Toe als groen was

Normaal. Daai woord, daai ding wat ek nooit sal wees nie. Op haar agtiende verjaarsdag loop Marné weg van die huis af. Weg van Die Sending waar sy grootgemaak is tussen groen valleie. Weg van die kultus met hulle tienduisend reëls wat haar hele lewe beheer. Sy begin ’n nuwe lewe by haar tannie in Klerksdorp en probeer leer hoe om ’n doodnormale meisie te wees tussendeur die uitdagings van matriek in ’n nuwe skool. Sy maak nuwe vriende, en dan is daar die kitaarspeler met die mooi groen oë … Maar na jare van breinspoeling en manipulasie is dit nie so maklik om weg te breek van die sendingdogtertjie wat sy eens was nie. En haar ouers en Die Sending sal nie ophou om haar te probeer opspoor nie. ’n Aangrypende grootwordverhaal oor die soeke na self, die soeke na God en die soeke na waarheid. Hierdie treffende debuut is gebaseer op ware gebeure by die KwaSizabantu Sendingstasie in KwaZulu-Natal, waarvan die skrywer deel was.

Om jou te ken

Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are. Gelukkig het Gabby goeie vriende en dalk selfs iets meer as net vriendskap met Brandon…

Toe die matriekgroep van Barkly-Wes op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat sy per ongeluk Georgia se dagboek ingepak het. Kort voor lank kry haar nuuskierigheid die oorhand en begin sy haar niggie se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit.

Nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se raadgee-pogings kan die spanning verlig nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of gaan dit daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan? En wat van Brandon? Gaan hy aanhou om haar te vermy nadat Georgia stories oor haar versprei het, of sal hulle steeds saam matriekafskeid toe gaan?

Wolk

Wat gebeur as jy die apokalips misloop? Rufus (eintlik Ruth) en Xandr het pas graad 10 klaargemaak en hulle ken mekaar van kleintyd af. Voordat Rufus en haar gesin die land verlaat besluit hulle om vir oulaas ’n baie belangrike eerste saam te beleef. Sal hulle die plan kan deurvoer?

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika

In hierdie boek sal jy lees van allerlei uitvinders, planmakers en slimkoppe van Suid-Afrika. Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het. Stories oor mense wat met diere en plante werk. Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel. Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak. Dit is voorwaar ’n trots Suid-Afrikaanse boek wat elke leser sal inspireer en motiveer om vrae te vra, te ontdek en te skep.

Justin Fortuin, seerower

Justin Fortuin kuier nog lekker saam met sy ma by tannie Mary in die geheimsinnige Kasteel Boekanier. Dit is ’n reënerige dag wanneer hy en sy vriend Liam ontdek dat die kasteel nie net twee geheime tonnels het nie, maar drie. Waarheen lei die derde tonnel? Die seuns besluit om die tonnel te verken en beleef ’n opwindende avontuur vol raaisels en geheime. Hulle kom ook op ’n ou seilskip af wat geanker is in ’n versteekte baai. Wat het dit met die kok Nicolas te doen? Is Nicolas dalk ’n seerower? Wie is Jessie, wat in die agterste kajuit van die skip aangehou word? En wie is die ware erfgenaam van Kaptein Verwoes se skat?

Môre as ons groot is

Dramateks vir hoërskoolleerders (15+): Môre as ons groot is deur Fanie Viljoen. Dis matriekafskeid – die wonderlikste aand in elke tiener se lewe. Maar wat gebeur wanneer dit verby is? Wanneer selfs die after-party end kry? Vier jongmense staan op die grens van hulle grootmenslewe. Liza, Quin, Noku en Wayne kom elkeen uit verskillende agtergronde en die toekoms lyk ook vir elkeen van hulle anders. Vanaand neem hulle afskeid van hulle skool – hulle vriende – hulle kindwees … en dalk hulle drome. ʼn Kortfilm gebaseer op die teks verskyn in 2016. Fanie Viljoen se voorgeskrewe drama genaamd Betower die drama is tans by FET-skole voorgeskryf.

Storiekaros

Hierdie bundel stories is ʼn karos waarmee jy jou kind opnuut kan koester. Daarmee saam kom die genadegawe om waarlik mekaar se harte te hoor. Om dit reg te kry het jy nie geld of goed nodig nie. Al wat nodig is, is om vir slegs 20 minute elke aand sonder die selfoon, TV en al die 1001 dinge wat jou aandag deur die dag opeis vir jou kind ʼn storie te lees. Die sleutel tot behoorlike lees- en taalvaardigheid begin lank vóór gr. R – by iets eenvoudig soos ʼn slaaptydstorie en jou onverdeelde aandag. ’n Ideale boek vir jou kleinding wat hou van stories, rympies en speletjies.

Offers vir die vlieë

“Op sewentien, toe ons by Opleidingskamp Alpha rapporteer, het ons elkeen ons eie S13 gekry. Daardie dag, toe ek my hande op die swart metaalhuls van die geweer lê, het iets in my doodgegaan. Ek het dit net nie toe al besef nie.”

Dertig soldate kry van kleintyd af intense weermagopleiding in ’n distopiese staat.

Ses jong soldate, ontneem van hul menslikheid en hulle jeug, bly oor en word ontplooi na die Front.

Een van hulle vermoor hul seksieleier.

Almal ontken hulle is skuldig.

Wie van hulle lieg?

BEKRONINGS:

ATKV-Kinderboektoekenning

[Wenner: LAPA Jeugromankompetisie 2019]

[Scheepersprys vir Jeugliteratuur 2022]

Lea: Grypdiewe en gevaar

Lea se ma is ’n veearts en haar pa is ’n diereregte-aktivis en joernalis. Om diere te red, is in haar bloed! Lea en haar klasmaats is op pad na ’n primaatskuiling toe om vir ’n paar dae as vrywilligers te werk. Sy kan nie wag nie, maar ’n paar van die seuns het heeltamal die verkeerde idee en dink sowaar die apies is troeteldiere! Boonop dwing Suna en Mpho vir Lea, Hazel en Nikita om al hulle werk ook te doen en hulle moet ’n kamer deel. Glad nie pret nie. Dan begin alles skeefloop: iemand het ’n paar van die apies gesteel! En net toe Lea uitpluis wat met hulle gebeur het begin die bos brand …

Vertel my nog ‘n grappie

Hoekom doen Kersvader so goed karate? Want hy het ‘n swart belt.
Wat het die krimpvarkie die katurs gevra? “Is jy my mamma?”
Hoekom het die hanswors hospitaal toe gegaan? Hy het snaaks gevoel.

Hierdie is die opvolgboek van Vertel my ’n grappie. Vertel die skreeusnaakse grappe en pittige sêgoed in hierdie boek vir jou maats – dit sal ure se lagpret verseker! Kinders sal dol wees op hierdie grappieboek wat grappe oor allerlei onderwerpe bevat.