W.A. de Klerk
 
Junie 2009


skrywers

storiemakers


 

 

W.A. de Klerk (1917- 1996) het veral historiese en landelike avontuurverhale en wetenskapfiksie geskryf. Hy het ook verskeie pryse gewen vir sy werk.

Willem Adriaan de Klerk is op 7 Maart 1917 in die Vrystaat gebore, maar hy bring sy kinderjare in Kaapstad deur. Hy keer egter na die Vrystaat terug vir sy hoërskoolloopbaan aan die Greykollege in Bloemfontein. Hy bekwaam hom, soos sy vader, in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch en trou in 1943 met Ena Smit. Drie kinders is uit die huwelik gebore. Na vyf jaar in die regsberoep begin hy voltyds skryf. Vanaf 1946 word hy 'n omroeper by die SAUK en van 1949 werk hy vir die BBC in London. In 1951 is hy terug by die SAUK, maar sedert 1953 is hy 'n vrugteboer in die Paarl-omgewing. Hy kry twee beurse, 'n perbeurs na Duitsland in 1961 en die Leader Exchange-beurs na die V.S.A. in 1965. Sy vrou ontval hom in 1978 en hy trou weer in 1982 met Finnie Malherbe, die weduwee van 'n bekende Bolandse wynmaker. Hy sterf op 18 Julie 1996.

W.A. de Klerk is in die eerste plek bekend vir sy dramas waarvoor hy dan ook in 1952 die Hertzog-prys ontvang. Sy eerste jeugroman, Die skarlaken eskadril (1942) het vooraf as 'n vervolgverhaal in Die Jongspan verskyn. Dit is 'n spannende verhaal oor vlieg en vegvliegtuie; 'n soort wetenskapsfiksieroman. De Klerk se tweede jeugroman, Die vallei van die rooi gode (1945), wat klaarblyklik ook vir ouer lesers bedoel is, slaag nie. Sekerlik sy bekendste jeugverhaal is Die gésel van Namaland (1954). Dit verower in 1954 die eerste prys in 'n jeugverhaalwedstryd van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland. Dit vertel die verhaal van 'n tweeling, naamlik die doener, Jan en die dromer, Wynand Maree, en hulle nooientjie, Anneke. Agtien man en 'n meisiekind (1956) speel teen 'n historiese agtergrond af, naamlik die toestand aan die Oosgrens teen die einde van die agtiende eeu. Poens, die penkopjare (1957) 'n belangrike mylpaal in die Afrikaanse letterkunde. Poens, die swerfjaar verskyn in 1968. Willemien se ligte dae (1958) bied 'n kykie op die innerlike belewing van 'n dogter op pad na volwassenheid. Kleinben drink die bitter bloed (1977) is oorspronklik uitgegee as Die verste blou einder (1962). Hierdie verhaal gee die innerlike stryd van 'n seun en sy liefdesdrome weer te teen die agtergrond van 'n jagavontuur in die destydse Suidwes-Afrika.

De Klerk ontvang die Scheepersprys vir jeuglektuurlektuur in 1958 vir Die skarlaken eskader, Die vallei van die rooi gode, Die gésel van Namaland, Agtien man en 'n meisiekind en Poens: die penkopjare.

PUBLIKASIES SLUIT IN:

  • Die skarlaken eskadril (1942)
  • Die vallei van die rooi gode (1945)
  • Die gésel van Namaland (1954)
  • Agtien man en 'n meisiekind (1956)
  • Poens, die penkopjare (1957)
  • Willemien se ligte dae (1958)
  • Die verste blou einder (1962)
  • Poens, die swerfjaar (1968)
  • Kleinben drink die bitter bloed (1977)
Skrywersinligting uit
Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n Gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek.

Die redakteurs is Gretel Wybenga en Maritha Snyman. LAPA-Uitgewers. Vollediger inligting is beskikbaar in Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012