Ons laaste legendariese somer

“Besef julle hierdie Desember is legit ons laaste ordentlike somer-skoolvakansie?” Tobi, Rowan en Dean besef matriek gaan rof wees. Die onderwysers deel alreeds huiswerk uit en dis nou eers die einde van graad elf. Daarom moet hulle hierdie laaste Desember-vakansie legendaries maak. Hulle sit af na Vleesbaai – ja, daar is rêrig so ’n plek – en maak ’n paar reëls vir die vakansie: • Geen bakleiery nie. • Almal doen alles saam. • En geen meisies nie. Dis egter waar dinge skreeusnaaks ontspoor … ’n Legendariese misverstand, legendariese ramp, legendariese surfing, legendariese meisie, en dalk ’n legendariese soen – dit alles maak ’n legendariese somer.

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Wenner

Bravo! Charlie

Wat het geword van elke man vir homself? Charlie Flets is 17, taai en ʼn 800m atleet op pad na SA’s. Behalwe vir sy skaaphond buddy, Bravo, en vriend, Jordan Jafta, probeer Charlie sy bes om solo te vlieg. Probeer … Dis makliker gesê as gedaan, veral as jou buddies moeilikheid kry. Terwyl hy bloed sweet op die atletiekbaan, maak hy seker dat hy nie per ongeluk ʼn barmhartige Samaritaan soos die res van sy gesin word nie. Hy fokus eerder op sy eie oorlewing, want hy haat dit dat sy pa ’n helikoptervlieënier in die lewensgevaarlike Soedan is en hy haat dit dat sy ma alles en almal in nood help. Soos die uiters vreemde tannie San wat haar intrek in sý buitekamer kom neem het. En dan tel Charlie teensinnig ʼn verlore joernaal op en teen sy beterwete probeer hy die eienaar opspoor. Skielik word sy eie planne van alleen leef ontspoor, want die joernaal maak ʼn ander wêreld vir hom oop.

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Naaswenner

Donkerster

Carli Kirstein is 17 en so toegewyd aan wildbewaring dat sy soms van gevaar vergeet. Met twee veeartse as ouers was dit eintlik onvermydelik, maar haar passie maak haar nie juis deel van die gewilde groep nie. Die drie ouens in haar lewe maak ook dinge moeiliker. Wouter, toekomstige hoofseun en sterkrieketspeler; Stef, die sjarmante ouer buurseun; en Xander, ’n hardwerkende dromer en doring in haar vlees. Paaie kruis en die gevaar styg wanneer Carli uitvind dat wildstropers die naburige rehabilitasiesentrum vir leeus en ander groot katte teiken. Carli, haar vriende en haar jonger boetie, Julian, besluit om ’n paar aande te help waghou sonder dat hulle ouers weet. Toe dinge skeefloop is almal in gevaar, en dis Carli se skuld. Is daar vir hulle uitkoms?

LAPA Jeugromankompetisie 2023 Naaswenner

Noodlot

Na die naelbyt-avonture in Hartklop, is die gevaar nog lank nie verby nie. In ’n desperate poging om Colden uit mal koningin Melody se kloue te hou, roep Zander ’n Forya en’ tarna, ’n Elwe-grootwordritueel. Die vriendegroep word geskei en dis die begin van ’n nuwe avontuur en soeke na antwoorde deur die hele Tír na hÓige. Nereida, Lumi en Kai gaan na Oneiro waar Lumi vinnig leer dat Waternimfmans vleiend in hul soeke na beheer is, en Nereida begin wonder of Kai regtig so ’n slegte toekoms vir haar sal inhou. Zander en Colden bevind hulleself in Izua, waar Zander vir Raidan, die Prinses van Storms, ontmoet en skielik is dit maklik om van sy sielsgenoot, Nereida, te vergeet en ’n nuwe tuiste te vind. “Hierdie storie het begin by die Seisoene en Gruwels en dis ook waar dit moet eindig. Ek weet nie waarom Tír na hÓige julle kinders gekies het om hierdie beeldskone nagmerrie sy vrede te gee nie, maar na vandag is daar ’n teiken op julle rûe.” Tot die eindtyd? Nee wat, hierna is alles moertoe!

Sankind lees die wind

Ontdek die wonderlike wêreld van die Sanmense in hierdie asemrowende bundel van kortverhale. Wendy Maartens leer jou van die skerp wysheid wat skuil in die dans van die Kwagga en die fluister van die wind. Neem ʼn reis na ʼn tyd toe die diere nog kon praat en die mense ʼn besondere verhouding met die natuur gehad het. Dwaal saam met diere en mense in ʼn tyd waar elke ding ʼn betekenis het, en waar die verbintenis met die natuur die grootste skat is. Hierdie stories is nie net oor die diere nie, maar oor die erfenis en kultuur van die Sanmense wat die hart van hierdie unieke boek vorm. Kom ontdek die geheime van mitologie, volksverhale en die ou San-geskiedenis.

Vuur

Die elemente van ’n vuur is suurstof, hitte, brandstof, en ’n chemiese reaksie. Wat is die elemente van die apokalips? Wolk, Roet, Vuur, en ’n chemiese reaksie? Die noodlot het Rufus en Xandr van mekaar geskei. Rufus is op ’n skip iewers op die Indiese Oseaan terwyl Xandr veg om oorlewing in ’n wêreld wat deur die wolk vernietig is. Al wat hy het is Flip die hond en ’n rooi Mazda Midge. Gerugte van ’n toevlugsoord word Rufus en Xandr se enigste strewe: Vind mekaar, vind skuiling en … wat dan? Hulle is lankreeds nie meer net vriende nie, is hulle? En hoe lank kan mens in elk geval oorleef as alles skynbaar deur vuur verteer is? Die kanse om mekaar te vind is egter skraler as om vars water te vind, veral as jy gekonfronteer word deur mense wat absoluut enigiets sal doen om te oorleef Hoop is vinnig besig om agter ’n sluier van roet te verdwyn, nie net vir hulle nie, maar vir alles en almal.

Krag

Aldan Valentyn is niemand nie. Hy plaas ʼn foto van homself sonder sy hemp, op Instagram. En word die bespotting van die skool. Maar dit sal binnekort verander.

In die gym.

Met gewigte.

En die KRAG in die naalde.

Veergewig

Talia is ’n bokser. Sy is deel van die veergewig-kategorie in die skoolspan. Maar haar afrigter het nie baie genade vir haar nie. Dit maak nie saak hoe hard sy boks nie, sy kan net nie sy goedkeuring wen nie. Sy is ook nie vreeslik gewild ná haar broer, Hamer, vrygelaat word op parool nie. Hy was vir ’n jaar lank in die tronk oor diefstal. Almal behandel hom steeds soos ’n krimineel. Maar … was hy werklik skuldig? ’n Boeiende roman oor die kompleksiteit van gesinne en die gevegte wat ons almal soms met onsself en ons naastes moet veg.

Die roman was deel van die LAPA-Jeugromankompetisie se kortlys vir 2021.

Toe als groen was

Normaal. Daai woord, daai ding wat ek nooit sal wees nie. Op haar agtiende verjaarsdag loop Marné weg van die huis af. Weg van Die Sending waar sy grootgemaak is tussen groen valleie. Weg van die kultus met hulle tienduisend reëls wat haar hele lewe beheer. Sy begin ’n nuwe lewe by haar tannie in Klerksdorp en probeer leer hoe om ’n doodnormale meisie te wees tussendeur die uitdagings van matriek in ’n nuwe skool. Sy maak nuwe vriende, en dan is daar die kitaarspeler met die mooi groen oë … Maar na jare van breinspoeling en manipulasie is dit nie so maklik om weg te breek van die sendingdogtertjie wat sy eens was nie. En haar ouers en Die Sending sal nie ophou om haar te probeer opspoor nie. ’n Aangrypende grootwordverhaal oor die soeke na self, die soeke na God en die soeke na waarheid. Hierdie treffende debuut is gebaseer op ware gebeure by die KwaSizabantu Sendingstasie in KwaZulu-Natal, waarvan die skrywer deel was.

Om jou te ken

Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are. Gelukkig het Gabby goeie vriende en dalk selfs iets meer as net vriendskap met Brandon…

Toe die matriekgroep van Barkly-Wes op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat sy per ongeluk Georgia se dagboek ingepak het. Kort voor lank kry haar nuuskierigheid die oorhand en begin sy haar niggie se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit.

Nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se raadgee-pogings kan die spanning verlig nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of gaan dit daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan? En wat van Brandon? Gaan hy aanhou om haar te vermy nadat Georgia stories oor haar versprei het, of sal hulle steeds saam matriekafskeid toe gaan?