Stella Blakemore
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Stella Blakemore skryf die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse wat as klassieke jeugreekse beskou kan word.

Stella Blakemore is in 'n hensopper-tentjie naby Lindley in die Vrystaat gebore. Haar ma was 'n musiekonderwyseres en Boeremeisie, haar pa kaptein Percy Blakemore, 'n offisier in die Britse leër. Hy verlaat sy vrou en kind vroeg om 'n beroepskaartspeler in Engeland te word. Haar bekendste skuilnaam, Theunis Krogh, is ontleen aan haar oupa aan moederskant - Theunis Johannes Krogh, ondersekretaris van die republikeinse administrasie van President Paul Kruger.

Sy is van jongs af op kosskool. Na haar skoolopleiding verwerf sy 'n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music, sy studeer opera in Duitsland en gee jare lank onderrig in Johannesburg en Pretoria. In 1933 trou sy in Londen met David Owen, 'n siviele ingenieur en saam reis hulle die wêreld deur. Hulle woon onder andere in die destydse Ivoorkus, Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland. Sy sterf op 85-jarige ouderdom in Ierland en word oorleef deur haar seun Peter, dogter, Salene Lacoponi en ses kleinkinders.

Stella Blakemore se eerste werk is 'n toneelstuk, Die goue sleutel (1931). Hierna skryf sy meer as 66 jeugverhale, waaronder die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse. Die eerste boek in die Maasdorp-reeks verskyn in 1933 en in 1940 verskyn die eerste titel van die Keurboslaan-reeks vir seuns. Sy publiseer ook 'n reeks van vier titels, die Rissie-reeks, onder die skuilnaam Dien Grimbeek.

In die Maasdorp-reeks is die hoofkarakter die rabbedoe Kobie Malan, lid van die groot Malan-gesin wat in Oranjezicht aan die voet van Tafelberg woon. Rondom haar, die Drie Musketiers en hulle vriendinne in die koshuis van Maasdorp Meisieskool, speel die gebeure af. Die Keurboslaan-reeks is die manlike teenvoeter vir Maasdorp. Die hoofkarakter in die Keurboslaan-reeks is die charismatiese, jong dokter Roelof Serfontein wat 'n klein sukkelende privaatskooltjie uitbou tot die gesogte eksklusiewe Keurboslaan Seunskool.

Die milieu van die Blourand-reeks (1944 - 1950) is ook 'n eksklusiewe plattelandse meisieskool. Drie klontjies op Blourand (1950) vertel byvoorbeeld die onwaarskynlike, maar boeiende verhaal van drie vindingryke weeskinders wat wederregtelik by dié skool inskryf. Elfie Apie en Carolus (1949) is die verhaal van 'n weesking wat by 'n sirkus beland en deur Jobo, die nar ondersteun word. In Stryd om Peta (1948) is die Delarey-skool 'n ekskusiewe meisieskool op die platteland. Peta, 'n dogter van die onderdorp maak vriende met 'n meisie by die skool. Die Rissie-reeks (1960) skryf Blakemore onder die skuilnaam Dien Grimbeek. Dié reeks speel nie in 'n kosskool af nie, maar vertel die wedervaringe van die vier Rissik-rooikoppe.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die goue sleutel (1931)
  • Maasdorp-reeks (1933)
  • Keurboslaan-reeks (1940)
  • Blourand-reeks (1944 - 1950)
  • Stryd om Peta (1948)
  • Elfie Apie en Carolus (1949)
  • Drie klontjies op Blourand (1950)
  • Rissie-reeks (1960)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.

Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers. Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012