie! Ek het my hele lewe nog voor my gehad! Ek is te jonk vir die plek! Dit is als jou skuld!

JULIET: My skuld? Hoe verwag jy dat jy gaan bly lewe na jy ‘n hele bottel gif gedrink het? Dis als jou skuld dat ons nou hier sit!

ROMEO: Stop playing the victim! As dit nie vir jou lewelose lyfie was nie sou ek nie my mond aan die goed gesit het nie.

JULIET: Ek het dit gedoen vir jou! Vir ons!

ROMEO: Ja, en kyk wat het gebeur. Nou is ons altwee so dood soos mossies. Pushing up daisies

JULIET: Die emmer geskop. Die lepel in die dak gesteek.

ROMEO: Oukei…

JULIET: As tot as. Wurmkos!

ROMEO: Oukei! Ek kry die prentjie!

(Hulle sit weer op die bankie.)

JULIET: Darem is ons saam.

ROMEO: Vir altyd…

JULIET: En ewig…

ROMEO: Tot in lengte van dae…

JULIET: Sonder ‘n amen!

(Hulle is glad nie so entoesiasties as wat jy sou verwag nie. Hulle skuif al verder van mekaar af weg met elke ‘vir ewig’ en ‘vir altyd’ ens. Dan is daar ‘n lang stilte soos die ligte uitdoof.)

JULIET: Wel, daar is tog een ligstraaltjie.

ROMEO: Wat is dit?

JULIET: Ons hoef nie meer in rympies te praat nie.

(Ligte doof totaal uit.)

Interkom

Sitkamer van die koshuis. Melissa, ‘n mooi meisie met bruin hare en ‘n besonderse kort skoolrompie loop heen en weer oor die vloer. Haar hare is opgedoen en haar hemp hang oor haar romp. Sy het donker ooggrimering aan en haar das is losgemaak. Sy lyk angstig en kyk kort-kort verby die verhooggordyn. ‘n Blonde meisie, Wilmien, verskyn op die verhoog. Sy dra ‘n prefektebaadjie en lyk netjies in haar skoolklere.


MELISSA: (gesig helder op en sy klink baie aansitterig) Wilmien, my ou vriendin! Hoe gaan dit?

WILMIEN: (rol haar oë en sug) Wat soek jy nou weer, Melissa? Jy weet ek stel nie belang in jou welsyn nie.’

MELISSA: (lyk ewe skielik opreg, loop na Wilmien, vat haar hand, en lei haar om te sit op die bank) Wag, nou, Mien. Ek en jy het al ons verskille gehad, en ek was seker verantwoordelik daarvoor, maar…

WILMIEN: (ruk haar hand weg, trek haar oë op skrefies en staan op)Ons ou verskilletjies! Noem jy dreigboodskappe en skelname in die openbaar verskilletjies? Jy is ‘n slang, en jy was al een van standerd ses af. En noudat ek ‘n prefek is, is jy so bitter soos koffie sonder suiker. Jy was mos veels te beroemd om nie die leerlingraad te maak nie…

MELISSA: (kyk weg van wilmien se blik af, en skuif in haar sitplek sodat haar rug na Wilmien wys) Ek probeer vir jou jammer sê, en dan gooi jy die prefek-ding in my gesig. Het jy al ooit daaraan gedink dat ek wens ek kon jy wees? Jy het alles… vir Ben, die prefek-baadjie en jou ouers haat mekaar nie soos myne nie.

WILMIEN: (praat met die dak) hemel tog! dat jy nou sulke loutere twak sal praat! Ek ken jou. (Kyk na Melissa en wys met haar vinger)Jy drink veels te lekker om ooit ‘n prefek te wou wees, daar is vrek baie waar Ben vandaan kom en jou ouers gee vir jou alles wat jou hartjie begeer! Wat probeer jy bereik met hierdie gesprek?

MELISSA: (spring ook nou op, gryp vir Wilmien aan haar skouers en draai haar sodat hulle mekaar aangluur) Ben was my ou. Jy het hom afgevry en ek dink jy is die slang.

WILMIEN: (ruk haarself los en lyk spyt. loop na die voorkant van die verhoog) Ek dag ons is nou al mooi groot. Dat twee sewentienjariges baklei oor ‘n ou, is ‘n helse grap.

MELISSA: Ek weet dit. En ek probeer met jou vrede maak. Ben is dit nie alles werd nie.

(Daar is ‘n paar oomblikke van stilte.)

WILMIEN: (Haar stem raak sagter en sy lyk skaam terwyl sy na die vloer kyk en met haar voet daarteen vee.) Ek en Ben het eers saamgekom nadat julle twee uit is. Jy weet ek het nie alles beplan nie, né Mel?

MELISSA: (sug en gaan sit weer) Ek het dit seker die hele tyd geweet.

WILMIEN: (gaan sit ook en leun terug in die bank) Kom ons begin oor. Ek mis die ou dae toe ons nog hier gesit en skinder het.

MELISSA: (kyk na die luidspreker van die interkom en glimlag skelmpies. Kyk weer terug en die glimlag verdwyn) Okay. Waaroor wil jy skinder?

WILMIEN: O genade, sommer oor hierdie hele koshuis. Die mullet-meisies daar op die tweede vloer, ou juffrou Griesel se nuwe spanner van ‘n mannetjie wat gereeld hier oorslaap….

MELISSA: (skuif na die voorpunt van die bank, haar oë groot en opgewonde) Het jy ook gehoor van Ryan wat gevang is met dagga?

WILMIEN: Ja, ek het so-iets gehoor. Hy het voor my eenkeer gerook… hy sal sy plek in die rugbyspan kwyt wees as ek vir iemand belangrik sê….

MELISSA: Toemaar, ou Griesel kan jou nie hoor nie. Dit sal ‘n sonde wees teen die vroulike geslag as hy geskors moet word.

WILMIEN: Hmmmm! Wat ‘n mooi man is hy nie…. maar ‘n stouter ook! Hy vry heeltemal te letterlik in die bondel. Sy laaste prooi was mos Gerrida Lourens, jy weet mos daardie vettetjie op ons gang? En hy en Gerrida se kamermaat is mos veronderstel om ‘n paartjie te wees…

MELISSA: O… so Gerrida knyp haar kamermaat se kat in die donker?

WILMIEN: Glo my, van die stories wat Gerrida my al vertel het, knyp sy ook maar ‘n paar ander katte. Ek weet nie hoe sy dit regkry nie- met daai lyf het sy seker ander talente….

MELISSA: So niemand weet van Gerrida en Ryan nie? Wat sou gebeur as die kamermaat moes uitvind?

WILMIEN: Die hel sal losbars in daardie kamer. En ek sal kniediep in die kookwater wees as die storie uitlek… Dit herinner my, moenie vir iemand sê nie..

MELISSA: (klink heeltemal oordrewe) Wie, ek?

WILMIEN: Jy weet mos stories versprei hier soos ‘n veldbrand in die Karoo.

MELISSA: (Lyk baie selfvoldaan. staan op en loop stadig agter die bank verby tot agter wilmien terwyl sy praat) Ek stem saam. Jy moet mos maar versigtig watter geheime jy aan ‘n slang verklap…

WILMIEN: (haar oë vernou. sy staan op en tree stadigaan agteruit)Jy’t dan gesê jy gaan niks sê nie.

MELISSA: (loop stadig, maar doelgerig na Wilmien en tik haar teen haar skouer) Ek sal niks sê nie, my ou vriendin.Dis net jammer vir jou dat die koshuisinterkom nog die hele tyd aan was… (sy wys na die interkom)

WILMIEN: (oë rek, slaan haar hande na haar hare en raak histeries) Wat!? Wat? Jy lieg! Ek weet jy lieg…

MELISSA: (lag kliphard) Jy wens, mevrou prefek! Kyk wie’s nou beroemd, of sou ek sê berug?

WILMIEN: (haal ‘n paar keer diep asem en hou haar kop hoog) Ek hoop jy weet dat jou lae houe nie vir Ben gaan terugbring nie. Of jou ouers gaan terugbring bymekaar nie. En hier is die beste een: Jy bly ‘n slang, al vang jy ‘n arend! (storm uit)

(Melissa bly staan in geskokte stilte. Gordyn sak.)

Elke aksie het ‘n reaksie

TONEEL 1

Mia sit op die tuinbankie en lees tydens pouse. Philip kom aangestap met sy skooltas en rugbybal onder sy arm. Mia sit die leesboek neer en Philip gaan sit langs haar.

Philip: Môre, pop. (glimlag breed)
Mia: Môre, Philip. (glimlag skamerig en kyk skuins af)
Philip: So, hoe was die redenaars gisteraand?
Mia: Dit het goed gegaan, dankie. Ek het… (Philip val haar in die rede)
Philip: O! Weereens jammer dat ek dit nie kon maak nie. Jy weet gisteraand se game was belangrik en after-all die laaste een van die seisoen.
Mia: Ek verstaan. (verleë) Hoe het dit gegaan met die rugbywedstryd?
Philip: Ag, jy weet mos. Niemand kan verby hierdie yster kom nie. Ons het hulle getrap, 35-12.
Mia: Sjoe, ek het geweet julle sal wen. Wens ek kon julle kom ondersteun het.
Philip: Ja, maar vir jou kom akademie mos eerste! (sarkasties)
Mia: (kyk verleë na hom) Ek is jamm… (Philip val haar in die rede)
Philip: Ek grap net met jou, pop. Maar dit is ‘n jammerte dat jy my beste drie van die seisoen gemis het. (staan op en beduie stap vir stap sy drie wat hy gedruk het) Jy moes dit gesien het, JP het uit die skram gevlieg en vir die beste vleuel gepass. Dit is nou ek. (sarkasties) Ek het drie ouens van die opposisie geside-step, amper die een ou afgeskryf en die wendrie onder die pale gaan druk.
Mia: Baie geluk. Ek is trots op jou. (glimlag vir Philip)
(Philip glimlag vir haar en soen haar op haar voorkop)
Philip: Hoe lyk jou vakansieplanne?
Mia: Ek het nog nie eintlik planne nie, hou maar my opsies oop vir die drie weke wat voorlê. Hoekom vra jy? 
Philip: Ek, JP en sy meisie gaan vir die eerste week Margate toe. Ons het my ouers se vakansiehuis vir onsself. Het gedink jy sal dalk wou saam kom?
Mia: Dankie vir die uitnodiging. Glo nie my ouers sal ‘n probleem hê nie, hulle gaan Engeland toe vir besigheid en soos altyd is ek weer alleen by die huis.
Philip: Great! Almal slaap môre-aand oor by my huis, dan ry ons Saterdagoggend.
Mia: Ek kan nie wag nie. Een vakansie sonder enige bekommernisse en ek kan dit saam met jou geniet. (kyk vir Philip in sy oë terwyl hy haar op haar hand soen)

(Die ligte verdof en die liedjie van Taio Cruze: Break Your Heart begin speel)

TONEEL 2

‘n Maand na die vakansie is verby. Philip sit op die tuinbankie tydens 2de pouse. Mia stap hartseer na Philip toe en konfronteer hom.

Philip: (Sien vir Mia en staan op om weg te loop)
Mia: Nee, wag Philip. Ek moet met jou praat, dit is baie belangrik.
Philip: Ek kan nie nou chat nie, ek is besig.
Mia: Soos die afgelope maand, nè? (ontsteld)
Philip: (vererg hom) Mia, kom oor dit! Wat gebeur het die vakansie was lekker, maar dit is nou verby.
Mia: (Gaan sit op die tuinbankie en laat sak haar kop) Dit is dalk verby, maar ek sit nou met die gevolge.
Philip: (ongeskik) Waarvan praat jy? (tel sy skooltas op en loop)
Mia: (Spring op en skree ontsteld) Philip! Ek is swanger…
Philip: (Stop in sy spore, draai om en vra afgerammel) Wat?! Hoe weet jy dit is my kind?
Mia: Jy was my eerste en enigste. (Sy haal ‘n tissue uit haar sak uit)
Philip: Hoe seker is jy, jy is swanger?
Mia: Ek is ‘n week al oor my siklus en was gister toe by die kliniek. Hulle het my getoets. (Kyk af na haar hande wat vroetel met ‘n tissue) Ek is swanger.
Philip: (Sug en vra moedeloos) Wat gaan jy doen?
Mia: (Kwaad en ontsteld met klem op die “ek”) Wat gaan ék doen? Nee, Philip! Wat gaan ons doen? Moet nie vir een oomblik dink jy gaan my alleen los in hierdie situasie nie.
Philip: Ek is jammer…
Mia: Ja, ek ook. (Bly ‘n rukkie stil) Ek is jammer dat ek myself kon toelaat om vir jou mooi praatjies te val. (Sarkasties) “Mia, jy is pragtig. Ek wil my lewe met jou deel. My liefde aan jou bewys.”
Philip: Mia, ek… (Mia val hom in die rede)
Mia: Moet nie eers daaraan dink om ‘n aborsie voor te stel nie. Ons gaan die baba hou. Ons kan dit maak werk… (Philip val haar in die rede)
Philip: (Gryp Mia aan haar skouers en sê vererg) Luister vir my! Jy was nie my eerste nie, al het ek so gesê. Voor die vakansie op die rugbytoer het ek en die ouens gaan kuier. Ek het dinge te ver gevat en saam ‘n random meisie geslaap. (Bly ‘n rukkie stil)
Ek was dronk en het nie geweet wat ek doen nie.
Mia: (praat vinnig) Dit maak nie saak nie, wat gebeur het daardie aand is verby. Die probleem is nou!
Philip: (vererg) Mia, jy luister nie!
Mia: (begin huil)
Philip: (bewerige stem) Ek het my voor die vakansie laat toets en die uitslae… (bly ‘n rukkie stil en kyk af) Ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie.
Mia: (ontsteld) Wat, Philip? Wat kan jy nie vir my sê nie?
Philip: Ek is positief… 
Mia: (kyk hom stip in sy oë) Positief?
Philip: (kyk af) Mia, ek het vigs…

(Skoolklok lui)
(Ligte verdof en gordyne gaan toe)