2018-09

jongklomp

storienuus
oondvars
kuier by...
lusmakers
storiegedorie!
storiemakers
gril!grot
www
kollig
versfabriek
skryfgeheime
vonkelfiksie
lapastories
verinniewêreld
haasbekkies
wedstryd

boeksoek

 

posbus

 
na grootmense
 

 

Lusmakerbrokkies uit nuwe boeke
Veldiep

Veldiep


Fanie Viljoen

Tafelberg

“Ek het iemand anders ontmoet, Tim,” sê Jessica.
       Tim Muller sit roerloos op Hoërskool Caldwell se paviljoen. Net sy inmekaargevlegte vingers trek saam toe hy die woorde hoor, en in sy keel maak sy asem 'n sagte plofgeluid.
       Jessica staan voor hom: kort, donker krulle in haar bleekmooi nek, haar oë net so bruin en haar lippe rond, sag en rooi. En nou ook verraderlik.
       Op die rugbyveld daar anderkant, agter Jessica se rug, speel van die ouens rugby. Hulle roep opgewonde na mekaar en probeer 'n laaste drie inkry voor die skoolklok lui.
       Hiervan sien Tim niks. In 'n oomblik het sy wêreld tot stilstand gekom. Dit trek kleiner totdat daar niks meer oorbly nie behalwe die pyn wat sy hele lyf toerank. Hy staar voor hom uit, deur die pyn.
       “Wie is dit?” vra hy uiteindelik sag.
       “Dis net 'n ou,” antwoord sy ontwykend. “Ek is jammer,” sê Jessica voor sy omdraai en wegstap. Van hom af wegstap.
        Dis hoe dit eindig.

Kraak

Kraak


Rouxnette Meiring

Tafelberg

Die kinderhuis groei soos 'n lewende ding uit die klip en grond van die stad. Ek verbeel my soms in die nag ek hoor dit asemhaal. Nou hoes dit kinders en oppassers.
       Dit lyk of die hele stad buite rondstaan, selfs Buitengrag se gondels is vasgemeer en die passasiers staan bedremmeld op die wal. Daar is energie in die lug, want iets het gebeur om oor te praat: die aardbewing was erger as die vorige, minder erg, het langer aangehou, nie so lank nie. Groot storie. Iemand wys na die Geo-ingenieursgebou waar die ligte nog brand en niemand uitgekom het nie. Almal kyk waar hy wys. Bla-bla-bla.
       Dit is die hoeveelste aardbewing in 'n week en elke keer in die aand.
       Kaleb trek sy los linnebroek effens op, gaan sit op die boomworteltrappe en ek sak langs hom neer. Hy vryf met sy duim en wysvinger uitgestrek oor sy gesig, van die hoeke van sy donker oë tot by sy neusbrug, soos ek hom dikwels sien doen. Hy het mooi hande, sterk vingers, kort naels. Hy kyk op. “Sy’s weer kaalvoet,” sê hy, 'n glimlag in sy stem.

 

Kate in harmonie

Kate in harmonie


Jacolet van den Berg

Lapa

Die deur klap toe in haar gesig.
        “Gaan weg, Kat.”
        Dieter se stem is gesmoor agter die toe deur. Hy noem haar Kat wanneer hy haar kwaad wil maak, maar sy alie, vandag val sy nie daarvoor nie. Dit help in elk geval nie hy klap die deur in haar gesig toe nie. Hulle moet groet. Sy is bang, bly, hartseer – te blerrie deurmekaar om sy nonsens ook nog op te vreet.
        “Totsien, my love! Dis wat sy vandag moet sê en sy is nie heeltemal reg daarvoor nie.
        Voel Dieter dalk soos sy? Vandag groet hy ook sy geliefde Johannesburg. Die dat hy haar staan en Kat noem, terwyl hy agter donker oë, 'n hoodie en oorfone probeer skuil. Haar pa kry 'n oorval as Dieter so in die kar klim. Die hoodie gaan moet af, die oorfone ook, ten minste tot hulle deur die eerste tolhek by Grasmere is. Haar pa glo rytyd is kwaliteit-gesinstyd en hy verwag dat hulle ten minste lyk asof hulle saam wil gesels. Weird, maar sy speel tog gewoonlik saam. Gesels maar tot haar ouers self stil raak.
        Kate stap in die gang af voordeur toe. Haar voetval is byna geluidloos op die dik mat in die gang van haar oupa-hulle se huis. Van vandag af gaan almal waarskynlik meer vrylik asemhaal. Dis die silwer randjie van hierdie donderwolk oor hulle koppe.

Presies anders

#Presiesanders 2 Cupcakes en kupido's


Cecilia Steyn

Human & Rousseau

Maandagoggend kom meneer Vos soos 'n laksman in die paadjie afgestap, besig om ons rekeningkundetoetse uit te deel. My palms is al klaar natgesweet. My maag maak 'n draai. Toe hy by my tafel stop, vryf hy oor sy snor. Nooit 'n goeie teken nie. Met 'n simpel glimlag sit hy my gemerkte toets triomfantelik voor my neer. Ek draai dit dadelik om voor iemand die punt kan sien. Ek is self te bang om te kyk.
       Voor in die klas roep Beula opgewonde, hard genoeg vir almal om te hoor: “Volpunte! Ek het dit nou nie verwag nie.” Blah. Natuurlik het sy. Beula gooi haar swart poniestert oor haar skouer. Pleks doen sy 'n bietjie iets anders met haar hare, maar dit lyk elke dag presies dieselfde … asof sy nie 'n verbeelding het nie.
        Dis 'n wonder sy’t nog nie 'n boggel van al die balkies wat aan haar skoolbaadjie gespeld is nie. Party is sommer vir stupid goed soos behulpsaamheid. Meer soos gatkruip as jy my vra. Daarvoor sal sy baie balkies kan kry.

Dans Jenna

Dans Jenna


Noreen Nolte

Lapa

Jenna sien al van ver af die plakkaat teen die kerksaal se aansteekbord. Sy trap vinniger en swaai reg voor die bord van haar fiets af.
       “Die Sint Petersburg Ballet,” lees sy hardop. Haar oë steek op die foto vas, en sy lees nie verder nie. “Sjoe…” fluister sy bewonderend.
        Hoewel die ballerina nie juis in 'n asemrowende posisie staan nie – sy is eenvoudig op haar pointes gebalanseer – is elke sentimeter van haar perfek swaan. Dit is ongelooflik mooi!
      “Haai, Jen!”
       Jenna skeur haar oë weg en kyk om. Dis Jani wat soos 'n mal ding aangehol kom, haar rugsak hoppend op haar rug en haar blonde krulkop windverwaai.
       “Flippet, dis warm, né? Vandag sweet ons weer! Vir wat staan jy so en droom? Ek … wow …” Jani gaan staan doodstil – iets wat nie gereeld gebeur nie. Haar oë is ook vasgenael op die advertensie. “Sjoe, dit is pragtig!”
       Die twee maats staan saam en staar na die plakkaat.
       “Sint Petersburg Ballet. Junie by die Kunstekaap in Kaapstad,” lees Jani hardop. “Verbeeld jou …” Sy kyk nog vir 'n oomblik droomverlore na die foto.

Kamp vir monsters

Grilgrypers 3: Kamp vir monsters


De Wet Hugo

Human & Rousseau

'n Yskoue sweetdruppel hardloop teen Clayton Goliath se rug af terwyl hy na sy kamervenster staar. Sy vingerpunte begin skielik te prik.
      Aan die ander kant van die glas huil die wind deur die groot ou boom se take, wat soos knopperige monstervingers teen sy kamervenster tok-tok.
      Jy’s dertien, nie meer drie nie, Clayton, sê hy oor en oor in sy gedagtes. Dis alles net sy verbeelding, probeer hy homself troos.
      Maar sy oorverdowende hartklop oorred hom gou die boom met die growwe bas, wat lyk of dit asemhaal, is nie slegs 'n drogbeeld in sy kop nie.
      Die takkie wat teen die ruit kap, begin groei tot dit soos 'n klou met lang, skerp naels lyk. Nog een verskyn. Die boomvingers begin wild oor die ruit kriewel, en dan sien hy die ding wat hom soveel nagte laat wakker lê…

Raaiselklip

Raaiselklip


Troula Goosen

Human & Rousseau

Gabriel kreun en roer sy skouers. Verdorie, wat gaan aan? Sy regterwang lê platgedruk teen 'n growwe oppervlak en sy arm is onder sy lyf ingevou, skeef, asof hy soos 'n vrot vel neergesmyt het.
      Hy byt op sy tande, trek sy arm onder hom uit en druk hom orent op sy elmboë. 'n Vlaag naarheid skiet deur sy lyf sodat hy moet sluk om nie op te gooi nie.
      Die vloer voel klam onder sy handpalms en die lug ruik muf en suur. Boonop is dit so donker dat hy skaars 'n tree voor hom kan sien. Beslis nie een van die plekke waar hy gewoonlik kom nie.
      As hy moet raai, is hy iewers in 'n kleder. Maar hoe?
      Flentertjies onthou syfer deur sy gedagtes.
      Sy veertiende verjaarsdag. Die spoggerige jagmes wat sy pa as geskenk langs sy bed gelos het. Hy en sy maters wat weglê aan die watertandfees wat Kok voorberei het. Ertjiesop …  Varkvleis … aartappels. Sy maag het later gepyn.
      Hy het hom ooreet, die dat hy nou so goor voel. Maar dit verklaar nie die vreemde plek waarin hy homself bevind nie.

Pienk is nie vir sissies nie

Pienk is nie vir sissies nie

Christien Neser

Tafelberg

Dis nog donker toe Nicci Rust se foon onder haar kussing begin biep. Sy vat die knoppie die eerste keer raak en druk dood. Sy gaap en rek haar uit, klik dan die bedliggie aan.
      Gemmer roep op haar voete. Hy kap een klou waarskuwend in haar kuit en skakel sy spinenjin hard aan.
       “Eina, Gemmer!” Sy trek haar voete vinnig onder sy warm lyf uit, vryf haar kuit met die een hand en die knorrige kat se kop met die ander een. “Is dit nodig om so vreeslik te frons? En om my gladde been so te bekrap? Sies, man.”
      Sy bekyk die skade: Gemmer se nael het sy merk in ‘n fyn bloedstrepie gelos op die kuit wat sy gistraand seepglad gewax het.
      Niks wat 'n bietjie spoeg nie gaan gesond maak nie, troos sy haarself. En sy weet mos teen die tyd: Koning Gemmer verdra nie 'n gewoel vroegoggend nie. Hy’s net so oud soos sy, maar op amper sestien is hy 'n waardige ou man vol nonsens.
      Hoe oud sou hy in katjare wees? Seker tagtig.
      Sy leun oor en vat-vat net aan die vet geel boekie op haar bedkassie. “Ek gaan jou nou-nou in vrede los, my ou Gemmerman. Net gou 'n stukkie lees en ek’s weg. Sjjjjt. Toe, slaap maar verder.”

dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Jaco Jacobs

Lapa

“Komaan, Pa is seker nie ernstig nie!”
       Die oomblik toe daardie woorde uit my mond is, is ek spyt daaroor. Nie omdat ek weet dit gaan my pa se bloeddruk nog verder opjaag nie – ek is al gewoond daaraan om sy bloeddruk te laat styg. Maar as daar een ding is waarvan jy nie juis my pa kan beskuldig nie, is dit ‘n goeie humorsin. My pa is ‘n prokureur. Hy is altyd ernstig. Oukei, dis dalk onregverdig van my – ek is seker daar is prokureurs wat heeldag lank vrolik en vol grappies is. My pa is net nie een van hulle nie.
       “Luan, jy moet my mooi verstaan,” sê hy met daardie stem wat getuies tranerig kan maak in die hof. “Jy is in groot, groot moeilikheid. Ek het besluit dis beter dat jy die vakansie iewers anders deurbring. Terwyl jy weg is, sal ek dinge uitsorteer.”
       As my pa ‘n superhero was, sou dit beslis sy superkrag wees. Ta-daa! Die Ongelooflike Meneer Uitsorteer.

perfekte brander

Die perfekte brander

Elizabeth Wasserman

Uit: Die perfekte brander en ander verhale saamgestel deur André Vermaak en Marieta Nel

Lapa

“Wat? Wat presies bedoel jy, Jake?”
       Die huisues langs die straat lyk skielik vir Clarissa ouer, meer krummelrig en ellendig. ‘n Hond draf oor die sypaadjie, sy snoet laag op die grond op soek na die reuk van kos.
       Sy staar na Jake se hande: die fyn haartjies op die rugkante van sy vingers wat om die stuurwiel krul.
       “Wel, babe, jy moet vertsaan. Jy is nog op skool en ek’s op varsity en dinge gebeur…”
       “Die feit dat ek op skool is, het jou nog nooit voorheen gepla nie!”
       “Dit het die ou man gepla. Dink hoe bly gaan hy wees om van my ontslae te raak.”
       Clarissa het nog nooit daarvan gehou as Jake haar pa “die ou man” noem nie, maar sy het nie voorheen geprotesteer nie. Nou is dit skielik anders.
       “Die ‘ou man’ het nog altyd vir jou koffie gemaak as jy kom kuier. En hy werk deksels hard om…”
       Jakes snork saggies.

dans jenna

Om te dans

Noreen Nolte

Lapa

Die teer flits eindeloos grys verby. Ek kyk hoe die afstand tussen my en als wat saak maak – wag, als wat saak gemaak hét – al hoe groter word. Die stilte hang swaar in die kar. En dis nog ten minste vier uur tot in Paarl.
        “Lisa…?” vra ma huiwerig.
        “Flippet. Hier kom dit.”
        “Ek wil nie so op die vliegtuig klim nie. Praat met my, toe? Hoekom is jy die laaste maand so in jouself gekeer?”
       Ek stik amper in my Tab.
       “Hallo-o-o?”
      Sy sug. “Ja, ja, ek weet.” Sy tik haar vingers op die stuurwiel: “Pa, ballet, ‘n nuwe skool, dat jy by Ouma moet gaan bly. Maar hoekom voel dit asof jy vir my kwaad is? Ek het ook nie gekies dat dinge so moet uitwerk nie! Maar alles in ag geneem, en veral dat jy nie langer daar wou bly nie, is it tog ‘n heel aanvaarbare alternatief?”
      Haar stem is besig om onheilspellend te klim. Ek sal iets moet sê.

boendoesbaai

Die Boendoesbaai-ding

Rudi Fourie

Human & Rousseau

Eddie se nuuskierigheid oor die Boendoesbaai-ding het Vrydagmiddag in die Kuier-nog-‘n-bietjie-restaurant begin. Hy het pas ‘n hamburger special bestel toe hy die gedempte gesprek agter hom hoor. Twee mans, een met ‘n vreeslike diep stem, het oor ‘n voorval van lank gelede op hulle kusdorp gepraat. En Eddie kon nie glo wat hulle sê nie.
     Hy wou graag meer oor die voorval hoor, maar ‘n rukkie later is die mans die restaurant uit. Daarby kon hy nie sien wie hulle is nie, want toe hy omdraai, kon hy net hulle rugkante sien.     
      Dis al.
      Nou, net voor sluitingstyd, sit hy in die dorp se biblioteek en lees ou koerante op die skerm van ‘n leestoestel waarop Microfilm Reader staan. Dis nou tegnologie uit die oertyd. Hy’t nie eens geweet sulke goed bestaan nie. Toe hy netnou by Oom Doep se bakkery kom om sy ma se bestelling broodrolletjies te kry, was hulle nog nie uit die oond nie.

somer

Somer

Jaco Fouché

Tafelberg

“Goed! Lekker aand, bulle,” sê meneer Reinders. “Ek laat weet julle more-oggend wie’s in die span.”

“Tot siens, meneer.”

“Naand, meneer.”

“Meneer moet soet wees!”

Meneer Reinders lag vrolik. “Moenie vir my sê ek moet soet wees nie, ek skop jou dif af!”

Die ouens loop na die motors in die parkeerarea, skakel motorfietse aan of stap by die hek uit. Ek moet self aan die beweeg kom, ek moet nog taxi-staanplek toe. Die son sit al laag, sodat die berg ‘n koelte oor die woonbuurt gooi. Dit was ‘n lekker dag, maar die winter is nog lank nie verby nie.

“Hei, Mason! Wil jy nie ‘n draai kom maak nie?”

Ek kyk op van my skoene wat ek aan die vasmaak is. My togs is in ‘n plastieksak langs my, my sweetpakbaadjie bo-op. Ek los dit eers daar omdat ek nog warm kry.

Dis André Lourens wat my geroep het. Sy vel is sproeterig en bleek, sy hare en wenkbroue swart. ‘n Bietjie knopboude vir ‘n wit man, maar hy’s een van die beste atlete in die skool. Hy vaar nie so goed in die klas nie, maar ek ook nie.

“Kan nie.” Ek kyk weg, oor die rugbyveld waar van die ouens nog ‘n bal rondgooi. “Ek moet my pa gaan help.”

“Hy vang mos vis?”

“Um.”

“Net gou, man. Dis op jou pad.”

Hy staan hande in sys ye, iets vriendeliks aan sy groen oë. Hy moet net so moeg soos ek wees, want op die veld moet jy hom dophou, hy’s oral. Hou van afshow, moet heeltyd koes en swenk en vals aangeë maak.

“Dis moeilik,” sê ek, “ek moet die taxi vat. As ek eers afklim, gaan ek later moet wag en dan raak dit donker en . . .”

“Ry saam met ons. Ek sal my pa vra om jou later huis toe te vat.”

Hy beduie na die parkeerarea waar ‘n wit bakkie nog staan. Dit lyk soos vyftig ander in die dorp, maar die man agter die stuurwiel ken ek van sien. ‘n Mens hou mos maar jou opponent se dinge dop, en dis wat ek en André blykbaar is.

 

blou is nie 'n kleur nie

Blou is nie 'n kleur nie

Carin Krahtz

Tafelberg

“Dis alles my skuld – Pops praat mos nie.”

“I give up. I don’t understand a word she says. Iets van family circus. You try, Sir, your Afrikaans is better. Careful – don’t slip in the mud.”

“Hou op om daar te staan en vergaap! Bring vir my ’n kombers of iets om haar skaamte meet te bedek. Sy ruk soos ’n riet. En sê vir daai manne om nog flitse te kry – of wil hulle die toneel in die braille ondersoek? Wie’t ’n sambreel? Juffrou, byt net vas.”

“Ek is Pops. My naam is Pops. Dis alles my skuld.”

“Juffrou . . . uh . . . Pops, kom ons kry jou net eers uit die reën. Wag, ek help jou dat jy nie gly nie. Drie jaar lank sien ons nie ’n druppel reën nie en dan kry ons skielik meer water as in Noag se tyd. That’s life.”

“Dis die Here setyd.”

“Here you go, Captain. An excuse for a blanket – all I could find.”

“Dis seker beter as niks. Hier, Poppie, maak jouself toe, so ja. Kom sit hier in die van, dis die enigste droë plek. Hou moed, die ambulans is op pad. As ek die enjin start, kan ek die heater vir jou aansit, gee my net ’n sekonde. Dis eintlik glad nie koud nie, maar jy’s in skok.”

“Alexandrina Victoria – soos die koningin.”

“Hei, Konstabel, hier’s nie ’n notaboek of ’n n pen in die cubbyhole nie. Bring gou! Sorry, Juffie.”

“My pa is net ’n gewone man, so Pops is beter.”

“Konstabel, kom jy met die notaboek?!”

“Rina is Elizabeth Regina. Sy’t dit verkort na Rina met ’n hoor die seën. ’n Regte sirkusnaam: Rinah.”

“So daar is ’n Regina . . . uh . . . Rina . . . Waar pas sy in die prentjie? Is . . . was sy vandag hier?”

“Sy kon nooit haar mond vir hom hou nie – nes Nan.”

Kupido.com

Kupido.com

Annabel Allers

LAPA

Vandag is een van dáárdie dae.

Jy weet, een van daai dae wanneer jy wens jy was iewers op ‘n eksotiese eiland soos Mauritius of Hawaii. Ek kan myself al sien – in ‘n bikini op ‘n spierwit strand, met ‘n groot sonhoed op my kop, uitgestrek op my handdoek terwyl ‘n bruingebrande hunk vir my yskoue drankie aandra . . .

Ek sug. Wie probeer ek flous? Die kans dat jy my ooit in ‘n bikini sal sien, is ongeveer zilch. En in plaas van palmbome en warmgebakte sand, sit ek op die koue vloer van die Hoerskool Bronburg se skoolsaal terwyl dit buite sous.

Nog ‘n Prettige dag in Pretoria.

Die skoolhoof brom onophoudelik oor die lengte van die skoolmeisies se rompies. Rondom my is die meeste leerders reeds aan die slaap of baie naby daaraan. Langs my sit Jana, my vriendin, en WhatsaApp skaamteloos. Ek stamp haar met my elmboog in die ribbes, maar sy waai met haar hand asof ek ‘n lastige vlieg is en hou aan tik.

“Met wie praat jy?” fluister ek en loer oor haar skouer om te sien.

Sy rol haar oë en wys vir my die skerm. Ek sien die naam Vorster en ‘n foto van ‘n blondekop wat dink die son hou op skyn as hy gaan sit. Ek trek my neus op ‘n plooi. ‘n Paar rye voor ons sit dieselfde ou met sy blonde kop vooroorgebuig tien teen een ook besig om te WhatsApp. Ek kyk weer na Jana en lig my regterwenkbrou. Sy steek haar tong uit en tik verder.

Johan Vorster is sekerlik die grootste hartebreker in die skool. En ook die ou met die slegste reputasie. Jana het nooit van sulke ouens gehou nie, maar onlangs het sy begin om al hoe meer belangstelling in hierdie een te toon. Om die een of ander eienaardige rede dring hy daarop aan dat mense hom op sy van noem.

“Om nie eers te praat van die afskuwelike sterte wat die jong mans deesdae agteraan hulle koppe het nie,” teem meneer Malan voort. “Daardie sogenaamde mohawks. Die Amerikaanse invloed van die media is besig om ons goeie Afrikaanse skole van alle waardes te dreineer. Dit veroorsaak chaos onder ons leerders.”

Ek onderdruk ‘n kreun. Ons hoof is weer, soos elke Maandagoggend, so vervelig dat dit seer maak. Mohawks! In watter eeu leef die man?

Ek gluur weer na Vorster se agterkop. Betsaan daar nie meer sexy ouens wat nie massiewe ego’s het nie?

Dit kan tog nie so moeilik wees om aantreklik en ordentlik te wees nie. Wat het van die goeie ou Romeo geword – of het daardie spesie al in Shakespeare se tyd van die aardbol verdwyn?

 

Elton die verskriklike April verloor dit

Elton die verskriklike April verloor dit

Carin Krahtz

Tafelberg

Liewe Tannie Kameel

Ek gaan dit nou maar sê: ek was gevaarlik woedend toe Tannie my maak boekhou het van die kwaad, soos my ouma Jansie altyd gesê het. Skuins bedinges soos ‘n handgranaat waarvan die pennetjie klaar uitgetrek was ‘n Tydbom met nog net tien sekondes op die klok. Die tipe outjie wat deesdae moeilik verby wagte kom om op ‘n vliegtuig te klim.

So eerstens wil ek askies sê dat ek Tannie soveel grys hare gegee het met my kwaadgeit. Maar as dit nie was vir my kort fuse en die hare op Tannie se tande nie, het hierdie joernaal nie bestaan nie. So dankie dat Tannie elke week opgecheck het dat ek die skryfwerk byhou. En dankie dat Tannie my maak sien het ek moet dit nie verbrand nie.

Ek is nie seker of ek rêrig eendag ‘n dokter wil word nie – ek kom agter mond-tot-mond op vreemde mense is nie my ding nie. Daar’s buitendien hééltemal te veel ander goed wat my ook laat gril. Maar ten minste is al die bewyse opgeskryf dat ek ‘n dokter sou kon word as ek wou.

Tweedens: as ek dalk van plan verander en wel ‘n dokter word, sal ek altyd vir Tannie afslag gee waneer Tannie oud is. Dokters is duur en ek weet oumense kan dit nie altyd bekostig nie. Maar ek sal sorg dat Tannie niks sulke worries het nie – bel net my ontvangsdame vir ‘n afspraak en kom sien my.

Derdens wil ek graag vir Tannie iets gee om koebaai te sê. Al goeie present waaraan ek kan dink, is my joernaal. Ek weet tannie sal dit oppas. Gebruik dit soos ‘n handboek of iets. Daar waar Tannie nou gaan werk, sal daar sekerlik outjies soos ek wees wat ook bietjie vies deur die lewe gaan. Laat hulle maar my storie lees en daaruit leer.

So nou groet ek maar. Ek hoop rêrig nie ek was die laaste strooitjie op die kameel se rug nie. Met ander woorde, ek hoop rêrig Tannie trek oor Tannie se man werk in die Kaap gekry het, nie omdat ek Tannie se battery laat afloop het nie.

Dankie vir alles en groete vir die Kaap.

Geteken

Dr. (Ha-Ha) Elton April.

Helers

Die Poort-reeks: "Helers"

Nelia Engelbrecht

NB-Uitgewers

Ek ruik koue staal toe ek die sleutel in die slot druk en draai. Bokant ons koppe begin die ganglig flicker.

“Dis weird,” sê Nomsa.

“Hulle noem dit toeval. Die gloeilamp is seker op pad uit,” sê Leonardo.

Eintlik is Nomsa reg. Dit is weird, en nou praat ek nie net van die gloeilamp nie. Ek meen, hier sluip ons vier in die middel van die nag in ‘n geheime woonstel onder my ma se kunsateljee rond. En dit nadat ons deur ‘n kas in die kunsateljee geklim het en van daar af met trappe af is tot in die Bewakers se Raadsaal wat soos ‘n vertrek in ‘n Middeleeuse kasteel lyk.

Die deur kraak toe ek dit oopstoot. Die vertrek ruik na stof en ou papier en nog ouer geheime. Met my spesiale Bewaker-nag-visie sien ek die ligskakelaar en druk dit.

“Lyk dit soos in jou droom?” vra Nomsa.

Tara vat-vat aan die donker vlegsel wat oor haar skouer hang.

“Die boekrakke met ou boeke lyk dieselfde . . . but there was a big book on the desk too.”

“Die boek waaruit die lig geskyn het?” vra ek.

Tara knik.

“Wel, daar’s nou boggerall,” sê Leonardo. “Behalwe dié.”

“Dit lyk soos ‘n verkyker uit Pirates of the Carbibbean,” sê Nomsa.

“Die ou wat die eerste verkyker vroeg in die sewentiende eeu gebou het, was ‘n Hollandse dude, Hans Lipperhay,” sê Leonardo

Ja, oukei, ek weet die invention van die verkyker is nie deel van ons graadelf-sillabus nie, maar as jy superslim is soos Leonardo en Google is boonop jou beste pel, is dit seker nie vreemd om sulke goed te weet nie.

Ek tel die verkyker op. Dit bestaan uit verskillende metaalpype wat in mekaar pas. Ek trek dit langer en loer deur die lens.

“Ek sien net ‘n blur. Dalk werk dit nie meer nie.” Dan gebeur daar iets. Die vae beeld word stadig maar seker skerper, totdat ek reg in die oë van ‘n harerige monstergesig vaskyk.

Krygers

Die Poort-reeks: "Krygers"

Nelia Engelbrecht

NB-Uitgewers

“Oee-ee!” gil Nomsa langs my. “Die hele plek gaan afbrand!”

Oepsie. Ek het genuine nie bedoel om die hotel se dak aan die brand te steek nie. Ek het na die houtteiken gemik en net toe ek dink die oog-ding gaan nie werk nie, kyk ek na die hotel se kant toe en toe werk dit. Soort van per ongeluk.

“Wat de hel het jy aangevang, Kali?” Leonardo gooi sy hande in die lug terwyl weerlig in sy swart oë blits.

Net daar strip ek my moer totally. “Dink jy ek het dit aspris . . .”

Ek skrik die res van my woorde weg toe ‘n weerligstraal die deel van Poveglia-eiland verlig waarop ons veronderstel is om ons Kragte en Magte te oefen. ‘n Sekonde daarna volg ‘n donderslag wat die mense seker tot op Venesië se Sint Markus-plein kan hoor.

Dan begin dit reën soos dit seker laas gereën het nadat Noag die lot diere in die ark gelaai het.

“Jy kan bly wees die reën blus die vlamme en red jou gat,” blaf Leonardo.

Hy’s al die hele dag so blafferig – seker omdat ek vanoggend vir hom gesê het ek kan nie nou saam met hom of, for that matter, enige ander ou op die planeet ‘n item wees nie, want dit interfere met my duties as Bewaker.

“Kom ons Reis liewer terug hotel toe!” roep Leonardo se niggie, Adriana, in Engels uit en gryp Caleb se hand.

Jason, Caleb se tweelingbroer, sit sy arm om Nomsa se skouers.

“Wag, ons gaan saam,” sê hy ook in Engels, maar met ‘n baie sexy Amerikaanse aksent.

Poef! Poef! Verdwyn die twee couples en los vir my en Leonardo en Tara alleen.

“Leonardo, I think you did it!” roep Tara uit terwyl sy ‘n nat haarsliert uit haar gesig vee.

“Wat bedoel jy?” vra Leonardo fronsend.

“You made it rain. Om die vuur dood te maak.”

Leonardo skud sy kom. “Nee, ek dink nie so nie.”

Iets is weird. Ek trek my oë op skrefies. Ek en Tara is al papnat gereën, terwyl daar nog nie ‘n druppel van ‘n dag oud op Leonardo geval het nie. Net soos toe Tara ‘n paar dae terug ‘n hengse wind veroorsaak het terwyl daar nie eens een haartjie op haar kop geroer het nie.

Soen

Soen

Jan Vermeulen

NB-Uitgewers

“Graadtwaalf, sal jy die liefde van jou lewe met die dood dreig as hy of sy nie jou liefde kan beantwoord nie?”

Juffrou Scarlett R. Reynolds kyk na hom terwyl sy die vraag vir die klas vra, maar die kilheid in haar andersins warm, bruin oë laat Peet Rautenbach voel sy stel slegs in sy antwoord belang. Sy staan so naby hom dat hy die wilde polsslag in haar nek kan sien, ook die voglagie op haar sensuele lippe. Die ronding van haar bors in die half-deursigtige sigeunerrokkie laat hom na ‘n stukkie houtskool en skilderkwas verlang.

komaan peet sys al in jou gesig burp as jy vir haar sê hoe jy oor haar voel

Dis nie ‘n helder stem nie. Dis eintlik geen stem nie. Tog ken Peet die stem al sy lewe lank. Hy verstel aan sy skooldas. Dis ‘n drukkende warm somersdag. Boonop wurg die das hom en broei sy lyf in die verpligte langbroek en leerlingraadbaadjie.

Die veelkleurige rokkie hip-hop om haar knieë toe sy na die tafel voor in die klas loop. Die fyn stringe klokkies klingel met elke tree om haar heupe. By die tafel swaai sy om. Haar koringblonde kartels swiep om haar gesig.

“Julle het seker almal hierdie berig in gister se Burger gesien.” Sy skakel die dataprojektor aan.

Teen die wit skerm verskyn die opskrif: NOG ‘n BLONDE STUDENT VERDWYN.

“Wat dink julle het van haar geword?” vra juffrou Reynolds. Sy flits ‘n paragraaf teen die wit skerm: Chanté Locke.

Strikdans

Strikdans

Christien Neser

LAPA

“Jippedie!” Elle wip oor die punt van die leer en begin net daar op die stowwerige stoepie dans. Sy gooi haar kop agteroor en bal haar vuiste in die lug.

“Ons het dit oorleef!” As sy net Refilwe se ritme gehad het, dink sy en wikkel haar heupe, dan het sy haarself nou uit haar plakkies gedans en ‘n wilde oorwiningsriel losgetrap.

“Jippediedoeda, jippediedei …”

“Probeer jy toi-toi of probeer jy tango? Dit werk nie, hoor.” Refilwe gaap en klap met haar plat hand op die blad langs haar.

“Kom sit voor jy seerkry.”

“toemaar, ou sonskyn. EK plak my net hier neer.”

Elle sak met ‘n salige kreun plat op die warm balkonvloer neer. Sy glimlag vir die dak van fyn jakarandablaartjies bo haar kop. Sy kan haar eerste groot taak as hoofmeisie aftik: die Groentjiekamp. Dit is kant en klaar; oor en verby.

“Ek maak sommer ‘n sementengel,” sê sy en strek haar arms wyd oop om soos vlerke bo die warm stoep te vlieg.

Sy voel hoe die hitte van die sementblad die knope uit haar seer nekspiere loswikkel. Dit is asof al die spanning en min slaap van die laaste twee dae soos heuning al langs haar rugwerwels afkruip en by die punte van haar kaal tone uitloop. Sy skop haar bene saam met haar arms uit.

Whap!

Sy voel hoe haar linkervoet iets solieds tref.

Dis ‘n gespierde bobeen.

“Oeps!”

“Hei, jy! Gaan vlieg op ‘n ander plek,” knor Refilwe en vryf haar been.

“Part mense het niks laasnag geslaap nie. Hierdie babasittery is vir die voëls.” Refilwe gaap nog ‘n keer en maak haar oë toe.

“Terwyl party mense geslaap het, moes ek wagstaan.” Sy druk ‘n toon beskuldigend in Elle se sy. Dan klik haar tong smakkend.

“My mooie metatarsus! Laat daar geskryf staan dat die groentjie wat by Refilwe Kgabo verbykom, nog gebore moet word.”

Elle lag. Refi se nuwe uitroep, wat sy spesiaal vir die Groentjiekamp uitgedink het, kom uit hul lewenswetenskappe-handboek. Metatarsus in net die Latyn vir voet, maar in refi se mond word dit ‘n woord wat vibreer met emosie.

Refilwe is meer lawaai as wol, maar dit hoef die nuewelinge nie nou al te weet nie.

 

Hartklop

Hartklop

Cecilia Steyn

Human & Rousseau

“Ai, Ma. Ma moes nie,” sê ek toe ek my tas in die kamer neersit. Ek glimlag. My ma het sowaar vir my die beddegoed en nuwe gordyne gekoop en my saai ou meubels ʼn welverdiende lagie wit verf gegee.

Ek streel oor die sagte wit duvet met pienk en pers satynskoenlappers. Dis pragtig. Op my spieëlkas, langs ʼn foto van my pa, broer Stefan en myself, staan ʼn potjie varsgeplukte rose.

“Dankie, dit lyk nes ʼn prentjie uit ʼn boek,” sê ek en gee my ma nog ʼn soen op haar wang.

“Ag, my kind, ek sien jou heeltemal te min, ek moet jou mos ʼn bietjie bederf,” sê Ma terwyl ek my skouers optrek en diep inasem. Dis so lekker om by die huis te wees. My ma het klaar my vensters wyd oopgegooi sodat ʼn ligte seebries nou deur my kamer trek.

“Pak solank jou tas uit, dan gooi ek vir ons iets in om te drink,” sê Ma. “As jy klaar is, kom kombuis toe.”

Ma se voetstappe verdwyn in die gang af terwyl sy saggies neurie. Sy is duidelik bly een van haar kinders is al by die huis vir die Desembervakansie.

My ma bly al die afgelope twee jaar, vandat sy en my pa geskei is, op Paternoster. Sy het vir haar ʼn oulike kliphuis met blou-raamvensters gekoop. Die plek laat my aan ʼn huis in ʼn sprokiesverhaal dink, al verskil is dat die huis ʼn asemrowende see-uitsig het.

Sy en my pa het besluit dit sal beter wees om elkeen sy eie gang te gaan en ons kinders die alewige bakleiery te spaar. As hulle nie oor my pa se lang ure op kantoor vasgesit het nie, was dit die veranderinge aan die huis, of watter kleur motor hulle moet koop. Op die ou einde was elke besluit wat geneem moes word ʼn toutrekkery.

Om die besluit vir my ma en pa maklik te maak, het ek gekies om in Johannesburg by my pa te bly en skool daar klaar te maak. Ek het graad elf onder die knie en volgende jaar is ek in matriek.

My broer Stefan, is na skool Stellenbosch toe om regte te swot. Hy het sopas sy tweede jaar voltooi. Meer as een akker het al op sy kop geval, so hy is deur en deur ʼn Matie.

My het niks gesê nie, maar Stefan sal seker môre kom. Ek hoop hy bring ʼn vriend saam. Ek het een spesifieke vriend in gedagte. Dewald Malan. Vandat ek kan onthou, is ek verlief op Dewald.

Ek en prins donkerkuif

Ek en prins donkerkuif

Dihanna Taute

Human & Rousseau

Pretoria is miskien mega-groot en die administratiewe hoofstad van ons land, maar dat ons hier meer kwaliteit gesinstyd saam kan hê is ʼn totale myth. Hier gaan die lewe oor wie die meeste geld het, wie se vrouens fashion sense het en wie se kinders die grootste brats is.

Ek wou ook nog sê dat ons soos in glad nie hier gaan inpas nie. My ma se kleresmaak is so negentiende-eeus. My pa is so suinig met sy geld dat ek soms dink ons is op die randjie van bankrotskap. En ek? Wel, ek is so ver van bederf af, dit is nie eens meer snaaks nie. Maar toe sien ek Pa knip skaars sy oë. Dit is amper asof hy nie eens na my gekla luister nie. Hy staan net hande gekruis oor sy bors en kyk strak hoe die laaste meubels by ons huis ingedra word.

Dit is laatmiddag en die treklorrie in straat begin hoes sodat die petroldampe my asem wegslaan. “Platteland Vervoer” staan groot in roesbruin oor die lorrie se staalblou kante geskryf. Ek knip my oë ʼn paar keer om te keer dat die trane in die hoeke van my oë opdam. Moet ek nie dalk ʼn tantrum gooi nie. Of so hard skree soos ek kan nie? Of dalk kan ek iewers magic doepa kry wat my sal laat verdwyn.

Hier staan ek voor ʼn nuwe huis, in ʼn nuwe straat met die vooruitsigte van ʼn nuwe skool in hierdie wildvreemde stad. Gaan enigiets hiervoor help?

Die meisie op die dak

Die meisie op die dak

Cecilia Steyn

Lapa

“Estelle!” roep my ma uit die kombuis.

Ons nuwe aaklige giggelgeel kombuis.

Ek maak of ek nie hoor nie. Dis seker nie regverdig dat ek vir haar vies is nie, maar ek kan dit nie help nie. Dis eintlik my pa se skuld dat ons hierheen moes trek. My ma kry te skaam om langer tussen al die ryk mense te bly.

Ek is besig om ʼn toer te doen deur die huis wat my ma vir ons gekoop het. ʼn Drieslaapkamerhuis met een badkamer, in een van die goorste buurte op die dorp.

“Estelle!” bons my naam weer teen die mure van die leë huis.

“Ja, ma, ek kom!” sê ek en skud my kop voor ek kombuis toe marsjeer.

“So, wat dink jy – gaan ons lekker hier bly?” vra Ma met ʼn glimlag wat net so ʼn klein bietjie te groot is. Ek weet sy probeer dapper wees. “Het jy al besluit watter kamer jy wil hê?

“Ek skraap al my moed bymekaar en dwing ʼn glimlag op my gesig. Ek is seker sy het in die aand na die huis kom kyk. Dit kan al rede wees waarom sy gedink het dié huis en dié buurt was ʼn goeie idee.

“Ek dink ons gaan heerlik hier bly, Ma,” probeer ek haar verseker. Miskien probeer ek myself ook sommer ʼn bietjie moed inpraat

 Ek weet my ma probeer vir ons die beste doen onder die omstandighede en ek sal beslis nie die een wees wat ʼn mes in haar hart gaan steek omdat ons nou in ʼn huis met vuil matte en vrot plafonne moet bly nie.

Ek vee oor die vensterbank en gluur na my vuil vinger.

“Dis net stof, dit kom skoon met seep en water, Estelle,” sê Ma.

“Ek vat sommer die laaste kamer, daar agter in die hoek, dan sal my musiek ma nie pla nie,” sê ek.

Ek het nie die moet om vir haar te sê wat ek regtig van ons nuwe huis dink nie. Hoe sê ek vir haar dat die plek vir my aaklig is en dat ek nie die eerste kamer kies nie oor daai kol op die mat? Dit lyk asof iemand sy polse daar afgekou en op die mat uitgebloei het. En die badkamer is seegroen-en-pienk. Die beste manier om hierdie kasarm mooi te maak, is om dit af te brand, as jy my vra.

Clint Eastwood van Wyk

Clint Eastwoord van Wyk

Pieter Verwey

Tafelberg

 

Dis nag.

Binne oomblikke gaan ʼn blonde seun onder ʼn vreemde duvet hom amper nat skrik. Hy gaan geluide maak wat geen seun behoort te maak nie. Onaardse geluide, soos ʼn stofsuier wat vassuig teen ʼn wolhaarmat. Hy gaan sukkel om asem te haal en sy knieë gaan onwillekeurig teen sy bors vasskop. Sy oë gaan rek in die donker om beter te kan sien, Sy hart gaan in sy ore hamer terwyl sy keel toetrek.

En dan, wanneer hy net-net genoeg asem in sy longe getrek het vir een desperate uitroep, gaan hy gil – hard en aanhoudend. Maar meer belangrik: in goeie Afrikaans.

Dit sal in sy guns tel as hy nie “Mammie!” gil nie.

Ons sal maar moet wag en sien.

Sy skrik dreig al van vanoggend af. Hy wóú mos, nou sal hy bars. Maar wag ʼn bietjie: voordat hy gil, moet ons eers gaan kyk wat vanoggend gebeur het.

 

Vanoggend is die eerste Vrydag van die Julie-skoolvakansie.

Op die Kaapstadse lughawe staan Bruce Lee, Clint Eastwood en Heidi saam met hulle ma en wag vir ʼn vliegtuig uit Amerika. Dié drie telge van professor Theuns en doktor Femke van Wyk is onderskeidelik agtien, vyftien en elf jaar oud.

En hulle is nie beïndruk nie. Nie met die skares mense nie, en ook nie met die feit dat hulle moet staan en wag vir hulle nefie Budde uit Amerika nie.

Budde van Wyk en sy sussie LOL ( regte naam Monique, maar LOL gedoop omdat sy giggel vir niks) het drie jaar gelede saam met hulle ouers Kalifornië toe getrek. In die dorpie Palamdale het hulle net meer irriterend geword as wat hulle in Suid-Afrika was.

Clint Eastwood onthou goed watse nat waslap sy nefie was, en hy kan dink wat drie jaar se oppiep in Amerika aan Budde gedoen het. Eintlik dink hy dit nie, hy wéét dit, want danksy die wonder van internet kan mens ongelukkig nou in kontak bly vanaf enige plek op die planeet. Dus word hy kort-kort gedwing om met sy nefie op Skype te gesels.

Dit gaan maar moeilik, want daar een ding is wat Clint Eastwood haat, is dit om oor koeitjies en kalfies te gesels. Veral met iemand wat jou groet met ʼn gooi van sy kuif en ʼn ongeërgde “S’up...”

Nie eers “What’s up?” nie. Sommer net “S’up.”

So asof sy nefie nie die moeite kan doen om sy woorde in die regte volgorde by sy tong verby te kry nie. Binne drie maande vandat Budde in Amerika aangeland het, het hy ʼn houding ontwikkel, en ʼn kuif.

Afkop

Afkop

Fanie Viljoen

Lapa

“Down, down, down!” roep almal om my. Decker se stem klink harder as die ander sʼn op. “Komaan, Trent!”

Dis mos nou hoe jy ʼn week onder die agterent skop en ʼn Vrydagaand vier. Dis boonop die April-skoolvakansie.

My pa-hulle is weg na ʼn werksfunksie of ʼn ding by Sun City, waar hy die een of ander prys vir Man van die Jaar gaan ontvang. Hy is ʼn mediese rep. Dis ʼn fênsie naam vir iemand wat dwelmmiddels wettiglik aan apteke smous. Maar dit is nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is dat hulle weg is en dat ek hierdie paar dae kan maak soos ek wil.

My ma het dit natuurlik geweet. Dit is hoekom ek net ʼn deel van die huis het My ma het hulle kamer en die spaarkamer gesluit, want sy was bang ek hou ʼn massiewe partytjie en dat my pelle die kamers sou gebruik vir allerhande soorte hormoongedrewe vermaak.

My ma was egter verniet bekommerd. Daar gaan nie ʼn partytjie by ons huis wees nie. Ek weet dit is mal. Watter ou kry só ʼn kans en laat dit net verbygaan. Dis darem nie asof ek ʼn totale lafaard is nie. Daar ís ʼn partytjie, maar dit is nie by ons huis nie. Dit is by Decker sʼn.

Dis waar ek nou is.

“Down, down, down.”

Ek sluk aan die bier. Dit loop in strome langs my mond af en drup op Decker-hulle se vuil sitkamermat of beland op my T-hemp. Die vloeistof wat dit tot in my keel maak, is koud en bitter. Dit voel of die blik nooit gaan leeg word nie, maar uiteindelik is dit en kan ek die ding tussen my hande platdruk en hardop burp.

Decker lag dat jy net tande sien. “Trent, jou ou yster!” roep hy. “Nog een!”

“Nee,” keer ek. “Dis nou iemand anders se beurt. Ek nomineer vir Charlie!”

“En blik bier, geen probleem nie,” sê Charlie. “Twee ook nie.” Hy het eintlik al genoeg gehad. Hy staan stadig op en trap wankelend rond toe hy ʼn blik uit die sespak haal.

  nog lusmakers
volgende

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

(C) Franci Greyling 2000-2018