2012-04


jongklomp

gril!grot

Die hangkas
Liana de Beer

Die eerste maal wat Hein die hangkas gesien het, het hy geweet iets omtrent dié meubelstuk is vreemd. Hein se pa versamel antieke meubels en hierdie meubelstukke staan die hele huis vol. Die ander meubelstukke het nog nooit vantevore die hare op sy lyf laat rys nie, maar hierdie hangkas... hierdie hangkas is anders.
"Die kas lyk stokoud, Pa. Nee, oeroud," sê Hein en staar na die ongewone hangkas.
"Moet nie vir jou laf hou nie, Hein! Dit is 'n klassieke stuk," sê Hein se pa en hy vee met sy hand oor die donker hout voordat hy by die studeerkamer uitstap. Hein bly doodstil voor die hangkas staan. Hy voel met sy vingerpunte aan die hout. Dit is grof en die vernis dop plek-plek af. Terwyl sy vingers oor die hangkas se deur gly, kraak die hangkas skielik. Hein trek sy hand vinnig terug en tree agteruit.
"Wat op aarde sien Pa in hierdie hangkas? Dis vrek lelik! Die knobbelrige pote en die geroeste deurknoppe... En vir wat moet dit ook nog hier in 'n donker hoekie in die muwwerige studeerkamer staan?" dink Hein terwyl hy na die ligskakelaar loop. Sy vinger rus nog op die skakelaar toe die hangkas se deure met 'n gekraak oopswaai. Hy skrik so groot dat hy reguit by die deur uithardloop en oor Kerneels, die huiskat, val. Hy lê plat op sy rug in die gang en kyk hoe Kerneels in die studeerkamer besig is om die hangkas te verken.

"Pa, hoekom kraak die nuwe hangkas so?" vra Hein terwyl hulle met aandete aan tafel sit.
"Dit is 'n ou hangkas, Hein. Ek is seker die skarniere kort net 'n bietjie olie," sê sy pa en vat 'n hap van sy kapokaartappels. Tevrede met sy pa se antwoord gaan Hein voort om die ertjies in sy bord met sy vurk rond te stoot. Na ete gooi Hein se ma soos gewoonlik 'n bietjie melk in 'n piering vir Kerneels.
"Kerneels!" roep sy ma na die kat.
"Keneeeels!" roep Hein se baba sussie agterna. Gewoonlik kom Kerneels dadelik aangehardloop, maar hy is nêrens te sien nie.
"Waar kan daai kat tog nou wees? Wil jy nie gaan kyk of jy hom iewers sien nie, Hein?" vra sy ma en begin om die vuil skottelgoed in die skottelgoedwasser te pak.
"Kerneels... Kerneels! roep Hein soos wat hy van die een kamer na die ander loop en soek. By die studeerkamer gaan staan hy stil. Onseker of hy moet ingaan, loer hy stadig om die deurkosyn.
"Kerneels!" roep hy weer, maar die kat is ook nie in die studeerkamer nie.
"Ma, ek kry nêrens vir Kerneels nie. Dalk moet ons buite gaan soek," sê Hein en beduie na die voordeur.
"Hein, gaan haal gou my jas uit die nuwe hangkas dan help ek soek," sê sy pa waar hy nog aan tafel sit en koerant lees.
"Die nuwe hangkas? Maar..." Hein besluit om eerder nie teë te praat nie. Hy sluk aan die knop in sy keel en stap na die studeerkamer. Hy gaan staan voor die hangkas en sy arms hang roerloos langs sy sye. Stadig tree hy nader en steek sy hand uit na die geroeste deurknoppe. Die growwe deurknoppe laat hom gril. Hy haal diep asem en trek aan die deurknoppe.
"Krrrrrrrr," kraak die hangkas soos wat die deure oopgaan. Hein laat los dadelik die deurknoppe en vee die sweet van sy voorkop af.
"Komaan! Jy kan tog nie bang wees vir 'n simpel ou hangkas nie!" praat Hein homself moed in. Hy begin om tussen al die klere na sy pa se jas te soek.
"Ah! Het hom," sê Hein verlig toe hy op sy pa se swart jas afkom. Hy vat die hanger vas en lig die jas van die reling af. Agter sy pa se jas vang sy oog 'n skielike beweging.
"Wat? Dit het dan nou net soos 'n harige klou met lang naels gelyk... Komaan! Hou op om jouself te verbeel!" Hein gooi die jas oor sy arm en slaan die kas met 'n harde slag toe.
"Krrrrrrrr," kraak die hangkas weer. Die keer harder as die vorige keer. Die jas val van Hein se arm af en hy staan onseker na die kas en kyk.
"Kerneels! Ek het vir Kerneels die laaste keer in die studeerkamer gesien!" besef Hein. Hy tel die jas op en hardloop na die kombuis.
"Paaaaa! Die hangkas... Die hangkas het..." sê Hein uitasem
"Wat sê jy van die hangkas?" vra sy pa.
"Daar is iets... 'n ding in die hangkas! Dit het Kerneels...."
"Jy is nou laf, Hein!" val sy pa hom in die rede.
"Nee, regtig. Ek het die ding gesien! Dis harig en het skerp kloue!"
"Hein, wat is dit met jou en daardie hangkas? Dit is 'n doodgewone hangkas. Kerneels moet hier êrens wees. Kom ons gaan soek buite," sê Hein se pa.

"Ek is seker daai ding in die hangkas het vir Kerneels gevang... of nog erger... geëet! Hoekom anders kon ons hom dan nêrens kry nie?" dink Hein terwyl hy in sy bed lê. In sy gedagtes sien hy weer die harige klou agter sy pa se jas. Hy sien sommer hoe die klou vir Kerneels in die hangkas intrek en hy hoor weer die kraakgeluide.
"Vir wat moet my kamer reg langs die studeerkamer wees?" wonder Hein en hy trek die lakens oor sy kop. So lê hy totdat hy dit hoor.
"Krrrrrrrr. Krrrrrrrr..." kraak die hangkas.
"Vrek! Dalk is die ding in die kas weer honger," dink Hein. Die knop in sy keel is weer terug en hy voel hoe die sweet op sy voorkop uitslaan. Hy spring uit die bed, sluk aan die knop in sy keel en loop tot by sy kamerdeur. Stadig loer hy om die deurkosyn na die studeerkamer.
"Krrrrrrrr!" kraak die hangkas weer. Hy stamp sy kop teen die deurkosyn soos hy skrik. Hy slaan sy kamer deur toe, loop half dronk van die harde hou terug bed toe en trek sy kussing oor sy kop.

"Môre, Ma," sê Hein half deur die slaap en vat 'n sluk van die koffie wat sy ma op die bedkassie neergesit het. Hy klim uit die bed en gaan staan voor die spieël. Hy sien die yslike knop op sy voorkop en vryf ingedagte daaroor. Alles wat die vorige aand gebeur het kom weer terug na hom toe.
"Die hangkas, Kerneels, die harige ding... en die kraakgeluide!" dink Hein benoud. Hy loer weer om die deurkosyn na die studeerkamer, maar dis doodstil. Hy hoor sy ma en pa in die kombuis en die geluid van sy sussie se ratel, maar geen kraakgeluide nie.
"Sjoe, dankie tog! Ek moet weet wat in die hangkas wegkruip!" dink Hein en sien dan sy skoolklere wat op sy bed lê.
"Vrek! Ek sal eers vanmiddag na skool kan gaan kyk!" Hein trek ongeduldig sy skoolklere aan en stap na die kombuis.
"Ma, ons kan maar ry. Ek is reg," sê Hein en gooi 'n appel in sy skooltas.
"Hoe vinniger ek by die skool kom, hoe vinniger kan ek terug kom om na daai dekselse ding in die kas te soek," dink Hein en trek senuweeagtig aan sy skooldas.
"Ek pak net gou die skottelgoed in die wasser dan kan ons ry. Gaan haal solank jou sussie, asseblief. En maak tog seker dat haar ratel saamkom," vra Hein se ma.
"Waar is Sussie?" vra Hein en plak sy skooltas op die kombuistafel neer.
"O, Sussie is in die studeerkamer."
"Wat? Die studeerkamer? Nee, dit kan nie..." Hein hardloop in die gang af en by die studeerkamer in. Die hangkas se deure staan wawyd oop, maar daar is geen teken van sy sussie nie.
"Sussie!?" roep Hein. Stadig stap hy tot voor die hangkas. Hy staar na die klere wat in die kas hang. Dan vang sy oog die helder geel speelding wat onder in die kas lê. Hy buk om dit op te tel, maar hy weet alreeds wat dit is. Die knop in sy keel is weer terug en sy hele lyf bewe nou. Hy kyk met groot oë na sy sussie se geel ratel in sy bewende hand.
"Sussie!" roep Hein en stoot die klere versigtig eenkant toe.

Die storie is geskryf deur Leana de Beer. Liana is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2011.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2011