2014-06

grootmense
werfjoernaal

dinkskrum
resensies
skrywers
skakels
leeslyste
nostalgie
helpmekaar
hulpbronne

navrae
werkplaas

vanwaar gehasi?
werfkaart

boeksoek

soek

posbus


na jongklomp
 
 

kalahari

Kindertyd se leesstof... Wie onthou wat?

Ek het nou so lekker gelees aan die insette van die lesers, en as 'n expatriat het dit weer hope herinneringe teruggebring.

Lees was deel van ons kinderjare, en ma-hulle het dit sterk aangemoedig. As klein kinders, voor ons self die wonder van die geskrewe woord baasgeraak het het ons al was kinderboek was geken.

Pa het gesorg dat hy weekliks die tydskrifte huis toe gebring - die Huisgenoot en Sarie vir ma, die Vonk vir die ouer kinders, die dogters kry die Tina en ons kleintjies die Bollie. Met sewe kinders in die huis was dit nogal ‘n probleem om jou beurt af te wag, want die ouer kinders het eerste keuse gehad.  Dus moes jy geduldig wag totdat die ander klaar was, tensy jy jou kans waarneem terwyl hul elders is of besig is met watter takie ookal. Dit het gereeld op ‘n bakleiery uitgeloop oor wie nou eerste is en nog nie klaar is met die vorige uitgawe nie. Al die vorige uitgawes is gebere, en daaruit is die intligting vir take, kuns of watookal verkry.

Die vervolgverhale in die Tina kan ek na al die jare nie meer onthou nie, maar ek onthou wel die hoofkarakter in een van die verhale. ‘n Beeldskone donkerkop jong vrou met die naam van Martha Aucamp.  En om die een of ander rede onthou ek die karakter in ‘n wit rok met ‘n halternek, amper soortgelyk aan die van Marilyn Monroe in die bekende foto waar sy staan op die lug rooster met die warrelende romp om haar. En sy het pêrels om haar nek gedra. Ek wonder wie die skrywer van die reeks was?

Speel kinders nog papierpop, wonder ek. En ek dink nie aan die gekoopte papierpoppe van later jare nie -  mits dit nog bestaan inaggenome deesdae se kinderbeheptheid met tegnologie.

In ons kinderjare was papierpoppe altyd daar.  Ma was uiters begaafd en kon perfekte gesigte en figure teken, die haarstyle was gepas modieus en die figure altyd geklee in ‘n swembroek. Na ‘n bietjie gesmeek het sy dan ‘n nuwe geteken, ook net mits die vorige pop verweerd was. Die nuweling is dan op ‘n karton agtergrond geplak (met 'n staandertjie) en noukeurig uitgeknip en dan is daar aan ‘n gepaste naam gedink vir die nuweling.

Dan het die lekker begin. Al ma se tydskrifte is deurgewerk op soek na die regte "materiaal" want het die nuweling het mos ‘n nuwe klerekas nodig gehad. Om so rok te ontwerp is die pop bo-op die “materiaal” geplaas en die buitelyne na gelang van die ontwerp rondom die figuur afgetrek, asook hakkies wat oor die skouers gevou word om die klere in plek te hou wanneer die regop staan. Natuurlik moes die kleur en “tekstuur” van die “materiaal” pas by die ontwerp en styl van die kledingstuk, en daarvoor is net die mooiste fotos in tydskrifte gebruik.

Aanddrag, dag tabbertjies, slaapklere, baadjies, serpe, handskoene en ‘n magdom bykomstighede is dan ontwerp en uitgeknip. Soms is modelle in die tydskrifte se uitrustings sorgvuldig aangepas en verstel sodat die die pop kan pas. Partytjies, funksies en redes is geskep vir die nuwe wardrobe sodat die pop tog nie weer in dieselfde klere as die vorige geleentheid verskyn nie. Baie maal het die pop nog ‘n gesin ook gehad wat geklee moes wees. Agterna is die pop en klere in ‘n ou sjokoladeboksie gebere waarna dit daagliks uitgehaal was om onder andere huis huis met hul te speel.

Ek en Lydia het ure en ure so verwyl. Ander speelgoed het ons natuurlik ook gehad, maar die kreatiwiteit wat gepaard gegaan het hiermee was onbeperk. Dit was nou nie juis seuntjie speelgoed nie, maar ek het dit verskriklik geniet en natuurlik nie my maats ooit daarvan vertel nie wetend dat dit ‘n gespottery van formaat sou afgee. Ma het my giere maar aanvaar vir wat dit is en flink nuwe gesigte en figure geteken soos die voriges verweerd of oudmodies geraak het. 
Dit was ure en ure se speelplesier!

Collin Thorpe
Tbilisi: Republiek van Georgie .

Dis lekker om weer te lees van ou 'vriende' en die lekker van die stories te onthou. Die nuuskierigheid om te weet wat hierdie of daardie karakter nou weer gaan aanvang.

My ma het my op nege jaar aan die lees gekry met Cor Dirks se Uile reeks. Ons het om die beurt hoofstukke voorgelees in die aand voor ons gaan slaap het. En ek het nooit weer terug gekyk nie.

Ek was elke tweede dag by die biblioteek om nog vier boeke uit te neem. Van die Uile tot Saartjie en die Keurboslaan reeks. Ek kan in my gedagtes nog sien waar elke reeks in die bib se rakke is. Daar is 'n paar boeke wat se name ek vergeet het en net die storie-lyn kan onthou. Ek sal tot vandag nog huis skoonmaak Los en eerder opkrul met n boek.

Juanita Smit.

Ons het op 'n plaas gebly so 40 km van die naaste dorpe af, Nylstroom en Warmbad. Ons het na die plaaslike plaasskool Uitsig toe gegaan. Uitsig was baie klein (net so 40 kinders!) maaaaar dit het 'n eie biblioteek gehad! Maar die ding van lees kom veel vroeer.... Op die buurplaas het Tant Heleen Koekemoer die rondreisende biblioteek in 'n staalkas beman. Van my vroegste herinneringe is hoe ons soontoe is en dan kon ek kies, al was daar maar net een groot rak van klein kinderboekies. Dan is ons terug huis toe en dan het my pa vir my gelees, in daardie dae het ek gehou van boeke met mooi en helder illustrasies. Was dit hier waar ek Huppel en sy maats ontdek het?

My ma het in die dorp gewerk en so het ek toegang gehad tot die Vonk, Patrys, Jongspan, Tina en ja, Bollie! Dit het nogal tot baie frustrasie gelei vir my arme ma want as sy die nuwe tydskrif die huis ingebring het , kon hoor en sien vergaan, ek wou net my tydskrif lees.

Met verloop van tyd is ons toe laerskool toe, en ontdek ek toe die biblioteek en leer ek alsmaar om baie vinnig te lees en word daardie beperking van twee boeke per week my kruis... So ontdek ek Trompie en die Boksombende, Die Uile, Saartjie, Kobie-hulle, Keurboslaanstories. Die reekse was nie volledig nie en wanneer ek by my Tannie Hannah gaan kuier het, het sy my na hulle dorpsbiblioteek geneem en dan begin die pret van vooraf. Groot was die vreugde as ek nog 'n boek in die reeks opspoor.

In my tienerdae was 'n biblioteek vir my die plek waar ek tot rus kon kom, of droom, of dink of wonder. As student by die Randse Afrikaanse Universiteit het die boekwereld ontsaglik groot geword, maar ek sal nooit my eerste besoek aan die Johannesburg stadsbiblioteek vergeet nie. Dit was soos heilige grond! En raai watter reekse gaan soek ek toe weer om te sien of daar nie tog iewers nog een in die reeks te vinde is nie?

Erika Steyn

Patrys: Die bende-wapens! Onthou julle dit? Bladsye vol kentekens en wapens vir bendebedrywighede.

Ek kan nie meer onthou op watter manier ek elke maand my Patrys bekom het nie, maar of dit nou d.m.v. die pos of self-gekoop-innie-kafee was, die eerste (en lekkerste!) ding was om deur die bendewapens te 'scan'. Dit was sò inspirerend dat jy daar en dan `n bende 'gestig' het as jy nie aan een behoort het nie!

Onnodig om te sê, na so twee weke het die bende òf `n gestadigde dood gesterf òf met `n vreeslike geveg ten einde geloop... en dan kon jy in volgende maand se Patrys wéér vir `n wapen soek!

Annatjie Pistorius

Ek is nou twintig en ek ken nog steeds die wysie wat speel as Storieman begin. " Luister na die klank 'ghong' en blaai dan om". Ek kan nou nog presies sê watter prentjies is op die tassies waarin die kassette en die boeke gekom het. Die Sneeuwitjie-prentjie was vir my die mooiste. Ek het altyd die stories wat op die kassette was op die tassies se prentjies gaan soek. Ek weet ook dat die storie van Die heks van Heksrivier in Storieman drie is en daar is so groot swart perd op die boekie se voorblad is. So dis nie baie moeilik om te raai watter kasset my gunsteling was nie.

Kyk ons het Storieman baie geluister. My arme ouers het menigte kere uitgehou om Storieman kasset na Storieman kasset te luister as ons iewers heen ry. Ons het so draagbare radio gehad wat oral saam op vakansie gegaan het, saam met die twee ou tassies. So vanselfsprekend lyk ons boeke redelik geskeur en deur geblaai en party val uitmekaar.

My beste maatjie toe ek klein was, Petro, het Storiemuis ook gehad. Ek was so jaloers. Ek wou altyd die Storiemuis kassette by haar leen, maar sy het altyd nee gesê. Dit hare en net hare.

Storieman het ons verwysingsraamwerk geword. Later het ek ander boeke ook gelees en ek was kwaad as daar 'n "Storiemanstorie" in was.

Nou nog ken almal Storieman. As jy net iets sê van Storieman het almal 'n storie om te vertel of 'n opmerking om te maak. Storieman is meer as net kassette en boekies vir my, dit is 'n deel van my kinderjare.

Elana van der Vyver

My leeservaring in my jeug en kinderdae is ongelooflik beperk. As kind het ek altyd gespeel en deur my spel alle stories en avonture in my kop uitgeleef. My oupa's en ouers het altyd vir my stories vertel, maar ek kan nie een storie onthou nie, behalwe die spookstories wat hulle my vertel het. Ek het gevoel dat boeke net vir die "nerds" was. Ek het ook aan hiperaktiwiet gely en kon nooit lank genoeg konsentreer om 'n bladsy te lees en nie eers te praat van 'n hele boek nie. As 'n jeugdige het ek al my tyd bestee aan sport. Ek het amper elke sportsoort beoefen en was daar nie veel tyd vir lees nie nie. Dit het egter als verander toe ek die meisie spesie ontdek het. Ek het liefdesgedigte, romans, ens. gelees laat dit by my ore uitgekom het. Mitologie bestudeer en as daar enige iets romanties was, dan het ek dit geabsorbeer. Dit het daartoe gelei dat ek ander tale se gedigte gelees het en ook romans van verskillende tale. Ek het toe agter gekom dat boeke nie eintlik so sleg is nie en het toe meer begin lees.

Jonathan Perrin

Ek het grootgeword in ‘n huis van boeke, nie net by die biblioteek uitgeneem nie, maar self gekoop. My oorlede pa het in die vlaktes van die Dorperland (Kenhardt) grootgeword en sy ontvlugting was boeke en nogmaals boeke. My eerste ervaring was toe ek as 5-jarige ‘n wedstryd gewen het met ‘n opstel wat ek geskryf het – en my prys... ‘n boek met die naam Die Rooi Ridder. My pa is twee jaar later oorlede en ek het al sy boeke geërf, ‘n paar duisend om presies te wees. Ek het begin met die oorspronklike Rooi Jan-reeks (gedruk in die jare 1930 en later) die Afrikaanse vertaling van Tarzan deur MC van Schoor, Die avonture van Fanie (Fanie word Grootwildjagter ens), die Bushies, Keurboslaan, FA Venter se boeke (wie kan die onvergeetlike Man van Sirene vergeet?) Karl Kielblock, veral die verhale van Frits Deelman, die Uile-reeks (self aangekoop en net een gemis uit die hele reeks) Ramala-reeks, Buiter reeks, Oloff die Seerower, Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Trompie, Huppelkind, Heidi, Famous five, Hardy Boys (ons moes ook Engels lees) ens.

Later ons meer gevestigde skrywers soos Elmar Steyn, Ena Murray, Tryna Du Toit, CF Beyers-Boshoff, Ela Spence, Nan Jenning, Johan Jordaan (Vors van die Vlakte), Wille Martin, Christoffel Lessing (Ek Ellendige Mens seker een van die bestes van alle tye) Largo en so kan ek opnoem. Die latere vertalings het gevolg met Konsalik op sy beste. Ek het stelselmatig die boekery uitgebrei en het tans meer as 5 000 boeke in die huis waarvan baie ook Engels is (James Bond series, The Saint en ‘n ongekende versameling Readers Digest Condensed Volumes – my laaste telling was meer as 50 daarvan). Ek het verskeie vertalings van die Bybel met my trostse besitting ‘n Hoog Hollandse familiebybel wat uit 1834 dateer.

Tot vandag toe gryp ek die beskikbare oomblik aan vir lees – die beste ontspanning wat daar is en sluit mens werklik af en herlaai die batterye. My seun (Ricky) het die liefde oorgeëf (moet seker wees as die vyde geslag met die familienaam) en lees van hy vyf jaar oud is sy eie boeke en skryf vir himself stories waarvoor mamma moet prentjies teken. Hy self het reeds sy eerste boek gewen hier op Storiewerf en het die boek alreeds meer as een keer deurgelees – hy is nou net so versot soos ek en is heilig op sy boeke ( en as aanvullende lees in sy eerste skooljaar het hy weggespring met pa se 1968 Sus en Daan en my ou Bollies en Jongspanne wat nog in die kas lê en so dan en wan afgestof word). Ons kinders word vandag anders as ons groot en ek is net dankbaar dat myne lief is vir lees – ons doen dit saam en geniet ons self gate uit

Louis Buys
Pretoria

Ons drie kinders was van kleintyd af lesers. Nogal vreemd, want in ons huis was daar net enkele (of sal ek se een) boeke om te lees, t.w. Adoons-hulle. Ek wonder wie onthou dit nog? My mees geliefde boek was Die hut van outa Tom. Ek het gereeld trane gestort oor die treurige verhaal. Ek het onlangs gesien die boek is weer beskikbaar by Kalahari Boeke. Ali Baba and the Forty Thieves was tweede in populariteit. Ek het in Graad III (toe standerd 1) die storie so baie gelees dat ek dit woordelik kon voordra aan my onderwyseres. Later het ek toegang gehad tot die plaaslike biblioteek en het ek als verslind. Kinders van vandag is bevoorreg. Ek het na die dood van my ouers as jong kind die Engelse Ensiklopedieë gelees in my tannie se huis. Die mites en legendes in die Ensiklopedieë se taalgebruik was bo my vuurmaakplek, maar lees wou ek. Woorde en hul betekenis het duidelik geword in konteks. Vandag is my kennis, taalgebruik en woordeskat in Engels steeds besonder goed. Leesgroete.

Marie Cloete

In 1980 was ek nege jaar oud en ons het op die dorpie Leonardville in, toe nog Suidwes, gebly. 'n Klerk van Standard Bank het weekliks uit Gobabis gekom om banksake te behartig op Leonardville en het dan by ons hotel (Hotel la Ville) oorgebly. Hy het altyd boeke by hom gehad. Van TV was daar nog geen sprake op daardie stadium in Suidwes. Hy het vir my eendag die Rooi Ridder reeks saamgebring en gesÍ hy dink ek sal daarvan hou. Tot op daardie stadium was Sus en Daan my stapelvoedsel. Vandat ek die eerste boek oopgeslaan het was ek gebind en kon ek nie wag om middae by die huis te kom om te lees oor die avonture van die Rooi Ridder en Koenraad. Dis waar my liefde vir lees begin het en ek sal graag weer daardie emosie wil herleef.

Patrick Nel

Ek is aangenaam verras om te sien dat Storieman weer verkrygbaar is. My dogter is nou al 33 jaar oud en steeds 'n ywerige leser. Behalwe dat ek dit my werk gemaak het om haar lief te maak vir lees is sy ook 'n slagoffer van Storieman en Storyman. Sy het die bandjies oor en oor geluister en die boekies aanflarde hanteer. Sy was een van die baba's wat selde geslaap het en om my sinne te behou het ek hardop gelees. Gou het ek agtergekom dat Ingrid Jonker se gedigte vir haar mooi was. Op drie maande? Ek glo dit was die ritme van die taal wat haar kalmeer het. Sy was baie klein toe kon sy al opsê: "Moenie slaap nie, Kyk, agter die gordyn begin die dag dans met 'n pouveer in sy hoed".

Rene van Wyngaarden

"Ek het met genoegdoening gelees hoe die jeug, jonger en ouer nog die Keurboslaanboeke geniet. Ek kon die kleingoed se ouma gewees, maar ek weet presies na meer as 50 jaar hoe hulle die boeke geniet. Wys jou net. Skryf 'n goeie storie en jy het 'n wenresep."

"Onthou niemand dan meer die Fanie-reeks deur P.J. Schoeman nie? Ek het Fanie word Grootwildjagter in die boekrak opgespoor toe ek 'n tjokkertjie was."

"Toe ek klein was het ek Fritz Deelman en die Uile geniet."

"Die Tarzanreeks staan verseker bo-aan my lys van gunstelingboeke uit my kindertyd."

"Ek was mal oor die Saartjie boeke en het hulle almal seker twee maal gelees."

Wat was jou gunstelingreeks as kind? Vertel bietjie nostalgie@storiewerf.co.za

Daardie winter het ek so 'n rooi truitjie gehad. Van dié soort waarin 'n mens sommer so wegraak. Daar was 'n kaggel in die sitkamer en my onderbewuste wil-wil iets onthou van rooibostee met te veel suiker. Ja, dit was rooibostee en gebreide slaapsokkies.
As kleuter het ek nou nie veel verstaan van maande en jare nie, maar ek het wel verstaan dat ek vier jaar oud was en een keer per maand kom daar so 'n kleurvolle pakkie met my naam op by die huis aan. Toegedraai in karton met 'n oerwoudmotief op. En binne-in was keer op die die allermooiste boeke. Oor varke en prinsesse. Drake wat kaas maak en ruimtewesens wat maan toe trek. Tog is dit snaaks hoe 'n mens op een boek aandring. Tussen die ander honder en vyftig op die rak sou ek telkens dieselfde een uitkies. Pienke. Pienke was 'n pienk-rooi papegaai wat wegraak as 'n seuntjie by sou ouma kuier. Sie storie het vir my in absolute vervoering gehad. Ek wou opsluit 'n pienk papegaai hê, kompleet met 'n hok, spieëltjies en klokke. Nodeloos om te sê, ek moes maar tevrede wees met die storieboek.
So besluit ek toe dat daar net een uitweg is, ek sal moet leer lees. Dan is ek uit almal se hare en kan sommer wraak ook neem deur heeldag te lees net wat ek wil! Maar selfs op vier is 'n mens soms tot ongelooflie diaboliese planne instaat. Dié gelesery moes in die geheim plaasvind. Soos 'n wafferse klein Holmes begin ek toe so skelm-skelm lees. Hoe ek dit reggekry het, weet nugter. Bietjie hier uit die Kinderbybel, bietjie daar in Huisgenoot en 'n paar maande later sit ek af om vir my pa die verhaal van Phillipus te lees. Was nogal vreemd dat niemand juis 'n opheg gemaak het nie, eers later sou ek hoor dat my pa gedink het my ma het my geleer lees en my ma het gedink my pa het die edele taak verrig.
Na 'n jaar of wat het Saartjie gevolg, daarna Trompie, Uile en al die gebruiklike jeugliteratuur, soos jong bleeksiele in wording mos maar maak. Maar deur die Drie varkies en later Sus, Daan, Kees en daardie verdekselse kalkoen, het Pienke steeds my gunsteling gebly. Nou die dag krap ek in die studeerkamer rond en kom af op 'n boks vol kinderboeke. Paultjie Polisieman, Die boef, Snater, die hele versameling Grimm en Pienke. Die blaaie was taai toe ek daardeur blaai. En skielik het ek weer vier gevoel. Nostalgie dalk? Klein vingermerkies het aan die bladsye geklou. Op bladsy twaalf was daar 'n rooibosteevlek. En ek het gewonder of Donna Claire hierdie seisoen rooi truie in voorraad het.

Christi Kruger

Hoofsaaklik geel en baie swaar was my gunsteling boek toe ek vier was. My pa het 'n beurs gekry om vir 'n jaar navorsing te gaan doen in Duitsland en toe het hy besluit om die hele gesin saam te vat vir 'n jaar van ongelooflike avonture. My ma is 'n bibliotekaresse en weet wat se boeke om te vat as jy 'n kind moet besig hou. So kon ek en my boetie en sussie elkeen een boek kies om op die vliegtuig te vat vir die lang reis na die onbekende Duitsland. Onthou boeke is swaar goed en mens dra moeilik aan die skatkiste van die verbeelding, veral kinders wat moeg is. Maar so gesê en so gedaan kies ek toe my Sprokies van oor die wêreld..
Sprokies van oor die wêreld is so dik soos 'n telefoonboek en so groot soos 'n Huisgenoot se Wenresepte. Op die voorblad is daar 'n skets van 'n samoerai met 'n gruwelike grinnik besig om sy swaard te trek. Agter hom jaag 'n man met rooi bol wange 'n slee met trekhonde en aan die ander kant 'n groot seerowerseilskip oppad na die skedel wat op die voorgrond lê tussen pienk blommetjies. Die boek was vir my onweerstaanbaar. Vreeslik onheilspellend en vol beloftes van gevaarlike goed en onbekende mense en dinge. So gesê, so gedaan gaan die boek toe in my rugsakkie met 'n kwaai waarskuwing: "Onthou, ek gaan jou nie help dra nie! "
Op die vliegtuig na die opstyg was dit tyd vir die boekies om uit te kom voor iemand 'n scene maak van verveeldheid. Met drie kinders moes my ma maar bontstaan om almal tevrede te hou, maar gelukkig was ek heel bedeesd soos ek weggeraak het in die prente van die avonture waarvan ek deel was in my verbeelding. My lyf was oppad oorsee terwyl my gedagtes nog verder plekke oor die aardbol bereik het. Die swaar dra was toe die moeite werd.

Marthea van Belkum

Ek was mal oor die Saartjie boeke en het hulle almal seker twee maal gelees. Met werkende ouers en huisreëls wat TV tot 5 uur in die middae verbied het, kon ek Vrydaemiddae nie wag om biblioteek toe te gaan nie. Die rabbedoe Saartjie het my op avonture gevat wat my verbeelding goed op hol gesit het en my baie planne gegee, sy het vir baie ure se leesgenot gesorg, en was gereeld pousetyd by die skool die hoofonderwerp waaroor ons vriende groep gesels het. Later was tot die seuns opgewonde oor Saartjie. Saartjie was eerlik en het 'n goeie uitwerking op ons gehad. Dit was "goeie kattekwaad" Saartjie kon ons lekker laat lag en sy het altyd vir ander omgegee. Wens die werklikheid kon so maklik wees.

Cindy Barkhuizen

My man is krieket toe en ek kan my besig hou met een van my gunsteling tydverdrywe. Die rekenaar en internet. Ek het lanklaas ingeteken by storiewerf en het met genoegdoening gelees hoe die jeug, jonger en ouer nog die Keurboslaanboeke geniet. Ek kon die kleingoed se ouma gewees, maar ek weet presies na meer as 50 jaar hoe hulle die boeke geniet. Wys jou net. Skryf 'n goeie storie en jy het 'n wenresep. Ek het nou baie tyd op hande aangesien ek afgetree het en ek wil volgende week begin om weer die Keurboslaan boeke te lees!

Rene van Wyngaarden (Katryn)

My ma het rondom die ouderdom van 5/6 jaar vir my een van die grootste geskenke in my lewe vir my gegee, naamlik Storiemuis. Aande lank het ek met die kasette en boeke gelê op die mat en my absoluut ingeleef in die stories wat die muis vir my vertel het. deur daardie boeke het ek van die meeste bekendste kinderverhale onthou en kon dit later vir tot my maats oorvertel. Een ding van die storiemuis wat ek nie sal vergeet nie, is toe ek en my een maatjie die dag besluit om 'n radiostasie te stig en ons stemme op die radio oop te neem. Ons het besluit dat die radiostasie spesifiek vir kinders sal wees en dat daar vir hulle storiemuis voorgelees sal word.

Elsa Groenewald

Ek was sewe jaar oud toe ek my eerste Saartjie gelees het. Ek het vier weke aan die boek geles, elke dag net 'n paar bladsye, party dae meer en soms glad nie. Die laaste rukkie wat ek aan die boek gelees het was op vakansie in 'n karavaanpark, en ek onthou hoe ek op my bed onder my broer se hangmat gelê en lees het in die karavaan. Dit was soos 'n oorwinning toe ek klaar was. Van toe af was daar geen keer aan my nie en ek het op 'n stadium in die vakansies van my laerskooldae 'n boek en 'n half op 'n dag gelees. Saartjie, Trompie, Jasper, Uile, Maasdorp, Keurboslaan...

Johanita Kirsten

Onthou niemand dan meer die Fanie-reeks deur P.J. Schoeman nie? Ek het Fanie word Grootwildjagter in die boekrak opgespoor toe ek 'n tjokkertjie was. Die boek het saam met my pa deur die jare gekom - seker van sy jonger dae af. Toe ek dié klaar gelees het het my ouers die een na die ander P.J. Schoeman-boek vir my aangeskaf vir verjaardae en Kersgeskenke en partykeer sommer vir sommer. Toe ek weer sien het ek 'n versameling van om en by twintig van hierdie boeke. As ek nou een van daai boeke op my boekrak sien dan kry ek weer daardie lekker onthou-gevoel van die lees van Fanie en sy dinge. Ek onthou ook die Fritz Deelman boeke waarvan Eben vertel, boeta, wat 'n ervaring vir 'n jong kannetjie om een van daai boeke te lees.
Ek wou op 'n stadium 'n veearts word en het toe op die spoor van James Herriot se boeke gekom - baie humoristies en 'n uitstekende ballans van karaktersketsing van persone en diere - egter lank laas een op 'n rak gesien.
Een nostalgiese aspek wat ek nooit sal vergeet nie is hoe die ouer boeke geruik het - ruik bietjie vandag hoe ruik die blaaie van 'n ou Bybel of van die ouer ensiklopedië - daai boeke wat nog van die dunste papier gemaak is. Jy verlang sommer soos die sê-ding sê "na iemand wat jy nie eers ken nie". Ek het by my skoonpa die drie Landbou-handboeke (Hulpboeke vir Boer - 1957) persent gekry - en ek hou hulle op my kantoorrak net om af en toe aan hulle te ruik.

Lees is lekker en het 'n groot rol gespeel in ons middeljariges se opvoeding. Ek kon nie al die kleure glo in die eerste Bollie wat uitgekom het nie - ek was gewoond aan die valerige Patrys - wie van julle onthou nog van Patrys? - groot nuus in my tyd!

Nou ja - KAPPITFLOU en groetnis
Johann Rossouw
Bedryfsbestuurder Richmond

Toe ek klein was het ek Fritz Deelman en die Uile geniet. Mettertyd het my belangstelling geskuif na Engelse boeke toe. Ek dink dat ek waarskynlik net nie die regte boek in die hande kon kry nie. Toe al vier van Melkbosstrand Biblioteek se Deelman boeke twee keer deur gelees is, het ek noodwendig 'n Engelse boek opgetel. The Hardy Boys, Willard Price en vele ander Engelse boeke het my verstand gretig opgeslurp.Stadig het ek myself begin identifiseer met die Engelse wêreld. Afrikaans was vir die NG Kerk en Universiteitsfeministe.
Nou sit ek hier in Londen. 'n Jaar gelede het ek in Kanada gewerk. My vrou is Kanadees. Ek het sommer uit verveling die naam Fritz Deelman op die internet begin soek. En verveling verander toe in 'n bietjie opwinding, toe ek sien dat Human & Rousseau besig is om die hele reeks weer her uit te gee. Nou besit ek al die boeke.
Dis nie al nie. Ek het 'n ou digbundel wat ek bestudeer (Digters en Digkuns - P.J. Nienaber, 1963). Ek het nou al vyf gedigte vasgevang in my geheue. Ek het 'n Koffiekroeg begin vir tweede taal Afrikaners, hier in Londen. Ek het lid geword van Vriende van Afrikaans. Ek het my eie gedigte in Afrikaans en Engels begin publiseer op die net.
Om op te som; my lewe is verander deur 'n kinderboek. Fritz Deelman red nog altyd lewens (al is dit meer figuurlik as letterlik).
Nou wonder ek net; wat kan ander boeke vir my doen? Hoe kan ek ook verseker dat ander se lewens ook geraak kan word deur kinderboeke? Wel, ek is 'n onderwyser. Ek en vrou beplan om een van die dae 'n ander Van Renen-tjie te sien. Miskien sal ek gewillige ore wel vind...

Lank lewe ons wonderlike Taal!
(...en Fritz Deelman)
Groete
Eben van Renen
Londen, Engeland

nog nostalgie

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014