Tuinverse

Tuinmaak

Vandag maak ons tuin
Pa en Ma en ek.
Ek help om blomme te plant
en bossies uit te trek.

En as die blomme oopgaan
en vrolik om ons lag,
sal ek vir jou ‘n blom bring –
as jy hier vir my wag.

(c) Franci Greyling (2015)

“Tuinmaak” in gebaretaal vertolk deur Vanessa Reyneke.
Dié versie in Suid-Afrikaanse Gebaretaal is deel van die Byderhand-Pionierprojek in die multisensoriese tuin by die Pionierskool.
Meer oor dié projek.

Met die voëls praat

Hier’s die hardste geluid,
die water wat plas,
en die motors in die straat,
maar as ek fyner luister,
hoor ek die voëls met my praat.

“Koer-kooe-koek, koer-kooe-koek,” sing die duif.
“Koer-kooe-koek, koer-kooe-koek,” sing ek.
“Piet-my-vrou, Piet-my-vrou!”fluit die Piet-my-vrou.
“Piet-my-vrou, Piet-my-vrou!” fluit ek.
“Haaa haaaaah!” roep die hadeda.
“Haaa haaaaah!” roep ek.

(c) Franci Greyling (2015)

Met die voëls praat (voorgelees deur Alanka Craffert)

Kyk net so

Ou skilpad loop staaaaaadig oor die gras.
Die paddas plons in die waterplas.
‘n Hadeda wei pik-pik rond
en miertjies krioel hier op die grond.
Muishond draf in die paadjie af.
Die visse swem in die dam.
Naaldekoker blits tussen die lelieblare,
en die voëls maak nes – in my hare.

(c) Franci Greyling (2015)

Heuningklokkiesbos

Hier by die heuningklokkiesbos,
die suikerbekkiebos,
die vlinderbos,
hier by die tonnelbos,
die inkruipbos,
die wegkruipbos –
het ek my hart
in die tuin gelos.

(c) Franci Greyling (2015)

Wie kwetter so?

Wie kwetter so tussen die riete?
Wie vleg ‘n nes met blare en spriete?
Wie hang oor die water onderstebo?
goudgeel en swart, met blinkrooi oë.

Nog ‘n bietjie styyyywerrrrr
Nog ‘n bietjie losserrrr
Staaaadig nou
Tsk tsk tsk tsk tsk
Aaaah – daar breek dit!

Wie sing die hele wêreld wakker?
Dis swartkeelgeelvink wat só kerjakker.

(c) Franci Greyling (2015)

Wie kwetter so? (voorgelees deur Alanka Craffert)

Luister

Luister, luister
hoe fluister
die grassade
in die wind.
Luister, luister.
Fluister, fluister.

(c) Franci Greyling (2015)

Ballade vir ‘n boom

Statig staan jy toegewyd op jou pos,
‘n wagtoring teen die skrynende son.
Ook deur reën bly jy getrou en
huil jou oë van dankbaarheid.

Wanneer die wind waai ontsyfer jy sy gekodeerde boodskap
en dra dit sag fluisterend oor.

Ook jý het ‘n verhaal van groei in jou
skubbe gegraveer in swart en grys en bruin.

Die krake in jou mure is opgevul met skerwe smarag
En in jou toringkamer die kosbaarste van als:
‘n klein bruin kissie met twee pêrels daarin.

(c) Cara Wijnbeek – 18  (2020)

Verslaboratorium

Verslaboratorium is ’n ruimte waarin jongmense tussen die ouderdomme 18 en 25 jaar eie, voorheen ongepubliseerde gedigte gepubliseer kan kry.

Bernard Odendaal, digter, kritikus en professor in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, tree as keurder van die gedigte op wat deur digters binne bogenoemde ouderdomsgroep voorgelê word vir moontlike publikasie op Verslaboratorium.

Stuur voorleggings aan hom by e-posadres bernard.odendaal@nwu.ac.za. Elke voorlegging moet vergesel word van ’n skrywe waarin die insender sy/haar volle name verskaf, asook sy/haar ID-nommer, posadres, e-posadres, die naam van die instelling waaraan hy/sy studeer (indien van toepassing) en die naam waaronder hy/sy die gedig gepubliseer wil hê.

Glasvlinder

Meesterlik gevorm, jy met jou getinte vlerke,
maar in die koper skemer ongemerk,
fluweelsag saamgevou –

met flonkerende oë bewonder ek jou.

Met jou krultong lei jy my om die verbeelbos
dat jy ronddartel en soek na kos;
jou vlerke kom eintlik uit die reënboog, nektar is jou pot goud,
die son jou verlange –
maar jou bloed bly yskoud.

Meester van illusie, van kleurskubbe as wapen wat transformeer
sodat jagtersoë jou nie kan verteer nie, voor jy wapperend migreer:
laat my nimmer jou verhinder
om vry uit te vlieg nie,                                 verbeeldingsvlinder.


Christel Jordaan – ATKV-Winterskool 2016

Rooi ring

‘n Foto van jou is aan my gewys,
maar die glimlag is onherkenbaar.
‘n Koue sonstraal maak sy skynsel daarop
as ek voel of ek, soos jy,
onsiende na my
staar.

Jou kleurvolle jas
is nou wit-en-swart,
Maar jou bloedrooi ring
boei my, want ek wil glo
daar is nog hoop.

Jou foto,
voulyne en al in my hande,
herinner aan die kaalvoet-stap
onder eike,
blare wat fluisterend kraak onder ons voete –
en die weghardlooplag
vir die reën.

Jou lag eggo weg
tot waar jy in die verte is.
En my uitgestrekte, ontoereikende hande
smag om jou aan te raak.

‘n Foto van jou is vir my gewys,
maar die glimlag
onherkenbaar;
ek lig my hande na my bors
om die vurige hoop
in my te voel
soos jou rooi ring.

Mandie Human
(Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
2014

Bitter
Ná die bitterheid van The Bell Jar en ’n beker filterkoffie uit Ethiopië

Ek hou jou wakker tot ná tweeuur die oggend;
ek los sirkelvormige vlekke op belangrike dokumente,
jou meesterskripsie oor Finnegans Wake, in die intieme vroegoggende van ons samesyn,
of op die eierdopsybloes, ’n vlek;
’n bewende, gekafeïeneerde hand wat probeer om permanente skade te keer;
steeds vroegoggend kyk jy diep binne-in my pikswart moersiel
en stel vrae met jou hart in plaas van jou mond;
té duur, maar ná aanpassing is ek romerig en soet,
so net na jou smaak.
“Ek het ’n plekkie gekry waar ons kan vergader, daar om die hoek van die boekwinkel,”
die een ín die boekwinkel is te duur.
Dis waar ons mekaar die eerste keer raakgeloop het,
jy wil nie weer daar gesien word nie.
Twee kunstenaars hoort net nie bymekaar nie.
Ek sal die oggend wakker word en sien
hoe water en wolke plekke ruil,
ons sal opkyk na die hemele waar mere en poele
deur die maan heen-en-weer gesleep word,
en later stadig deur ’n wolk swem om die somer se hitte te verdryf;
blomplante groei tot dertig meter hoog
en ek pluk vir jou ’n rooihoutboom as ’n bouquet.
’n Kunstenaar moet verlief raak op iemand wat dink
die kunstenaar huil oor die sonsondergang omdat hulle bang is vir die donker.
“Die hele aarde se watermassas tree anders op met die volmaan, nè?”
Ja.
“Nou wat van die feit dat ons sewentig persent water is?”
Veiligheidshalwe: twee kunstenaars hóórt net nie bymekaar nie.
Die oogholtes, die suur smaak, jy vergeet dit voor môre.
Ek is koffie, want ek is bitter,
en jy kan my nie aanvaar of hanteer voor jy daai verandering aangebring het nie,
die een of ander aspek van my wese verander het.
Ek vreet jou aan die binnekant soos ’n vuur in O2,
en ek sluit af met die moerige, brandende smaak van
bitter hel. Herr Gott, Herr Lucifer.
Om te sterf is ’n kuns waarin ek buitengewoon goed is.
Jy het my implisiet geforseer om dit aan te leer.
Nou doen ek dit sodat ek die hel kan voel.
Ek doen dit om realiteit te bevestig.
’n Mens kan seker maar sê ek’t ’n roeping, mevrou Plath.

Ruan Fourie
(Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
2014

wanneer hartseer uiteindelik opgedaag het

ek sou hartseer enige plek kon uitken
hartseer was die een met die groot rooi mussie op
met die mes in die hand, die groot swart masker aan
hartseer was die een in die hoek wat almal beloer
wat wag dat nog iemand by die deur instap
reg om te hap, klap, trap en steel
(die geluk wat jy van kleins af met almal om jou deel)
hartseer sou die een op die skoppelmaai wees
die een wat nie wil afklim sodat jy ’n beurt daarop kan hê nie
wat sy tong uitsteek
wat jou ore vir jou tot verstoppens toe vol preek
want jy het die glas laat val
die bal laat val die bak druiwe wat vars gepluk is laat val
hartseer sou ek oral enige plek kon uitken
want hartseer was die een wat altyd wen

maar ek was verkeerd,
want toe hartseer uiteindelik opdaag
het hy my omgedop dat ek op my maag lê
ek moet stil bly lê, nè, hom vanaand gee wat hy wil hê
hartseer het nie op ’n skoppelmaai gesit en wag nie
hy het mens om elke hoek en draai bespring
jou na al die verkeerde plekke gebring
die verkeerde afdraaie geneem al het jy die regte rigting geskree
hartseer het sy masker vir ’n eie gesig verruil
hy kon jou deur jou lag laat huil
jou halsoorkop agter elke leuen laat skuil
skielik was hartseer nie die een in die hoek nie
maar die een hier reg voor jou
wat jou hand vashou en belowe
dat hy jammer is en net daar omdraai om jou af te pis
toe hartseer uiteindelik opdaag
was daar nie ’n klop aan die deur of ’n tik aan die venster nie
maar ’n swaard so groot soos haat wat dwarsdeur my waarheid saag
en toe hartseer uiteindelik opdaag
het ek nie geweet wat om te sê of hoe om te reageer nie
want niemand het my op hom voorberei nie
ek wou my hand uitsteek die vrede bewaar
maar die snaakse ding omtrent hartseer
dit maak selfs die ledemate swaar
en ek knik in sy rigting probeer oogkontak vermy
en ek hoop dat hy aan sal stap dalk heeltemal verby
aan na iemand wat hom miskien beter begryp

wanneer hartseer uiteindelik opdaag sluit jou deur en wees gewaarsku
hy dra nie ’n rooi mussie of ’n mes in die hand nie
hy sit nie in die hoek of slaap snags onder jou bed nie
hartseer dra die maskers wat jy alte goed ken
hartseer het jou lankal tussen al die ander jye uitgeken

Marcel Spaumer
(Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
2013

Ekwinoks

i. Temperaat
2010, 04, 11

Ek probeer jou aanspreek in gedigvorm, maar elke keer kom ek voor
in-gelid-marsjerende jambes te staan.
Ek hoor ’n trein in Potchefstroom en
die vroegherfsoggendpomelo smaak bitter terwyl ek toekyk
hoe swaels wegvlieg van die koue, onbewus van hoe swaar die aarde is.
’n Kraai slaap, kou ongegrendel, langs die volledige werke van Shakespeare
en ek treur terwyl rose in ’n pot doodkook vir turkish delight.

ii. Start spreading the news
2001, 09, 11

Herfs tuimel en dwarrel in sy aftakeltaak.
Die inwoners van Manhattan skarrel soos miere
rondom ’n teekoppie en krummels op die kombuistoonbank,
onderaan die wiele van motors met dooie eienaars kleef blare
en verkeersligte slaan van rooi na groen oor,
maar my hart bly staan.

iii. Judasbos
2013, 04, 13

Ek sit in Lovers’ Lane en kyk op uit Anna Karenina,
sien jy stap nader en kyk ongemaklik om na jou maatjies,
want jy’t vooruit geloop en nou is jy vas.
Daar’s dooie blare by my voete en lewendes aan die eiketakke.
Jy’s nie die enigste wat omkyk as jy nader kom nie.
As ek sien ons gaan paaie kruis op pad na ’n klas, draai ek af;
op die gras voor die Ferdinand Postma Biblioteek sien ek
’n kat jag duifies.

Ek skuur deur die bosse en ek skuil agter die giftige blare van die oleander, die blommende Judasbos wat alle pyn stil.

Ruan Fourie
(Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
2013

Opstaan

Hoofd op het kussen;
de wekker gaat.

Hoofd onder het kussen;
de wekker gaat.

Hoofd in het kussen;
de wekker gaat.

Het hoofd z’n wekker gaat;
De president slaapt verder.

Jente Rhebergen
(Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus
2013

Suikerbekkie

In die lumier van die dag,
op die drumpel van tyd,
voor die lafenis van lewe
of die hitte van die stryd

sit ’n suikerbekkie voor sy vlug:
oranjebors en
hoepelrug.

Slegs jy kan so vernuftig, fyn
jou proviand gaan kry
in laventel en vuurpyl –
sélf kelkie klein.

Maar vóór jy vlieg, klein vaalpens,
wil ek jou jangroentjie-nuk verstaan:
Waar kry jy jou soetsopiesbek vandaan?


Henri Niewoudt
(Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus)
2013

Vars versies

Meraai-ramielie-mieliemeel,
‘n Worshond het my hart gesteel,
Langste snoetjie, langste stert,
Stinkste asempie, maar soene werd.
Liefste Meraai-ramielie-mieliemeel,
Jy’s jou ma se oogste-appel,
en sy lief jou al te veel.

(c) Nandi Lessing-Venter (2015)

Ons springkasteelpartytjie

Vandag hou ons partytjie
vandag het ons ‘n fees
vandag gaan ons die konings
van ons eie springkasteel wees.

‘n Kasteel met torings en mure
en ‘n vloer om op te spring
‘n leer vir klim en klouter
en ‘n sloot met water in.

Ek is die koning,
hier is my troon.
Ek’s ‘n prinses
met die blinkste kroon.

Ons klim en klouter
en spring en hop
en gly in die water
met ‘n kroon op die kop.

Spat spat!
Papsopnat!

Klim en klouter,
hop en spring,
gly in die water
lag en sing.

Spat spat!
Papsopnat!

Maar wat gebeur dan nou?
Wat is dit wat so sis?
Hoekom lyk dit of daar fout
met ons springkasteel is?

Die kasteel begin te waggel
en die mure word slapper
die torings word pap
en die vloer al hoe platter.

Pasop! Gee pad! Spring uit!

Net betyds uit die groot gevaar!
Want kyk nou net daar:
hier waar ons kasteel eers was
lê nou net ‘n waterplas!

Spat spat!
Papsopnat!

(c) Franci Greyling

‘n Muis in die huis

“Hier’s ‘n muis in die huis!” skree ma verskrik
en spring op die stoel dat die pote ruk,
dat die koppies van die tafel val
en die muisie woerts by die deur uit nael.

“‘n Muis in die huis?” roep pa verbaas.
“Is dit die rede vir die groot geraas?
Gee hier die besem, bring die flits!
Ek jaag hom weg – die stoute klits!”

“Hier’s ‘n muis in die huis,” sê ek te bly.
“Nou gaan ek tog ‘n geldjie kry.
In my tekkie, onder die bed,
dis waar ek my voortand het…”

“Hier’s ‘n mens in die huis!” piep muis verskrik
en hol deur die gang dat sy stertjie wip.
“Waar is die kamer, waar is die tekkie
waar is die beste wegkruipplekkie?”

“EEEEEEEEEEEEEEEAAAAAAAAAA!”

(c) Franci Greyling

wurms met tamatiesous
wurms op jou brood
wurms is bobaaskos
lewendig of dood
wurmpies vir aandete
en wurms vir ontbyt
mopaniewurm-roerbraai
vir ‘n lintwurm-aptyt


Jaco Jacobs
Uit: Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies
LAPA Uitgewers

 

Rooikappie

Rooikappie loop in die bos
met ‘n heerlike mandjie kos.
Sy huppel
en trippel –
Vandag gaan sy weer
haar liewe Ouma sien.

Wolf staan skielik voor haar.
Sy voel sommer naar!
“Ek sê jou wat”, grom hy.
“Jy vat
die kortste en ek die langste pad!”
Haastig loop Rooikappie aan,
sy is seker sy ken die kortste baan.

Toe sy Ouma se deur oopstoot
lê sy daar –
klaar dood!

Nare Wolf het my gefop!
“Houtkapper!” skree sy
“Kom kap af sy kop!”

(C) Elma van den Berg

WOERTS & WARTS & WOU – 1

Onder die mat
voor Polla se deur
bly ‘n iet en ‘n at
en ‘n wie-weet-wat.

Die iet se naam is Woerts,
die at se naam is Warts.
Die wie-weet-wat heet Wou.
Hy’s rond en geel, met ogies blou.

Woerts is vinnig en baie fyn,
Warts is plat en piep-piepklein.
Onder die mat voor Polla se deur
Bly al drie lekker en ongesteur.

Wat eet Woerts en Warts
en wat eet Wou?
Stof en sand en korrels grond –
dis waarvan hulle hou.

O wee, wat gebeur
as Polla huis toe kom?
Vuile voete, sole vol grond
Oral lê die bewyse rond:

Polla het vergeet,
Polla het versuim,
Polla moes onthou het
om haar voete te vee!

Modderspore deur die huis,
sand in Ma se skoon kombuis …
En die arme iet en die arme at
en die arme, arme wie-weet-wat

wag pers van die honger
en vaal van die lus
onder die mat
vir hul grondkorreldis.

(C) George Weideman

WOERTS & WARTS & WOU – 2

By die kraan in die tuin sit Polla en speel.
Sy bou ‘n reuse-modderkasteel.

“Kyk!” sê Woerts. “Kyk!” sê Warts.
“Wat op aarde bou Polla Swarts?”

“Wat dit is, weet ek nie,” sê Wou
en hy lag só lekker dat hy dubbeld vou:

“Kyk net hoe lyk haar linkerknie!”
“Sy’s lekker vuil,” sê Woerts, “is sy nie?

Haar hande en voete is bruin en bont,
aan haar neus sit ‘n knewel van ‘n modderklont!”

Dis tog te lekker om so te speel,
Maar nou kom die moeilikste deel:

Afspoel by die kraan, dit mooi toedraai,
Dan bad toe om te skrop en te was.
Toe Polla gaan eet, is sy skoon en fraai.

Woerts en Warts en hul vriend Wou
laat spaander na die plas.
Want nou kan húlle partytjie hou!

(C) George Weideman

Gedigte

Prostituut

Sy stat
half naked,
oppie Kaapse straat,
biesag om haa’ body,
ja, die tempel vannie Here,
annie mans te verkoep.

Haa’ mindset
is oppie money,
daa’om is sy nie geworry
of haa’ clients ghrênd issie,
soelank hulle net die money
vi’ hulle pleasure hour ka’ gie.

(c) Edward T. Jeneke (16) 2015

Wegholwoorde

Ek kan nie met mense praat nie,
want my tong is nie my maat nie.
Hy lag en tart en pootjie my
tot ek in die sloot val en lêend bly.

My woorde hardloop vir my weg.
Tussen hart en mond verander goed in sleg.
My tong klap mense deur die gesig;
ek probeer ophelp, maar hy stamp terug.

Daarom skryf ek eerder alles neer,
dan maak ek niemand anders seer.
Om die woorde in my kop in toom te hê
sonder dat my tong verander wat ek wil sê.

Daarom maak ek my boodskap vas op papier
en wys dit dan vir die wêreld: ek is hìér!

An-Mari Fouché (19) 2015

My Formule

En hier sit ek met my sakrekenaar,
Maar –
ek is formuleloos.
Ek probeer my probleme te ontsyfer,
maar dit lyk vir my asof dit word al hoe meer,
so miskien moet ek die formule manipuleer.

Met ander woorde ek trek my probleme af en tel my oplosings by,
dan is dit ‘n vind vir oplosing (x) vir elke probleem (y)
Dan moet ek oplossing = probleem kry …
Maar ek moet onthou om probleem ÷ moedeloos te vermy
anders gaan moedeloosheid my weg van die antwoord lei.  

Elsie van Rooyen (16) 2015

Spesiaal vir die mans

Mans dink mos hulle is superhelde
want Adam was eerste gemaak
en nou’s ek bietjie jammer vir hulle
as hulle hierdie gespog moet staak

Mans was eerste, dis waar
maar daar’s ‘n heel logiese rede
vir hoekom Adam nou voor Eva gemaak was
milleniums en eeue gelede

elke kunstenaar maak maar so,
anders sal hy dalk misluk:
Eers bou hy ‘n aaklige rofwerk
voor die skepping van die meesterstuk.

Lourien Leeuwner (16) 2013

‘writer’s block’

Die passie van ink loop eendag dood
Ek het my woorde verskryf…of verlê, ek weet nie.
Vuurwerke skiet nog
Die letterkunde goud vloei
Toekennings word ingeryg
Ek is ‘n toeskouer onder
‘n beeldskone hemel, ‘n sterre-oseaan.
My bloed het êrens verdamp.
En trane loop.

Dalene de Vente (17) 2011

Man met die mooi blou oë,
Man met die swart kerkpak aan…
Dit is ek, dit is ek wat in
verwondering agter jou staan
en na jou loer.
Na jou

gesig, sterk en hard en empaties,
jou hande, wat haar hande vashou…
Dit is ek, dit is ek wat in
swart doolhof nagte van jou hou
En droom
En droom.

Man met die wit perd, ridder,
Jy en jou heldin se samesyn…
Dit is dan ek! Dit is ek wat in
die agterstrate van eensaamheid in kwyn,
platgery word.
Plat en plat.

Dalene de Vente (16) 2010

Hoe lyk dit as dit reën by die Sonop-koshuis

Hoe lyk dit as dit reën by die Sonopkoshuis
Val druppels soos glybaantjies by jou venster verby
Vloei dit soos riviere deur Tukkies se strate en sypaaie
Dans die bome jubelend saam die wind
Oorstroom
Jou bloed bruisend in jou are
Druk jy jou ore toe
Voel jy die opwinding in jou hart
Slaan jou selle bollemakiesies
As die hemel pers bliksemstrale skiet
Kan jou ingenieursbrein die skoonheid en ritmes van die natuur toonset met jou kitaar en
As dit skielik ophou reën

Ruik jy die verlange in die lug?

Dalene de Vente (15) 2009

 

vlinder

Ek sien jou elke dag in die skoolgang staan
jou gesig,
strak en geheimsinnig
jou oe diep blou,
en lyk of niks oppervlakkigs daarin kan skuil
jou vel,
blas gedra deur die hardheid van hierdie wêreld
en dik,
sodat skerp messe nie daardeur kan steek nie
jou ore,
wyd geluister na die vurige tonge
en toksiese lippe
jou blik
n negatiewe staar

jy soek slang in elke grashalm…
maar kry soms n skadelose vlinder,
wat sagkens op jou wil kom sit

jy is hartseer en stukkend
en hou dit dig verborge in jou hartkamers
van klip

hier wil ek vir jou wees,
‘n helder ster in jou donker nag
‘n gelukkie in jou smart
en ‘n geneser vir jou verbrokkelde hart
as ek mag?

Evette Brandt (17) 2009

Vanaand terwyl die reën so liggies
aan my venster tik-tik
wil ek tot bo klim
en in die holte van die halfmaan gaan lê
in die donkertes wil ek
kamoefleer, isoleer

Ek wil weer wielie walie sing
en droom van die “grootmenslewe”
ek wil net bietjie
kamoefleer, isoleer

en dalk
sal ek jou nooi
net vir jou
om saam met my wipplank te ry
tussen Venus en Mars
en ek sal vir ons kossies braai
in die sterre
enigiets
ek wil net kamoefleer, isoleer

Dalene de Vente (14) 2008

Kwetterpret

Die Papagaai

Papagaai met jou groot bos vere,
kyk hoe gaan jy te kere.
Papagaai met jou kromme snawel,
kyk hoe eet jy die koejawel.

Liza-Mari Wolhuter (9) 2008

Vinkies

Twee stoute vinkies raas in die hok.
Opes, nee wag, ek het gelok.

Drie stoute vinkies besig om te kwetter
Skree snaakse woorde sonder letters.

Pê, Pê, Pê
dit is wat hul sê.

Wê, Wê, Wê
Wat wil julle tog hê!

Die snaakse woorde maak my mal
Ek gaan hul terugkry, ja ek sal.

My ouma gee my raad
Gaan haal my flessie boereraat.

Meng dit met die voëltjiesaad
en speel dan met jou maat.

‘n Rukkie later
raak ek kwater.

Maar toe word dit stil
en dit laat my ril.

Ek skrik toe groot
ek dog die vinkies is dood.

Maar toe hoor ek kwetters
woorde met netjiese letters.

Danie Stander (10)

Grietjie

Grietjie Grietjie Grietjie
Sy’s ‘n grysvoël
kyk hoe sit sy nou.

Grietjie Grietjie Grietjie
Sy’s ‘n slimvoël
Kyk hoe maak sy my na.

Grietjie Grietjie Grietjie
Sy slaap op een been
Ek verstaan dit nie.

Grietjie Grietjie Grietjie
Sy het swart oë
Sy sien alles raak.

Grietjie Grietjie Grietjie
Sy fluit ‘n liedjie
Sy’s my kokketiel.

Cari Viljoen (7)

(Woorde het ontstaan met die melodie van Money Money Money van Abba)

Valentynsverse

Posduif

Ek stuur ‘n duif saam die wind
hoog daar bo
verby die horison
daar waar net jy hom sal vind.

Ek stuur hom met ‘n brief
met ‘n goue seël
want ek weet dis net ons
wat so ‘n geheim sal deel…

Hy sweef soos ‘n arend
oor die oseaan
met vlerke so klein
maar tog so spontaan.

Ek stuur my posduif
spesiaal vir jou alleen
met ‘n brief wat sê:
“Ek hou van jou, ou seun…”

Danel Klopper (15) 2015

Knipoog, wink-oog

Knipoog, wink-oog
loop verby
hart kyk weg
om die invloed te vermy

Raak aan my hand
vat mis, raak my siel
Raak ek verlief?
Wat het my besiel?

Knipoog, winkoog
is dit vir my?
Nee, dis vir haar…
Jy kyk my verby!

Lok uit suspisie
gee my die hoop;
hoeveel ander het
hul siel aan jou verkoop?

Bruin oog, blink oog
blink jy vir my?
Lees weer jou rympies
om my hart te kry!

Maak gou liefste
lewe flits verby,
lees jy jou rympies:
vir haar…
of vir my!?

Pieter Smuts (18) 2014

Hartklopper       

Ek sien ‘n man wat fier
in die straat marsjeer;
Hy klop sjarmant
en ek loer deurie sleutelgat:

nee, wag –
dis maar net ‘n seuntjie
wat, dadelik verveeld,
by ander huise toktokkie loop speel.

Jemima Meyer (16) 2013

Skryf ‘n limerick

Hoe werk ‘n limerick?
Dis ‘n versie met vyf reëls.
Dit gaan oor ‘n plek of ‘n persoon.
Speel met woorde en betekenisse.
Daar’s ‘n grappie in die laaste reël.
Rympatroon a-a-b-b-a.
Ritme: Reëls 1, 2, 5: da-DA da-da-DA da-da-DA (da)
Reëls 3 en 4: da-DA da-da-DA (da)

Ertjie staan sonder sy dop
ewe cool nogal kaalstert en hop
hy staan nog en kyk
hoe bakgat hy lyk
toe lê hy ook in die sop.

Clinton Oktober (14) 2010

‘n Stoute kaboutertjie Jop
beland in ‘n beker vol sop
hy’t tjoef-tjaf gesink
gedog hy’t verdrink
toe slurp hy die ertjiesop op.

Ricardo Meyer (14) 2010

Platanna is ‘n padda, maar plat
Sy spat haar ou oupatjie nat
Sy’t eendag gedink
Haar dammetjie stink
En toe vat Platanna die pad.

Danielle van der Mescht (11) 2010

Magdalena Katriena van der Haar
se velletjie lyk tog te naar.
Sy smeer ‘n roompie in
en ‘down’ ‘n ‘tot’ gin
toe brand Katrienatjie se velletjie gaar.

Mika Stanvliet (15)

Skoollewe

In die eksamensaal

“Boeke oop, koppe af”
Kom die opdrag van meneer
maar ‘n kussing en ‘n bed
is nou al wat ek begeer.

Vanuit die hoek van die klas
loer ‘n rottang vir my!
As ek die dag wil oorleef
sal ek moet wakker bly    

Die horlosie tik te stadig
elke sekonde martel my
‘n mens kry net niks geleer
hoe gaan ek dan wakker bly?

Die geritsel van die waaiers
fluister saggies in my oor
“Jy moet slaap, lekker slaap”
Ek sal maak of ek nie hoor.

Ek sal… ek kan… ek moet…
Maar my ooglede baklei.
Die waaiers wen die stryd
Tot sy rottang my kom kry.

Lourien Leeuwner (16) 2013

My swaar skooltas

Ek sukkel só om hom te dra,
Ek kan net nie ophou kla!

Die juffrouens wil my tas nie ligter maak,
want vir hulle maak dit glad nie saak!

Joe, ons werk so hard elke dag,
die juffrouens en menere maak ons seuns net sag!

My tas word al hoe swaarder en swaarder.
Ai, ek het só gewens my tas word maerder en maerder!

Retus Campher (11) 2016

Skooldae

Op Maandag staan ek ek sukkel op
en Dinsdag staan als op sy kop.
Woensdag moes die taak al in.
Donderdag moet Ma die sportgoed bring,
dan kom Vrydag… en my hart wil sing!

Die naweek kan ek speel en rol
slaap en lê en lekker jol.
Kom Sondagaand hang my lip weer laag
want more moet ek weer by die skool opdaag!

Clerise Begg (9) 2015

Droomland

Op ‘n paddastoel
in die paradys van droomland
sit ‘n feetjie, met ‘n  silwer rokkie
en ‘n towerstaffie in haar hand.

Sy sprinkel blinkertjies deur die lug,
dit sweef so heen en weer.
Sy toor, sy toor
my hartjie dat dit gesond word van die seer.

En toe meneer my skielik vra
“Wat is die doel?”
val my drome inmekaar en
verdwyn die feetjie saam met haar paddastoel.

Dalene de Vente (14) 2009

As juffrou so vir my staar

As juffrou so vir my staar
Dan weet ek sommer al klaar!
Ek het alweer sleg gedoen in my toets
My ma gaan my sommer slaan en kapoets
Ai, as ek net kon beter doen
Sal ek wraggies klaar beter voel
My lewe lank kry ek vyf uit tien
Ek weet sommer, ek hoef nie te sien
Maar, skielik kyk juffrou met ‘n glimlag na my
Ek het wraggies tien uit tien gekry!
Maar sy weet nie wat ek weet nie
Want sy het my nie raak gesien
Ek het afgekyk by Leona Blas
Die slimste meisie in die klas
As juffrou dit weet
Sal sy my nooit vergeef?
Sy draai jou nek om want sy dink jy verdien dit
Sy skel jou sommer uit vir die ene afkykery as jy sit
Moet asseblief vir niemand sê
Of anders is ek besig om onder my bed weg te kruip
terwyl ek nog so paar uur lê.

Lara Bester (11)