Kraak is treffend van die eerste oogopslag af, met ‘n uitstekend ontwerpte voorblad wat dadelik aandag trek. Uiteindelik, het ek gedink toe ek die boek die eerste keer optel: ʼn boek in my gunsteling genre in Afrikaans! Hierdie verhaal word alreeds bestempel as enig in sy soort, en ons kan net hoop dat daar binnekort meer boeke soos hierdie sal verskyn om die gaping in die mark te vul vir goeie, Afrikaanse jeugfantasie en wetenskapfiksie wat in Afrika afspeel en wat kan meeding teen die groot internasionale reekse.
Meiring gee ons ʼn interessante, multidimensionele blik op die wêreld oor 300 jaar: ‘n slim vermenging van kulture, tale, geskiedenis, tegnologie, mitologie, wetenskap en meer wat die leser onmiddellik die leser se belangstelling prikkel en in die wêreld van die roman intrek. Wat van hierdie boek ‘n goeie verteenwoordiging van die Suid-Afrikaanse reënboognasie maak, is hoe verskillende tale en kulture (Afrikaans, Sotho, Xhosa, Engels, Khoisan) voorgestel word. Selfs die naam van die koepelstad, ||Hui !Gaeb, is die Khoisan naam vir Kaapstad. Plekke en name van die verlede en die hede word vermeng met die toekoms, sodat alles nou saamgevleg word om ‘n uiters geloofwaardige toekomswêreld te skep wat steeds ‘n Suid-Afrikaanse leser gaan laat voel asof dit sy eie wêreld is. Die temas wat aangeraak word, veral die van natuurrampe en die verwoeste omgewing, is ook baie relevant en Meiring se voorstelling van die toekoms maak mens definitief meer bewus van hoe belangrik dit is om vir ons aarde te sorg.
Alhoewel sekere aspekte van die tegnologie en die wêreld effens onduidelik bly, is dit ʼn ware ontdekkingsreis vir die leser. Een aspek wat my baie geïnteresseer het, is die idee van die evolusie van die mens tot op ʼn vlak waar telepatie en kommunikasie met ander wesens (beide ‘alien’ en dier) moontlik is. In die meeste toekomsfiksie bly die mens maar redelik dieselfde as in die hede, so dis ‘n verfrissende en interessante verandering wat baie effektief gebruik word in die verhaal.
Een probleem wat ek egter met die roman het, is dat die karakterskepping en -ontwikkeling dikwels onoortuigend is, veral wat die romantiese aspekte aanbetref. Kara se liefde vir Kaleb, alhoewel dit nie die hoof storielyn is nie, maak baie staat op dit wat vertel word eerder as wat gewys word en kom dus onoortuigend en flou voor. Verder tree die karakters soms onnodig dramaties op en is dikwels uiters “verstom” oor wat in die verhaal gebeur – asof die skrywer die leser probeer wys hoe hy/sy moet voel oor wat aangaan in plaas daarvan dat die teks self hul daartoe lei. Daar word ook baie staatgemaak op eksplisiete karakterontwikkeling (byvoorbeeld die karakter of verteller deel ons mee dat die karakter ontwikkel het), in plaas daarvan dat die karaktergroei duidelik is in die verhaal self. Die “lesse” wat die karakters leer is ook baie oordonderend en kom soms prekerig voor. Verder is die karakters, en veral die hoofkarakter, se gedrag is ook soms oor-dramaties en onoortuigend. Kara se haat vir Vega, byvoorbeeld, is baie ongemotiveerd. Die bogenoemde probleme kan, in my opinie, grotendeels toegeskryf word aan ‘n gebrek van “wys” en ‘n oormaat van “vertel”.
My grootste lof vir Meiring is haar gebruik van taal. Die goeie Afrikaans wat deurgaans gebruik word, wys daarop dat sy nie die leser onderskat nie en dit is baie verfrissend om te lees. Meiring gebruik ook woorde uit ander Afrika-tale sowel as Chinees om die multikulturele aspekte van haar wêreld te beklemtoon, en daar is verskeie nuutskeppings in die werk. In ʼn genre waarin daar nog min Afrikaanse boeke geskryf is, is die futuristiese taalelemente in Kraak besonders vindingryk hanteer.
Ten spyte van ‘n effens stadige begin (deels as gevolg van oormatige en onnodige plekbeskrywing) en dialoog wat gereeld geforseerd oorkom, is hierdie ‘n baie goeie verhaal oor die karakters se reis na Egipte, asook oor elke karakter se persoonlike reis. Die storielyn beweeg redelik vinnig met goeie spanningsbou en voldoende geheimsinnigheid om die leser se aandag te behou. Ten spyte van die aangetoonde leemtes, het ek die verhaal terdeë geniet het en sal baie graag meer van hierdie genre in Afrikaans wil lees.
Snak, die tweede boek in die reeks, verskyn Oktober 2018.