Skryfgeheime (wat nie eintlik geheime is nie)

1

Jy WORD nie ‘n skrywer nie – jy IS een. Daarmee sê ek dat geen opleiding jou ‘n skrywer sal maak nie – hoe kundig dit ook al is en en hoe opreg dit ook al bedoel word. Die goue reël is egter: Leer van almal wat op jou pad kom – veral van hulle met wie jy nié saamstem nie. Dit slyp jou onderskeidingsvermoë.

2

Die ietwat stuitige (maar dêm slim) definisie van ‘n toespraak “Stand up, speak up, shut up” kan ook op ‘n stuk skryfwerk van toepassing gemaak word:

Stand up: Moenie bang wees om jou idees rugbaar te maak nie. Mense sal nie altyd met jou saamstem nie, en dis goed so; dit hou jou op jou tone. Eintlik is dit lekkerder as mense NIE met jou saamstem nie. Dit laat jou belangrik voel. Wat NIE beteken dat jy wel belangrik IS nie!

Speak up: Skryf duidelik, met eenvoud en deernis, al spot jy ook met hulle swakhede. Mense hou daarvan om hulle swakhede in stories uiitgebeeld te sien; dit gee hulle die salige gevoel dat hulle darem nie die enigste sondaars op aarde is nie. Lees oor en oor: THE OLD MAN AND THE SEA van Ernest Hemingway.

Shut up: Alles het ‘n slot. Jou lewe ook. Hoe gouer jy leer hoe en wanneer om jou storie te eindig, hoe beter vir jou en jou storie. En vir die leser of luisteraar. Tensy jy daarvan hou as die leser kan raai wat jou slot is nog voordat jy self daaraan kan dink.

3

Ek dink dis noodsaaklik vir ‘n skrywer om sy moontlikhede en tekortkominge te ken. Maak ‘n aparte lys van albei en konsentreer op jou moontlikhede. Ek sê, moontlikhede, want niemand ken homself so goed dat hy altyd presies weet waarheen hy op pad is nie.

4

Sonder ‘n positiewe instelling teenoor die lewe en jou medemens, sal jou skryfwerk nooit bevredigend wees nie. Al kry jy per ongeluk ook die Nobelprys.

Oefen soos ‘n sportman

Nes ‘n sportman moet oefen om sy spiere soepel te hou sodat hy plek in een of ander sportspan kan behaal, moet iemand wat wil skryf, oefen om te skryf. Elke dag ‘n bietjie skryf, al is dit net in jou dagboek of briewe aan jou ouers, penvriende of vriende. Hoe meer jy skryf, hoe makliker vloei jou gedagtes.

Gebruik ‘n woordeboek as jy nie weet hoe om ‘n woord te spel nie. Moet nooit skaam wees om ander mense, wat meer van ‘n onderwerp weet as jy, te vra om jou te help nie. My ondervinding was nog altyd dat die kundige mense my graag wil help en raad gee.

As jy ‘n idee het, skryf dit in ‘n boek neer wat jy spesiaal aanhou en merk die boek: Idees vir Stories. Luister hoe ander mense praat sodat wanneer jy ‘n dialoog skryf, jou karakters soos regte mense klink wat praat. Daar is ook nie ‘n muse wat op jou skouer sit en jou inspireer om te skryf nie. As jy wil skryf en jy dink jy het die talent om te skryf – begin! Wanneer jy weer ‘n opstel in die klas moet skryf, moenie dink. Uhhh … ‘n opstel nie. Maar sê: Jippie! Ek gaan oefen om ‘n storie te skryf!

Onthou die vyf W’s vir elke stukkie skryfwerk: Wie? Waar? Wat? Waaroor? Waarom?. 

Jy sal baie foute maak, net soos wat ‘n sportman foute maak. Elke atleet kan nie elke keer wen nie. Elke rugbybal gaan nie oor die dwarslat seil nie, maar moenie moed verloor nie. Hou aan. Skryf en skryf en skryf! Onthou die uitdrukking: aanhouer wen! Ek het iewers van die volgende 6 D’s gelees wat elke skrywer se aansporing moet wees: “Desire, Drive, Discipline, Determination, Dedication and no Distraction.”