Hester Heese
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Hester Heese (1911 - 1992) is 'n prominente kinderboekskryfster en het veral 'n groot bydrae gelewer op die gebied van die verskuns.

Hester Heese (de Swardt) is op 26 Oktober op Kuilsrivier gebore, as die derdejongste van sewe kinders. Sy gaan skool in Kuilsrivier en Kaapstad en word as kindertuinonderwyseres opgelei in Wellington. Sy was hartstogtelik lief vir die Wes-Kaap, waar sy meestal gewoon het. Enkele jare as onderwyseres in Upington vind neerslag in Kinders van die Konka-hut (1967). Sy trou in 1937 met die bekende sielkundige en prediker, dr. Kalie Heese en is predikantsvrou op Malmesbury, Bonnievale en Pinelands, totdat die gesin se verhuising na die rietdakhuis in Jonkershoek, Stellenbosch. Dit word die inspirasie vir ruimte-uitbeeldings in boeke soos Aljander, Aljander so deur die bos, (1966) en Hierdie lente, (1969). Na haar man se dood verhuis sy van Stellenbosch na Prins Albert en uiteindelik na die Strand. Haar vyf kinders en negentien kleinkinders het meermale (saam met haar eie en haar man se jeug) inspirasie verskaf vir haar kinder- en jeugboeke. Haar groot verskeidenheid tekste sluit kinderverse, verhale vir kleuters, jong kinders en jeugdiges, asook 'n digbundel, Sonder jou (1976), en 'n outobiografiese vertelling vir volwassenes, Ek gooi my luike oop (1986), in. As predikantsvrou skryf sy ook ongepubliseerde toneelstukke en godsdienstige voorstellings. Sy vertaal agt kinderboeke, onder meer Bybelverhale, en skryf saam met A.J. van der Merwe ses aanvullende leesboeke vir die tweede skooljaar.

In 1976 ontvang sy die Tienie Holloway-medalje vir Wat is daai - hè Pappa? (1972); Oustryk (1973); Piet Vrolik en Ben Verstrooi (1975); Die peperboom (1975) en Bokmakierie sing (1975). In 1982 kry sy dieselfde medalje vir Sy wat die soen op haar voorkop dra (1980). Die illustreerder, Ann Walton is ook bekroon met die Katrine Harries-prys. Adriaan van Zyl ontvang dieselfde prys vir sy super-realistiese illustrasies in Kobus het 'n blom (1982). Die C.P. Hoogenhout-toekenning vir die beste boek vir kinders tussen sewe en elf jaar ontvang Hester Heese vir Sêra Madêra (1979) in 1979. Die volgende tien van haar boeke verdien eervolle vermelding by die SAIBI: Aljander, aljander so deur die bos (1966), Loekie die rondlopertjie (1966), En daar is lig - verhale uit die Bybel (1971), Die blou duif (1972), Die huis op pale (1973), Die wildsbok van Ver-eiland (1974), Die peperboom (1975), Josef is 'n jong vrugteboom (1976), Hokaai (1977), Kompatjierie is my liedjie (1981). Ek en jy, Grootbroer (1970) is in 1970 bekroon as die beste jeugboek in 'n wedstryd van Tafelberg-Uitgewers.

In Dwars-in-die-weg (1979) en Miekel die koerantjoggie (1967) moet beide die hoofkarakters na die dood van 'n ouer of ouers aanpas in 'n nuwe dorp en skool. Die klein dogtertjie in Op die vensterbank in April (1983) gee die week voor haar verjaarsdag elke dag, soos haar oorlede pa, vir haar ma 'n geskenkie. Fanus, in Die klein pasella (1968) moet sy ernstige hardhorendheid hanteer, en Alota in Ek en jy, Grootbroer (1970) voel te klein en jonk vir wat hy wil doen, soos die hoofkarakter in Frans se vyf dae in Desember (1977). In hierdie verhale kan spanninge tussen kinders gesien word, sien ook Die geluid van wakker (1981).

In Polka-masurka (1972), gesitueer in die vroeg-twintigste eeu, bou die ouer broer 'n outydse radio. In Moks van Ver-Wêreld (1966) ruil die twee seuntjies Moks en Ghoempa, die een afkomstig van "Blikkiesdorp", in die spel 'n perdewaentjie en vragmotor, maar ook tradisionele rolle om. In Wannelas (1978) dink Wannelas op negejarige leeftyd nog dat 'n ma gekoop kan word en ontvang hulp van die skrander Jakkie wat sy ouma se plaas besoek. Sy skryf ook geestige volkse verhale, soos Boertjie word ryk (1980) en fantasieverhale.

Haar laaste rymverhaal, Daar diep in die see (1991), word gesien as 'n hoogtepunt. Sy lewer etlike belangrike versbundels, Opsêgoed vir Kleingoed (1966), later bygewerk tot Bokmakierie sing (1975), is eenvoudige versies oor alledaagse gebeurtenisse. In Kompatjierie is my liedjie (1981) staan natuurbelewing voorop, maar soos in Waarom is die reënboog krom? (1983) steeds gesien vanuit die kinderwêreld. Steweltjies na Wonderland (1998) is 'n keur uit haar kinderverse.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Aljander, Aljander so deur die bos (1966)
  • Loekie die rondlopertjie (1966)
  • Opsêgoed vir Kleingoed (1966)
  • Moks van Ver-Wêreld (1966)
  • Miekel die koerantjoggie (1967)
  • Kinders van die Konka-hut (1967)
  • Die klein pasella (1968)
  • Hierdie lente (1969)
  • Ek en jy, Grootbroer (1970)
  • En daar is lig - verhale uit die Bybel (1971)
  • Wat is daai - hè Pappa? (1972)
  • Die blou duif (1972)
  • Polka-masurka (1972)
  • Die huis op pale (1973)
  • Oustryk (1973)
  • Die wildsbok van Ver-eiland (1974)
  • Die peperboom (1975)
  • Piet Vrolik en Ben Verstrooi (1975)
  • Die peperboom (1975)
  • Bokmakierie sing (1975)
  • Josef is 'n jong vrugteboom (1976)
  • Frans se vyf dae in Desember (1977)
  • Hokaai (1977)
  • Wannelas (1978)
  • Dwars-in-die-weg (1979)
  • Sêra Madêra (1979)
  • Boertjie word ryk (1980)
  • Sy wat die soen op haar voorkop dra (1980)
  • Kompatjierie is my liedjie (1981)
  • Die geluid van wakker (1981)
  • Kompatjierie is my liedjie (1981)
  • Kobus het 'n blom (1982)
  • Waarom is die reënboog krom? (1983)
  • Op die vensterbank in April (1983)
  • Daar diep in die see (1991)
  • Steweltjies na Wonderland (1998)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012