Hettie Cillié
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Hettie Cillié (1884 - 1985) is bekend vir haar verhale oor Chrissie en Joey.

Hettie Cillié was vanaf 1910 medewerker van Die Brandwag, en later van De Volkstem en Die Boerevrou waarin sy huislike verhale en sketse publiseer. Van 1958 af was sy assistentredakteur van Die Jongspan.

In 1925 verskyn Chrissie en Joey, die eerste roman in Afrikaans spesifiek bedoel vir jong meisies. Dit is 'n kosskoolverhaal oor die twee niggies, Chrissie en Joey. Later volg Cillié hierdie roman op met Joey en haar dogters (1945) en Chrissie se kinders (1946). Beter as geld (1935) word vertel vanuit die oogpunt van Francina, die weeskind, wat deur tant Kotie grootgemaak is. In beide Alleen op pad (1950) en Rachel, die koppige meisiekind (1959) moet die heldin haar bekende omgewing verlaat as gevolg van die dood van 'n ouer. By Rachel stuur haar pa haar na 'n kosskool, terwyl Gertruida Hoffenaar in Alleen op pad na die dood van haar weduweemoeder by haar tante, die strenge oujongnooi, juffrou Andriena Teygerbosch, beland.

Met 'n Mooi konsert (1941), Iesegrim, die geniepsige kabouter (1947), Antjie Somers (1952) en Die paaiboelie van Hangklip (1962), almal geïllustreer, spits Cillié haar toe op die beginner- en laerskoolleser.

Cillié bemoei haar ook onderwyskundig met die kind. Sy was medewerker by leesboeke vir die eerste grade op skool in die volgende reekse: Stories vir almal, Jong Suid-Afrika en Prettige Praatstories. Verder publiseer sy in die vroeë veertigerjare 13 geïllustreerde boekies in 'n reeks genaamd, Dieretuinstories. Almal handel oor diere van die Pretoria-dieretuin en is ook in Sotho vertaal. Dit handel onder andere oor Oupa Leeu; Sigapo, die seekoei; Babu, die beer; Mierie, die meerkat; Pikkewyn, die koddige watervoël en Zuluana, die witrenoster. Bogenoemde reeks, sowel as Ruskamp Stories (1946), toegelig met foto's, word in storievorm aangebied, maar met die uitsluitlike doel om feite oor diere oor te dra. Sy dra ook artikels by tot die ensiklopedie, Kinders van die wêreld.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Chrissie en Joey (1925)
  • Beter as geld (1935)
  • 'n Mooi konsert (1941)
  • Joey en haar dogters (1945)
  • Chrissie se kinders (1946)
  • Ruskamp Stories (1946)
  • Iesegrim, die geniepsige kabouter (1947)
  • Alleen op pad (1950)
  • Antjie Somers (1952)
  • Rachel, die koppige meisiekind (1959)
  • Die paaiboelie van Hangklip (1962)
  • Stories vir almal
  • Jong Suid-Afrika
  • Prettige Praatstories
  • Dieretuinstories: Oupa Leeu; Sigapo, die seekoei; Babu, die beer; Mierie, die meerkat; Pikkewyn, die koddige watervoël en Zuluana, die witrenoster
  • Kinders van die wêreld
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009