Riana Scheepers
 
Januarie 2015


skrywers

storiemakers


 

 

Riana Scheepers is 'n veelsydige, veelbekroonde en welberese skrywer wie se werk in verskeie tale verskyn het.
Riana Scheepers

Riana Scheepers se lewe is dramaties en opwindend, uitdagend, avontuurlik en romanties. In vyf dekades het sy die wêreld deurreis, boeke gelees én geskryf, haar seuns met vreugde grootgemaak en ánder mense se kinders lief gemaak vir woorde. Sy het huise gerestoureer, bome geplant, verlore stemme oor die uithoeke van Suid-Afrika opgespoor en hul stories opgeteken.  Vir haar familie is sy moeder, minnares en muse.

Dr. Riana Scheepers is in 1957 in KwaZulu-Natal gebore. Haar pa, ‘n spoorwegwerker,  sterf in ‘n treinongeluk toe sy 6 jaar oud is. Sy leer, saam met haar verpletterde gesin, deeglik wat armoede en ontbering is; sy leer ook oorlewing, die kuns van vreugde - en die vreugde van kuns.

Reeds in haar vroeë tienerjare wen sy verskeie skryfkompetisies en redenaarskompetisies. Sy word twee agtereenvolgende jare aangewys as die beste redenaar in Noord-Natal. In 1975 word sy verkies as hoofmeisie van Hoërskool Vryheid. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Natal-kleure vir atletiek, swem en sierduik.

In 1976 begin sy haar studies aan die UOVS in Bloemfontein. Sy behaal die grade B.A. Kommunikasiekunde (cum laude), B.A. Hons (Afrikaans en Nederlands) (cum laude), M.A. (Afrikaans) (cum laude). In 1978 is sy primaria van haar koshuis (Wag-'n-Bietjie) en word in 1979 tot die Sentrale Studenteraad van die UOVS verkies. Sy was ook voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse Vereniging (1978-1979) en die Kommunikasievereniging. In 1997 behaal sy 'n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad oor die kortverhaaloeuvre van Koos Prinsloo.

Sy word in 2000 aangestel as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

In 1988 aanvaar sy 'n pos as lektrise by die Universiteit van Zoeloeland. Haar eerste kortverhaalbundel, Die ding in die vuur, wat gaan oor die leefwêreld van die Zoeloes, word hier geskryf, asook 'n groot gedeelte van haar tweede bundel, Dulle Griet.

Literêre Pryse:

Die ding in die vuur is in 1991 bekroon met die ATKV-Prosaprys en die FAK-prys. Dulle Griet het in 1992 die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys verower. In 2003 verower sy die ATKV-Kinderboekprys vir haar jeugroman Blinde sambok. Die Nederlandse vertaling van hierdie boek, Scorpioenkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004)

In 2006 ontvang sy nie minder nie as vier toekennings vir haar werk: Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir die Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk asook die Patrick Petersen Gedenkprys vir haar hele oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat  haar  bundel plaasverhale Die melkweg het ‘n ster laat val in die landbougemeenskap gelewer het,  kry sy ‘n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap).

In 2007 word sy deur Rapport / City Press aangewys as een van die Top Tien Vrouepresteerders in Suid-Afrika.

In 1990 aanvaar sy 'n pos as lektor by die Universiteit van Kaapstad, en in 1995 sluit sy haar by Tafelberg Uitgewers as Skakelredakteur aan. In 1999 aanvaar sy 'n onderwyspos by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en begin die Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke. Sedert haar huwelik in 2002 is sy voltyds skrywer.

Haar publikasies:

'n Huis met drie en 'n half stories van 1994 (kortverhale) en Die heidendogters jubel van 1995 (roman) is beide binne een maand herdruk. Haar drie bundels "kombuisverhale" Haai Katriena, wat vertel jy my nou!, Katriena, nou lieg jy mos! en Katriena, néé! was blitsverkopers. Sy het die ongewone prestasie behaal deurdat drie van haar boeke (die eerste twee Katriena-bundels en Die heidendogters jubel) in 1995 tegerlykertyd op die Top Tien-verkoperslys vir Afrikaanse boeke was.

In 1997 verskyn 'n bloemlesing verhale waarvan sy samesteller is, getiteld Dogters van Afrika. 'n Derde Katriena-bundel, Katriena, néé! en haar doktorale proefskrif getiteld Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes verskyn in 1998. Feeks, 'n bundel kortverhale verskyn in Oktober 1999 en in Maart 2000 in Nederlandse vertaling. Die Nederlandse vertaling van Feeks word binne een maand drie keer herdruk.

In 2001 verskyn haar eerste jeugroman, Blinde sambok asook haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn.

Twee rubriekbundels: My voete loop na Wellington verskyn in 2003 en 'n Engel in my huis in 2005.

In 2006 verskyn haar eerste kinderboek Die avonture van Wilde Willemientjie. Die musikale verwerking van die teks het tydens die KKNK van 2006 die gesogte Kanna-prys gekry vir die beste Kinderproduksie op die fees.

Die (verdere) avonture van Wilde Willemientjie  verskyn in  2007  en Die heks met groen hare in 2008.

In 2009 verskyn  Katvoet, ‘n bundel kortverhale, en in 2011  verskyn ‘n versamelbundel met ‘n keur uit haar kortverhaaloeuvre met dit titel  Die vrou in die vuur.

Al Riana se literêre publikasies is in Nederlands vertaal. Die titels daarvan is:

  • Dulle Griet ('n versameling van verhale uit Die ding in die vuur en Dulle Griet);
  • Onbevlekte ontvangenis (Vertaling van 'n Huis met drie en 'n halwe stories),
  • De Heidendochters juichen (Vertaling van Die heidendogters jubel) en Die ding in die vuur ('n versamelbundel van al haar kortverhale in een band).
  • Dochters van Afrika (bloemlesing)
  • Feeks (Vertaling van Feeks)
  • Dulle Griet was no 2 op die Nederlandse Top Tien-trefferslys.
  • Met die taal van karmosijn (vertaling van Met die taal van karmosyn)
  • Schorpioenenkind (vertaling van Blinde sambok).
  • Katvoet

Die ding in die vuur is 1998 in Spaans vertaal onder die titel Mujeres Zulues.

Van haar verhale het ook al in Frans, Engels, Pools en Esties verskyn.

Riana besoek reëlmatig op uitnodiging die buiteland en het al op uitnodiging lesings gegee aan universiteite in Pole, Nederland en België. Sy word ook gereeld gevra deur buitelandse instansies (soos Biblioteekverenigings) vir lesings en voorlesings uit eie werk. Sy was in 1996 gas by die alternatiewe Boekebeurs (Het Andere Boek) in Antwerpen en 1997 en 1998 gas van die Antwerpse Boekebeurs. Sy het al verskeie lesingtoere oor haar eie werk en die Afrikaanse letterkunde in Nederland, Friesland en Pole onderneem.

In Maart 2000 was sy die gas van die kultuurvereniging Geletterde Mensen en was op 'n uitgebreide voorlesingtoer in Vlaandere.
Sy is die Afrikaanse digter wat uitgenooi is om op 11 Julie 2002 deel te wees van die Vlaamse Parlement se 30-jarige herdenking waartydens 24 digters vanuit die Nederlandse spraakgemeenskap hul poësie in die Parlement voorgelees het.

Ander publikasies en bedrywighede:

  1. Leerbehoeftes van swart adolessente. Draaiboek vir 'n televisiereeks van 52 episodes. [Opdragstuk vir die SAUK TV: Afdeling opvoedkundige programme.] 1988.
  2. 'n Groot verskeidenheid akademiese artikels in Suid Afrikaanse literêre tydskrifte;
  3. Radio-verslaggewer vir die  Burger (1992-1995).
  4. Rubriekskrywer vir  Volksblad, Beeld, Burger asook die Belgiese koerant De Morgen.
  5. Huisgenoot se sosiale raadgewer in die rubriek Vra dr Adri (2002 -2014)
  6. Tree by verskeie geleenthede op as openbare spreker Skole, Leeskringe en Studiegroepe;
  7. Lid van die KKNK se Kunstekabinet (1998-2003);
  8. Hoof van die Skryfskool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke;
  9. Raadslid: SA Brandewynstigting  (2004 -2007)
  10. Raadslid: Afrikaanse Taalmuseum (2004 – 2007).

Riana is getroud met Johann Loubser en woon in die kusdorp Wildernis en op Klipkraal, ‘n plaas in die Tankwa Karoo.

(Inligting verskaf deur Riana Scheepers, April 2001. Bygewerk April 2006; Januarie 2009; Janaurie 2015.)

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015