Corlia Fourie
 
Junie 2011


skrywers

storiemakers


 

 

Corlia Fourie skryf in verskeie genres: artikels, verhoog- en radiodramas, kortverhale, romans, kinderverhale. Sy lees ook ander mense se stories as deel van haar werk.
Corlia Fourie

Corlia is van kleins af mal oor stories en kan ure lank in boekwinkels deurbring om toneelstukke, kortverhale, romans en digbundels te koop. Sy is ook lief vir fliek, die teater en klassieke musiek.

Sy het in 'n storiehuis grootgeword en is die oudste dogter (tweede oudste) van haar pa, Mikro, se vier kinders, en die enigste wat so mal is om te skryf.

Sy het jare lank as joernalis gewerk voordat sy in die vroeë tagtigerjare fiksie begin skryf het. Haar eerste werk, Moeders en dogters (1985), was 'n verhoogstuk wat 'n merieteprys in die Amstel Dramaturg van die Jaar-kompetisie gewen het. Moeders en dogters is etlike kere opgevoer, op die verhoog sowel as vir televisie en radio.

Sy het nog vier verhoogstukke geskryf wat op die planke gebring is: Leuens, En die son skyn in Suid-Afrika, Poppespel en Erfgoed. En die son skyn in Suid-Afrika is ook in 'n TV-drama verwerk wat die eerste prys gewen het in M-Net se kompetisie vir die beste Afrikaanse sitkom. Verskeie radiodramas uit haar pen is oor die lug gehoor.

Sy het ook heelwat kortverhale geskryf en die einde 1991 verskyn die bundel Liefde en Geweld, haar eerste prosawerk vir volwassenes, by Tafelberg-Uitgewers, en in 1992 het sy die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa daarmee gewen. In 1994 het 'n tweede kortverhaalbundel, , by Human & Rousseau verskyn. En daarna 'n roman, Die oop deur. Die oop deur was in 1996 'n Publisher's Choice- boek en is oor die radio voorgelees. Haar roman, Alle paaie lei deur die Strand het twee jaar gelede by Lapa verskyn.

Benewens haar volwasse stories, het sy ook etlike kinderboeke geskryf. Twee daarvan, Die meisie wat soos 'n bottervoël sing en Die towersak en ander stories is met twee pryse elk bekroon. Die meisie wat soos 'n bottervoël sing het die M.E.R.-prys en die Tinie Holloway-medalje ontvang en Die towersak, die M.E.R.-prys en die Alba Bouwer-toekenning. Eersgenoemde verhaal is ook deur die Kaapse komponis Peter Klatzow van musiek voorsien en die werk met orkes en verteller is as Tintinyane in Johannesburg, Kaapstad en Stellenbosch opgevoer. 'n Ander kinderboek, Ganekwane en die groen draak, is vertaal en in Amerika deur Albert Whitman uitgegee.
Haar jongste twee kinderboeke, Heleen en die heks met hoofpyn en Stories met stertjies, waarin konvensionele sprokies op hul koppe omgekeer word het onlangs verskyn.

Sy is tans rooi rose se verhaleredakteur en skryf ook artikels. Sy bly in Greymont in Johannesburg. Haar twee volwasse dogters woon albei oorsee. Die oudste, Marianne, is met 'n Fransman getroud en hulle bly op die oomblik in Madrid. Die jongste, Carina, het 'n navorsingspos by die filosofiedepartement van die Universiteit van Zurich.

Die enigste organisasies waaraan sy nog behoort het, was toe sy (in die tagtigerjare) lid van Vroue vir Vrede was en ook lid van die Skrywersgilde en voor die organisasie se sterfjare was sy op die bestuur.

(Inligting verskaf deur Corlia Fourie, Mei 2004 en Junie 2011.)

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012