Alba Bouwer
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Alba Bouwer word beskou as die "doyenne van die Afrikaanse kinderliteratuur" en verower die Scheepersprys vir vyf van haar boeke.

Albertha Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 in die Vredefort-distrik (Vrystaat) gebore waar sy haar kinderjare deurgebring het. In haar tienerjare verhuis sy na Klein Drakenstein by die Paarl en matrikuleer aan die Hoër Meisieskool La Rochelle. Daarna skryf sy as student in by die Hugenote Universiteitskollege te Wellington waar sy 'n B.A.-graad behaal met Geskiedenis en Duits as hoofvakke. As opvoeder begin sy haar onderwysloopbaan aan die Hoërskool Burgersdorp en eindig dit ses jaar later aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Hierna word sy joernalis, eerstens by die vrouetydskrif Huishouding, daarna by die destydse SAUK in Kaapstad, en laastens by die bekende tydskrif Sarie Marais waar sy tot assistentredaktrise vorder. In 1963 tree sy in die eg met Hubert Coetzee (destydse besturende direkteur van Nasionale Pers), en in 1975, ses jaar na die afsterwe van Hubert Coetzee, trou sy met Jan Hofmeyr. Hy is in 1999 oorlede. Alba Bouwer woon tans in Somerset-Wes.

Haar debuut, Stories van Rivierplaas (1955) en sy opvolg, Nuwe stories van Rivierplaas (1956) verskyn aan die vooraand van die sestigerjare. Stories van Rivierplaas het as reeks in Sarie verskyn en is nie in die eerste instansie vir kinders bedoel nie. Stories van Ruyswyck (1963) is 'n opvolg van die Rivierplaas-stories. Alie het intussen grootgeword en is bykans dertien jaar oud as die storie begin. In Stories van Bergplaas (1963) staan die tienjarige tweeling, Bramie en Grietjie, in die sentrum op die Bolandse plaas, Sadewee.

In Abdoltjie: ses verhaaltjies oor 'n Maleiertjie van die Ou Kaap (1958) verken Abdoltjie, 'n vyfjarige Maleierseuntjie, in elke opeenvolgende storie sy eie leefwêreld: die berg en sy diertjies, die see, die wolke en lug, en die buitenste ruimte. Nog 'n vyfjarige, Dirkie, leer in Dirkie van Driekuil (1966) van die onstuitbare gang van tyd en van verganklikheid. 'n Hennetjie met kuikens (1971) handel oor 'n wit kind, Sarie van Johannesburg, en die swart dogtertjie, Sara van Soweto. Hulle het elk afsonderlik 'n pop van 'n ander ras as gespreksgenoot. In Vlieg, swaeltjie, vlieg ver (1983) is nog 'n vyfjarige, Faantjie, die hoofkarakter.

Ienkel dienkel: 'n verseboek vir kleintjies (1980) is 'n kinderpoësiebundel wat bestaan uit sewentien gediggies, elke gedig is geïllustreer deur May Hillhouse. Bouwer laat ook 16 verse in D.J.Opperman se Kleuterverseboek (1981) die lig sien en dra ook by tot die versamelbundel Verskombers (1977). Sy publiseer verhale in bundels, soos "Oupa Kyken" in Storiehuis, woordpaleis (1980) en "Ou Pettepet" in Goue fluit, my storie is uit (1988) en dra ook by tot Son en saffier (1972) en Voorsmaak (1972) wat werke van 10 Scheeperspryswenners bevat.

Alba Bouwer het heelwat vertaalwerk van kinder- en jeugtekste uit Amerikaans, Duits, Engels en Nederlands gedoen. Hieronder val Die Spaanse roosboom (1946), Seeverhale van Seepbel (1949), Peppie se hoed (1950), Pieter en die wolf (1958), Katinka (1960), Rinus die stasiemossie (1961), Die dogtertjie van êrens (1961), Die wit buffel (1962), Rip van Winkel (1965), Tippie se liefde (1966), Die leerling-towenaar (1968), Die groen pad (1969), Perd uit die storm (1971), My eerste groot storieboek (1975), Die goue motor van Matys (1976), Ek is 'n wilde wollabeer (1976), Kom, krokodil, na lewerstad (1976), Winnie-die-Poeh (1985) en My groot, groot storieboek (1987). Sy het ook religieuse tekste vir volwassenes uit Duits en Nederlands vertaal.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die Spaanse roosboom (1946)
  • Seeverhale van Seepbel (1949)
  • Peppie se hoed (1950)
  • Stories van Rivierplaas (1955)
  • Nuwe stories van Rivierplaas (1956)
  • Abdoltjie: ses verhaaltjies oor 'n Maleiertjie van die Ou Kaap (1958)
  • Pieter en die wolf (1958)
  • Katinka (1960)
  • Rinus die stasiemossie (1961)
  • Die dogtertjie van êrens (1961)
  • Katrientjie van Keerweder (1961)
  • Die wit buffel (1962)
  • Stories van Ruyswyck (1963)
  • Stories van Bergplaas (1963)
  • Rip van Winkel (1965)
  • Tippie se liefde (1966)
  • Dirkie van Driekuil (1966)
  • Die leerling-towenaar (1968)
  • Die groen pad (1969)
  • 'n Hennetjie met kuikens (1971)
  • Perd uit die storm (1971)
  • Voorsmaak (1972)
  • Son en saffier (1972)
  • My eerste groot storieboek (1975)
  • Die goue motor van Matys (1976)
  • Ek is 'n wilde wollabeer (1976)
  • Kom, krokodil, na lewerstad (1976)
  • Verskombers (1977)
  • Ienkel dienkel: 'n verseboek vir kleintjies (1980)
  • Storiehuis, woordpaleis (1980)
  • Kleuterverseboek (1981)
  • Vlieg, swaeltjie, vlieg ver (1983)
  • Winnie-die-Poeh (1985)
  • My groot, groot storieboek (1987)
  • Goue fluit, my storie is uit (1988)
  • Jangroentjie

Scheepersprys vir jeugliteratuur in 1959 vir Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas en in 1965 vir Katrientjie van Keerweder, Stories van Ruyswyck en Stories van Bergplaas

Die C.P.Hoogenhoutprys in 1962 vir Katrientjie van Keerweder, 1972 vir 'n Hennetjie met kuikens en 1984 vir Vlieg, swaeltjie, vlieg ver

Die eerste M.E.R.-prys vir kinder- en jeugliteratuur word in 1984 vir Vlieg, swaeltjie, vlieg ver toegeken.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel in 1987 die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur in wat driejaarliks toegeken word.

Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012