‘n Ou soos jy

Emma is vasbeslote – dié vakansie gaan sy ’n ou kry. Hy gaan na soutwater ruik, en haar vir eens en vir altyd kan laat vergeet van haar beste vriendin se broer, Christiaan, wat haar buitendien nie eens raaksien nie. Toe sy nie lank nie na hul aankoms by Jeffreysbaai ’n sekere blonde branderplankryer raakloop, klop haar hart sommer dadelik vinniger. Emma ontdek boonop ’n boek wat stap vir stap verduidelik hoe om ’n ou se hart te wen en sy besluit om die uitdaging te aanvaar … Sy gaan die boek se raad volg en die beste vakansieromanse ooit hê! Wat kan verkeerd loop?

BEKRONING:

ATKV-Kinderboektoekenning

Kupido.com

Lea weet `n ou soos Philip Cronje sal nooit in haar belang stel nie. Maar dan skep haar beste vriendin vir haar `n vals profiel op Kupido.com, en kort voor lank is daar iemand wat met Lea wil gesels, Philip!

#PresiesAnders: Eksperimente en eerste soene

Zoe en Zoya is n identiese tweeling. Maar dit is waar die ooreenkoms eindig. Terwyl Zoe gedurig haar neus in n boek het en posters van die periodieke tabel teen haar kamermuur plak, is Zoya meer behep met haar voorkoms en die nuutste ou waarop sy kamtig verlief is. Wanneer Zoe n klomp seuns as proefkonyne gebruik vir haar ekspo-taak, raak dinge gekompliseer. Zoe moet net beheer kry van haarself. En beslis en absoluut totaal en al nie staan en verlief raak op haar sussie se kerel nie!

BEKRONING: 

ATKV-Kinderboektoekenning

Tienerharte 4: Hartsnaar

Sophia en Noah is al beste vriende vandat hulle in doeke is. In hulle matriekjaar lewe Sophia vir haar ballet en Noah spandeer meeste van sy tyd met sy kitaar. Maar hoe gaan Noah vir haar vertel hy is verlief op haar, sonder om hulle vriendskap op te foeter? En wat weet `n nerd nou van `n meisie se voete onder haar uitslaan? Wanneer Sophia `n geleentheid kry om in Londen te gaan dans, is dit dalk Noah se laaste kans. Die vierde titel in hierdie gewilde romantiese reeks.

Ek en Prins Donkerkuif

Lehandi trek saam met haar ouers van die platteland af Pretoria toe nadat haar pa `n buite-egtelike verhouding gehad het. Maar die nuwe skool is aaklig en haar droom om gewild te word sodat sy `n kêrel kan kry is by die drein af. Al is sy later bekend as Carla Pieterse se vriendin, is dit nie genoeg om Frans Bruwer se hart te verower nie. En al staan Frans se naam in harte en krulle in haar huiswerkboek, skud dit nie vir Drayke Hunter, die creepy nerd in die straat, van haar spoor af nie.Die eerste titel in `n opwindende trilogie waarby jong tieners beslis sal aanklank vind.

Liefde is `n sprokie

`n Bundel unieke kort liefdesstories wat tienerlesers sal wegvoer na `n moderne sprokieswêreld vol aantreklike helde en romantiese heldinne. Elke verhaal is op `n bekende sprokie of feëverhaal gebaseer – maar met `n heerlike moderne kinkel.

Wian Verwey het `n crush op my

Wian Verwey het ’n crush op my. En ek is nie seker hoe ek daaroor voel nie. Elke keer as ek daaraan dink, kan ek nie help om te glimlag nie, want dit klink soos die titel van een van daardie Afrikaanse liedjies waarin als rym.

Ek en jy

Ek het finaal besluit. Ouens is agterbakse miswurms. Net wanneer jy op jou gelukkigste saam met ’n ou is, bars die borrel. Hy cruise aan na die volgende meisie en jy voel soos ’n gek. Verwerp en verneuk en alleen. Ek is klaar met ouens. Ek gaan eendag in die berge in ’n klein huisie bly en groente plant. Iewers in die Himalajas waar daar geen mans is nie. Ek wil nooit in my lewe weer ’n man sién nie.
Nadat haar vorige ou haar verkul het, besluit Annabelle sy stel nie meer in ouens belang nie. Daar is baie ander dinge waaraan sy al haar tyd en aandag kan bestee. Soos haar spysenieringsbesigheid, haar skoolwerk en haar kleinsussie, Mila, wat nog sukkel om hulle ma se dood te verwerk. Maar dan ontmoet sy ’n blouoog-hunk wat haar laat twyfel … Moet sy dalk weer ’n ou ’n kans gee, of gaan sy weer seerkry?

My eerste soen en ander dinge wat jou uit die bloute kan tref

Oukei, ek is nie `n kenner op die gebied nie, maar daar is darem `n paar dinge wat ek van soen af weet. Soos: Jou eerste soen is nie veronderstel om jou pens en pootjies binne-in `n winkelsentrum se fontein te laat beland nie.
Reza dink partykeer Murphy se Wet is spesiaal vir haar uitgedink. Daardie wet wat sê as iets verkeerd kan gaan, dan sal dit. In haar gunstelingskrywer se boeke het sulke rooigesig-oomblikke altyd romantiese gevolge, maar in die regte lewe werk dinge ongelukkig anders. In die regte lewe begin daar nie romantiese musiek speel as ‘n ou jou soen nie. In die regte lewe verander ‘n soen nie alle paddas in prinse nie.

Liefde is nie tjoklits nie

`n Droomou soos Scott . . . Hoe vang jy hom?Dit is Tamara se probleem. En dit sou geen probleem gewees het as dit nie vir Jasmin was nie. Jasmin met die designer-klere wat altyd haar sin kry. Jasmin wat net een doel voor oe het: Scott. Watter kans het ’n beginner soos Tamara teen ’n ervare flirt? Iets drasties sal moet gebeur. Soos ’n totale makeover. Ander hare, klere en houding. Hopelik is dit nog nie te laat nie. Hopelik het Scott nog nie finaal vir Jasmin geval nie. Maar is hy ooit so genuine soos hy maak? Of speel hy net met almal se gevoelens?