Franci Greyling
 
Januaire 2014


skrywers

storiemakers


 

 

Franci Greyling hou daarvan om nuwe lande en plekke te ontdek, maar soms dwaal sy ver terug in die verlede om stories te skryf.

Franci Greyling het in 'n huis vol kinders groot geword. As tweede oudste van sewe kinders het sy dikwels vir die jongstes stories en speletjies uitgedink. Sy was 'n regte boekwurm, het vroeg begin versies maak, en opstelle skryf was die lekkerste huiswerk.

Nadat sy matriek aan die Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging geslaag het, was sy vir 'n jaar lank 'n student aan die Burgerlike Beskermingskollege in George. Hier het sy, behalwe marsjeer, skiet, noodhulp en brandbestryding, ook geleer om te tik. Hierna behaal sy - in die skadu van Potchefstroom se akkerbome - BA en HOD met die hoofvakke Afrikaans, Sielkunde en Bybelkunde. Sy was aktief betrokke by die studentelewe en het gedurig foto's geneem om dit self in die donkerkamer te ontwikkel.

Sy begin in 1981 by Hoërskool Overkruin in Pretoria skoolhou. Vanaf April 1987 tot Junie 2002 is sy as Departementshoof Opvoedkundige Leiding aan die Hoërskool Pretoria-Noord verbonde. Sedert Julie 2002 is sy dosent in Skryfkuns (Skool vir Tale) aan die Noordwes-Universiteit. Sy is ook betrokke by die aanbieding van skryfkursusse saam met die ATKV en die ATKV-skryfskool.

Haar eerste jeugverhaal, Die deurmekaarste herfs, verskyn in 1984. Verhale teen 'n historiese agtergrond is Helena in die tyd van die tente en Dirkie Drieka Frederika.

Omdat sy van nature nuuskierig is, het sy verder studeer. Sy verwerf BA Hons en BEd (Psig) aan Universiteit van Pretoria en MA en PhD aan die PU vir CHO. Die studieonderwerpe Ruimte in die kinderboek met verwysing na die werk van erkende Afrikaanse kinderboekskrywers is onder leiding van dr. Elsabe Steenberg gedoen, en Die keuse, skep en voorstelling van karakters in verhale vir 11-14-jariges onder leiding van prof. Hans du Plessis.

Franci hou daarvan om skeppend besig te wees. Sy is as organiseerder, navorser en kunstenaar betrokke by interdissiplinêre kreatiewe en navorsingsprojekte. Verder bou en onderhou sy Storiewerf, maak kunstenaarsboeke, en geniet dit om te reis en nuwe lande en plekke te ontdek.

Publikasies

  • 1984: Die deurmekaarste herfs (J.P. van der Walt)
  • 1985: Helena in die tyd van die tente (Tafelberg)
  • 1988: Dirkie, Drieka, Frederika (Tafelberg) Sanlamprys vir Jeuglektuur brons
  • 1991: Om te wag op 'n duif (Tafelberg)
  • 1991: Kransduif en edelvalk (J.P. van der Walt)
  • 1992: Kort voor cul de sac (Tafelberg)
  • 1995: Die meisie van Melrosehuis (Human & Rousseau)
  • 1997: Vleuels soos die arende (Tafelberg) Tienerboek
  • 2007: Formule Drie, Twee, Een! (Tafelberg) Prenteboek saam met Vian Oelofsen.
  • 2007: Formula Three, Two, One! (Tafelberg)

Boekies as deel van 'n leesreeks by Unibook:

  • Om eendag te vlieg - 1991
  • Meisie sonder naam - 1993
  • Staptog - 1994

Gediggies in die Nuwe Kinderverseboek, Toulopers, Rymreise, Vonkverse 1, Vonkverse 2

Bydraes in: In die kollig (saamgestel deur Lizz Meiring)

Kortverhale en bydraes in Boereoorlogstories (saamgestel deur Jeanette Ferreira), Literator, Sarie, Beeld, Huisgenoot, Taalgenoot.

Kunstenaarsboeke:

Avontuur (2008)
Tinboektoe toe (2010)
Mooirivier: Weerspieëling en weerklank (2013)

(Inligting verskaf deur Franci Greyling, bygewerk Januarie 2014

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015