Riglyne vir klein stories

‘Okay, hier staan ek nou tyd af om die woorde te lees wat jy geskryf het – doen nou iets vir my! Vermaak my – laat my lag of laat my huil of laat my wonder of RAAK my op die een of ander manier. Moet my net nie VERVEEL nie!!!!!

Onthou – JULLE sê net so maklik “BORING!!!!!” as iets julle verveel! En dis iets wat julle as voornemende skrywers van die begin af moet weet – jy moet jou leser se aandag HOU – hoekom anders sou hy/sy lees? En ‘n lekker storie (al is dit net een van 600 woorde) hou mens se aandag – want daar GEBEUR iets en dan weer GEBEUR daar iets onverwags – en dit hou jou aandag – en jy WIL WEET WAT GAAN GEBEUR en dit laat mens verder lees. En DIS wat ‘n storie is – iets wat jou laat aanhou en aanhou lees OMDAT JY WIL WEET WAT GAAN GEBEUR!

Maar, jy kan ook nie sommer net voortbabbel nie – daar moet “orde” in jou storie wees – dit moet “sin” maak. Jy kan nie sommer ‘n karakter inbring en dan verdwyn hy weer sonder dat hy bygedra het tot die verloop van die storie nie. 

As mens net 600 woorde mag gebruik, dan vertel ‘n mens ‘n “klein” storie – maar nog steeds een met ‘n oploop (daar moet iets gebeur) – ‘n klimaks (iets onverwags gebeur) en ‘n afloop. As jou storie te lank is vir die hoeveelheid woorde – dan word die storie so ylerig soos jy hom probeer inpers in die hoeveelheid woorde.

Ek weet dis BAIE moeilik om so kort te skryf – maar dis BAIE goeie oefening want dit dwing mens om by die ESSENSIE van die storie te bly.

Nog ‘n paar wenke vir ‘n lekker storie:

  • Iets eienaardig gebeur nou – begin van die storie.
  • Nou moet alles in storie al hoe meer spannend word – leser moet bekommerd wees! Hoofkarakter in die moeilikheid?
  • NOG meer moeilikheid – alles word erger.
  • Oplossing vir die moeilikheid. Onverwagte wending – wat leser nie verwag nie – soos in ‘n grappie – dit wat snaaks is is omdat dit ONVERWAGS is.
  • Moenie te veel karakters inbring nie. Dis ‘n kort storie. Alle karakters moet ‘n DOEL in die storie hê.
  • Dis makliker om jou storie te laat afspeel oor ‘n kort tyd omdat jy so min woorde moet gebruik. Kan nie eintlik JARE laat verloop in ‘n duisend woorde nie.
  • Moenie die plot te ingewikkeld maak nie – weer eens – jy het min woorde om mee te werk.
  • Skryf in die teenwoordige tyd – wat NOU gebeur – moenie verlede tyd gebruik nie – lomp verlede tyd in Afrikaans – met al die het gedit en het gedat.
  • GENIET wat jy doen – stories WEET altyd as jy dit nie GENIET nie en dan wil hulle nie geskryf word nie. (Moenie met stories sukkel nie – hulle weet beter as jy!)

Skryf ‘n haiku

Hokaai, haiku, eenasem wat?

Het jy al ooit probeer om ‘n haiku te skryf? Ja, nou onthou jy, dis ‘n gediggie wat se drie reëls in een asem gelees kan word, en dit kom ook uit die Japannese kultuur, en natuurlik is dit mos spontaan?

Hier is ‘n paar algemene kenmerke van ‘n haiku en wenke hoe om ‘n haiku te skryf:

  • Dit is ‘n vorm van digkuns.
  • Dit beskryf een gebeurtenis/oomblik (in die teenwoordige tyd).
  • Dit verwys na ‘n beeld wat op een of ander manier verwant is aan die natuur.
  • Dit gaan oor iets wat die digter gesien, gehoor, geruik, geproe of geraak het.
  • Die digter maak die oomblik, hoe klein ook al, ‘n baie belangrike oomblik.
  • Die gedig beeld die wat? waar? en wanneer? uit
  • In Japannees is ‘n haiku gewoonlik 17 onji (Japannese lettergrepe).
  • In Engels/Afrikaans, begin met ‘n kort reël, dan ‘n lang reël en eindig ook met ‘n kort reël.
  • Die lettergrepe kan altesaam tussen 10-12 wees.
  • ‘n Patroon wat baie gebruik word is: 5 + 7 + 5 lettergrepe
  • Daar kan ‘n skets of illustrasie by wees.

Praktiese voorbeeld van ‘n haiku in Afrikaans:

Sonder son
dans lelies rukkend
in die see.

Die [lettergrepe] in die haiku

[3] Son/der/ son/…

[5] Dans/ le/lies/ ruk/kend/   

[3] In/ die/ see/…

Daar is dus 11 lettergrepe in die gediggie.

Wanneer ons vra Wat? – Is dit die “lelies”.

Wanneer ons vra Waar? – Is dit “In die see”.

Wanneer ons vra Wanneer? – Is dit “Sonder son”. Met ander woorde, dit is bewolk of net na sonondergang of in die aand.

klere, hare beef 
en die wind haal my hoed af 
vir rimpelrotse

(Jemima Meyer -16)

[5] klere, hare beef 
[7] en die wind haal my hoed af 
[5] vir rimpelrotse

Aktiwiteit:

Gaan buitentoe, stap in die parkie of in die straat af en kyk, ruik, luister of voel – en skryf jou eie haiku.

Bron: Wakan, N.  1993.  Haiku one breath poetry. USA: Heian International.

Waar is jy? (karakters, sintuie)

Skryfoefening 15 uit “Die land van stories”

a) Jy sit nou êrens in hierdie boek en lees en jy gaan nou weer skryf. Waar is jy? 
b) Wat sien jy? 
c) Wat hoor jy? 
d) Wat ruik jy? 
e) Wat voel jy? (met jou tone/vingers)
f) Wat proe jy? (Jy drink/eet darem seker iets?) 
g) Wat sê jou sogenaamde “sesde sintuig” op hierdie oomblik vir jou?

Motivering vir skryfopdrag 15

Prentjies

Ons het nou reeds “Wat dink jy?” en “Wat voel jy?” gedoen. Hier is nou sprake van die sintuie.

Wanneer ‘n mens skryf, het jy slegs woorde tot jou beskikking. Daardie woorde moet prentjies maak in jou leser se kop. Hoe? Jy moet die lesers se sintuie betrek, sodat dit vir hulle voel, asof hulle werklik in die storie is, al sit/lê hulle êrens en lees ‘n boek. Selfs al skryf jy ‘n prenteboek, moet jou storie prentjies maak in die illustreerder se kop!

Nou!


Hierdie skryfopdrag is ook nuttig om jou eie waarnemingsvermoëns op te skerp. ‘n Groter bewuswees van die gebeure rondom jou, bring ook ‘n meer daadwerklike besef van in die oomblik “leef”.

Dis ‘n algemene menslike kwaal dat ons óf in die verlede óf in die toekoms leef, óf, byvoorbeeld, tob oor alles wat “verkeerd” geloop het, óf in dagdrome visualiseer van hoe alles beter kan word, indien dit nie op die oomblik na jou smaak is nie. Maar ons leef oomblik vir oomblik – dis die realiteit van menswees. Of ons dit wil weet of nie, elke minuut wat verby is, is verby! Klein kindertjies leef net in die oomblik! Eers wanneer hulle groter word, kry hulle ‘n “verlede” en ‘n “toekoms”.

Karakters doen natuurlik dieselfde as ons! Wat jy in jóú “oefen”, sal jy makliker in húlle kan beleef en skryf.

Skryf ‘n sterk begin

Wanneer ‘n oorwerkte keurder by ‘n uitgewery jou manuskrip oopmaak en begin lees, moet jou storie haar met die intrapslag boei, anders is die kans skraal dat sy verder as die eerste paar paragrawe sal vorder voordat sy dit opsy stoot. As hierdie houding vir jou hard en ongenaakbaar klink, moet jy jouself hierdie vraag afvra: As my storie nie ‘n leesfiks volwassene kan boei nie, wat is die kans dat dit ‘n ongeduldige kind sal interesseer?

Om ‘n nuwe boek te begin lees is vir die meeste jong lesers ‘n groot uitdaging. Hulle wonder of dit die moeite werd gaan wees en of daar nie dalk iets lekkerders is om te doen nie. Dikwels kla hulle: “Ek kom nie in die storie in nie …” Alte dikwels word hulle bestempel as “lui om te lees”, terwyl dit in werklikheid die skrywer is wat nie ‘n skerp gefokusde produk gelewer het nie. Te dikwels is die storie se begin belas met onnodige karakters, langdradige beskrywings en trae insidente wat die storieprobleem verbloem sodat die leser nie weet wat aangaan nie en verveeld en gefrustreerd voel.

Indien jy as skrywer wil hê jou boek moet verby die neersit-toets kom, moet jy jou storie só skryf dat jou lesers onmiddellik by die hoofkarakter, plek en probleem betrokke sal wees en nie sal kan wag om om te blaai nie. Met ander woorde, jy moet ‘n sterk begin skryf.

Dit beteken jou storie moet drie elemente hê. Eerstens moet daar ‘n karakter wees wat só vreemd, anders of dinamies is dat die leser eenvoudig móét weet wat alles met hierdie persoon gaan gebeur. Tweedens moet die storie wegtrek by die oomblik van verandering in die lewe van die karakter. Nié daar waar sy opstaan, aantrek, kombuis toe stap en haar mieliepap eet net om drie bladsye verder haar tande te borsel nie. Nee, daar waar iets gebeur sodat alles dramaties anders is. Derdens moet jou storie wegtrek met aksie, dialoog en ‘n prikkelende probleem wat jou leser sal laat sê: “Wat nou?”

Harde wenke vir sensitiewe siele

  1. Daar is niks romanties aan skryf nie, dit is harde, harde werk. As jy dink stories kom soos fêries in die nag, is jy verkeerd. Hulle kóm soms soos fêries in die nag, maar dan is dit ‘n wonderwerk, moenie daarop reken nie. Skryf is genadeloos, dit laat nie baie ruimte vir fyn nerwe nie
  2. Moenie begin skryf omdat jy dink dit gaan jou ryk maak nie. Of beroemd. Jy sal miskien eendag ryk en beroemd wees, maar dan is dit ‘n wonderwerk, moenie daarop reken nie. En ás jy ryk en beroemd is, onthou dan steeds dat ‘n kunstenaar floreer op basiese instinkte. ‘n Skrywer wat dink dat hy vreeslik goed kan skryf, skryf nie meer goed nie.
  3. Kuns gaan nooit oor flou emosies nie. Skryf oor dit wat jou ontroer. Of kwaad maak. Of gelukkig maak. Om oor die geluk te skryf, is die moeilikste, jy gaan dalk verder kom met die kwaad en die ontroering.
  4. ‘n Kunstenaar sê nooit nee vir ‘n opdrag nie. Daar is niks so stimulerend soos ‘n opdrag (en ‘n sperdatum) nie.
  5. Moet nooit sê: “ek het nie tyd nie”. Niemand van ons het tyd nie, jy máák tyd!
  6. Moet nie met ander mense oor jou verhaal praat terwyl jy skryf nie, jy praat die positiewe energie van jou storie skoon weg. Moet ook nie jou verhaal aan ander mense gee om te lees nie, vir dieselfde rede. Maak klaar sover jy kan, voordat jy daaroor praat of vir ander mense wys.
  7. Luister graag na ander mense se menings oor jou verhaal, maar onthou: dis jóú verhaal, vertrou jou eie instinkte.
  8. As jy skrywersblok het, skakel die radio en televisie af. Permanent. Ja, ek bedoel dit. Vir ten minste ‘n week luister jy na geen musiek nie en jy lees vir ‘n week lank nie één boek, tydskrif, koerant of selfs pamflet nie. Nie eens ‘n kookboek nie. Dit is verstommend hoe ons onse koppe volprop met dinge wat namens ons dink en voel. Ek belowe jou, na ‘n week van stilte, waarin jy kans kry om na jouself te luister, skryf jy. 
  9. As jy nie weet waaroor om te skryf nie, klim in jou kar en ry ‘n verskriklike ver ent. ‘n Duisend kilometer of so. Sonder om die radio aan te sit. Ná daardie duisend kilometer in stilte sal jy weet wat jy moet doen.
  10. Moet nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om te skryf nie. Skryf jou eie verjaarsdag- en groetekaartjies, skryf briewe, skryf notisies, skryf vir die verkeersdepartement waarom hulle jou afslag moet gee op jou spoedboete. ‘n Atleet hardloop elke dag ‘n paar kilometers om fiks te bly, ‘n pianis speel elke dag toonlere om sy vingers soepel te hou, ‘n skrywer skryf.
  11. Maak van elke sms-boodskap ‘n klein verhaaltjie. Of ‘n gedig. Of ten minste iets ánders as net ‘n simpel sms.
  12. Moenie jaloers wees op ander skrywers nie, moenie sê jy kan dit ook doen nie, DOEN dit.
  13. Om ‘n boek te skryf is soos om ‘n olifant te eet. Of ‘n braambos uit te kap. Hoe doen jy dit? Jy eet hom stukkie vir stukkie. Of jy sny bietjie vir bietjie. Elke dag. Op ‘n dag het jy ‘n olifant opgeëet en ‘n hele braambos uitgekap.

Skryfwenke vir aspirante

Miskien het julle hierdie wenke al oor en oor gehoor, maar al wat ek kan sê is dat ek dit maar elke dag kan hoor want dit is baie belangrik.

‘n Storie moet ‘n raamwerk hê wat werk, dws. ‘n plot. 
Jy moet weet hoe jou storie gaan begin, die middel en hoe dit gaan eindig. Jy moet jou storie beplan, voor jy begin skryf.

Jou karakters moet goed ontwikkel wees.
Maak vir jou hoofkarakters ‘n ‘hospitaalkaart’. Skryf op die kaart al die besonderhede van jou karakter neer. Sy voorkoms, afkeure, voorkeure en wat hy/sy wil hê. Klim in jou karakter se lyf… word jou karakter. 
WENK: Maak ‘n plakboek met gesigte van mense (knip uit koerante en tydskrifte) en gaan terug na jou plakboek wanneer jy karakters soek.

Weet vir wie jy wil skryf. 
As jy vir kinders van 8-11 wil skryf, gaan lees boeke vir daardie ouderdomsgroep. Vind uit waarvan kinders hou in daardie ouderdomsgroep, ens. Kyk ook na die taalgebruik.

Moenie skroom om oor te skryf nie. 
Dis deel van die skryfproses. Geen skryfsel is volmaak nie.

Skryf inheems. 
Uit die grond van Afrika. Waar is ons Hans Christian Andersons, JK Rowlings? Nie ‘wroegstories’ nie – asseblief nie. (Ons het genoeg daarvan gehad in die verlede.)

Skryf boeke wat sal kompeteer met die programme vir kinders op TV. Stories wat kinders nie wil neersit nie.

‘n Bietjie inligting oor my as kind:

Ek het baie min Afrikaans gelees omdat daar baie min boeke beskikbaar was. (Ek het in Namibië groot geword- ons het pragtige Duitse en Engelse boeke gekry, maar baie min Afrikaans) Ek het ‘comics’ oor Little Lotta, Richie Rich, Jack & Jill ens. verslind. 
Kinders weet nie hoe gelukkig hulle is om so baie boeke te kan hê nie, met pragtige illustrasies!

Om lirieke te skryf is nie so maklik as wat dit lyk nie

Om ‘n liriek te skryf, is nie so maklik as wat dit lyk nie. Tog is dit so wonderlik wanneer die lied uitgevoer word en elke woord en vers met musiek beklee word. Dit dwing my telkens tot trane, want ek staan elke keer sonder woorde wanneer die twee in volmaakte harmonie voortvloei. 

Daar is baie liriekskrywers en net soveel liedjiemakers, maar my riglyne is meestal soos volg: Jy kan op twee manier te werk gaan, naamlik:
a. Eers die musiek/ melodie kies of toonset, en daarna die woorde daarby skryf of
b. Eers die woorde skryf en daarna die musiek daarby toonset.

Verskillende soorte lirieke
a. Die skoollied: Die woorde is beskrywend, betekenisvol, histories, swaar, en tog eenvoudig. 
b. Volksliedjies: Meestal rymelary, met woorde sonder veel betekenis bv. Die hond se naam is Faai.
c. Meer beskrywende en poëtiese lirieke: Bv Middelburg en Graaff-Reinet se liedere. 
d. Godsdienstige liedere: Hier moet binne die raamwerk van neergelegde norme gehou word.

Hoe skryf mens ‘n liriek? 
a. Kies tema
b. Kies die soort lied. 
c. Kies rymskema.

Rymskema 
a. aa,bb,aa (Graaff-Reinet
b. ab,ab,ab (Die Oeslied
c. abba, abba

Indeling van verse 
a. Hoeveelheid reëls waaruit elke vers moet bestaan.
b. Moet daar ‘n refrein wees, of nie. 
c. Lengte van elke reël en vers

Uitleg 
a. Gewoonlik 4 lyne in elke vers – wat herhaal kan word.
b. Gewoonlik 4 verse plus ‘n refrein wat na elke vers herhaal kan word. 
c. Tempo: Wil jy hê die verse moet vinnig of stadig gesing word of, moet die refrein vinniger en meer polsend wees as die verse.

Tema 
a. Moet die lied ‘n storie vertel bv Sproetjies.
b. Moet elke vers ‘n aspek van die onderwerp hanteer soos bv Die kopersmid.

Woordkeuse 
a. Kort woorde
b. Beskrywende woorde soos bv in Riversdal se heide (Luilou lente)

Lied moet aanpas by die sanger se stem en die spesifieke geleentheid 
a. Koor 
b. Solo / Duet 
c. Man/ vrou / kind

Hierdie is slegs riglyne. Elke liriekskrywer kan basies sy of haar eie riglyne opstel en daarvolgens werk, maar ek het gevind dat hierdie vir my die beste werk. Dis hang natuurlik ook af wat die behoefte van ‘n spesifieke opdrag is. Daarby moet ek dan ook aanpas.

Konflik

Konflik?

Dit is ‘n “ongeskrewe” reël dat konflik ‘n noodsaaklike element is in stories, aangesien konflik gewoonlik lei tot reaksie van een of ander aard en daar dus dan iets in die storie “gebeur” – ‘n storie waarin niks gebeur nie, is ‘n vervelige storie. Is dit so?

‘n Voornemende skrywer moet bewus wees van reëls, nie om dit slaafs na te volg nie, maar juis om sy/haar eie variasies daarvan te ontwikkel of ‘n “reël” op sy kop te draai.

  • Lees dus oop-oog ander stories en neem waar wat ander skrywers gedoen het.
  • Kyk rondom jou – in jou gesin/familie/vriendekring wat mense doen.
  • Neem ook jouself waar – hoe benader en hanteer jy konflik

Hoekom is konflik nodig in storie?

Wie het hierdie “reël” gemaak? Skrywers eet nie alles vir soetkoek op nie. Hulle dink vir hulleself.

  • Bepaal dus vir jouself hoe “waar” hierdie reël vir jou is.
  • My opinie: Stories weerspieël die lewe. Sonder wrywing sou ons nie pêrels gehad het nie.

Hoe skep mens konflik? Soorte konflik.

  • ‘n “Lewendige” karakter sal waarskynlik vanself tot aksie oorgaan en op mense se tone trap. LOS hom/haar net en kyk wat doen hy/sy. Alle lewendige karakters bring konflik in ‘n storie op die een of ander manier, nie noodwendig deur “aggressief” te wees nie. Is dit waar? Op watter maniere gebeur konflik?
  • Indien jou karakter nie “lewendig” wil word en self doen nie, kyk of jy hom op die volgende maniere aan die gang kan kry: ‘n Karakter (en ons almal?) wil gewoonlik iets hê/doen. Sit struikelblokke in sy pad: innerlike konflik/interpersoonlike konflik/omgewingskonflik.

Haak jy vas – vorder jy nie?

  • Dalk staan jy in jou karakter se pad?
  • Skryf is ‘n reis in jouself en na my mening reis mens deur die persoonlike om by die universele uit te kom.
  • Wat dink JY?

Tien skryfwenke van Jaco Jacobs

1. Skrywers is nie superheroes nie – jy skryf nie ’n storie om die wêreld te probeer red nie. ’n Mens skryf dit omdat stories soveel pret is.

2. As jy nie baie fluks is nie, moet jy eerder medies gaan swot of ’n staptog om die wêreld onderneem as om ’n boek te probeer skryf. Skryf is vrek harde werk en as jy wil skryf sal jou agterent baie goeie vriende met jou lessenaarstoel moet word.

3. Skryf die soort stories wat jy self graag wil lees. As jy nie hou van liefdesverhale nie, moenie jou tyd mors om liefdesverhale te probeer skryf nie.

4. Moenie probeer jok nie – skryf goed soos hulle regtig is. Sodra jy begin skryf soos jy dink ander mense wil hê jy moet skryf, gaan dit simpel begin klink. As jou karakter ’n tiener is, moet hy praat soos ’n tiener; nie soos volwassenes wil hê ’n tiener moet klink nie.

5. ’n Storie is nooit klaar na die eerste skryfsessie nie. Jy gaan dit nog honderde kere moet oorskryf.

6. Om stories te skryf is heerlik. Sodra dit sleg begin word, doen jy iets verkeerd.

7. Skrywersblok bestaan nie. Dis iets wat uitgedink is deur mense wat nie wil hê jy moet skryf nie.

8. Moenie stories skryf om ander mense te probeer beïndruk nie. ’n Goeie liefdesgedig kan wondere vir jou romanse beteken, maar die hartseerwaarheid is rugbyspelers en sexy aktrises gaan ALTYD meer aandag kry as skrywers.

9. Moet jou nie te veel steur aan kritiek nie.

10. Skrywers kan partykeer soos superheroes voel. Ja, ek weet wat my eerste wenk was – ek sê nog steeds jy moenie skryf om die wêreld te probeer red nie. Maar superheroes is mense wat onmoontlike goed kan regkry – en as jy ’n goeie storie skryf, kan jy ook. Jy kan kinders op besems laat vlieg, diere laat praat en nuwe wêrelde skep. Ongelooflik.

Wat om met skrywersblok te maak

Weet jy wat om met skrywersblok te maak? 

Wat is skrywersblok? Het jy al oot gevoel dat die kanaal tussen jou pen en jou verbeelding verstop is? As jy het, dan weet jy wat skrywersblok is. Dit is presies dit wat jou weerhou om iets op ‘n papier of op jou rekenaar neer te sit.

Alle skrywers en dus ook jy, kry op een of ander stadium in hul skryfwerk te doen met skrywersblok. Sommiges natuurlik net meer as ander. Dit beteken nie dat jy nie meer kan skryf nie, maar wel (soos ek bo genoem het) dat die kanaal vanaf jou verbeelding verstop is. Al wat jy nodig het, is ‘n vars idee wat jou verbeelding weer kan prikkel sodat jy weer aan die skryf kan kom.

Daar is verskeie maniere hoe ‘n mens skrywersblok kan oorkom. ‘n Baie oulike manier wat ek teegekom het, is ‘n boekie met die naam Writersblock. Die boekie is letterlik ‘n blokkievorm lank, breed en hoog. Binne is die bladsye vol foto’s van vreemde gebeurtenisse, gebare, uitdrukkings en gesigte. Elkeen kan ‘n wêreld vol idees aan jou oopmaak indien jy assosiasies en konnotasies met elke foto probeer maak en soek.

‘n Soortgelyke manier is om deur tydskrifte te blaai of om in ‘n koffiewinkel te gaan sit en die mense se gesprekke langsaan af te luister. Kyk of jy die beginpunt van hierdie gesprekke kan optel. Wie weet, dit mag dalk verskriklik interessant eindig.

‘n Eenvoudige en vinniger manier is om ‘n stuk papier met potlode, kleurpenne, ens. te vat. Begin krabbel, skryf woorde neer en teken wat in jou gedagtes opkom. Volg jou gedagtes soos jy dit aanteken. Anders kan jy selfs net jou rekenaar vat en begin tik. Skryf die woorde en gevoelens en beskrywings van jou onmiddellike omgewing neer. Byvoorbeeld: “Ek sien my vingers vinnig oor die keyboard rammel na sinnelose woorde soos hierdie. Terwyl my hond buite blaf en daar ‘n hoop werk op die regterkant van my lessenaar wag…

Herlei hierdie idees en gedagtes na konnotasies en assosiasies. Tik verder aan hierdie ongeorganiseerde stuk werk tot jy op iets kom waarvan jy hou.

Tegnieke soos hierdie hierbo genoem, hoef nie net vir skrywersblok gebruik te word nie, maar kan ook as oefening dien om op goeie en regte idees vir jou skryfwerk te kom. Dit help jou konsep filter sodat dit suiwer aan die leser deurgegee kan word. Natuurlik verwys skrywersblok nie na elke keer wanneer jy nie onmiddellik aan ‘n storie kan dink nie. Dit verwys eerder na ‘n konsep wat reeds gevorm is, maar op ‘n doodloopstraat uitloop. Byvoorbeeld, die derde hoofstuk van jou storie wil net nie vorm aanneem nie en jy het reeds elke opsie probeer waaraan jy kon dink, dan begin dit ‘n skrywersblok raak.

Speel rond met idees en geniet dit wat daaruit voortvloei.