Karel Kielblock
 
Januarie 2008


skrywers

storiemakers


 

 

Karel Kielblock (1907 - 1991) skryf spannende historiese romans meestal uit die Hollandse tydperk aan die Kaap. Sy speurverhale vir volwassenes is ook gretig deur jeugdiges gelees.

Karl August Kielblock op 23 Oktober in Beaufort-Wes gebore as die naasjongste van elf kinders. Sy skoolopleiding geniet hy op die dorp en hoewel hy aanvanklik joernalis wou word, bekwaam hy hom as onderwyser aan die Paarlse Onderwyskollege en word in 1928 by die Sekondêre Skool (later Laerskool Hendrik Louw) in die Strand aangestel. Hier ontmoet hy ook sy vrou, Susan Vera Abel, 'n onderwyseres. Hulle is in 1939 getroud en het twee kinders. Kielblock tree aan die einde van 1967 as onderhoof by die Laerskool Hendrik Louw af. Hy was ook lief vir sport en het lank betrokke gebly by die administrasie van tennis. Die egpaar woon tot met die afsterwe van Kielblock op 27 November 1991 in die Strand.

Meer as 40 boeke het uit Kielblock se pen verskyn. Van kleins af was hy lief vir lees en het 'n begeerte gehad om te skryf. Na aanmoediging van sy vriend, Mikro, begin hy publiseer, aan die begin meestal kortverhale en sketse. Van die hoogtepunte in sy loopbaan was die Scheepersprys wat hy in 1970 vir Rebel (1969) ontvang het en die verfilming van onder andere die Jasper le Feuvre-reeks vir televisie.

Die skat van Java (1936) was een van die gewildste avontuurverhale in Afrikaans. Verskeie spannings- en speurverhale volg hierna, onder andere Jasper le Feuvre (1942), Moord op Eendevlei (1943) en Moord op Kroonbaai (1945).

Hoewel die bogenoemde romans, en die meeste van sy ander werk, vir volwassenes bedoel was, het die Afrikaanse jeug dit baie gou hulle eie gemaak. Resensente het dit ook dikwels vir die jeug aanbeveel, soos in die geval van Die skat van Java (J.W. 1936), Mooier as blomme (1961) (R.N. 1961) en Die vete (1962) (Hudson, 1963). Die radioverwerking van Die skat van Java was so gewild, dat daar in Die Jongspan daaroor berig is. Die jeug eien dit vir hulle op en Kielblock kom hulle as't ware tegemoet met Die verlore skat (1964) wat by die verhaalgegewe van Die skat van Java aansluit, maar 'n jong seun as held het.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Guillam Woudberg
  • Jasper le Feuvre-reeks
  • Lafras Cuyper-reeks
  • Moord op Kroonbaai
  • Nooi uit die vreemde
  • Onder die stil waters
  • Onrus op Rusdal
  • Rebel
  • Rivier van drome
  • Die skaam man
  • Die skat van Java
  • Skuil in die skaduwees
  • Die swaard verteer
  • Vaandrig Freyn
  • Verhale uit Herodotos
  • Weerlig slaan twee maal

Skrywersinligting uit Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom (LAPA Uitgewers)
Volledige inligting en publikasielys is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012