Maretha Maartens
 
Junie 2002


skrywers

storiemakers


 

 

Maretha Maartens verkies gumbootdanse bo boksgevegte; orrel- en vioolmusiek bo doedelsak; eet bo dieet; lees bo televisie - en haar rekenaar bo haar stoof. Geen wonder sy het omtrent al 90 boeke geskryf nie!
Maretha Maartens

My pa was 'n "ongeletterde": 'n weeskind wat beeste opgepas het in die berge van die Langkloof. Hy was ook briljant, met die soort musikaliteit wat hom, met standerd 6 lewenslank agter sy naam, in staat gestel het om die een musiekinstrument na die ander te bemeester, om verbande te lê, taal en poësie te waardeer. Hy het my eerste tikmasjien, 'n draagbare Olivetti, vir my gekoop en aan my die opdrag gegee om myself ordentlik te leer tik. Dit het ek in my standerdses-jaar gedoen. Die brein in my vingerpunte is aldus ontsluit en daarna het ek geskryf wat ek wou en wat ek moes: romans om ons aan die lewe te hou terwyl Hennie vir predikant studeer, semi-pastorale nie-fiksie boeke oor siekte en lewe en dood, jeugverhale waarvan Inkvoël die White Raven Collection gehaal het en met die Rooms-Katolieke Kerk se Kinderboektoekenning in Oostenryk bekroon is, boeke waaroor my kop so byna-byna gewaai het: Ruitevrou, Pot vol winter, Smaartie is skeel. Gedurende my eie geestelike pelgrimstog het ek Bybelstudiedagboeke en 'n Kinderbybel of twee geskryf.

Wanneer ek terugkyk op veral die geestelike boeke wat ek die afgelope twintig, vyf en twintig jaar geskryf het, besef ek dat dit die een genre is waar kul onmoontlik is. Jou geestelike publikasies reflekteer jou babadae, jou tienerjare, jou jong volwassenheid en jou middeljare as gelowige. Daarom verskil die aanslag en inhoud van 'n dagboek soos Om elke dag te cope (2000) van byvoorbeeld Die Huisdagboek (1986) en Maak my anders, Here (1992).

Vanaf haar ontstaan tot Maart 2000 was ek redaktrise van Finesse, 'n tydskrif vir Christenvroue. Tans is ek redaktrise te velde by Vrouekeur, 'n rubriekskrywer vir Volksblad en vryskut-joernalis.

Noudat Hennie emeriteer het en ons Skryfhuis, ons joernalistieke diens-onderneming vanuit die huis bedryf, het die geleentheid om voltyds te skryf, eindelik aangebreek. Soos 'n pasgetroude vrou wat weet te vertel dat sy graag ses kinders sal wil hê, sou ek ook kon sê dat ek graag in die toekoms 'n paar gesonde en leesbare babas in die lewe wou bring en dat hulle name nie net Dagboek 1, Dagboek 2 en Dagboek 3 sal wees nie. Maar bruide en skrywers moet liefs eers doen en dan noem.

Die lewe het sy vreugdes en sy liefdes, ontdek jy in jou dikheuptyd, dinge soos saamwees met Hennie (ons is deur 31 jare saam), ons dogters, Danila en Naomi wat hul eie onafhanklike skryflewens bedryf, en ons aangetroude geliefdes. En terwyl daar nou ruimte voor is, beslis ook die twee kleindogters, Margerethe en Lilian, twee waterrotte, rympieliefhebbers, mode-ontwerpers en sangsterre van 5 en 4 jaar onderskeidelik. Een van die diepste vreugdes is ligloop. Bedoelende: min goeters, min meubels, min nonsens. Om ver weg van die Belangrike Byeenkomste, die statussimbole, die wette en regulasies van die Verenigde Republiek van die Snobs te mag leef.

'n Paar feite:

Gebore op 22 Junie in die laaste oorlog te Bloemfontein.

Groei op in Jacobsdal en Petrusburg, studeer aan die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch en volg ook 'n diplomakursus in verpleging. Was dosent in Didaktiek en aflosdosent in Opvoedingsfilosofie.

Getroud met Hennie Maartens. Hennie en Maretha was leraarspaar in drie gemeentes van die NG Kerk, t.w. Oos-Londen Moedergemeente, Welkom Moedergemeente en Noordhoek, Bloemfontein.

Sy verkies Hennie bo enige ander man op aarde; kindergeselskap bo small talk; versiersuiker bo die koek; eet bo dieet; stap en swem bo draf of sink; snorkel bo 10,000 ander aktiwiteit; Vrystaatse reën bo Londonse reën; lees bo televisie; orde bo wanorde; lig leef bo opgaar; 'n half-leë klerekas bo 'n driekwart-vol klerekas; haar rekenaar bo haar stoof; Midde-Oosterse argeologie bo insae in die liefdeslewe van filmsterre; orrel- en vioolmusiek bo doedelsak; gumbootdanse bo boksgevegte.

Publikasies:

Omtrent 90 boeke. Die publikasies sluit in geestelike boeke, geestelike dagboeke, romans, kortverhale, kinderboeke, tienerboeke en romas vir jong volwassenes.

Skryf ook (geestelike) verhoogstukke vir groot en kleiner groepe. Het o.a. Legio wat so roep, Die Kruiskoning (Paasspel), Die Kripkoning (kersspel) en Kom huis toe, Koningskind! Geskryf en die regie daarvan gedoen. Vir Hoërskool Chris van Niekerk op Vredefort het sy die verhoogstuk, Moses, geskryf waaraan elke ind in die hoërskool deelgeneem het. Noorhoek se gemeente het 7 jaar lank evangeliese dramas onder Hennie en Marehta se leiding opgevoer.

Stories vir jong kinders (ouderdom 5-8)

  • My dik boek - Tafelberg 1982
  • Ons mooiste Kersfees - CUM-boeke 1983

Geestelike boeke vir kinders (ouderdom 8-11)

  • Aljander-Aljander - Lux Verbi 1981
  • Groot genoeg om te weet - Lux Verbi 1986

Kinderboeke (ouderdom 9-13)

  • Die bomelaars - Tafelberg 1984
  • Grys kat, grys kat, jy laat vir Anja hoes - Waterkant 1984
  • 'n Pakkie mieliepitte /Sidwell's seeds - Tafelberg 1984 (Ook vertaal in Duits as Sidwell und der Müllhaldenmann.)
  • Swart Griet is vas - Tafelberg 1984
  • Die sakmense - Tafelberg 1985 (Sanlamprys vir jeugliteratuur, Goud. Credo Toekenning.)
  • Die inkvoël - Tafelberg 1987 (Ingesluit in die White Raven Collection. Vertaal in Engels, Duits en Hollands.)
  • Goue fluit, my storie is uit - Tafelberg 1988
  • Is Gideon dan 'n swartskaap? - Daan Retief 1988
  • Zek en die skoenlappers van die nag - Pro Biblia 1989
  • Plek van dolfyne - Tafelberg 1990
  • Smaartie is skeel - HAUM literêr 1993

Tienerboeke (ouderom 12-15)

  • Gezina en die bruin wind / Ring around the moon HAUM 1985
  • Rowe val af - Tafelberg 1985
  • Oor die nek van die draak - Tafelberg 1988 (Sanlamprys vir Jeugliteratuur, Silwer.)
  • Op Filippa se planeet - JP van der Walt 1989 (Volkskasprys vir Jeugliteratuur.)
  • Geagte mej. Snob/ Dear miss Snob - Daan Retief Uitgewers 1992
  • Spinnekopsomer - Tafelberg 1992 (Sanlamprys vir Jeugliteratuur, brons.)

Geestelike boeke, tieners

  • Oud genoeg vir nagbriewe - Lux Verbi 1987
  • Mooi loop, Meisiekind - Bybelkor 1989

Romans vir jong volwassenes

  • Moedhou, Maria, dis donkermaan - JP van der Walt 1984 (Wenner literêre kompetisie.)
  • 'n Pot vol winter - HAUM 1989 (Andrew Murray toekenning.)
  • In die hemel eet mens mieliepap - Perskor 1991
  • Keerpunt - CUM 1991
(Inligting verskaf deur Maretha Maartens, Junie 2002)

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012