Johann Jordaan
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Johann Jordaan (1926 - 1981) is 'n gewilde avontuurverhaalskrywer.

Johannes Hendrik Jordaan is op 9 September 1926 in Venterstad in die Kaap gebore waar hy sy skoolopleiding ontvang. In 1946 sluit hy aan by die Natalse Afrikaner. Dis die begin van 'n lang joernalistieke loopbaan waarin hy onder meer op die redaksies van Die Transvaler en Die Vaderland diens doen. In 1949 trou hy met Naomi van der Merwe. Twee kinders, Henk en Antoinette, is uit die huwelik gebore. In 1950 word hy redakteur van Die Mynwerker. Daarna werk hy as hoofsubredakteur van die Suid-Afrikaanse Persvereniging (SAPA). In 1959 skei hy van sy eerste vrou en trou in 1960 met Helene Lucille Lindegger. In 1975 word hy assitent-nagredakteur van Die Transvaler, 'n pos wat hy tot sy dood behou. In 1970 stig hy die Skryfhuis Sewentig aan sy huis in Ontdekkers waar hy tot sy dood potensiële skrywers en joernaliste oplei.

Jordaan verwerf veral bekendheid as skrywer van jeugboeke. Verskeie van sy boeke is ook voorgeskryf. Hy skryf altesaam 31 boeke en twee dramas. Sy tweede drama, Melodie van die myne behaal in 1969 die tweede plek in 'n dramawedstryd van die Departement Kultuursake. Hy skryf in 1981 Oase, 'n omvattende Afrikaanse Skrywerskuns-ensiklopedie waarin hy die grondbeginsels vir 'n wye verskeidenheid skryfwerk bespreek.

Hy is vandag meesal nog bekend vir sy twee Dirkas-boeke. Dirkas in die knyp verskyn die eerste maal in 1951 en word verskeie kere herdruk - ook weer in 1977 toe Dirkas se Meisiekind die lig sien. Dis die verhale van Venterspruit se kamerade, Dirkas, Chris en Fanus, drie ondeunde knape.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Dirkas in die knyp (1951)
  • Swart hings (1953)
  • Indoena (1967)
  • Die leeu van Aandblomkloof (1968)
  • Melodie van die myne (1969)
  • Silwervlerk (1970)
  • Agt akkers asiel (1973)
  • Dirkas se Meisiekind (1977)
  • Oase (1981)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012