2004-07-01

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
"Ever after"
Anneretha Combrink

Monoloog: Gr 9-11
Karakter:
Sanri

Agtergrond: Sanri is 17 jaar oud, spontaan en lief vir mense. Sy het 'n broer en bly in 'n voorstad van 'n groot stedelike gebied. Sy is lief vir dans en sport, asook vir kuier saam met vriende. Sy dink nie altyd voor sy iets sÍ of doen nie, is 'n ekstrovert, en sÍ altyd presies wat sy dink. Sanri hou van lag, maar sy is ook 'n redelik emosionele mens wat vinnig hartseer of kwaad word. Sy haat dit as mense voorgee of arrogant is - syself en haar gesin is baie plat-op-die-aarde.

"Ever after"

(Sanri op 'n kontinentale kussing voor op die verhoog. Praat oor die telefoon).
"Hallo, Sanri wat praat. (Vriendelik:) O, haai, jy soek seker my broer. Hy's weg . . . na Jolinda toe. O, die Afrikaans? Laat ek net gou dink. . . Ons moet mos Kringe in 'n Bos Hoofstuk 4 lees. O ja, en 'n opstel skryf. Oor 'My droomnaweek'. Ek weet! So oorspronklik mens kan mal raak! (Teken prentjies op 'n skryfblok terwyl sy praat). Het Liela al kleintjies gekry? Regtig - vyf! Ag jinne . . . dalk maak ek later 'n draai! Okay, baai Tjip . . ."

(Sit telefoon neer; dra kussing na waar venster kamma is. Gaan sit kruisbeen en staar na 'buite'. Begin skryf, praat hardop . . .)
"My droomnaweek. . . " (Kyk op), ". . . was nie hierdie naweek nie! Hierdie naweek was 'n nagmerrie!" (Sug, en staar na die gehoor). "Hoe vertel mens in 'n bladsy van 'n gebeurtenis wat eeue lank gevoel het? Sal maar probeer . . ."

Verlede week het Tannie Miets van langsaan kom vra of ek nie asseblief Saterdagaand na Ilse sal kyk nie; sy en die Oom het 'n funksie. Ek wonder toe waar is die 'Honourable Sewentienjarige Sir' van die huis, maar sê liewers niks. Ek sê net ewe vriendelik dit sal nie 'n probleem wees nie. Maar eintlik kners ek op my tande; Ilse is die ergste spoilt brat wat ek nog ooit ontmoet het. En ek ken nogal 'n paar . . . soos byvoorbeeld haar broer De Wet, 17 en hoofseun van ons skool. Hy is glad nie 'n lelike ou nie - hy't beautiful . . . (val haarself in die rede) maar hy dink hy's die Sonkoning en al wat 'n girl is, moet die grond waarop hy loop aanbid. Wel, hy sal laaank wag as hy dink ek gaan ooit in híérdie bestaan ophou om hom te ignoreer. Of . . . so het ek gedink.

So kom Saterdagaand toe. Ma-hulle is ook weg, en toe dit vyfuur raak, stap ek oor die straat na die Malans toe. Behalwe vir Ilse, gee ek nie baie om om daar te babysit nie. Hulle het DStv, Mnet, CD's vir Afrika en dvd's vir die hele wêreld. Daar's Internet, en 'n swembad vir die somer. Mens kan jouself lank besig hou, en dit geniet!

(Staan op; maak 'voordeur' oop, kyk half bekommerd in die lug op).
Toe ek ons voordeur oopmaak, is dit skielik bedruk buite. Die lug is loodgrys, en ek weet sommer: Hier kom 'n storm. Ek weet ook hoe bang Ilse vir donderweer is. My moed sak in my skoene - dit gaan 'n láng aand wees.

(Druk interkom voor Malans se hek). "Hallo Tannie, dis Sanri. Dankie . . ."
Nadat Tannie Miets vir die duisendste keer vir my alles van die alarm en 10111 en hulle selnommer en die brandblusser en "Oppas tog vir Ilse by die swembad" ingeprent het, is hulle oppad. (Sug verlig, maak denkbeeldige deur agter hulle toe). Dáár is nou vir jou 'n vrou wat volledig op haar man se kop sit! Oom Jaco tjieep net so nou en dan, verder maak hy net geld.

Nou ja, die eintlike storie gaan nie oor hoe lank ek gesukkel het om vir Ilse in die bed te kry nie. Dis 'n nagmerrie vir 'n ander dag. Die dinge het begin skeefloop ná sy gaan slaap het. Ek sit ewe lekker opgekrul voor die TV (gaan sit op kontinentale kussing, werk met 'afstandbeheer') en kyk "Ever After" Lekker soppy, maar toemaar. Meraai, die kat, is langs my. Sy spin rustig. Die fliek maak klaar. Ek re-ek my uit.
"Ja, Meraai, my dier, dis ook net in Hollywood waar mens prinse kry wat nie blêrrie pampoene is nie! Ek sê jou, in hierdie geweste is daar nie eers 'n halwe ou wat 'n bietjie ruggraat het nie!" (Gee die kat 'n stywe druk, sodat sy verwoed miaau).
"Jammer man! Wil jy bietjie koffie hê?" Dis duidelik dat sy nie wil koffie hê nie. Sy wil net daar op die bank lê en slaap - gevrek!

Maar skielik hoor Meraai iets. Een groen oog gaan oop. Ek hoor dit ook. 'n Geluid in die kombuis. Dis by die venster! Klink soos 'n geritsel, 'n geskuifel . . .iemand probeer die venster oopkry! Wat moet ek doen?! Waar's die alarm nou weer? En wat het ek met daai selnommer gemaak?! Ek is blank, gevries, my lyf wil nie beweeg nie. Meraai het lankal die pad gevat - sy los my net hier alleen!

Dit het nou begin reën buite, en die weer rammel. Dit ook nog! As Ilse noou wakker word . . . en wie ook al by die venster is kry dit reg om in te kom . . .wat gaan ek maak?! Ek hoor dit weer. Daar ís iets, of iemand. Dis 'n moordenaar, 'n psycho-killer . . . hy's by die voordeur, daar hamer hy aan die deur! (Het opgespring, kyk na waar 'deur' is, lyk vasgekeer en baie bang).

Ek moet 'n wapen kry! (Sien hokkiestok op grond lê, gryp dit). Ek gaan dit nie só maklik vir hom maak nie . . .(onderdruk 'n gil as sy 'n skaduwee by die venster sien).
Daar's 'n gesig!! Ag hemel, niemand sal my hoor as ek gil nie; die donderweer . . .wag ek kan huis toe bel! (Gooi hokkiestok neer, tel denkbeeldige telefoon op. Luister, plak dit neer).
Die lyn is dood. Dis die swaar weer . . .(klink desperaat. Tel weer hokkiestok op, beweeg in rigting van 'gang', na waar kombuis is. Praat haarself moed in:)
Nee. Nee. Nee! Ek weier om nou dood te gaan. Ek wil nog trou, en kinders kry . . .en . . .(gil skielik, slaan iemand baie hard, 'n paar keer, stoei met denkbeeldige aanvaller).

Los my! Nee . . .eina! (Slaan nog een harde hou met hokkiestok, laat val dit dan skielik. Buk verslae langs 'aanvaller').
De Wet! Ag jimmeltjie tog! Is jy oraait? Nee, jy is nie - kyk hierdie knop! O genade, hy's lights out. Moenie doodgaan nie, asseblief, ek smeek jou. Ek is sooo jammer! Wat het ek aangevang? Hy gaan my rêrig vermoor! (Gaan sit langs hom, streel oor sy hare. Ruk haar hand skielik terug).
Hallo. Nee, jy's nie in die hemel nie! Hoe voel . . . is jy oraait? (Luister)
Ja, maar vir wat breek jy by jou eie huis in elfuur in die aand? Uitgesluit? O . . .
Hmmm. . . (giggel, en vat aan die knop op sy kop). Jy lyk nogal weird. Kom, ek help jou bank toe. (Stut hom tot by kussing. Gaan sit 'langs' hom).

('n Rukkie lank ongemaklik stil. Kyk rond, orals op verhoog).
Nee (lag half) . . . sê jy maar eerste.
Ja, dit reën nou erg. Hoor hier, ek's rêrig jammer, oor jou kop bedoel ek. Ek het nie geweet . . . (luister)
Ag! (lyk skaam). Wat bedoel jy, as ek jou nie so hard geslaan het nie, sou jy nooit geweet het my oë is so groen nie? Wel, nou weet jy . . .

(Sug, staan op, draai eers haar rug na die gehoor toe, en kyk dan vir hulle).
Hierdie naweek wás 'n nagmerrie. (Buk en tel 'n pienk roos op. Draai dit tussen haar vingers). Maar toe verander dit in 'n droom, en toe word die droom 'n sprokie . . . De Wet het dit vir my gegee (ruik aan die roos, lag skielik).
Wat sal die mense sê as hulle hoor ek het my prins van sy perd afgeslaan met 'n hokkiestok?! (Lag.) En as hulle hoor ek gaan saam met 'n ou matriekafskeid toe wat 'n reënboogkleur-knop op sy kop het - so groot soos 'n tennisbal!
(Draai 'n paar keer in die rondte, maak of sy dans.)
Ek weet nie. Maar ek weet wat ék sal sê: And they lived happily . . . ever after. The end.
(Dans stadig in die rondte, so of met 'n balrok, van die verhoog af.)

Kopiereg: Anneretha Combrink

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012