2015-07-01

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Ek wil...
Liné Olivier

Monoloog: Gr 5-7

Karakter: Mieke is 11 jaar en neem swemklasse. Akteur dra swemdrag, met swemkappie, sowel 'n handdoek om lyf vasgebind.

Situasie: Mieke is vreeslik ontsteld oor haar swemklasse en dat haar lewe eenvoudig en vervelig is. Sy wil aan iets eksoties deelneem.

Dekor: 'n Rostrum in middel van verhoog.

Ek wil

(sit moedeloos, alleen en wag vir haar ma op die sypaadjie by die swemskool met ken in hand)

Ek voel al soos ʼn goudvissie!

(vat albei wysvingers en duime en trek ooglede groot oop)  Darem staar niemand my met groot oë aan nie.

(staan op en vou arms voor lyf) Maar nog steeds, vir swem is ek nou moeg!

(maak groot swembewegings) Van kleins af word jy in die water gegooi en al wat arme ek moet doen is swem... sodat ek net by die kant kan uitkom!

(sit albei hande agter ore om ʼn bakkie te vorm) Al wat 'n mens van die kant af hoor is “swem! Sussie swem!”

(staan met albei hande op heupe) Om net by die kant uit te kom is glad nie goed genoeg vir  Mamma en Pappa nie, hulle soek 'n goue medalje om my nek!

(klink benoud) Winter en somer, regdeur is dit net swem!

(kry koud) Wie gee nou om of jy koud kry!

Of ook dalk lus is om bietjie lui te wees voor die televisie (maak of jy 'n beker in die hand het en daaruit drink) en warm sjokolade te drink.

(staan met hande op heupe) Die antwoord is in groot vet gedrukte letters, NIEMAND!

(een hand op heup en die ander hand wys ‘nee’ met wysvinger) O, nee! En om te dink jy sou dalk “chill” by huis…

(albei hande weer op heupe) Nee, wat. Daarvan kan jy ook vergeet, Ma en Pa is amper erger as my afrigters by die swem en my onderwysers oor al die skoolwerk.

 (wys met linkerhand na links en trek met regter hand vanaf links na regs ʼn horisontale lyn) Maandag regdeur tot Donderdag is dit skool toe, swem toe, huiswerk, bed. En dis wat ek elke dag doen.

(trippel op tone, baie opgewonde) Maar wag Vrydag, Vrydag is ook nog daar!

(klink verlig) Ja Vrydag, 'n bietjie tyd vir myself om aandag te gee aan my poppe!

(geïrriteerde stemtoon en arms om lyf gevou) Toe onthou ek, Vrydae kom eet Ouma en Oupa mos by ons dan moet ek heel middag by Mamma staan en kos maak.

(opgewonde) Maar Saterdag!

(vries met hand in die lug en staar vir 'n oomblik na die dak, in 'n hartseer stem, arms sak stadig tot langs sye) Ag, nee! Op Saterdae is dit dan die een kompetisie op die ander en teen die tyd wat ek by die huis kom het (vryf oë) Klaasvakie lankal sandjies in my ogies gestrooi.

(arms gevou) Sondag… wel Sondag is dit vroeg opstaan, kerk toe, huis toe, eet en leer, leer, leer!

(val plat op sypaadjie neer, moedeloos) Ek wil nie meer nie, al my maaitjies dink ek is 'n vis, want al wat ek doen is swem.

(groot  oë en arms in die lug) Ek! Ek!… ek wil ook aan iets eksoties deelneem soos, soos om te dans!

(staan op en voer dans passies uit) Ja, 'n danser so soepel soos… ag nee wat van om eerder 'n seevaarder te word!

(dink na) Of liewers nie Mieke, as ek 'n seevaarder word is dit terug na water toe.

(vou hande agter rug) Wat van 'n…

 (opgewonde) Ek het dit! Ek wil aan drama deelneem, 'n aktrise, soos Charlize Theron. Ja, dit klink perfek!

(vat aan hare) Dink net my lang hare (verbeel jouself in die rok) in 'n spierwit aandrok, op die rooi tapyt en al die ligte, aandag en kameras is (gooi hande in lug) op my.

(sit hand soos 'n bakkie agter oor) Al wat jy hoor is my naam, Mieke, wat almal uit roep!

(gevoude arms) Ag toe-toe, skrik tog net wakker, Mieke, al wanneer jou naam uitgeroep sal word is wanneer jy alweer moet swem vir 'n goue medalje!

(gaan sit weer plat) Mamma sê drama is vir mense wat graag skouperde wou wees, hulle en modelle soek net een ding en dit is aandag, en dat swem by my pas!

(rus ken op hand) En dit help nie eers om met Pappa te praat nie, hy fokus net op swem, swem, swem …

(staan op en loop na linker kant van gehoor) Miskien moet ek weer met Mamma en Pappa oor die swem.

(lyk geloofwaardig) Ek is tog al 'n jaar ouer en weet mos vir swem is ek nou moeg.

(loop na regterkant van gehoor en waai vir ma wat aangery kom)

Vanaand sal ek Mamma-hulle bietjie besigheid gesels.

(ligte verdoof en beweeg van verhoog af)

DIE EINDE

Kopiereg: Liné Olivier

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

Die storie is geskryf deur
Liné Olivier. Liné is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Kopiereg
Liné Olivier

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015