SNAK

1

Kara

Dit kom stadig na my aangedobber. Donkerbruin en uit gloeiende hout gesny. K-A-R-A. Stadig, maar lewend en polsend, vloei dit tot by my. Ek moet regaeer, dis ek, hierdie lyf, hierdie een wat dink.

“Kara.”

My oë moet oopgaan, maar teen my wil, die letters is so mooi . . . My ooglede beur hulleself stukkie vir stukkie oop.

Alles om my is wit, daar is ‘n skerp lig wat in my gesig skyn. Ek kan skaduwees van figure uitmaak. Menslike vorms.

Ondertoe voel dit asof daar niks is nie . . . asof ek net ‘n kop is. Ek probeer my lyf voel, maar ek kan nie. Net my brein en my oë werk.

Die skaduwees om my het agtergekom ek is wakker, want hulle beweeg vinniger en meer doelgerig. Ek voel ‘n ander energie aan, tog praat hulle steeds nie met mekaar nie.

Het ek my verbeel dat iemand my naam genoem het? Of het ek myself wakker geroep? Ek probeer onthou waar ek is, hoekom ek hier is, wat met my gebeur het, maar ek kan nie. My geheue is wit soos die vertrek. Tog het ek my eie naam onthou . . .

“Wat is jou naam?” vra die skaduwee.

Ek wil antwoord, maar my mond en stembande wil nie saamwerk nie.

Die skaduwee draai terug na die ander, wat lyk of hulle om ‘n soort skyngram saamdrom. Niemand praat nie.

Ek konsentreer hard om die woorde te vorm.

“Sit sebief die skerp lig in my gesig af.” Dis ‘n verligting om myself te hoor.

Die lig gaan dadelik af.

Die kamer is nog steeds wit. Een van die figure kom nader. Waar het ek al voorheen so iemand gesien?

“Wat is jou naam?” vra die perfekte mensfiguur.

Vir ‘n oomblik sien ek die buitelyne van my skelet in haar oë weerkaats, maar dalk het ek my verbeel.

Ek weet ek is Kara, maar dis absoluut al wat ek weet.

Ek wil praat, maar iets keer my. As ek alles gesê het wat ek weet, wat bly oor?

“Ek . . . weet nie,” sê ek.

Elf dae op ‘n eiland

Sy maak haar oë oop, maar dit bly donker.

Iewers raas die see, woedend. Die lug wat sy inasem is warm. Sy proe sout. Sy roer versigtig, maar haar lyf voel swaar, asof sy ver moes swem, of hardloop, of . . .

Hoe het sy hier gekom?

Sy draai op haar sy. Sy voel naar en duiselig. Haar klere is nat en daar is ‘n kloppende pyn in haar boarm. Sy probeer regop kom. Die rots onder haar is glad en sy stamp haar kop hard teen iets laag bo haar kop.

Sy trek haar bene op en laat rus haar ken op haar knieë, sluit weer haar oë en probeer dink.

Alex. Hy was daar. En Trix en Gaby en . . . Waar is almal?

Sy sak terug op die grond en gee haar oor aan ‘n swaar, swart moegheid wat haar worstelende gedagtes oorweldig. Sy onthou niks meer nie en sy gee ook nie om nie. Die klip onder haar wang is klam en warm, en sy verbeel haar sy kan die hart van die aarde diep onder haar voel klop. As sy net hier kan bly lê, doodstil . . . totdat . . .

Toe sy weer haar kop oplig, spoel lou water oor haar bene. Daar is flou lig, en sy skreef haar oë om beter te fokus. ‘n Blink skerf maan kruip oor die horison en toor lig uit die see, ‘n smal prentjie geraam deur donker rots.

Sy is vasgekeer in ‘n grot, en die gety kom in.

Die meisie wat gedink het haar ma is ‘n meermin

Die eerste keer wat Stella Malherbe wegloop van die huis af, is dit in haar slaap.

Sy begin in haar slaap loop toe sy agt is, kort ná haar ma se dood. Aanvanklik kom sy nie verder as haar slaapkamerdeur nie. Die handvatsel ratel sodra sy daaraan raak en maak haar wakker.

Een aand is die deur egter op ‘n skrefie oop en loop sy tot in die gang sonder om wakker te word. Sy loop saggies by die trappe af, deur die voorportaal en tot by die kombuis. Die marmer-kombuistoonbanke wat tannie Connie elke dag poets, blink soos water in die maanlig. Sy loop by die agterdeur uit en oor die stoep. Sy loop sonder om te aarsel, asof sy bevele volg.

Die gras is nog nat van die sproeiers, maar Stella voel nie die koue onder haar kaal voete nie. Sy is vas aan die slaap. Sy loop deur die geel poel wat die stoeplig oor die grasperk gooi. Dan beweeg sy al dieper en dieper die skaduwee in. Toe sy by die lae klipmuurtjie kom, klim sy oor. Haar voete land op die plaveisel aan die ander kant.

Die swembad se water is donker en kalm in die nag.

Gelukkig kan Stella se pa nie weer slaap nie. En gelukkig is hy te hartseer om te onthou om sy gordyne toe te trek. Hy sien Stella se wit nagrok buite in die donker.

Hy is net betyds. Sy is reeds besig om te val toe hy haar om die middel gryp en wegtrek van die water af.

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Die einde van al my vakansieplanne

“Komaan, Pa is seker nie ernstig nie!”

Die oomblik toe daardie woorde uit my mond is, is ek spyt daaroor. Nie omdat ek wéét dit gaan my pa se bloeddruk nog verder opjaag nie – ek is al gewoond daaraan om sy bloeddruk te laat styg. Maar as daar een ding is waarvan jy nie juis my pa kan beskuldig nie, is dit ‘n goeie humorsin. My pa is ‘n prokureur. Hy is altyd ernstig. Okei, dis dalk onregverdig van my – ek is seker daar is prokureurs wat heeldag lank vrolik en vol grappies is. My pa is net nie een van hulle nie.

“Luan, jy moet my mooi verstaan,” sê hy met daardie stem wat getuies tranerig kan maak in die hof. “Jy is in groot, groot moeilikheid. Ek het besluit dis beter dat jy die vakansie iewers anders deurbring. Terwyl jy weg is, sal ek dinge uitsorteer.”

As my pa ‘n superhero was, sou dit beslis sy superkrag wees. Ta-daaa! Die Ongelooflike Meneer Uitsorteer.

My ma sug moedeloos. “Ek sal jou help om klere in te pak.”

As my ma ‘n superhero was, sou haar superkrag wees om te sug en misdadigers die soort verwytende kyk te gee wat hulle lewenslank skuldig laat voel. Die Gemaskerde Gewete.

“Jou ouma het laat weet sy sal môreoggend vroeg hier wees om jou op te laai,” sê my pa en trek die TV se afstandbeheer nader. Kaptein Klaargepraat.

Ek byt op my tande.

Fantasties.

Ek het planne gehad vir die vakansie.

Laat slaap.

Playstation speel.

Flieks kyk.

Op Whatsapp en Twitter rondhang.

Saam met my pelle kuier.

‘n Trippie Karoo toe saam met my ouma.

Raai watter een was nié op my lysie nie.

Ek weet nie hoe hulle met dié idee vorendag gekom het nie. Dit is nie asof ‘n vakansiekuiertjie saam met my ouma ‘n gereelde gebeurtenis in my lewe is nie. Om die waarheid te sê, my ouma se naam word nie eintlik baie in ons huis gehoor nie.

Spoekie

1

Wêreldrecords

Hoo hie. Die bra hourie wêreldrecord virrie meeste balloons blaas … met sy nies. Feite. Sy naam is Andrew Dahl. Wat ek wil weet, is hoe vinne jy innie eerste plek yt daai is wat jy goed in is. En dink aan hoeveel snot haa nie in dai balloons issie.

Dié vrou wee, Charlotte Lee, sy own ie meeste rubber ducks, hai’s ha record. Rêrag. Hie’s wat vi my weird is van hai: hoeko sal jy een rubber duck wil hê, never mind 5 631 vannie goed? Hai’s literally onnorag. En ek, ek hou sieke die wêreldrecord vi wiet vannie meeste wêreldrecors. Vi daai en virrie meeste sunflower seeds iet.

“Laat ek raai, sonneblomsaad?” Hai’s wat Mr. Charles altyd sê, eintlik skrie, wanne ek haa by hom kô koep. Hy sê sy winkel isse “kontreiwinkel”, al bly ôs innie stad. Mr. Charles lyk nes James Brown as James Brown ‘n wit man was. Ek kry al my sunflower seeds by hom Maandag tot Vrydag vanaf, lat ek gou dink … vanaf graad vie. Hoe ek onthou, hai’s wanne my ma byrie hospitaal begin wêk et. Soe vi drie jaa nou al. Hy’s hadhorend, en wanne my ma rit altyd gesêret dan het ek altyd gedink sy sê “harthorend”, wat nooit vi my sin gemaaketie. Ek wiete hoekom sy nie net “ampe doof” gesêretie. Miskien oo “hardhorend” meer is hoe mense inne hospitaal praat en toe beginte sy oek soe praat.

Maa ja, Mr. Charles kan ampe niks hoo nie, hai’s hoekom hyrie heeltyd vi ammel skrie en hoekom ammelie heeltyd vi hom skrie. Sy winkel is soes ‘n djol sône music. Maa dan confuse die TV agterie counter jou wee, wan dan voelit asof jy in ‘n cinema is, soe had issie volume. Is net Westerns op repeat heeldag. Mr. Charles is oekie een wat my die boek gegieret, Guinness World Records, waa ek gelieset van Andrew Dahl en Charlotte Lee. Hy sê ek kan oek eendag ‘n record set. ‘n Regte record. Die wêreld se beste iets wies. Miskien.

Papierblomme

Alles, elke ding het sy tyd, dis wat die Bybel sê. Elke lewende wese, elke plant, elke dier en mens wat asemhaal, het ‘n begin, ‘n middel, en ‘n einde; tyd om gebore te word, te lewe en te sterf, om te onthou en te vergeet. Maar wanneer Janine aan haar lewe terugdink, is daar dae en tye wat sy nie kan vergeet nie. Toe sy sewe jaar oud was, het daar ‘n deur tussem haar en Jesus die Here toegeklap. Om dit oor te vertel, besef sy, moet sy teruggaan na die winter van 1990. Selfs nou, ná al die jare, onthou sy dit asof dit gister gebeur het, en word sy weer klein. Wat was koud daardie oggend . . .

Janine is nie lus om op te staan nie, maar sy moet badkamer toe en die son loer al deur die spleet tussen die gordyne en sny haar balletprent middeldeur: Die een helfte is vaal, die ander helfte pienk. Sy tel tot drie, stoot die komberse van haar af en sit regop.

Watter dag is dit vandag? Haar skoolrokkie hang nie oor die stoel nie. O ja, dis Sondag. Sy gaan na die klein kerkie, Mamma en Pappa na die groot kerk. Snaaks dat Mamma nie kom kyk of sy wakker is nie.

Die telefoon lui.

Sy soek haar pantoffels onder die bed, en kry hulle aan hul haasore beet. Haar kamerjas lê op die bed se voetenent. Sy trek dit aan en gaan staan voor die venster. Die gordyne het pienk rosies, sy het dit self gekies. Saans trek Mamma hulle toe, soggens maak sy hulle oop. Vandag doen sy dit self. Sy moet wegkyk, want die son skyn in haar oë. Miskien is Mamma en Pappa moeg. Hulle was gister Pretoria toe, dis hoekom tannie Jessie by haar kom bly het, Sy en tannie Jessie het The Little Mermaid gekyk, twee keer agtermekaar.

Daar lui die telefoon weer. Iemand is wakker, want iemand antwoord. Wie bel tog so aanhoudend?

Toe sy die deur oopmaak, staan daar ‘n vreemde tannie in die gang. “My arme kind.” Sy steek haar arms uit asof sy haar wil gryp. “Jessie!’ roep sy na die sitkamer se kant. “Sy’s wakker!”

Die volgende oomblik staan tannie Jessie by hulle en huil. “Ninatjie. . .” Tannie Jessie kyk na haar met rooi oë. “Hoe sê ek dit vir jou?”

Janine word bang. “Mamma!” skree sy. “Ma!”

Tannie Jessie se arms hang. “Sy’s weg.”

Z-A-K: Die Blou Planeet

Mitch Wilson slinger sy skoolsak oor sy skouer en trek die tuinhekkie agter hom toe. ‘n Gedreun in die verte laat hom opkyk. Was dit donderweer? Sy oë glip oor die horison en steek vas bo die berge in die ooste, waar ‘n massiewe lensvormige wold onder die son versper wat nog skaars op is. Dit is die vreemdste wolk wat hy al ooit gesien het, die onderkant donker en onheilspellend, met die ronding aan die bokant wat skitterwit glim. Silwer blitse dans in die donkerste deel van die wolk rond.

Hy ril. Hy het vanoggend met ‘n knop op sy maag wakker geword, soos hy altyd voor ‘n groot eksamen kry. Maar hy skryf vandag nie eens ‘n klastoets nie. Nou laat hierdie vreemde wolk die knop net stywer span.

“Dis ‘n lentikulêre wolk,” praat Lionel Afrika skielik langs hom.

Mitch ruk soos hy skrik; hy’t nie Lionel hoor nader kom nie. “Jeez, dude, vir wat bekruip jy my so?”

“Jammer, ek het nie besef jou kop is in die wolke nie.” Lionel lag vir sy eie grappie en druk sy bril stywer teen sy neus vas. “Lentikulêre wolke lyk maar so weird, en met genoeg verbeelding kan mens dink daar kruip ‘n spaceship binne-in weg. Maar trust my, dit is net ‘n wolk, en soos met alles is daar ‘n doodeenvoudige wetenskaplike verduideliking vir die vorm. Mooi, nè?”

‘n Ou soos jy

Die wit BMW hou voor ons hek stil.

“Het jy alles, Emma?” vra my ma. “Het jy jou tandeborsel onthou? As julle daar aankom, let tog op wat die straatname is ingeval jy iewers verdwaal.”

“Genade, Annali. Sy gaan nét see toe! Jy laat dit klink asof sy op pad is om ‘n maand lank in die wildernis te gaan bly.”

“Daar is niks fout daarmee om ‘n mens oor jou kinders te ontferm nie, Johannes. Onthou jy nie wat laasjaar in Namibië gebeur het nie?”

Ek en my pa sidder gelyktydig. Nie een van ons wil graag aan die Namibië-voorval herinner word nie. Ek tel my tasse vinnig op, maak seker ek het my gunsteling- Batman comic ingepak, en ek kan nie gou genoeg deur die voordeur ontsnap nie. As my ma eers my pa se volle naam gebruik, moet ‘n mens maak dat jy wegkom.

Karlien groet my by die kar.

“Haai, vriendin! Ek’s so opgewonde dat jy saamkom. Dit gaan so lekker wees!” sê sy en gee my ‘n drukkie.

“Ek kan nie wag om weg te kom nie,” fluister ek in haar oor. “My ma is al ‘n week lank in freak-out mode!” Ek draai na waar my ouers op die stoep staan en waai vir hulle. As ek nou al waai, sal hulle dalk nie uitkom om met Karlien se ouers te gesels nie. Ek waai nog ‘n paar keer.

“Is jy seker jy het genoeg onderklere ingepak?” roep my ma met ‘n diep kloof tussen haar wenkbroue. Ag, kan die aarde my asseblief nou maar insluk. EK hoor hoe iemand agter my proes.

“Toemaar, Tannie, as sy nie het nie kan sy dié wat sy aangehad het elke aand in die stort uitspoel en die volgende dag weer aantrek,” roep ‘n manstem terug. My ma lyk asof sy pas ‘n spinnekop ingesluk het. Haar mond gaan geluidloos oop en toe soos ‘n hond wat na borrels hap.

Ek kners op my tande en draai stadig om, nie seker of ek gereed is vir wie agter my staan nie.

“Ek dog jou broer gaan nie saam nie,” fluister ek vir Karlien.

Daar staan hy, in al sy glorie.

Christiaan, Karlien se ouer broer, leun luiweg teen die kar en glimlag breed vir my ma. Sy donker kuif hang oor sy oë. Dan kyk hy vir my en my hart begin bokspring.

Ek sluk, my keel is skielik vreeslik droog.

“Haai, Christiaan,” groet ek en my stem kraak. My nek voel warm. “Ek dog jy sou dié vakansie saam met Elzani in die Drakensberge gaan kamp.” Ek probeer glimlag. Miskien gaan laai Karlien se ouers hom by Elzani se huis af voordat ons op die snelweg kom.

Miskien…

Kate in Harmonie

Die deur klap toe in haar gesig.
        “Gaan weg, Kat.”
        Dieter se stem is gesmoor agter die toe deur. Hy noem haar Kat wanneer hy haar kwaad wil maak, maar sy alie, vandag val sy nie daarvoor nie. Dit help in elk geval nie hy klap die deur in haar gesig toe nie. Hulle moet groet. Sy is bang, bly, hartseer – te blerrie deurmekaar om sy nonsens ook nog op te vreet.
        “Totsiens, my love! Dis wat sy vandag moet sê en sy is nie heeltemal reg daarvoor nie.
        Voel Dieter dalk soos sy? Vandag groet hy ook sy geliefde Johannesburg. Die dat hy haar staan en Kat noem, terwyl hy agter donker oë, ‘n hoodie en oorfone probeer skuil. Haar pa kry ‘n oorval as Dieter so in die kar klim. Die hoodie gaan moet af, die oorfone ook, ten minste tot hulle deur die eerste tolhek by Grasmere is. Haar pa glo rytyd is kwaliteit-gesinstyd en hy verwag dat hulle ten minste lyk asof hulle saam wil gesels. Weird, maar sy speel tog gewoonlik saam. Gesels maar tot haar ouers self stil raak.
        Kate stap in die gang af voordeur toe. Haar voetval is byna geluidloos op die dik mat in die gang van haar oupa-hulle se huis. Van vandag af gaan almal waarskynlik meer vrylik asemhaal. Dis die silwer randjie van hierdie donderwolk oor hulle koppe.

#Presiesanders 2 Cupcakes en kupido’s

Maandagoggend kom meneer Vos soos ‘n laksman in die paadjie afgestap, besig om ons rekeningkundetoetse uit te deel. My palms is al klaar natgesweet. My maag maak ‘n draai. Toe hy by my tafel stop, vryf hy oor sy snor. Nooit ‘n goeie teken nie. Met ‘n simpel glimlag sit hy my gemerkte toets triomfantelik voor my neer. Ek draai dit dadelik om voor iemand die punt kan sien. Ek is self te bang om te kyk.
       Voor in die klas roep Beula opgewonde, hard genoeg vir almal om te hoor: “Volpunte! Ek het dit nou nie verwag nie.” Blah. Natuurlik het sy. Beula gooi haar swart poniestert oor haar skouer. Pleks doen sy ‘n bietjie iets anders met haar hare, maar dit lyk elke dag presies dieselfde … asof sy nie ‘n verbeelding het nie.
        Dis ‘n wonder sy’t nog nie ‘n boggel van al die balkies wat aan haar skoolbaadjie gespeld is nie. Party is sommer vir stupid goed soos behulpsaamheid. Meer soos gatkruip as jy my vra. Daarvoor sal sy baie balkies kan kry.