2013-06-01

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Ballon
Ruan Fourie

Monoloog: graad 10 - 12

Karakter:
ALISSA: Anoreksiese tienermeisie. Nie maer nie; haar siekte word voorgestel deur ’n rooi ballon wat met helium gevul is, wat sy deur die loop van die toneel vashou. Sy dra ’n swart rokkie, sy is kaalvoet, haar hare hang los oor haar skouers. Iewers aan haar moet ’n speld vasgesteek wees. Sy het ’n vuuraansteker (lighter) by haar. In haar sak is ’n gevoude papiertjie met ’n “voorskrif”op. ALISSA dra ’n eenvoudige, korterige wit rok, met grimering wat net natuurlik voorkom ― geen oorbodigheid nie.

Stel: Eerlik en nugter. Die agtergrond bestaan slegs uit swart. Daar staan twee stoele in die middel van die verhoog, die een direk na die gehoor gerig en die ander een effens skuins. Op die skuins stoel staan ’n groot pot. Binne hierdie pot is ’n tweede heliumballon, maar die gehoor is aanvanklik onbewus hiervan.

Effekte: ’n Kollig wat heeltyd op ALISSA geplaas word en haar uitlig teen die res van die verhoog, as ’n tipe “live” chiaroscuro.

Ballon

Gordyne oop. Alissa sit op die stoel wat na die gehoor gedraai is, met haar enkels gekruis en haar kop effens weggedraai. Sy sit gehurk. Sy knip balletskoene se linte met ’n lang skêr en brand dit dan met ’n lighter glad. Daar is ‘n rooi ballon wat met helium gevul is en aan ’n tou gebind, wat heeltyd aan haar vasgemaak bly of wat heeltyd in haar klem is. Sy kyk op na hom, en kyk dan na die gehoor met ‘n neutrale gesigsuitdrukking. Sy begin praat.

Ek is nog van kleins af behep met ballet. So lig, so swaar. En ek hou daarvan om te sê ek is ‘n budding professionele ballerina, (Lag saggies.) maar jou lewe is eintlik net wat jy ander menste laat glo.  Dis seker verkeerd om te sê, want ek het nou belydenisklas in graad elf. Maar ek voel soos God se siek grap. Die vaal meisiekind, Alissa, die meisie met die vurige passie vir ballet, maar met geen talent nie en die een balletmislukkings na die ander.  

Ek het gelees anoreksie ontwikkel baie keer omdat die lyer graag in beheer wil wees, en deur op te hou eet kry jy hierdie beheer. You are what you eat, and therefore you are in control. Gewoonlik het die mense natuurlik ook selfbeeld issues, maar as dit by commitment tot hierdie siekte kom staan hulle soos honde wat wag vir die biltong se senings wat mense nie eet nie.

(Stilte. ALISSA lyk in gedagte.)

Ek is oor die interkom ingeroep kantoor toe, toe ek een keer by die skool was. Dit het nog nooit gebeur nie, en ek is al elf jaar lank in die skool. Ek was so verboureerd, ek het die telefoon onderstebo teen my wang gedruk. (Verleë). Ek het verwag om te hoor ek het die rol gekry. Die Sugar Plum Fairy in The Nutcracker. Ek weet nou nie eers meer hoekom ek juis by die skool moes teleurgestel word nie. Hulle kon my mos SMS of later bel?

Ek is nogsteeds net ‘n elementêre danser, in die Corps de ballet. My drome en aspirasies val van die prima assoluta na die corps na die vlak waar ek wonder of ek ooit nog my skoene se linte moet glad brand vir die volgende seisoen se gesukkel. Teen dié tyd moes ek in elk geval al baie beter gewees het as wat ek is. En dis nie omdat ek nie probeer nie; ek werk móér hard. Meer as enigiemand anders in daardie hele ballet company. Ek het al gedans op Tchaikovsky, op Mozart wat nie eers balletmusiek is nie, op Skrillex, op Lady Gaga. Dit wil net nie werk nie. Níks wil werk nie. ‘n Mens moet kan wys hoe liggies al die bewegings vir jou is. Tekens van inspanning is nie eers ‘n opsie nie. ’n Mens noem dit ballon, dis ’n balletterm wat ons moes leer, maar ons moet dit kan vóél. (Pirouette, ballon.)

(Stilte.)

In Swan Lake is die beroemde Black Swan Pas de Deux. (Tel haar been op asof sy wil begin fouetté.) In die Coda moet ’n mens twee-en-dertig fouettés doen, en tournant, sonder om een keer met jou regterbeen aan die grond te raak. (Begin fouettés uitvoer, een na die ander, maar omtrent net vier, dan stop sy lompweg en val terug op haar regterbeen. Kort stilte.) Ek het dit al gedoen. Of, wel, probeer. (Lag weer, harder hierdie keer.) Dit was ’n moerse mislukking. En wat dit meer embarrassing gemaak het dat ek dit by die studio probeer het, waar mede-dansers my actually kan sien. Toe sien die prima my. (Trek haar hare agter toe met  een hand en staan baie meer regop.) Fokoff poppie, gaan gooi op in die badkamer. Dis al wat jy kan reg doen. (Laat sak haar hare, stadig.)

Eerstens, dis hoe dit gaan in professionele balletpraktyk. Ek weet.

Tweedens, ek weet toevallig dat daardie poppie opgooi in die badkamer en al die verjaarsdagkoek by partytjies eintlik mors. (Lag.) Haar ouers weet nie hoe hulle perfekte klein dogtertjie haar hele lewe wegspoel in die naaste toilet nie.

En last but not least, ek kyk neer op bulimia. Ek gooi nie op in die badkamer nie, ek’s nie ’n retard nie.

Toe ek haar, die prima, in die badkamer gekry het, het ek haar net gelos. EK het nie haar hare vasgehou of haar rug gevryf nie. Ons het bollas, en issues, en hier help ons mekaar nie. Dis ’n koue plek dié.

Na die Pas de Deux-insident word ek ingeboek vir ‘n Julievakansie in ’n eetkliniek. Ja, ’n kliniek, vir eet! (Ingedagte.) Net gou-gou terug by bulimia. (Huiwer, asof sy sukkel om woorde te kry.) Dis te risky. En na my mening het jy dan in elk geval al klaar gesondig, daar’s geen vergifnis nie, dis tickets met jou, jy gaan hel toe.

En in elk geval, wie wil heeltyd met ‘n braaksmaak in hulle mond sit? Nie ék nie. Dit maak jou tande lelik, die suur van al die gekotsery.
Ek skip die hele eet-affêre altogether.

By die kliniek het ek in ‘n oomblik van selfrefleksie vir myself ‘n voorskrif geskryf. (Haal voos papiertjie uit sak en vou oop.) Kwaal, selfbeeld. Neem ‘n aanvanklike dosis van anorexia nervosa, met daaglikse dosisse selfverwyt en ander destructive goed. Newe-effekte mag dalk hongerpyne, hallusinasies, nagmerries en haarverlies insluit. Kamstig ook gewigsverlies. I wish. Anti-sosiale gedrag en gewetenlose leuens is aan die orde van die dag en mag die newe-effekte se simptome help verlig. (Kyk op. Stilte)

Toe ek ontslaan is by die kliniek het ek myself oorreed ek is gesond, wat dít ook al mag beteken. (Bars skielik die ballon met ‘n speld wat in haar mou versteek was.) En eintlik is dit ‘n tipe progress, want min anoreksielyers doen dit. Hulle bly vashou aan hulle simpelheid. Maar ek lieg nie vir julle nie, dit was minder as ’n uur toe is al die rowe van voor af oopgekrap. ‘n Stuk van The Nutcracker het op die radio gespeel, op een of ander klassieke versoekprogram, en toe’s dit tickets met mý én my “oorwinning”.  (Terwyl sy dit sê lig sy die pot se deksel en nog ’n heliumballon styg daaruit. Sy vat hom vas.) ’n Mens besef wel dat dit altyd gaan deel wees van jou. Jy wil altyd net nié eet nie. Soos ballerinas wat afgetree het. Hulle strek nogsteeds elke oggend hulle voetspiere voor hulle uit die bed uit klim. Hou hulle postuur dop, mooi regop soos ’n bliksoldaatjie, maar behou hulle delikaatheid, hulle ballon.

(Tel die skêr weer op.)

Aan die begin van die nuwe seisoen knip ek toe nie weer linte van skoene nie, maar my verbintenis met anorexia. Ek brand die punte glad, dat dit nie uitrafel nie. (Begin om met die lighter te speel deur hom aan te steek, te los, aan te steek, te los, aanhoudend.) Ek doen dit behoorlik. (Maak Mikhael Fokine se choreografie vir “The Dying Swan” se laaste beweging na, waar die ballerina/sterwende swaan op die grond gaan sit en figuurlik sterf.) Ek is nog van kleins af behep met ballet. So lig, so swaar. (Bring die lighter tot by die ballon se toutjie en brand dit dat die ballon wegvlieg, vir ewig weg.) My eie Black Swan Coda, sans révérance, ballon.


Kopiereg: Ruan Fourie 2013

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Ruan Fourie. Ruan is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.

Kopiereg Ruan Fourie.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013