Barrie Hough
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Barrie Hough is die skrywer van verskeie jeugromans. Van sy jeugromans is verwerk tot dramas en hy het ook 'n aantal pryse vir sy romans ontvang.

Barrie Hough is gebore op 17 Januarie 1953. Hy word groot in Johannesburg en matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar waar sy Afrikaansonderwyser, die digter Lukas Malan, hom aanmoedig om te skryf. Hy studeer in Kommunikasiekunde aan die RAU en behaal 'n M.A.-graad in Engels met 'n verhandeling oor die dramaturg Athol Fugard. Aanvanklik hou hy skool by St. Barnabas College, maar word later toneelresensent by Beeld. Later word hy aangestel op die kultuurredaksie van Rapport, waar hy oor films, teater en die letterkunde skryf. Benewens die pryse wat hy vir sy jeugboeke gekry het, is hy ook in 1984 bekroon met die AA Vita-prys vir teaterjoernalistiek.

My kat word herfs (1986), Hough se debuutwerk, is 'n verhaal oor die vyftienjarige Danie Meyer, 'n eensame, hakkelende tienerseun en sy Siamese kat, Nefertiti. Droomwa (1990) is bekroon met 'n silwertoekenning van die Sanlamprys vir jeuglektuur, die Alba Bouwerprys vir kinderlektuur en die C.P. Hoogenhoutprys. Dit is eweneens 'n stadsverhaal. Die verhaal gaan oor Paul, die jongste van drie broers, en die gesin se hartseer en swaarkry nadat hulle pa sterf, hulle ma haar aan drank vergryp en hulle na 'n woonstel in Hillbrow moet trek. Vlerkdans (1992) het die Sanlamprys (goud), asook die ATKV-kinderboekprys (13 tot 15 jaar) verower en het 'n kragtige effek gehad op die wêreld van die tienerteater. Hannes, die ek-verteller en een van die hoofkarakters in die verhaal, is 'n kunsleerling in standerd 9. Die ander hoofkarakter is Anton, 'n danser wat ontdek dat hy, as gevolg van die gebruik van vuil dwelmspuitnaalde, vigs het. Ook Skilpoppe (1998) is bekroon met die goue Sanlamprys vir jeuglektuur en word in 2000 deur Lizz Meiring verwerk tot drama en opgevoer. Anna Meyer se rol as Juliet in die skoolopvoering beïnvloed haar groei as karakter. Anna se verhaal word vervleg met ander verhale soos haar joernalissuster, Elise, se verhouding met 'n sekuriteitswag, Julian, wat haar in 'n dwelmdilemma laat beland; die gesin se verwerking van die enigste broer, Sebast, se selfmoord; die ontwikkeling van die gesin se verhouding met en die pa se aanvaarding van Sebast se Chinese vriend, Ching-kung.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • My kat word herfs (1986)
  • Droomwa (1990)
  • Vlerkdans (1992)
  • Skilpoppe (1998)

Droomwa (1990) ontvang 'n silwer toekenning van die Sanlamprys vir jeuglektuur, die Alba Bouwerprys vir kinderlektuur en die C.P. Hoogenhoutprys.

Vlerkdans (1992) het die Sanlamprys (goud), asook die ATKV-kinderboekprys (13 tot 15 jaar) verower.

Skilpoppe (1998) is bekroon met die goue Sanlamprys vir jeuglektuur.

Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012