Lulu Latsky
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Lulu Latsky (1901 - 1980) se kinderboeke getuig van 'n besonderse belangstelling in die diereryk. Haar genre sluit kinderboeke, boeke oor natuurstudie en selfs gesondheidsrubrieke in.

Lulu Latsky was die eerste vrou wat in 1930 'n doktorsgraad in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Haar ongeveer 50 boeke vir kinders getuig almal van haar intense belangstelling in die diereryk. Titels soos Diertjies en hul giertjies (1937), Verhaaltjies uit die dierelewe (1939) en Soveel diere soveel dinge (1960) verraai haar kennis oor 'n groot verskeidenheid insekte, voëls, seediere, soogdiere en reptiele. Ook diere wat nie inheems aan Suid-Afrika is nie, vorm soms die tema, soos in Bere gaan te kere (1941), Oupa Bewer (1940) en Tannie Tydsaam (1949) waarin sy luidier bekyk. Met haar populêr-wetenskaplike werke is sy een van die eerste kampvegters vir natuurbewaring.

In die reeks Kennis vir almal was sy die redaktrise van die afdeling vir Natuurstudie. Sy skryf self nege titels in die reeks oor onderwerpe soos dierekommunikasie (Dieretaal - 1945), eetgewoontes en die voedselketting (Die wêreld is honger - 1948), kamoeflering (Oëverblindery - 1945) en die spinnekop (Spinnekopstreke - 1943).

Al Latsky se kinderboeke is geïllustreer, dikwels deur A.J.D. Meiring. Heelwat van haar kinderverhale het eers in Die Jongspan of Brandwag verskyn. Die voorwoord tot haar roman Die martelgang (1941) wil kennis oor tuberkulose so oordra dat kinders dit sal verstaan. Latsky skryf ook enkele Christelike verhale waaronder Vrede en vreugde op aarde (1941).

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Diertjies en hul giertjies (1937)
  • Verhaaltjies uit die dierelewe (1939)
  • Bere gaan te kere (1941)
  • Oupa Bewer (1940)
  • Vrede en vreugde op aarde (1941)
  • Die martelgang (1941)
  • Bollie gered (1943)
  • Spinnekopstreke (1943)
  • Dieretaal (1945)
  • Kleinbaas Eina (1945)
  • Oëverblindery (1945)
  • Die wêreld is honger (1948)
  • Tannie Tydsaam (1949)
  • Soveel diere soveel dinge (1960)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012