C.J. Langenhoven
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

C.J. Langenhoven (1872 - 1932) voorsien literatuur aan die Afrikaanse kind toe daar min beskikbaar was. Hy is ook sigbaar as satirikus en taalstryder in sy kinderboeke.

Loeloeraai (1923) is waarskynlik die eerste voorbeeld in Afrikaans van 'n verhaal wat vandag as wetenskapfiksie bekend sal staan. Dit verskyn oorspronklik as vervolgverhaal in Langenhoven se rubriek Aan stille waters in Die Burger. Neelsie, Vroutjie en Engela ontvang 'n besoek van Venus in die vorm van die hoogsbegaafde, Loeloeraai.

Ook die Afrikaanse klassieke fantasie Brolloks en Bittergal: Wonderstories vir die Kindertjies (1925) sluit aan by Langenhoven se eie Karoowêreld, en selfs die olifant Herrie en Kerneels en sy gesin verskyn in die derde verhaaltjie. Die leser kan die fout begaan om Brolloks en Bittergal as een lang verhaal in vier dele te lees, wat nie die outeur se bedoeling was nie, al kom ooreenstemmende karakters in die eerste drie verhale, Kapokkie, Die eensame huisie, en Die houtboskinders, voor. Die twee mensvreters tree net aktief in die eerste en laaste verhale op.

Jantjie Muis en Jakob Slang, Kootjie Totjie, Die twee oorlosies, My sewe maters, en Dirkie Mens en Snytjie Brood verskyn almal in 1931 in die reeks Verhaaltjies vir Laer Skole (sic). Dit is later (1976) onder die titel, Jantjie Muis en Jakob Slang met treffende illustrasies van Cora Coetzee saam uitgegee.

Sommige van Langenhoven se spookverhale waarvan die meeste versamel is in Geeste op aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930) het ook by kinders byval gevind. Met een van die eerste dramas wat spesifiek vir kinders geskryf is, die klugtige Die kinderparlement (1927) wou hy die kinders vertroud maak met die politiek van die dag. In Die Krismiskinders (1926), met illustrasies van A.Vries, gebruik Langenhoven sy verhaal en die drie engelagtige kinderkarakters, Talie, Aristo en Sontie om sy eie kunsfilosofie uit te beeld.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Loeloeraai (1923)
  • Geeste op aarde (1924)
  • Brolloks en Bittergal: Wonderstories vir die Kindertjies (1925)
  • Die Krismiskinders (1926)
  • Die kinderparlement (1927)
  • Die wandelende geraamte (1930)
  • Jantjie Muis en Jakob Slang (1931)
  • Kootjie Totjie (1931)
  • Die twee oorlosies (1931)
  • My sewe maters (1931)
  • Dirkie Mens en Snytjie Brood (1931)
  • Jantjie Muis en Jakob Slang (1976)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012