Kuier by Leon de Villiers

Leon de Villiers se jeugroman, Die pro, vertel Tiaan se storie, van “die jaar waarin hy sewentien word en waarin hy leer om met ’n groot verlies saam te lewe”. In 2015 is hierdie roman wat oorspronklik in 1997 verskyn het, verfilm, met onder meer Edwin van der Walt, Reine Swart en Bennie Fourie as akteurs. De Villiers beantwoord ’n paar vrae met betrekking tot sy roman se tweede lewe.

Die Pro

Watter skrywers (of ander kunstenaars) inspireer/beïnvloed jou?

Skrywers of kunstenaars wat hulle eie stem het, inspireer my. Ek wil geen spesifieke persoon uitlig nie, want dit kan van week tot week wissel.

Het jy sekere skrywersrituele, soos om elke dag te skryf, te skryf terwyl jy iets spesifieks (rooiwyn, rooibostee) drink, op ’n sekere plek te sit, ensovoorts?

Nee. Behalwe dat ek verkies om soggens te skryf en dit saans te hersien.

Hoe ontdek en ontwikkel jy ’n storie? Is dit meer ’n kwessie van wanneer inspirasie jou pak, of kies jy hoofsaaklik jou storiemateriaal bewustelik?

Die bewuste en die onbewuste loop hand aan hand. Ek vind dat die grootste sukses is wanneer albei definitief betrokke in my skryfproses is. Dit kan egter van storie tot storie verskil oor watter deel neem die leiding.

Hoe het jy as skrywer aspekte soos tienertaal en -gewoontes nagevors toe jy Die pro geskryf het? Het hierdie metodes verander tussen die verskyning van Die pro en, byvoorbeeld, Toko?

Toe ek Die pro geskryf het, het ek pas opgehou skoolhou en was ek nog duidelik bewus van die tienertaal van die tyd. Verder het ek gesorg dat ek genoeg met tieners gesels. Tienertaal is egter ’n lewende entiteit wat voortdurend verander en sekere woorde kan verouderd raak, daarom het ek met die skryf van Toko ’n fiktiewe gemeenskap gekies waarin die taal nie met die tyd saam sou verander nie. Met die gebruik van ’n fiktiewe gemeenskap moet die skrywer egter steeds sorg dat die taal so ‘realisties’ moontlik moet bly. Dit moet pas in die omgewing waarin die storie afspeel.

Oor die draaiboek van Die pro: Was jy betrokke by die draaiboekskrywers se skryfproses? Daar is aansienlik groot verskille aangebring in die draaiboek van die fliek, veral in terme van Yvette en die Lawrence-familie se betrokkenheid by Tiaan.

Tiaan van Niekerk wat die draaiboek geskryf het en ook een van die vervaardigers van die film is, het my van die eerste draaiboekweergawe af, ten volle op hoogte gehou. Ek het besef dat hy veel meer weet as ek van draaiboeke en het dus grootliks net ondersteunend opgetree. Hy wou so naby as moontlik aan die boek bly, maar ons het albei besef dat dit nie gaan werk nie. Karakters moes verminder word en om ’n sekere essensie te behou, moes sekere karakters gekombineer word. In die boek is die fokus op die karakter se innerlike reis na aanvaarding en berusting, maar die film bied natuurlik geleentheid om die ‘surf’ aspek baie meer dramaties te belig. Na alles bly die see ’n geweldige visuele ervaring.

Is daar elemente (of spesifieke tonele) in die film waaroor jy voel die film het iets weggeneem (of verbeter) van die roman?

Dit is juis die ‘surf’ element wat die film uitstekend uitgelig het. Die hele afskeid van Dirkie in die see is ’n uitstekende byvoeging tot die storie.

Kon jy met die akteurs kommunikeer oor die aard van hul karakters of was dit hulle eie verantwoordelikheid om die karakters te vertolk?

Nee, ek het my neus uit die akteurs se sake gehou. Ek het al voorheen gelees dat skrywers wie se boeke verfilm is, van mening was dat die skrywer hulle so ver as moontlik moet distansieer van die hele verfilming proses. Dis dalk anders as die skrywer ook die draaiboek geskryf het.

Wat behels die veranderde weergawe van die roman wat gepubliseer is? Is dit bloot die voorblad of het die storielyn soos die film s’n verander?

In die nuwe weergawe is die voorblad verander en het ons ook probeer om die taal en gebruike op datum te bring. Die boek is byna 20 jaar in druk, so sekere dinge het beslis verander. Die storie is egter presies net so gelos. Na alles is ’n film en boek altyd twee verskillende weergawes van een kernstorie.

Wat is jou algehele sentiment rondom die verwerkingsproses van ’n roman na film? Was dit ’n positiewe ervaring, was dit negatief?

Dit was ’n baie positiewe ervaring. Tiaan en sy mede vervaardigers het my en die boek altyd met die grootste respek hanteer en ek het natuurlik bewondering vir hom/hulle wat bereid was om die hele proses met soveel deursettingsvermoë aan te pak. Dit was natuurlik ook vir my ’n wonderlike leerproses oor draaiboeke as sulks.

Kuier by Annelie Ferreira

Ek en my graad 8-seun het albei die Chuck Norris kan deel deur nul baie geniet. Wat is vir jou die belangrikste tema in die boek?

Chuck Norris kan deel deur nul

    Moet nooit bang wees om groot te droom nie. Maar ook, veral, moenie bang wees om te glo dat jou hart groot genoeg is vir jou drome nie, want dis eintlik daar waar wonderwerke begin.

Was daar besonder uitdagende omstandighede met die skryf van Chuck?

    Ja! Ek het ’n heupoperasie gehad terwyl ek aan die manuskrip gewerk het, en toe besluit my stuitjie ook om te staak. Die laaste weke voor die sperdatum het ek navorsing gedoen oor 101-maniere-om-te-skryf-sonder-om-te-sit.

Wat het Annelie en Albert (die hoofkarakter) in gemeen?

    Dis ’n goeie vraag! Ons is albei klein outjies 🙂 Ons neem fyn waar, en deel ’n droë sin vir humor.

Jy kry dit goed reg om die hartseer ondertoon met humor te verlig. Is dit doelbewus?

    Alles is makliker met humor. Ek het al ernstiger stories geskryf – een van my stories, “Die Seun”, in die bundel perdestories Galop, het my met die herskryf van elke draft ’n traantjie laat wegpink – maar ’n snaakse storie is darem net prettiger. Boonop is lag gesond. Dis wetenskaplik bewys!

Waar gaan haal jy jou karakters?

    Ek gaan haal hulle nie. Hulle storm by my in en sê as jy nie ’n storie oor ons skryf nie, breek ons jou knieë.

Dit blyk uit Chuck Norris kan deel deur nul se prettige lokprent dat hierdie boek die potensiaal het om ‘n lekkerlag-film te word. Is daar sprake van ‘n Chuck-fliek?

    Ek wens! Kopieer asseblief hierdie wenk aan alle Afrikaanse filmmakers 🙂

Jou nie-fiksie boeke het geestelike temas. Hoe dra jou filosofiese kant oor in jou jeugboeke?

    Miskien het die ontginning van daardie temas dit vir my makliker gemaak om eerlik te skryf oor enigiets. Daar is min taboes vir my wat onderwerpe betref, hetsy oor idees of gevoelens. Ons leef in verhoudings en groepe met ’n spesifieke kultuur, en norme, maar ons is ook individue wat onsself op ’n unieke manier in die wêreld moet uitdruk. Ons mag nooit bang wees om vrae te vra nie.

Jy bly in Briston, Engeland, maar keer in die somermaande terug na jul huis in Durbanville. Skryf jy die lekkerste in Engeland of in Afrika?

    Enige plek. Skryf op sigself is die lekkerste. Nie die eerste ses drafts nie, daai is sukkel en sweet en hoeveel keer besluit jimmel, ek skryf darem nou ’n klomp *^&%. Maar as die plot in plek begin val, en ek ken uiteindelik die karakters binnekant buitentoe en ek dink sjoe, julle is stunning . . . dit gee my soveel plesier.

Jy wen jou tweede Sanlam Jeuglektuur-prys met Chuck Norris kan deel deur nul. Kan ons binnekort nog ‘n jeugtreffer uit die pen van Annelie Ferreira verwag?

    Ek hoop beslis so! Ek hou self hierdie ruimte met afwagting dop.

Kuier by Zinelda McDonald

Zinelda McDonald woon in Pretoria. Sy het ‘n honneursgraad in grafiese ontwerp aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf. Sy het al gedurende haar studies haar unieke styl, gerig op kinderillustrasies, ontwikkel. Sy het al illustrasies gedoen vir talle kinderboeke, handboeke en opvoedkundige gidse onder meer Wiskunde gee my maagpyn en Vis en Tjips van Jaco Jacobs en Peter van der Wind van Carina Diedericks-Hugo. Sy het onlangs haar eerste prenteboek Die Coolste Ouma op Aarde saam met Marita van der Vyver voltooi.  Deon Meiring het met haar gesels oor die opwinding van haar eerste prenteboek en haar werk as illustreerder.

Die coolste ouma op aarde

Hoe het jy ‘n illustreerder geword, was dit toeval of wou jy dit nog altyd doen?

Ek het nog altyd van teken gehou. Ek het ook grafiese ontwerp gaan studeer en een van die opdragte in die vak Illustrasie was spesifiek gerig op kinderillustrasies.  Dit was een van my gunsteling opdragte. Ek het toe nog nie noodwendig gedink ek gaan ‘n illustreerder word nie, maar nadat ek my studies voltooi het, het ek my portefeulje vir uitgewers gestuur en onder andere het Lapa gesê hulle hou van my werk en ek het ‘n pad begin stap saam met hulle.

Het jou opleiding as student jou voorberei of was daar steeds ‘n leerkurwe toe jy in die praktyk begin werk het?

Ja, die deadlines was op universiteit al streng en mens het geleer om hard te werk aan iets om dit op ‘n goeie standaard te kry. Alhoewel die kursus nie noodwendig spesifiek gerig was op kinderboek illustrasie nie, het dit my wel toegerus met die tools om te doen wat ek vandag doen. Tog leer mens ook gedurig iets nuuts in hierdie soort werk omdat mens jouself gereeld moet afvra of dit wat jy doen in voeling is met dit waarvan kinders hou.

Is ‘Die Coolste Ouma Op Aarde’ jou eerste prenteboek?

Ja, dis die eerste prenteboek wat ek doen. Voorheen het ek meer werk gedoen vir bietjie ouer teikengroepe wat steeds illustrasies vereis, maar minder daarvan.  Ek doen ook gereeld omslagontwerp.

Was dit vir jou meer opwindend om ‘n prenteboek te doen?

Ja, die naam ‘prenteboek’ sê reeds baie en mens word uitgedaag om die teks te integreer met die illustrasies.  Daar is ook heelwat ruimte vir eksperimentering.  Een van die voorskrifte van die uitgewer was dat ek moet aandag gee daaraan om dit ‘n eg Suid-Afrikaanse gevoel te gee. Dit was nogal uitdagend, maar ook lekker om regdeur die boek te kyk waar mens iets uniek aan Suid Afrika kon oordra.

Soos jy nou ook genoem het kom daar natuurlik ook uitdagings saam met so ‘n projek, wat was vir jou veral uitdagend van ‘Die Coolste Ouma Op Aarde’?

Die idee dat dit vir so ‘n gevestigde skrywer soos Marita van der Vyver is, is nogal oorweldigend. Tog kan jy maar net soos altyd jou beste gee. Ek het ‘n hele paar voorsketse gedoen vir die uitgewers voordat hulle dit weer aan haar voorgelê het. Die gevoel was daar maar mens moet maar vir enige boek skaaf aan die detail. Aangesien dit my eerste prenteboek was, was dit ‘n nuwe uitdaging, maar die lekker het alles oortref. 

Hoe het jy die projek aangepak? Was daar sekere riglyne wat jy in gedagte moes hou?

Dit het alles begin by ‘n enkele potloodskets van ‘n ‘rock’ ouma om te sien of ek die regte gevoel kon vasvang. Die uitgewers het dit goedgekeur, maar toe begin ons werk aan die fynere details en kleur voorsketse om aan Marita voor te lê. Toe ons haar goedkeuring kry kon ons begin met nog baie beplanning en baie voorsketse om elke ‘cool’ ouma in die boek op ‘n unieke manier uit te beeld. Ek moes ook ‘n rowwe uitleg doen en lettertipes vir die teks kies om dit deel te maak van die illustrasies. Ek en Miemie du Plessis (bestuurder van kinder- en jeugboeke by Lapa) het deur die hele proses ook saamgewerk om die konsepte af te rond.

Waar kry mens die idees vir hoe ‘n karakter moet lyk?

Soms is daar sekere leidrade in die storie soos haarkleur, haarstyl, ouderdom, kleredrag, persoonlikheid ens.  Andersins illustreer ek wat vir my lekker is terwyl ek steeds iets van die storie probeer oordra.

Hoe gaan jy te werk om ‘n unieke styl te ontwikkel?

Ek dink nie mens beplan so iets nie. Dit kom maar net vanself. Enigiets ontwikkel ook maar met tyd. Baie keer ontdek mens ‘n nuwe idee toevallig as mens rondspeel en dan maak jy dit deel van jou werk.

In ‘Die Coolste Ouma Op Aarde’ lyk sekere elemente asof dit uitgeknip is, het dit so toevallig ontstaan?

Dit is nie noodwendig altyd deel van my styl nie, maar ek het ook na baie ander illustreerders se werk gaan kyk vir inspirasie. Party illustreerders het ‘n knip en plak styl wat ‘n vars gevoel is waarvan ek en Miemie baie hou. Ek het besluit om die karakters te laat uitstaan deur hulle eers op ‘n wit agtergrond te plaas, uit te knip en dan op die kleur agtergrond te plaas.

Het jy gunsteling illustreerders na wie jy opkyk?

Ek is mal oor Piet Grobler se unieke, tydlose styl.  Die Britse illustreerder Polly Dunbar het ek eers deur hierdie projek ontdek, maar ek hou baie van haar werk omdat dit so speels is en gebruik maak van gemengde media.

As mense hoor kinderboekillustreerder dink hulle dalk dis lekker en maklik om prentjies te teken. Wat sê jy daarop?

Ek stem saam dat dit waarskynlik ‘n lekkerder werk is as sommige ander werke. Daar is wel baie uitdagings.  Om konsepte te ontwikkel is ook lekker, maar kan soms moeilik wees. As jy vir jouself prentjies teken is dit natuurlik maklik, maar om dit vir iemand anders te doen is nie altyd so maklik nie. As ‘n uitgewer jou byvoorbeeld vra om iets te teken kan hulle dalk alklaar ‘n prentjie in hulle kop hê. Hulle prentjie kan baie verskil van die een in jou kop selfs al gee hulle riglyne.  Soms is mens gelukkig dan werk die eerste illustrasie goed, of dit kan ‘n baie lang proses wees waar mens baie moet verander of selfs van voor af moet begin.

Kuier by Jaco Fouché

Vanwaar die naam Siobhán en sy eksotiese spelling?

Ek het die naam al voorheen gehoor en eendag ‘n straat in Bellville gesien wat “Chavonne” genoem is, maar die eksotiese spelling het ek die eerste keer op ‘n TV-program gesien toe ‘n onderhoud met so iemand gevoer is en haar naam onderaan die skerm geplaas is. Dit was ‘n groot verrassing om te sien ‘n mens spel dit so en dit het my bygebly.

Siobhan van die sirkus

Hoekom die sirkus?

Die sirkus trek mos ‘n mens se aandag: al daardie sterk mans, mooi vroue en die narre, almal in kostuums. Dis ‘n droomwêreld vir die toeskouer hoewel ‘n mens natuurlik kan dink dat dit harde werk moet wees om self daar te werk. Siobhán het behoefte om by so iets aan te sluit en haar identiteit aan iets nuut te koppel as wat sy tot dusver geken het.

Jy noem dat die skryfpad na Siobhán omtrent ‘n reis was. Wat was die grootste struikelblokke en hoe lank het jy aan die boek geskryf?

Die boek self het gou gekom, maar ek moet sê die agtergrond en plan en karakters het ek lank in my kop gehad voor ek begin skryf het. Die sirkuskamp in die boek se ekwivalent in die werklike lewe was eintlik ‘n skoolkamp wat ek in 1983 by Wellington bygewoon het. Natuurlik het ek heelwat verander aan wat ek daarvan onthou het, maar die essensie is nog daar. Ek het my leeswerk voor die tyd gedoen sodat ek net hoef te tik en nie halfpad op te hou om eers weer navorsing of beplanning te doen nie. Daar was vir ‘n verandering nie groot struikelblokke in die skryf self nie en ek dink dis omdat ek voorberei het voor ek begin werk het.

Jou boek word opgedra aan Klein-Piet en Colombine – karakters uit die werklikheid?

Dis ‘n geheim!

Alet en Greer is unieke karakters. Hoe is hulle gebore?

Hulle is gebaseer op mense wat ek geken het. Alet het ek geken toe ek nog baie jonk was, Greer toe ek al in my veertigs was. Dit verklaar miskien waarom Greer meer volwasse is.

Hoe vereenselwig jy so akkuraat met die jeug? Wat behels jou navorsing as dit by die dinge van ‘n tiener kom?

Ek weet nie of ek so akkuraat is nie. Wat baie help, is dat my vrou skoolhou en my gereeld van tieners vertel en wat hulle doen en sê. Verder lees ek jeugfiksie soos SE Hinton se boeke. Haar eerste werk is The outsiders en dis ongelooflik. Maar ek dink die belangrikste om te onthou is dat tieners soos enige mense drome en ambisie het. Hulle wil iets hê, partykeer iets konkreet soos ‘n prys vir ‘n prestasie, partykeer iets groot soos volwassenheid. Die vraag is natuurlik of volwassenheid die moeite werd is om na te streef. Maar dis uit so ‘n vraag dat ‘n skrywer moontlik ‘n storie kan maak. Ek moet ook noem dat ‘n skrywer ver kom met ‘n goeie redakteur. Aldré Lategan het aan die manuskrip geskaaf het en dit meer tienervriendelik gemaak het. Sy ken jeugfiksie baie goed en het my handige raad gegee.

Die insident by die rodeo en die beseerde perd, is baie emosioneel vir Gerswin. Kan jy met so ervaring identifiseer?

Daar is op ‘n stadium onwettige rodeo’s in Suid-Afrika gehou en ek het nuusberigte gesien oor hoe die perde swaarkry. Ek het my probeer indink hoe ek sou reageer as ek dit moes aanskou. Wat ek wel beleef het, is eendag toe ‘n perd op ‘n plaas my van veraf ‘n kyk gee, tussen ander perde naderkom en aan die mou kom trek met sy mond. Dit was nogal roerend, hoewel ek na die tyd gedink het die perd wou seker iets te ete by my kry.

Waar skryf jy die lekkerste?

Dit wissel maar. Gewoonlik sit ek voor die rekenaar in ons spaarkamer. Maar dit help ook om iewers te moet wag en niks anders kry om te doen as om iets op my foon te tik nie.

Wat doen jy as jy nie skryf nie?

Ek het hierdie jaar weer vir ‘n korrespondensiekursus ingeskryf. Verder lees ek. Ek het my voorgeneem om baie minder boeke te lees wat ek voel ek moet lees en eerder te kyk na dié wat ek wil lees.

Waarna kan lesers volgende uitsien uit die pen van Jaco Fouché?

Daar is die moontlikheid van nog ‘n jeugverhaal in 2016. Dit sal ‘n seun as verteller hê.

Kuier by Marga Jonker

Laat ek sommer met die deur in die stal val. Waar kom die passie om oor perde en tieners te skryf vandaan ?

Ek het groot geword op ‘n plaas met perde. Ek dink ek is gebore met ‘n passie vir perde. My ma vertel dat ek van kleins af altyd naby perde wou wees. Ek dink ek herleef my gedagtewêreld as ‘n tiener met perde in ‘n storie-wêreld, want my werklike lewe het nie meer ‘n plaas met perde in nie.

Hoe lank skryf u al?

Ek het in 1995 saam met ‘n vriendin Xhosa derdetaal leesboeke geskryf. Die moed om te skryf het daar begin, maar ek het saam met iemand gewerk. Daarna ek het my eie hand gewaag aan stories en verse vir kleuters, maar my selfvertroue om dit voor te lê was te min. Ek het eers van 2008 gereeld my werk aan uitgewers voorgelê.

Wou u nog altyd ‘n skrywer word of het dit per ongeluk gebeur?

Ek wou altyd, maar was nie dapper genoeg om dit voor te lê nie. Meesal het ek stories en verse geskep om in my skoolhou lesse te gebruik.

U het die boek opgedra aan Hardus, wie is hy en wat was sy rol tot die  verhaal?

Hardus is my oudste seun (22). Hy is ‘n baie kreatiewe mens. Hy is ‘n  grafiese ontwerper wat verder studeer in  3D animasie. Hy is ‘n mens wat nie ander mense op hulle uiterlike beoordeel nie.

U is n onderwyseres wat Xhosa derde taal gee nie waar nie, skryf u ook in Xhosa ?

Ek skryf stories wat aansluit by my lesse vir derdetaal leerders. Ek en ‘n vriendin het wel die drie Xhosa skool leesboeke geskryf, maar mens is minder kreatief in jou derde taal as jou eerste taal.

Dis altyd vir my interessant om te hoor waar die skrywers aan die  inspirasie vir hulle boeke kom, waar het u die inspirasie van Brigadier en die raaiselponie vandaan gekry?

Brigadier was ‘n bekende Amerikaanse saalperdhings en mense aan die Weskus het altyd met bewondering van hom gepraat. Ek droom soms van ‘n perd wat ek geken het of ‘n goeie storie van gehoor het, en die storie vorm dan uit my droom en my kennis van daardie perd. Ek het van Brigadier gedroom en toe begin ek werk aan ‘n storie waar hy kon in pas, as ‘n reun, Brigadier. Die ander perde in my stories is ook perde wat ek iewers ontmoet het. Ek gee soms vir hulle ander name.

Brigadier en die raaiselponie

Is daar nog doelwitte wat u wil bereik in die lewe?

Ek sal nog baie boeke wil skryf. Ek het ook ‘n paar plekke wat ek na wil reis om perde te sien. Nederland  se Oldenburgers  en Italië se uithourit-roete by L’Aquila. Die Spaanse  perde van Barcelona, PRE Andalusiërs, sal ek ook baie graag gaan kyk. Ek wil beslis nog een van Namibië se perdesafari’s  gaan beleef.

Wat anders as skryf natuurlik, is u passie in die lewe ?

Ek hoop om volgende jaar weer te begin perdry. Die perd waar op ek gery het, Phat Joe, is verkoop en ek soek nou vir ‘n nuwe deel-geleentheid. Ek is lief om die sosiale media, facebook en twitter dop te hou. Ek volg biblioteke en skrywers. Ek probeer ook om op hoogte te bly van iPad tegnologie, spesifiek interaktiewe boeke vir grondfase leerders. Ek bied ook ‘n leesuur by my skool aan waarvoor ek my iPad en interaktiewe boeke gebruik. In die klasse volg ons ook webwerwe wat oor boeke praat, soos Storiewerf.

Die boek is baie modern en uit die oog van vandag se tieners geskryf, het u self kinders dat u die storie so mooi uit die oog van n jong meisie kon skryf?

My dogter, Anita, is nou 19. Sy en haar maats en die dramas van HS het ek nog onlangs beleef, en ek is dus goed ingelig wat HS vir meisies behels.

U het vir 20 jaar na die dood van u perd glad nie perd gery nie, wat het u laat besluit om weer u voet in die stiebeul te steek ?

My herhalende drome oor perde. Ek het oor en oor gedroom oor perde wat ek geken het.

Daar is ‘n baie spesiale band tussen Zahn en Briggs, hy kon haar met sy lewe vertrou, ons elkeen het seker so ‘n spesiale perd. Het u ook so ‘n spesiale metgesel en is hy/sy deel van die inspirasie om die boek te skryf ?

Ek het ‘n twee jaar vir Phat Joe in my lewe gehad. Daar is ‘n foto en ‘n stukkie wat ek oor hom geskryf het in die onderhoud oor Galop van Fanie Viljoen. Phat Joe is egter verkoop, hy was aan my geleen. Hy behoort nou aan iemand wat hom baie geniet en met hom spring. My eerste boek Sonder Chocolate Charlie het ek aan Phat Joe opgedra. Ek weet egter dat ek by die regte spesiale perd sal uitkom.

Is die karakters deur u geskep of bestaan hulle in werklikheid?

Die karakters in Brigadier het ek geskep, maar geleen uit stukkies wat ek gehoor het as die tieners in my huis so lekker dramatiese stories oor mekaar vertel.

Die spanning tussen Zahn en Alexandra is tasbaar, mens kan dadelik aflei dat hulle nie goed oor die weg kom nie. Maar tog in nood sal hulle mekaar bystaan. Het u self n suster of dogters dat u die emosies so mooi kon uitbring?

Ja, ek en my dogter sit baie vas oor die noodsaaklikheid van ‘n netjiese  kamer, maar sy laat haar nie ontstel nie. My eie enigste suster was, en is steeds, super netjies. Sy het weer met my vasgesit toe ons kinders was oor netheid. Ek weet hoe ‘n groot krisis ‘n klomp klere op die vloer, en borde, glase en koffiebekers onder ‘n bed kan skep.

Die gesin wat u in skep in die storie is n tipiese voorbeeld van n  laslap gesin. Soveel kinders in vandag se samelewing word groot soos die karakters in die storie. Het u self ondervinding met sulke gesinne?

Ek het nie self so uitgebrei grootgeword nie en my eie gesin ook nie. Ek het wel ‘n paar naby vriendinne wat al so moes herstruktureer. Ek het al baie  koppies koffie uitgedrink saam met hulle en bokse snesies saam opgebruik vir trane afvee. Daar is vandag baie gesinne wat die beste probeer maak van hulle laslap gesinne en ek bewonder hulle vir nuwe strategië.  Om saam  te werk al verskil hulle.

Marga Jonker op Phat Joe se rug

Kuier by Hans du Plessis

Die Akker is effens belig en ek voel die fluweel van die rooi stoele. Na twee en ‘n half uur se sit is ek dankbaar dat ek die plek in Potch gekies het met die sagste banke. Ek suig die laaste bietjie van my melkskommelen Prof Hans vra vir my of daar nog iets is wat ek wil weet. Ek wil graag ja sê, maar ek twyfel of ek nog inligting kan inneem.

Om ‘n onderhoud te voer met Prof Hans du Plessis, is soos om na ‘n grammefoonplaat te luister, natuurlik ‘n classic. Om hom vrae te vra is soos om ‘n vuurhoutjie in ‘n plas petrol te gooi, die antwoorde is onverwags, en baie.

Op ‘n agt-en-sestigjarige ouderdom, is dit duidelik dat hy weet waarvan hy praat. Toe ek my vrae uitgewerk het, het ek geglo dat ‘n uur genoeg tyd sal wees, maar die lewe, of te wel onderhoude is onvoorspelbaar, en in plaas van my 13 vrae, het ek sekerlik 26 gevra.

In hierdie verslag sal die belangrikste vrae en antwoorde bespreek word. Anders gaan ek ook sekerlik ‘n boek moet skryf.

Dit wat hy al in sy lewe gedoen het as skrywer is ongelooflik uitgebou. Hy skryf van romans tot taalkunde boeke. Hy is mal oor veldwerk, en skryf net oor goed waarvan hy weet.

“Hoe het Prof begin skryf?” val ek weg met die eerste vraag. Die antwoord wat ek kry is onverwags, en lank, basies ‘n geskiedenisles.

Hy het begin skryf as ‘n jong seun, en toe ‘n hele klomp goed geswot reg oor die wêreld, en toe, en toe, en toe kom die regte vrae.

“Vertel my asseblief meer van Prof se skryfproses?” Ek weet nie eers of ek eers só ‘n vraag mág vra nie. Ek glimlag en kyk in sy oë, ek wonder by myself of hy my kan sien, of selfs herken.

“Elke een is anders.” Ek kon dit amper nie glo nie. Sekerlik moet ‘n skrywer van die Prof se formaat ‘n vaste sisteem hê. Hy gaan toe verder: “Party skryf jy hoofstuk  vir hoofstuk, ander skryf jy rond en bont, ander skryf jy die hele boek klaar, elke skryfstuk verskil.” Die skryfkunsklas in my eerstejaar duik by my op, die vyf stappe van skryf: stimulus, rowwe beplanning, skryf, redigeer, publiseer. Ek wil begin angstig raak, dit voel vir ‘n oomblik of my wêreld uitmekaar gaan skeur. Alles wat ek geleer het, alles wat ek so hard probeer toepas. “Jy moet jou eie manier kry van skryf, niemand kan dit vir jou voorskryf nie.” Die ystervuis om my hart raak ‘n bietjie losser, ek kan stadig maar seker weer asemhaal.

Ek stel meer belang in sy jeugromans, ons gesels oor ditjies en datjies en uiteindelik vra ek toe: “Hoe het Prof se lewe, Prof se skryfwerk beïnvloed? Meer spesifiek gekyk na Ditsem Dawid, want dit is ‘n boek wat vir die seuns in my graad nege klas van groot waarde was.”

As ek die Prof se antwoord in een woord kan opsom, is dit observasie. Hy het na sy vier seuns gekyk, en geluister en so het Ditsem Dawid bestaan. Weereens is ek herinner aan ‘n skryfkunsklas, twee woorde bly my by, observeer en absorbeer. Ek kyk na die Prof voor my, ek observeer hoe gewillig hy is om raad te gee, om leiding te gee, en ek absorbeer, of ek probeer, elke liewe woord wat hy sê.

“Wat is Prof se grootste kopseer in verband met publisering?”

Ek het verwag dat ek ‘n les in een of ander ongesiende, onbewuste deel van publisering gaan kry, maar die antwoord was eenvoudig; “Bemarking.” Hy het aan my verduidelik wie en wat goeie uitgewers is, maar wat werklik merkwaardig was, is die feit dat hy gesê het dat ‘n redakteur moet jou manuskrip behandel asof dit jou kind is, en ook gedeeltelik haar kind, die redakteur moet betrokke wees by elke liewe deel van die publisering, dit is eers dan, dat die skrywer en die boek die nodige aandag kry om goed te verkoop.

“Wat is die werke (letterkundig of kreatief) waarop Prof die trotste is, of waarvoor Prof skaam kry?”

Hy begin dadelik terug verwys na van sy vroeër werk, en hy praat nie oor dit waarop hy trots is nie, hy praat oor dit wat hy geleer het. Hy besef dat hy meer leiding moes kry: “Ek moes skryfkuns gehad het,” is sy eenvoudige gevolgtrekking.

“Hoe hanteer Prof keurdersverslae?”

“Keurders was nog nooit vir my ‘n kopseer nie. Niks meer nie, niks minder nie.”

“Prof skryf beide akademies en kreatief, hoe het Prof die twee genres apart gehou? Het hulle mekaar tot ‘n mate beïnvloed, want ek het Prof se Variasietaalkunde handboek gelees, en dit is een van die min handboek wat straight-forward en verstaanbaar is.”

Daar is vir hom nie ‘n onderskeiding tussen die twee nie, “Sê wat jy wil sê!” Hy het vir my verduidelik met ‘n glinstering in sy oë dat hy glo nie daarin om goed gekompliseerde voor te stel nie, dit mors eenvoudig tyd. Sy professors het natuurlik nie van sy eenvoud gehou nie, maar hy het homself uitgedruk soos hy wou. “Dit is ook belangrik” sê hy aan die einde van sy verduideliking, “Kry jou eie stem en hou dit, moenie dat enige iemand anders jou stem onderdruk nie.” Hy vertel my ook verder hoe sy veldwerk sy Griekwa Psalms beïnvloed het. Dit het alles beïnvloed: “Alles het te doen met die natuur, dis eenvoudig.”

En so kry ek toe sommer ‘n brokkie goue raad van iemand wat weet, weet hoe die letterkunde en taalkundewêreld werk.

Tendense pla hom nie, hy skryf wat hy wil skryf. “Ek is te veel van ‘n alleenloper,” is sy rede hiervoor. Dit laat my dink aan my identiteit, my skrywersidentiteit. Wat wil ek sê? Wat is die doel van mý as skrywer?

Ek loer na my boekie en kyk na die bietjie vrae wat oor is, ek sien Boegoe, die digbundel se interessante voorblad en strokiesagtige sketse flits deur my kop en dadelik kom ‘n vraag; ““Hoe betrokke was Prof by die kabaret van Boegoe vannie liefde? Hoe voel dit wanneer ‘n skryfstuk so opgevoer word, en basies van gedaante verander?”

“Vir ‘n skrywer,” lag hy, “was ek báie betrokke!” Hy het gehelp om die akteurs uit te kies, ook om die digbundel oor te skryf, en soveel meer. “Maar dis moeilik, jy moet nie direk met die akteurs praat nie.” Hy verduidelik verder dat dit ‘n uitsonderlike ondervinding is, om jou eie werk so te sien lewe kry.

“Wat is Prof se ondervinding met die keuringsproses?”

Hy haal asem, glimlag, en antwoord dan; “Met elke huis is dit anders.” Hy vertel van ‘n paar nare ondervindings, asook die beste redakteurs in die Afrikaanse letterkunde, “Onthou net dat wanneer die redakteur saam met jou hierdie boek maak werk, het hulle net soveel om te verloor of te maak soos jy, dit hou hulle getrou.” Hy verduidelik dat jy gaan agter ‘n uitgewer aan en nie agter ‘n uitgewershuis nie.

Ek koekeloer weer na my vrae: “Wanneer ek kyk na die grafiese kuns wat in Boegoe vannie liefde is, moet ek erken dat dit die eerste ding is wat my na die boek aangetrek het. Wat is Prof se ondervinding van die grafiese uitleg, of kuns van u boek?”

“Dis eenvoudig,” antwoord hy, “Hoe mooier ‘n boek is, hoe makliker verkoop hy. Van my boeke is nou al in hul hoeveelste druk, net omdat dit met die eerste druk mooi gelyk het. Mense wil nie lelike boeke koop nie, hulle bly net daar op die rak.” Dadelik begin ek aan my eie buiteblad dink, hy praat, maar ek luister nie meer nie, ek beplan in my geestesoog die voorblad van my eie jeugroman.

Hy hou skielik op praat, ek skuif so bietjie rond, die volgende vraag maak my op my senuwees. Ek weet nie lekker hoe om dit te benader nie, ek skraap al my moed bymekaar, ek haal diep asem en val amper oor my woorde. “Prof se sig is nie meer wat dit was nie, wat het dit veroorsaak, en hoe het Prof aangehou met skryf?”

Ek wou nog ‘n vraag oor sy ondersteuningsisteem vra, maar hy antwoord dit sommer vir my, “Dit was omtrent 1993 toe ek nie meer ‘n kar kon bestuur nie. Dis ‘n genetiese siekte, en vandag het ek sowat 9% se sig oor. Soos jy daar sit, sien ek net jou buitelyne.” Hy verduidelik vir my van sy rekenaar wat sy die boeke se letters vergroot. Hy verduidelik ook dat opgee nie ‘n opsie was nie, nooit nie. Stil sit ek bewonder die man voor my. Hy het soveel redes om nie te skryf nie, en nie te lees nie, maar hy steur hom nie daaraan nie. Hy het besluit dat dit is wat hy wil doen.

Verder het ons gesels oor die plaasroman, laster en vloekwoorde in boeke en ‘n hele paar skrywers. Maar die merkwaardige woorde bly my die heeltyd by; “Kry jou stem, en hou hom.”

Op pad huis toe, luister ek weer na ‘n gedeelte van die onderhoud. Ek verbeel myself dat ek die eerste boek wat ek skryf in my hande vashou. Die res van die dag voel so vaag, behalwe wanneer ek droom, en hoop.

Kuier by Jürgen Banscherus

Where did the idea for the character of Kwiatkowski originate?

Hier teen 1990 rond het dit nie baie goed met my en my gesin gegaan nie. My kinders was klein, my boeke het swak verkoop, ons het pas ’n huis gekoop – ek moes iets doen, en gou. Toe tref die idee van Kwaaikofski my. ’n Alleenloper wat saai sake ondersoek, maar telkens in snaakse situasies vol grappige gesprekke beland. My uitgewer was aanvanklik skepties oor die reeks, maar intussen het daar al 22 boeke verskyn, Kwaaikofski is in 18 tale vertaal, en ons huis is afbetaal . . .

How do you come up with so many different and exciting adventures for Kwiatkowski?

Elke keer wanneer ek klaar is met ’n boek, is ek seker ek gaan nooit weer aan nog ’n avontuur kan dink nie. Maar ’n jaar is lank. Iewers tussen koerant lees, stap in die park, my ore oophou in busse en treine kry ek altyd weer ’n idee vir die volgende misdaad wat Kwaaikofski moet ondersoek.

Why do you think young boys in the 6 – 10 year old age group enjoy the Kwaaikofski books as they do?

Ek wonder self dikwels hieroor. Ek weet werklik nie, maar ek vermoed die volgende dra by tot die boeke se sukses. Kwaaikofski beweeg altyd op die randjie tussen grootheidswaan en twyfel aan homself, net soos die meeste jong seuns (en baie ouer mans . . .). Hy los sake op wat enige wakker leser ook sal kan oplos. Hy is ’n eensame enkeling, nes baie kinders deesdae, want bendes soos in die ou kinderboeke bestaan beswaarlik meer in die werklikheid – altans in Duitsland. Kwaaikofski is cool. En die boeke het ’n soort tong-in-die-kies humor wat seuns duidelik geniet.

Afrikaans readers love Kwiatkowski. How do you feel about the fact that this series has now been translated into many languages and loved by children from different countries around the world? Are you ever concerned that the original Kwaaikofski story will lose its essence when translated into other languages?

Ek het nooit kon droom my speurboeke vir kinders sal in soveel lande gelees word nie. Dit maak my baie gelukkig. In ’n vertaling gaan daar noodwendig soms van die oorspronklike humor en trant verlore, maar my vriend Ralf Butschkow se geniale illustrasies bly onveranderd. Dit verseker dat die leser die gevoel van hierdie kinderspeurder se ervarings kry.

Detective Kwiatkowski has many funny quirks and rituals – like always drinking milk, wearing his cap and chewing Carpenters gum. As a writer, do you have any strange mannerisms or rituals?

Volg ek sekere rituele? Vir seker. Ek drink tee wanneer ek vashaak met my skryfwerk. Ek drink tee wanneer my skryfwerk vlot verloop. Ek drink tee wanneer ek ‘n blaaskans vat. En Saterdae maak ek saam met my vrou ‘n bottel rooiwyn oop . . .

Any advice for parents to get their young ones reading and away from the TV?

Ek wil alle ouers aanmoedig om vir hulle kinders voor te lees. Dit geld pa’s ook! Die meeste ouers hou op om vir hulle kinders te lees wanneer die kleintjies self kan lees. Ek dink ’n mens moet dit aanhou doen tot hulle elf of twaalf jaar oud is, afhangende van die individuele kind se behoeftes. My dogter en seun het nou nog die mooiste herinneringe aan ons as ouers wat saans saam met hulle stories lees.

Do you think Kwiatkowski will one day realise his dream to become a world famous detective?

Ek wil nie voorbarig wees nie. Kwaaikofski sal waarskynlik nooit so beroemd soos Sherlock Holmes, Miss Marple of Kalle Blomquist word nie. Maar ’n mens mag droom, of hoe?

Any message to the Kwiatkowski fans here in South Africa?

Bly cool – en vir ’n noodgeval, hou altyd ’n stukkie kougom en ’n glas melk byderhand!

Jürgen Banscherus is gebore in 1949 en het gewerk as ’n joernalis, ’n uitgewer en ’n onderwyser, voordat hy homself as vryskutskrywer gevestig het in 1989. Intussen het hy bekend geword as een van Duitsland se mees geliefde skrywers vir kinders en jongmense. Sy boeke is al met vele toekennings bekroon en is reeds in meer as 12 tale vertaal.

Kuier by Nelia Engelbrecht

Nelia Engelbrecht is ‘n vrou met wonderlike skryfvermoëns in ‘n verskeidenheid van genres. Die skrywer was eers ‘n joernalis maar het haar passie in kreatiewe skryfwerk gevind. Nelia vind dat fiksie baie makliker is om te skryf as feitlike stories. Joernalistiek het haar ingeperk omdat net beskikbare materiaal gebruik mag word. Sy is baie meer gelukkig om haar eie inhoud te skep.

Ek as skryfkunsstudent het Nelia geraadpleeg oor hoe om sukses te bereik as skrywer. Kortverhale is my keuse genre en aangesien Nelia 65 kortverhale al gepubliseer het, het ek haar raad ter harte geneem. Volgens haar is die belangrikste element van enige verhaal die karakters.

“Jy moet hulle goed ken voordat jy begin skryf. Jy moet hom of haar sien en hoor in jou kop.” Nelia beskou hierdie as die kern tot haar wenresep. Verder vertel sy dat sy haar karakters visualiseer terwyl sy skryf. Sy sien hulle aksies voor haar geestesoog afspeel soos ʼn film. Sy sien haar karakters loop en praat en dan word sy hartseer as daar iets sleg met hulle gebeur. “Kinderkarakters maak my altyd hartseer. As hulle swaarkry, trek ek saam met hulle swaar.”

Ek weet dat elke karakter ontwikkeling of groei moet ondergaan in ʼn verhaal, maar hierdie kan gekompliseerd raak in ʼn kortverhaal. Nelia se antwoord is dat verskillende gebeure karakters lei tot ontwikkeling. In kortverhale is daar net plek vir een of twee treffende gebeure wat die karakter tot insig lei. Hierdie gebeurtenisse gee die karakter die motivering om anders op te tree.

Verder waarsku Nelia my dat die ouderdom van karakters baie belangrik is vir die teikengehoor, veral as dit kom by skryf van tienerverhale. Sy beveel aan dat die karakters in jou verhaal twee tot drie jaar ouer as jou teikenleser moet wees. Hulle respekteer hierdie karakters en wil graag soos hulle wees.

Nelia glo ook dat die skrywer baie aandag moet gee aan die teikengehoor. “Ken jou teikenmark. Luister hoe hulle praat en lees ander stories van dieselfde genre. Leer by die kenners.” Sy vertel haar ervaring in 1994 toe sy ʼn storie ingestuur het vir publikasie. Die storie was afgekeur en hulle raad aan haar was om kenners se werk te lees. Sy het dit gedoen en ontdek dat “warm” verhale die mode was. Sy het daarna ʼn paar sulke verhale geskryf en dit gepubliseer.

Uit nuuskierigheid het ek Nelia aangemoedig om verder te vertel van haar vroeë skryfervaringe. Sy het die Sarie Nasionale kortverhaalkompetisie in 1999 gewen. Daarna het sy ʼn klomp verhale vir tydskrifte geskryf. Dit het vir haar baie ervaring en geleenthede gegee. Dit was vir haar maklik om te skryf vir ‘n tydskrif omdat daar vasgestelde strukture, woordtelling en temas is wat gevolg moet word. Sy sê dat al die liefdesverhale gelukkig moet eindig waar die paartjie by mekaar uitkom. Die uitdaging is egter hoe om daardie gelukkige einde op ʼn kreatiewe manier te benader.
Daarna het sy vir boekklubs geskryf en Lapa uitgewers het drie van daardie boeke gepubliseer.

Pandora se boks

Ek vra toe vir Nelia oor die Kinderboektoekening wat sy in 2009 gewen het vir Pandora se boks. Haar antwoord daarop was dat kinderboeke absoluut haar gunsteling genre is om in te skryf. Sy was lus om ʼn boek te publiseer en toe bied Lapa uitgewers ‘n werkswinkel aan oor die skryf van kinderboeke. Franci Greyling het dit aangebied en vir al die deelnemers ‘n baie interessante uitdaging gestel. Sy het vir elkeen R40 gegee en gesê hulle moet in die brein van ʼn kind klim en dan besluit wat om met die geld te koop. Hierdie het haar aangespoor om kinderverhale te skryf.

Nelia noem dat daar wel beperkinge betrokke is om tienerverhale te skryf. Alhoewel die karakters baie eerlik kan wees, is daar sekere vloekwoorde en temas wat vermy moet word. Hierdie is veral belangrik as skole die boek moontlik wil gebruik. Nelia sê dat uitgewers baie hulpvaardig is en dat hulle die skrywer die geleentheid sal gee om die boek “ skoon” te maak indien skole daarin belangstel.

Nelia skryf ook graag haar tienerverhale in die eerste persoon. Sy voel dit plaas haar dieper in die karakter se skoene en dan kan sy die storie met meer emosie vertel. Dit help ook om karakters van mekaar te onderskei. Hulle taalregister is duideliker asook hulle gevoel teenoor hulle familie en vriende.

Die vierletterwoord

Hierdie jaar het Nelia ‘n nuwe tienerverhaal gepubliseer getiteld: Die vierletterwoord. Hierdie boek het sy ingeskryf vir die Sanlam Kompetisie in samewerking met Tafelberg uitgewers. Sy was wel net ‘n finalis, maar Tafelberg het van die verhaal gehou en besluit om dit te publiseer. Die tema van die boek is “hoop” wat dan die vierletter woord verteenwoordig.

Verder raadpleeg ek Nelia oor die saamstel van ‘n kortverhaalbundel. Sy het toe geantwoord dat sy nie werklik ‘n kenner op die gebied is nie omdat haar kortverhale in ander mense se bundels gepubliseer word. Sy is egter van mening dat dit interessant sal wees om ʼn bundel saam te stel waar die hoofkarakter van een verhaal weer verskyn as ‘n bykarakter in ‘n ander verhaal en anders om. Sy sê dit sal help om die verhale saam te bind om die bundel te vorm.

Al het Nelia so groot liefde vir kreatiewe skryfwerk het sy nie heeltemal haar joernalistieke skoene weg geskop nie. Sy werk by die NWU se Institusionele kantoor waar sy verantwoordelik is vir korporatiewe publikasies. Sy werk aan die jaarverslae en ‘n profielboekie oor die universiteit wat regoor die drie kampusse versprei word. Sy werk ook aan die Alumni-tydskrif wat twee maal per jaar verskyn

Laastens vra ek haar of daar ‘n toekoms is vir kortverhale. Sy lag en antwoord: “Nie as jy ‘n lewe daarvan wil maak nie. Jy gaan altyd ‘n ander loopbaan moet hê tensy jy Deon Meyer is.” Sy verduidelik dat jy in Suid-Afrika skryf vir die liefde van die saak en dat jy net sal geld maak as jy aan ‘n klomp kompetisies deelneem en tydskrifverhale skryf.

Haar laaste advies aan my was dat ek ‘n dik vel moet ontwikkel en moet leer uit kritiek. Sy sê dat mens nie moet moedeloos word nie en jou ore oë moet oop hou want interessante stories idees kom van die mense rondom ons.

Kuier by Nanette van Rooyen

Waaroor handel Ek was hier?

Dit is ‘n greep van ongeveer drie maande uit die lewe van twee tieners wat verlief word en op ‘n onkonvensionele manier met mekaar kommunikeer. Hulle gebruik straatkuns en graffiti as medium.

Wat was jou inspirasie agter die uitmuntende jeugroman? 

Dankie vir die kompliment. Jy het my nou skoon van stryk af.
Dit was natuurlik tieners! My oudste dogter, Sabina, se vriend Henrico het op ‘n dag ‘n boek op my lessenaar kom neersit met die woorde: “Ek dink jy gaan hiervan hou.”
Dit was ‘n boek oor Banksy, die stensil-kunstenaar van Bristol, Engeland – die titel War and Piece. Die jongman was reg. Op bladsy twintig was ek dol op Banksy se werk. Hiermee saam het ek ook op sketse afgekom wat Sabina gedoen het. Dit was hoofsaaklik 3-dimensionele letters en strokiesprente in die styl van Animé en Manga. Animé (afkorting vir Animasie) is ‘n Japannese kuns-styl en Manga is die Japannese term vir strokiesprente. Dit het uiteindelik so gebeur dat Sabina die sketse vir my boek gedoen het. So, met met die kombinasie van al hierdie gebeure het ek gedink dit sou lekker wees om ‘n liefdesroman te skryf vir tieners wat al hierdie elemente bevat.

Waarom het jy juis ‘n karakter met Nederlandse- sowel as Tjeggiese agtergrond in hierdie Suid-Afrikaanse jeugroman gekies?

Ons woon in ‘n baie kosmopolitaanse deel van Kaapstad waar ons omring is van ‘n bont mengsel van kulture en nasionaliteite. My kinders is ook in ‘n skool wat baie kleurryk is in terme van kulture. Die Nederlandse invloed kom direk van ‘n Belgiese aangetroude niggie van my – Marie-Louise van Luffelen. Sy het my altyd teen die planke met haar pittige gesegdes. (Ek het sommer haar van ook gebruik vir Frankie se familie.) Die Tjeggiese invloed het saam met die Milan-karakter gekom. In my gedagtes het hy die swart oë van ‘n Tjeg gehad. Ook, toe ek in Graad 10 was, het ons ‘n wonderlike Engelse onderwyser gehad, Mr Kucharzik. Die kinders het hom vreeslik misbruik vir sy sagte en vriendelike karakter. Die seuns veral het hom gereeld uitgetart om te sien of hy kan kwaad word. Tot hulle op ‘n dag uitgevind het dat hy ‘n swart belt in Karate gehad het. Die Franse invloed? My kinders doen albei Frans op skool en hulle pa (hoe lief ek ook al vir hom is) kan hulle verskriklik irriteer as hy hulle Franse woordeskat toets – veral in ‘n restaurant soos Frankie se pa met haar doen.

Watter interessante karakters – waar kom jy aan hulle?

Frankie is in ‘n mate gebaseer op Sabina, want dit is tog die tiener wat ek die beste ken en kon dophou- dit was toe sy veertien was, intussen het sy sestien geword. Sy lyk net glad nie soos Frankie nie, maar daar is ‘n redelike ooreenkoms in hulle karakter. Milan het ek sommer opgedroom en dalk as ek mooi dink, het ek tog eienskappe van Sabina se vriend, Henrico, by Milan ingeklits. Frankie se pa is gebaseer op my kinders se peetpa, Rayne. Laasgenoemde het ook ‘n kookskool in Kaapstad en hy kan ook lekker dramaties wees met ‘n luide stem. Ek het die pa-karakter net heeltemal anders laat lyk. Peetpa sou nie daarvan gehou het om met Atilla die Hun vergelyk te word nie! Frankie se New Age ma is ook losweg geskets op ‘n vriendin van my wat net so feetjie-agtig is. Sy leef ook van lensies, liefde en drome. Milan se pa is die presiese weergawe van ‘n Engelse onderwyser wat ek in Graad 10 gehad het – Mister Kucharzik. ‘n Wonderlik sagte man wat geen vlieg skade sou aandoen nie. Die kinders het sy siel vreeslik uitgetrek om te sien wanneer hy dan gaan kwaad word. Hy het nooit sover ek kan onthou nie. Die misbruik van Mister Kucharziks se vredige geaardheid het op ‘n dag skielik gestop toe ons agterkom dat hy ‘n swart belt in Karate gehad het. En die eksentrieke Gloria? Sy het net soos Milan net in my kop ingestap gekom. Ek het haar vreeslik geniet en is spyt dat ons nie meer elke dag in haar hoekkafee kan tee drink nie. Hier moet ek tog byvoeg dat met elke boek wat ek skryf, word ek verlief op ‘n karakter of twee. Al is die boek al maande op die rakke, verlang ek steeds na daardie karakter en dan moet ek waak daarteen dat ek nie eienskappe van daardie karakter oordra in ‘n nuwe een wat ek aan die skep is nie.

Was jou doel met die karakters bloot om ‘n variasie te hê wat ‘n boeiende en sterk verhaal vertel of is daar vir jou persoonlik baie meer aan die karakters?

Ek gaan sit in geen stadium van ‘n storie en werk ‘n skema of struktuur uit waarin spesifieke karakters gegiet moet word nie. Die keuse van karakters gebeur organies. As ek my hoofkarakters gevind het, trek hulle self die ander karakters by die storie in. Maar toe die hele bontspul nou uiteindelik gebeur in Ek was hier, het ek gedink die hutspot van malletjies kan dalk genoegsame spanning skep en hopelik ‘n bietjie plesier verskaf.

Uit watter soort tekste put jy die meeste genot en dien as inspirasie vir jou as skrywer?

Ek is dol op gedigte. Digters soos Petra Muller, Anne Michaels, Margaret Atwood en Michael Ondaantje slaan my asem weg. Prosa-tekste wat redelik liries geskryf is en boonop eerlik kyk na die gekompliseerde verhoudings tussen mense ontroer my ook. Iets soos Without Blood en Silk van Allessandro Barrico of The Blindfold van Siri Hustvedt. Goeie kortverhale boei my ook. Ons eie Chris Barnard is so ‘n kortverhaalskrywer. Julian Barnes en Jeanette Winterson is ook van my gunstelingskrywers. En dan altyd Marlene van Niekerk.

Met al die graffiti en kunstenaars wat in die roman verskyn, het dit duidelik baie navorsing geverg, hoe lank het dit jou geneem om die roman te voltooi?

So twee maande navorsing en ongeveer ses maande se skryf aan die roman. Baie korter as my vorige volwasse roman waaraan ek ongeveer twee jaar gewerk het. Ek was mal oor die navorsing in Ek was hier. Hoe heerlik om kunstenaars soos Moose, Space invader, Keri Smith en my gunsteling Blek le Rat te ontdek. Dit was ook wonderlik om saam met Sabina “musiek navorsing” te doen. Sy het my letterlik deur genres gesleep: Baie Old School, Heavy Rock, Punk Rock, Indie, ens. Ek het net voet neergesit toe ek na Dub Step moes luister.

Vertel bietjie van die skryfproses. Jy het al vertel dat jy skryf en redigeer. Elke hoofstuk vertel byna ‘n verhaal in eie reg. Skryf jy chronologies of skryf jy los hoofstukke en las dit agterna mooi netjies aan mekaar?

Ek het nou al geleer dat elke boek op sy eie manier by my aandoen. Chinchilla het ek baie organies geskryf. Tonele wat deur die karakters aangedryf is, het ek geskryf sonder om te weet waar dit gaan pas. Met Ek was hier het ek chronologies geskryf. Elke dag het oorgegaan na die volgende dag. My kortverhaalbundel (en die een waaraan ek nou werk) is ‘n rare besigheid totdat ek so driekwart deur die bundel gewerk het, dan wys daar skielik ‘n “tema” op wat my rigting gee.

Die taalgebruik van die jong karakters is eintlik formeel. Waarom hulle nie die kenmerkende jargon van tieners of straatkunstenaars laat praat nie? Is die doel dalk opvoedkundig?

Dit sou vals geklink het as ek in tiener jargon geskryf het. Guerilla-kunstenaars se jargon is hoofsaaklik Engels. Dit sou die teks in Afrikaans ‘n wanklank gegee het. Buitendien is die twee hoofkarakters nie die norm nie. Frankie en Milan is sterk individue wat nie maklik in ‘n vorm gegiet kan word nie. Modes en kodes is nie waarvolgens hulle leef nie. So ek het maar gesing soos ek gebek is.

Enige advies aan opkomende kinder- en jeugroman skrywers?

Skryf met jou guts. Skryf elke dag, al is dit ‘n paragraaf. Wees lewensgetrou. Wees oplettend. As ‘n teks nie werk nie, los dit om asem te haal. Gaan kyk na ‘n tyd weer met ‘n eerlike oog daarna. Druk deur. Dit is nie altyd maklik nie. Sterkte!

Kuier by Wendy Maartens

In u boeke is daar baie keer lewenslesse wat ‘n mens leer.  Watter temas gebruik u en hoekom is dit so belangrik?

Ek fokus glad nie op ‘n tema as ek ‘n storie skryf nie.  Wanneer ek van my eie stem vergeet en na die stem van die storie luister en dit so getrou as moontlik neerpen, vloei die tema tot ‘n mate vanself uit die storielyn. Dit verg geduld met myself en vertroue in iets veel groter as myself.

Waar het u liefde vir stories skryf begin?

My ouma was ‘n boekwurm en my ma is steeds ‘n boekwurm. Sy het vandat ek kan onthou vir my gelees en gesing en rympies opgemaak en ons het die biblioteek se drumpel deurgetrap.

Het u daarvan gehou om opstelle op skool te skryf?

Nee, want ons moes altyd skryf oor My Vakansie of My Hond of Dit Spook Daar…

Is daar boeke wat as kind ‘n groot indruk op u gemaak het en indien ja, watter boeke?

Die heel eerste reeks waarop ek as voorskoolse kind versot was, was die beertjieboeke!  Daarna het die weeklikse Bollietydskrif gevolg wat 5c gekos het en toe ek groter is die Tina. Intussen was daar Trompie en Saartjie en Nancy DrewJ en toe ek groter word kom ek agter my ma bêre André P. Brink en sy tydgenote se politieke romans, wat destyds verban is, agter in haar bedkassie – ek het hulle almal saam met haar gelees sonder dat sy dit weet – of dalk het sy…

U is ‘n ywerige reisiger, wat is u gunsteling bestemming om na te reis?

Dis nie die bestemming wat werklik saak maak nie, maar die gesindheid waarmee ‘n mens reis. Soms leer jy meer van jouself as jy net oor die straat stap en in ‘n sonkol met ‘n boemelaar sit en gesels as wanneer jy halfpad om die wêreld sou vlieg.

U was voorheen ‘n onderwyser.  Wat mis u van die onderwys?

Ek mis nie die skool nie, maar wel spesiale oomblikke soos ‘n kind wat teen ‘n klasvenster klop om vir jou te waai of die verwondering as ‘n kind vir die eerste keer die unieke patroon van sy vingerafdruk besef.

Wat is die lekkerste deel van skrywer wees?

Om betaal te word om te droom en op reëndae in jou pajamas te werk (maar moenie dink dis net droom nie, dis lang ure op ‘n harde stoel sit en elke keer met ‘n leë bladsy begin sonder om die vaagste benul te hê waar die storie vandaan gaan kom.)

Het u nog drie katte as troeteldiere?

Freda en Framboos is reeds oorlede. Hulle was susters en het onderskeidelik 18 en 19 jaar oud geword. Freda was baie liefdevol en eiewys en het vir Framboos voorgesê wat om te doen. Framboos was ‘n bietjie verstrooid, maar verskriklik mooi. Sy het graag haar stert se punt gesuig en as sy dit nie gou genoeg in die hande kry nie, het sy sommer Frieda s’n gesuig. Emma is die laatlam. Sy is nou 10 jaar oud. Ongelukkig moes sy by haar pa agterbly toe ons skei, want die dorpshuiskompleks waarheen ek destyds getrek het, het nie troeteldiere toegelaat nie. Maar sy is spekvet en tevrede en stuur gereeld vir my e-posse.

Is u tans besig om aan ‘n boek te werk?

Ja, ek is besig om ‘n versamelbundel saam te stel en die einde van hierdie jaar word ‘n kinderatlas gepubliseer.

Is u iets vir elke laerskoolleerder kon gee, wat sou dit wees?

‘n Handvol water om elkeen daaraan te herinner dat ‘n mens se gees die kleur van water is en ons mense daarom nooit op grond van hul velkleur mag oordeel nie.

Wat was vir u lekker van u skooldae?

Skool het my ‘n kol op my maag gegee. Dalk het ek alles te ernstig opgeneem!

Watter tipe boeke lees u graag?

Ek lees enigiets wat ek in die hande kry, maar verloor gou belangstelling as dit nie interessant genoeg is nie. As daar niks beskikbaar is nie die agterkant van die tamatiesousbottel.

Wat is die een ding wat u nog in die lewe wil doen?

‘n Kunsuitstalling hou van my voëlskilderye en voëlstories.