2014-12


jongklomp

gril!grot

Moshoushou se poppespel

Renier Lindeque

Deel 1

Dit is 'n warm Desembermiddag en Lientjie is op pad na Gawie-se-gat, 'n verlate kwarrie net buitekant Grawanietburg. Haar ma het vir haar gesê om badwater te gaan haal, maar Lientjie besluit sommer dat sy 'n bietjie gaan swem omdat dit verskriklik warm is.

“Parram parram parram
Daar is paddas in die dam
En kwarrie net vir my
Om die hitte te bestry,” sing Lientjie terwyl sy die kwarrie se hek oopmaak.

Sy huppel dan na 'n groot rots aan die rand van die kwarrie, toe en dan duik sy in die water in.

Toe sy uit die water uit klim sien sy ou vrou, met 'n boggelrug en 'n kierie in haar hand, op 'n bloekomstomp sit en huil.

“Waarom huil tannie so?” vra Lientjie besorg en loop nader aan die ou vrou.

“Die wind het my kopdoek van my kop afgewaai,” snik die ou vrou en wys na 'n rooi kopdoek wat op 'n klip lê.

“Nou waarom tel tannie dan dit nie net op nie?”

“Ek kan nie,” snik sy. “My rug is te seer en daarom kan ek nie buk nie. Sal jy dalk vir my hom optel asseblief?”

“Natuurlik sal ek!” sê Lientjie en buk om die kopdoek op te tel.

Toe sy aan die kopdoek raak, sprei hy skielik uit en vou om haar toe. Lientjie  probeer met alle mag om uit die kopdoek los te kom, maar hy trek net stywer om haar toe. Die ou vrou lag uitbundig en sê dan:

“Segen vader
Segen sop
My doek vreet nog 'n kindjie op.
Kort voor lank
Nog voor sonop
het ek, Moshoushou
‘n nuwe marionetpop!"

Moshoushou sleep Lientjie tot by ‘n houthuisie. Lientjie sien deur 'n gaatjie hoe Moshoushou haar deur die huisie sleep tot by 'n hysbak se deur. Moshoushou trek die hysbak se traliedeur oop, sleep Lientjie in die hysbak in en dan trek sy weer die traliedeur agter haar toe. Daarna stamp sy haar kierie drie keer teen die hysbak se plafon. Die hysbak gee 'n ruk en dan begin hulle sak.

Die lug om hulle raak bedompiger en warmer soos wat die hysbak verder af beweeg. Die hysbak kom uiteindelik met 'n ruk tot stilstand en Lientjie hoor hoe die traliehek weereens oopgaan. Moshoushou sleep haar vir so entjie oor die nat, koue vloer en dan voel Lientjie hoe sy deur die lug trek. Wanneer sy op die grond neer val vou Moshoushou se towerdoek oop.

vervolg

Die storie is geskryf deur Renier Lindeque. Renier is 'n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
Kopiereg: Renier Lindeque

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015