J.J. Groeneweg
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

J.J. Groeneweg (1870-1945) skryf verhale oor jong seuns wat reise in ver lande onderneem.

Johannes Jacobus Groeneweg is in 1870 in Boerden, Nederland, gebore. Daar bekwaam hy hom as kunsonderwyser en skilder, maak 'n draai by die Modelskool in Bloemfontein en werk vanaf 1913 as Nederlandse en Wiskunde-onderwyser aan die Oosteindskool in Pretoria. Hier onderrig hy veral kinders van Nederlandse immigrante waaronder latere bekendes in die letterkundewêreld soos J.L. van Schaik en G, Dekker. Hy skryf benewens fiksie ook talle skoolhandleidings vir wiskunde, en in samewerking met T.H. le Roux en M.S.B. Kritzinger ook aantekeninge by Suid-Afrikaanse uitgawes van. Op sestigjarige ouderdom lê hy die tuig neer en skryf hierna nog enkele jeugromans. Op 14 Maart 1945 is hy in Middelburg (Transvaal) oorlede.

Sy eerste werk in Afrikaans is Waar die doringbome fluister (1925) en dit is eintlik 'n vervolg op sy Nederlandse jeugroman: Onder het zuiderkruis (datum onbekend). In Maseppa, die leeu van die grasvlaktes (1929) speel af in Oos-Europa, na die tyd van adelikes en arm boere. Die huisgesin van Dawid Barinsky (1935) vertel die verhaal van 'n Joodse gesin tydens die Russiese rewolusie van 1918.

Hy skryf ook 'n hele paar boeke wat in Noord-Afrika, veral in die woestyngebiede afspeel: 'n Gelukkige swerwer (1938), Die vallei van die newels (1940), Die wraak van die Toareg (1940), In twee wêrelddele, 'n drama in die Sahara (1941), Die oor, die weegskaal en die boek, 'n verhaal uit ou Abessinië (1942), Wyer horison (1943), Aan die walle van die Nyl (1942), Drie straatsangers in die Kongo (1943), 'n Geluksvoël in die land van Allah (1950).

In Twee gelukkige swerwers (1941) besoek die leser Spanje, die Atlantiese oseaan en Brasilië. Die erfenis van 'n ou Sjinees (1950) verskyn na die dood van Groeneweg en speel gedeeltelik in Suid-Afrika en die Gobi-woestyn af. Oor die klipperige pad (1942) speel in Suid-Afrika af. Guiseppi Garibaldi: die leeu van die Apenyne (1942) is 'n historiese roman oor die Italiaanse vryheidsheld.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Waar die doringbome fluister (1925)
  • Maseppa, die leeu van die grasvlaktes (1929)
  • Die huisgesin van Dawid Barinsky (1935)
  • 'n Gelukkige swerwer (1938)
  • Die vallei van die newels (1940)
  • Die wraak van die Toareg (1940)
  • In twee wêrelddele, 'n drama in die Sahara (1941)
  • Twee gelukkige swerwers (1941)
  • Oor die klipperige pad (1942)
  • Guiseppi Garibaldi: die leeu van die Apenyne (1942)
  • Die oor, die weegskaal en die boek, 'n verhaal uit ou Abessinië (1942)
  • Aan die walle van die Nyl (1942)
  • Wyer horison (1943)
  • Drie straatsangers in die Kongo (1943)
  • 'n Geluksvoël in die land van Allah (1950)
  • Die erfenis van 'n ou Sjinees (1950)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009