Tienie Holloway
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

Tienie Holloway (1888 - 1967) is veral bekend vir die versies wat sy geskryf het.

Christina Maria Purchase is op 'n plaas in die distrik Lindley gebore, as die derde oudste van tien kinders. Haar vader was Engelssprekend en haar moeder Afrikaans. Sy gaan skool op 'n plaasskool en in Bethlehem en word opgelei as onderwyseres aan die Normaalkollege in Bloemfontein. Uit haar huwelik met die onderwysman, dr. John Edward Holloway, is vyf kinders gebore. Sy het tot haar dood op die kleinhoewe, Skuilhoek, langs die Morelettaspruit in Pretoria gewoon. Na haar dood is die Tienie Holloway-medalje deur haar eggenoot geïnisieer en in 1970 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel. Dit is 'n toekenning vir oorspronklike Afrikaanse kleuterlektuur, vir kinders onder agt jaar spesifiek gerig op kinderverse. In 1979 is die Tienie Holloway-medalje postuum aan Holloway toegeken vir die laaste twee bloemlesings van haar werk, Rympies van Tienie Holloway (1978) en Versies van Tienie Holloway (1979).

Tienie Holloway het aanvanklik bekende Engelse kleuterryme vertaal. Later is haar eie werk gepubliseer in Die Volkstem, onder die skuilnaam Madelief. Sedert 1938 verskyn Die Haasbekkies en ander Versies (1938), Hasie Kalbassie (1945), Nuwe kleuterversies (1947), Doempie Domkop (1949), Martha-hulle (1951) en Nuwe kinderversies (1955). In 1971 bundel Jan Kromhout sommige van hierdie gedigte, asook van haar diereverse wat verskyn het in Toevlugsoord van C.S. Stokes in Versies wat vonkel: 'n keur uit die kinderverse van Tienie Holloway. Nog twee bloemlesings uit haar werk volg, naamlik Rympies van Tienie Holloway (1977) en Versies van Tienie Holloway (1978).

Tienie Holloway het 'n baie belangrike bydrae gelewer in 'n tyd toe daar 'n skaarste aan goeie kinderverse was. Dit is gepas dat haar nagedagtenis vereer word met die Tienie Holloway-medalje vir kleuterlektuur.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Hasie Kalbassie (1945)
  • Nuwe kleuterversies (1947)
  • Doempie Domkop (1949)
  • Martha-hulle (1951)
  • Nuwe kinderversies (1955)
  • Rympies van Tienie Holloway (1978)
  • Versies van Tienie Holloway (1979)
  • Die Haasbekkies en ander Versies (1938)
  • Versies wat vonkel: 'n keur uit die kinderverse van Tienie Holloway
  • Toevlugsoord

Tienie Holloway-medalje vir Rympies van Tienie Holloway (1978) en Versies van Tienie Holloway (1979)

Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.
Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers.
Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012