2017-01


jongklomp

gril!grot

Die vlieënde Hollander

Rina de Klerk

Deel 1

“Daar bestaan nie so 'n ding soos spoke nie, man,” grom ek vies.

“Maar boetie, ek het regtig gisteraand een gesien. Hy was in my kamer,” neul die sesjarige Tanya eenstryk deur.

“Nou gaan sê vir Ma daarvan, miskien sal sy die spook vanaand vir jou kom wegjaag,”

“Nee, maar die spook het gesê hy wil vir jou sien.”

“Ag oukei, ek sal vanaand by jou kom sit tot jy slaap en die spook wegjaag, maar dan moet jy nou loop. Ek kan nie graad tien wiskunde probeer deurkom en na jou luister nie.” Doodtevrede omdat sy haar sin gekry het, swaai sy om en trippel die kombuis uit.

“Klein sussies,” mompel ek, terwyl ek weereens na die algebrasom kyk wat vir my na Grieks lyk in plaas van syfers.

 

Moeg gooi ek my skooltas op my bed neer. Vandag se rugbyoefening voel of dit erger was as gewoonlik. Miskien is dit maar net omdat ek gisteraand minder as gewoonlik geslaap het. My ma loer opgewonde om my kamerdeur

“Thinus, ek en pa gaan vanaand uit. Jy moet asseblief mooi na jou sussie kyk vanaand. Ons sal vir julle roomys bring na die vertoning.” My ouers was lanklaas vir 'n aandjie alleen uit en ek gun hulle dit.

“Dis reg so, Ma. Julle moet dit geniet.”

 

“Gaan jy vir my storie lees?” vra Tanya en hou 'n groot prenteboek met 'n breë glimlag na my toe uit. Ek vat die boek by haar en loop saam met haar na haar kamer toe. Na sy uiteindelik vir haar 'n gemaklike posisie gekry het om te lê gaan sit ek langs haar en slaan die boek oop. Toe sy uiteindelik aan die slaap raak, staan ek so saggies as moontlik van die bed af op. Hopelik droom sy nie weer van spoke vanaand nie.

Ons huis se ou houtvloere kraak onder my terwyl ek traag na my kamer toe loop waar 'n hoop huiswerk vir my wag. Teen twaalf uur maak ek uiteindelik klaar met die laastes. Nie lank daarna nie lê ek in my bed en alhoewel ek baie moeg is, raak ek nie aan die slaap nie. Eers op die een sy en toe op die ander, dan my maag en laastens my rug, maar al wat kom is slaap. 'n Plank wat skielik kraak in die gang laat my my ore spits, maar toe ek niks verder hoor nie, raak ek weer rustig. 'n Rukwind laat my kamerdeur met 'n slag toeslaan. Ek sit regop in my bed en kyk na my deur, maar ek sien niks. Skielik kraak 'n plank hier reg langs my bed asof dit enige oomblik gaan breek. 'n Swart gedaante toring oor my bed. Al wat ek kan sien is twee rooi oë wat soos kole gloei. Ek steek my hand uit om my bedlamp aan te sit, maar die gedaante gooi dit van my bedkas af.

“Los uit daai ding, wil jy hê die hele wêreld moet weet ek is hier?”

Die gedaante se stem klink soos 'n donderstorm en ek verbeel my dat ek veraf branders teen rotse hoor vasslaan.

“Wie is jy?”

Ek probeer braaf klink, maar faal liederlik, want my stem klink soos die van 'n muis.

“Ek is Hendrik van der Decken, kaptein van die Vlieënde Hollander.”

“Wat de ongeluk is jy? 'n Spook?”

Die gedaante klink amper teleurgesteld oor die opmerking.

“Ek is nie 'n spook nie, ek is 'n regte mens. Waar kom jy daaraan dat ek 'n spook is?”

 Hierdie moet 'n mal man wees, maar hoe op aarde het hy in ons huis gekom. Was dit hy wat gisteraand by Tanya was?

“Al die legendes sê dat jy 'n spook is.”

“Wel ek is nie, voel hier.” Hy gryp my hand en druk dit onder sy baadjie in. Teen my hand voel ek yskoue been... ribbes! Ek ruk my hand weg en val byna van my bed af soos ek gril. My skrik spring ook sommer by die deur uit.

“Is jy nou simpel man, dink jy ek wil aan jou binnegoed vat? Sies!”

“Sien, dis hoekom ek jou uitgekies het, jy is nie bang soos die ander kinders van jou ouderdom nie.”

 

vevolg

Die storie is geskryf deur Inge Rina de Klerk. Rina is 'n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg:
Rina de Klerk

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015