Jaco Fouché
 
Januarie 2015


skrywers

storiemakers


 

 

Jaco Fouché het as lesende kind juwele ontdek. Ná verskeir romans vir volwassenes het sy eerste jeugroman, in 2014 verskyn.
Jaco Fouche

Jaco Fouché is in 1967 in Klerksdorp gebore. As lesende kind het hy juwele ontdek: Asterix, Fritz Deelman, Just William, Keurboslaan, Die  avonture van Huckleberry Finn, Jennings and Derbyshire, en so aan. In 2013 het hy weer op een van die William-boeke afgekom en dit was merkwaardig hoe die stories oor ‘n elfjarige Britse seun Jaco se eie kindertyd opgeroep het. Hy kon onthou hoe hy die boeke in 1979 en 1980 die een na die ander by die biblioteek in Sterkstroom, Oos-Kaap uitneem om by die huis te gaan verslind. Dit was as kind vir hom moeilik om te verstaan waarom die werklikheid en stories so van mekaar verskil het. ‘n Boek kon ‘n mens sterk laat voel, maar terwyl dit maklik was om op papier onverskrokke te wees, moes ‘n mens in die regte lewe versigtig wees. Min seuns is regtig soos Trompie.

Nog ‘n boek wat Jaco onlangs weer raakgeloop het, is Tom’s Midnight Garden van Phillippa Pearce. Hy het die boek op laerskool in ‘n Afrikaanse vertaling gelees en om dit weer in die boekwinkel te sien, was om vir ‘n oomblik terug te keer na Laerskool Handhawer in Vereeniging. Tot dusver is hy egter bekommerd die boek stel hom nou teleur en hy het dit nog nie weer aangepak nie.

Iewers in ‘n mens se lewe begin jy op ‘n manier agteruit loop. Dis wanneer jy al hoe meer terugdink aan vroeër periodes en gebeurtenisse. Soms is dit asof sulke herinneringe ‘n mens kan kneus, maar vir ‘n skrywer is hulle natuurlik van waarde. Baie keer is dit ook nie eens ‘n regte gebeurtenis of persoon wat ‘n mens in ‘n storie gebruik nie en net die indruk wat dit by jou gelaat het.

Jaco het al vier of vyf jeugverhale geskryf waarvan Siobhán van die sirkus die eerste is wat gepubliseer word. Hopelik volg daar in 2016 nog een.

Publikasies:

Die ryk van die rawe (1996)
Paartie by Jakes (1997)
Die avonture van Pieter Francken (2005)
Twee dae in Mei (2007)
Skrywersblok (2009)
Ed van Inligtingstelsels (2009)
Die grysland-verblyf (2010)
Verstevlei (2013)
Siobhán van die sirkus (2014)

(Inligting verskaf deur Jaco Fouché, Januarie 2015.)

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015