Ma,
skryf vir my ‘n toespraak, Ma?
Kan ek Redenaars doen, Ma?
Ons moet Maandag in die klas praat, Ma. Sal Ma my help?
Drie vrae wat ‘n ma
gillend die strate in kan jaag! Met die ATKV Redenaarskompetisie op
hande, is baie ouers hande in die hare óf hande in die sakke: dis of ses
ure en sestien opgefrommelde papiere wat op jou wag, óf die makliker, duurder
uitweg om ‘n toespraak te koop. Daar is talle onderwyseresse en skrywers wat
hierdie diens lewer. Meer nog, daar is ‘n hele dosyn of meer webwerwe waar
julle kan aanklop vir hulp. Byvoorbeeld,
www.redenaars.co.za
redenaars@gmail.com (Raakpraat
Redenaars)
carolina@kansvatter.co.za (Kansvatter
Redenaars)
Die webwerf van Radikale Redenaars kan ook besoek word.
Inteendeel: gaan op
enige soekenjin en tik in: redenaars + toesprake, en jy is in
besigheid. Vir die ouer met ‘n paar honderd rand in die agtersak, is dit ‘n
maklike uitweg.
Maar wat daarvan as
jy beginselbesware het of dalk finansieel nie vir al vier jou bloedjies kan
toesprake koop nie?
Dan lê die sestien opgefrommelde papiere vir jou voor.
Hier
is raad:
- Jy is nie alleen nie. Kry ‘n vriendin of drie
bymekaar, wat net soos jy wroeg. Gaan sit om ‘n tafel, met pen en papier
en begin praat. En beter nog, kry die kinders se insette. Laat hulle saam
met julle idees rondgooi. Moenie hulle kreatiwiteit onderskat nie! En
uiteindelik gaan dit daarom dat die kind self ‘n opinie oor ‘n saak moet
hê en dit self moet kan verdedig.
- Analiseer die temas wat aan julle gegee is.
Vanjaar se tema’s is byvoorbeeld Speelgoed/Kos/Familie vir die gr 1-3
fase. Hoe ouer die kinders, hoe meer insette moet hulle help lewer. Dis
soms ondraaglik om alleen met ‘n toespraak te wroeg: maar sit ‘n paar ma’s
en ‘n paar pelle om ‘n tafel, en dit raak vet pret.
- Dis nou waar drie koppe beter as een is: hou
‘n breinstorm. Gooi idees op die tafel oor byvoorbeeld “Speelgoed.”
Gesels eers oor die kinders se gunsteling speelgoed, dan oor wat hulle
begeer, oor ouma en oupa se speelgoed, die prys van speelgoed,
elektroniese speelgoed, waar speel ek die lekkerste, waarom speel ons,
waarmee speel ma en pa… Gooi die net wyd! Waarmee speel aliens?
Watter diere was die lekkerste speelgoed op die ark?
- Begin nou ‘n argument formuleer. Onthou: in
Redenaars gaan dit in die eerste plek oor die beredenering van ‘n
stelling. Die argument moet ‘n kort en kragtige sin wees, wat in drie tot
vier punte verdedig moet word.
- Kom ons ruk ‘n paar argumente uit die hoed:
Meisies se speelgoed is koeler as seuns s’n; Barbiepoppe is uit die Bose;
Kinders speel te min; Van sit en speel kom niks gedaan; Omdat ons nie
speel nie, kan ons nie wiskunde doen nie; al verskil tussen pappas en
seuns is die prys van hulle speelgoed; boomklim en kleilat is weg saam met
die ossewa; Tegnospeletjies maak van my ‘n IT-spesialis, “Slimfoon-…dom
kind”. Hoe duurder die speelding, hoe korter die genot. Speelgoed vernietig
ons planeet; Sofapokkels speel te min; Speel-speel raak ek slimmer; Lego
is my paspoort na ‘n graad in ingenieurswese.; Popspeel gaan van my die
beste mamma maak….
- Sodra julle ‘n argument geformuleer het, is
julle koppe deur!
- Dink nou aan ‘n interessante manier om die
toespraak in te lui. ‘n Grappie of rympie werk altyd goed, solank dit kort
en toepaslik is. Gaan blaai deur die volgende rympieboeke vir idees:
Wurms met Tamatiesous
– Jaco Jacobs; Die teddiebeerbus: Jaco Jacobs, Speels Verse, saamgestel deur
Daniel Hugo; Onder die Reënboog, saamgestel deur NJ Snyman;
Mallemeueleman, deur Philip de Vos; Nuwe Kinderverseboek saamgestel deur Riana
Scheepers en Suzette Kotze-Myburgh; Kleuterverseboek deur DJ Opperman; AG
Visser se gediggies… die lys is lank. Gaan sit in die plaaslike biblioteek of
boekwinkel en blaai deur kinder verseboeke. Jou oog vang dalk net ‘n gediggie
wat perfek sal werk. Probeer grappe soek uit: Lekker lawwe Lagboek of
Grappe van A-Z deur Maritha Snyman (LAPA)
- Jy kan jou toespraak ook met ‘n grappige of
interessante gebeurtenis uit jul eie huis begin: soos bv “Die dag toe my
oupa met die vark aan ‘n leiband by die huis kom, het ek geleer hoe
goed my ouma kan Frans praat. Ja, daar is baie maniere om ons taal
kreatief te gebruik!”
- Sodra jy nou ‘n inleiding het, is jy lekker
aan die gang. Dan moet jy nog net ‘n paar standpunte kry om jou argument
te verdedig en jy is by die wenpaal.
- Die standpunte moet gestaaf word met
verwysings, waar nodig. Kyk gerus op die ATKV Redenaars se webwerf, www.atkv.org.,
hoe die verwysings gedoen moet word. Vir heel jong kinders kan ma en pa,
oom en tannie, juffrou of skoolhoof, gerus maar as bronne aangehaal word,
soos bv:” My oupa sê, ‘n man sonder ‘n knipmes, is soos sop sonder sout.”
“My ouma sê dat “Te” voor ‘n woord nooit ‘n goeie ding is nie, buiten in
“te perd” .”
- Ouer kinders se bronverwysing moet toepaslik
en geloofwaardig en volledig wees.
- BV: “……..”, sê Piet Verdriet op
die voorblad van Beeld, 22 September 2012
- . “…..” raak Lance Armstrong op 17
Februarie 2013 kwyt, in sy onderhoud met Oprah Winfrey op die kanaal
Entertainment.
- So sê minster Justic Baloyi aan Justice
Kennerly op 21 Maart 2012 op die rsg- program Spektrum.
- Dr William Spock, bekende opvoedkundige skryf
in sy boek, Taming Toddlers, op p 45, dat vloermoere normaal is.
- Anet Schoeman skryf ‘n artikel getitel “Basta
met Boelies”, in die rooi rose van 21 November 2012, dat kuberboelies ‘n
groot probleem is.
- Die slot moet weer by die inleiding aanpas.
Probeer die toespraak as ‘n sirkel sien: begin en eindpunt moet mekaar
aanvul. Jy kan selfs in jou slotparagraaf jou drie punte weer noem. BV
“Dames en here, julle moet saamstem: seuns se speelgoed is
gevaarlik, vervelig en verbeeldingloos Dis tyd dat seuns begin
popspeel!”
Ter illlustrasie, ‘n
paar toesprake se inleidings, net om julle gedagtes te
prikkel.
Tema:
TAAL
1.
“Hoezit my blaar?” tune die wolf vir Rooikappie.
“Zik, my pappie,” tune sy hom terug.
“En waan’toe rol jy?” Vra Wolf
“Ek gaan my bewekoppie check. Sy’s lippe teen die klippe,” se Rooikappie.
2.
Voorsitter, dames en here,
Hierdie storie is in zeftaal vertel. Vir baie mense is zeftaal ‘n tameletjie.
.
Is zeftaal koel of is dit nie? Laat zef ons taal vrot, of gee dit Afrikaans ‘n
hupstoot? Dis nou ‘n taai tameletjie dié. As ek hom so kou en kou, dan
word hy al hoe lekkerder. Mmmm! Ek glo dat zeftaal ons taal smaak gee.
Tema:
Speelgoed
Speelgoed is die
beste medisyne vir ‘n dikbek! Daarvan kan ek getuig.
Voorsitter en maats
Dit gee nie om hóé oud ons word nie, speel bly lekker. Maar speel is nie net
lekker nie, dis ook goed vir ons gesondheid. Dokters sê dat ons breine
hormone afskei as ons gelukkig is. Dis ‘n mengsel van dopamien en
serotonien, sê Dr Piet Oosthuizen van die Tygerberg hospitaal, in die
Sarie van Februarie 2013. As ons speel, is ons propvol goedvoel-hormone. Dit is
waarom almal in ons huis speel. Ons speelgoed plak ‘n glimlag op ons
gesigte.
Tema:
talente
Talente staan soms in
ons pad na sukses.
Almal hou van
talentvolle mense, nie waar nie? Maar ek wil vandag ‘n klip in die bos gooi, ‘n
stok in die wiel steek en die leeu se snorbaard trek. Talente is soms
juis struikelblokke op ons pad na sukses. Klink dit na ’n paradoks? Wel, kom
stap gerus saam met my op die snaakse, klipperige pad van talente. Dalk oortuig
ek u: talente staan soms in die pad van sukses.
Tema:
Sleutel
Die sleutel tot
sukses? Dis eenvoudig. Jou sleutel is daardie een wat jou by die deur van die
lewe laat inkom het. Dié een wat jou uit die donkerte van vrugwater na
die lig toe genooi het. Skielik was jy daar, pienk en skreeuend! Gereed om die
volgende sleutel op jou skattejag van die lewe te ontvang. Wie is daardie
sleutel? Dis jou ma. Inderdaad! My ma is die sleutel tot my lewe!
Tema:
Taal
O die blikkitaar en
die uitkapwyn
Die rooi kalotjie en die tierlantyn
Vanaand se aand
As die misvuur brand
Trap ek al my worries op die misvloer fyn!
Heita! Maar hoe lekker klink Afrikaans as ‘n kapenaar hom gooi! Mens wil
sommer saam met Vincent vander Westhuizen op sy Oujaarsrympie begin dans. Kan
so ‘n lekker taal dan doodgaan? Nie as dit van my afhang nie. Dames en
here, ontmoet een van die kragtigste wapens om die voortbestaan van ons taal te
verseker: ek, moi en myself. ‘n Doodgewone graad agt snotkop. Noem my gerus
agent 008. (blaas op sy vinger soos James Bond) : In diens van haar majesteit,
Afrikaans. Want vriende, wette kan geen taal laat floreer nie.
Tema:
Toeskouers
Die skone Helena van
Troje
As meisiekind was sy ‘n mooie –
Maar toe, met die jare
Kom nare spatare
Plus plooie… en nou’s sy ‘n dooie.
Voorsitter.
Die lewe is kort. Dis wat hierdie limeriek van Philip de Vos eintlik sê. Van
Helena van Troje se skoonheid sou ons vandag niks geweet het, as dit nie vir
toeskouers was nie. Die getuies van haar lewe het haar legende voortgedra. En
ek en jy dan? Wat van ons klein lewetjies? Het ons ook getuies? Gewis en
seker! My toeskouers speel ‘n lewensbelangrike rol in die spel van my
lewe.
Tema:
Kommunikasie
“Noudat ek 16 is,
weet ek dat Kersvader en die Paashaas en al die freaky feëtjies net so werklik
soos my eie lewe is,” skryf Jackie Nagtegaal in Daar’s Vis in die Punch.
En net so voel ek toe
ek op 16 Januarie 2013 my toespraakonderwerp tuis aankondig.
“Tienerkommunikasie”, sê-vra my ma ongelowig, “dis nou vir jou ‘n paradoks.
Vertel my net hóé mens met ‘n graad 10 seun praat – dis makliker om jellie teen
‘n muur vas te spyker.” My pa snork net en sê: “Tienerkommunikasie
is ‘n oksimoron. Dis soos polisie intelligensie; of Afrika Demokrasie. Die twee
terme kan doodeenvoudig nie langs mekaar staan nie.”
Dit is presies my punt! Moenie ons forseer om te praat nie. Nee. Luister
na ons stiltes. ‘n Tiener kommunikeer hard en duidelik as sy stilbly.