2003-11-01


jongklomp

gril!grot

Die dans van die spoke
Elaine Pretorius, Graad 6

Vyfuur het heeltemal te gou aangebreek, en een vir een het ek my maats totsiens gewuif. Net ek en Susan was oor na 'n verjaarsdagpartytjie waar pret en plesier net nie kon ophou nie. Ons het gedink aan die "blindemol" in die swembad, die heerlike eetgoed, en die pragtige stel potlode wat Sunette met die skattejag gewen het.

Nadat ek en Susan vir oulaas nog 'n groot stuk sjokoladekoek ingewurg het, het ons weer al die pragtige geskenke gaan sit en bewonder. Die mooiste vir my was die tassie vol grimering. Die pragtige stel kunspotlode het egter nie ver teruggestaan nie. Ek was ook hoog in my noppies met die botteltjie parfuum en die dagboek met die slotjie aan. Dié verjaarsdag sou ek nie sommer gou vergeet nie!

Ek en Susan het besluit om sommer dadelik die grimering in te wy. Sy het my soos 'n heks laat lyk, en toe maak ek haar sommer 'n hanswors! Ons het geskud soos ons gelag het.

Toe dit begin donker word het ons besluit om 'n fliek te kyk. Eers het ons vir ons heerlike springmielies gemaak, en ons rustig op die bank tuisgemaak. Dit was 'n regte bangmaakfliek, maar ons was glad nie bang nie…totdat ons iets eienaardigs gehoor het. Dit het 'n bietjie geklink soos 'n vals viool. Ek wou my nie daaraan steur nie, maar toe dit weer gebeur, het my hare behoorlik orent op my lyf gestaan. Ons het beide gelyk opgespring…

Die volgende oomblik het ons 'n wit gedaante voor die venster sien verbysweef. Nog een het aan 'n tak gehang! Ons het gelyk geskree en opgespring. Net toe het my nagrok verstrik geraak in my stoel, en ek het myself disnis geval. Ons het sonder ophou gegil dat die berge antwoord gee!

My pa het geweer in die hand aangestorm om te kyk waaroor al die lawaai is. Hy sit toe dadelik die buiteligte aan, maar van spoke was daar geen teken nie. Wat hy wel gevind het was my liewe boetie en sy irriterende maatjie met my ma se nuwe wit lakens om hulle gevou. Die onaardse geluide wat ons byna hartversaking laat kry het, het van meneertjie se blokfluit gekom. Ek sê mos al lank dat ma net haar geld op sy blokfluitlesse mors.

Ek was so woedend dat ek op daardie oomblik gewens het dat ek liewer nie 'n boetie gehad het nie. My gesig was bloedrooi en opgepof! Hy het soos gewoonlik my pret bederf.

'n Rukkie later kon ons toe darem lag oor die nare gebeurtenis. Wat ons nog beter laat voel het, was dat my ma hom vir 'n hele maand lank gehok het, en sy enigste plesier was…om blokfluit te oefen!

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005