2013-05-22

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Graad vir Mamma
Lynthia Julius

Monoloog: 18+
Karakter:
'n Twintigjarige student.

Stel: Die stuk speel in 'n koshuiskamer af. Lessenaar en studielampie. Handboeke, 'n boek om in te skryf en skryfgoed.

Taal: Hierdie monoloog is ook in Noordkaapse streektaal geskryf - beskikbaar in fonetiese weergawe: Van ik is hier om vir jou grad te vang, Mama.

Graad vir Mamma

(Sy sit by ’n lessenaar. Dis pikdonker en net die studeerlampie is aan. Sy sit die lampie af en die verhoog ligte gaan stelselmatig aan.)

Want ek is hier om vir jou graad te vang, Mamma.

(Maak boeke toe en staan van ’n lessenaar af  op. Loop tot voor op die verhoog.)

Omdat ek kan swot en die room van ons straat is. (Sê dit baie trots)

Want jou oudste kind leer mos vir ’n dik ding, om eendag vir haar ma te kan werk.

(Bly eers stil en dink terug.)

En ek onthou jou woorde soos gister, toe ek by die huis kom huil oor die mense in ons straat sê ons hou ons beter, omdat ons by die witmense se skole skoolgaan en oor ons twee voertuie het. Jy het gesê bid vir hulle my kind, want die Liewe Vader soek nie bitterheid in ons harte nie. Ek het vir hulle gebid, maar snags alleen gehuil oor die bruin kinders by die skool sê ek is ’n ‘coconut’, bruin buite en wit binne.

 (Glimlag)

Ek onthou jou gebed wat jy vir ek en Noenies elke aand op ons knieë voor die Meester laat bid het.

(Bid dit soos ’n kind)

Lei my op die regte pad. Wil dan ook my handjie vat. Help my Heer, van ek is klein. Neem my hartjie in hou dit rein. In Jesus naam, Amen.

Al het jy soms na Stuyvesant geruik en was jou eelthande koud, het jy ons nag kom soen. Vir ons liedjies gesing van dwergies met oë van diamante en stoeltjies van fluweel. Elke plooi in jou gesig was vir my ’n kuns, die moesie bo jou lip, ’n wêreld wonder. Jou oë was vol sterre. Jou stem, my kombers teen die koue.  Jy het my vertel van hoe ons dankbaar moet wees oor die Here ons so seën.

(Hartseer)

 Maar Mamma, ek het jou snikke snags, in die badkamer stil gehoor. Hoe jy jou seer en kommer voor God uitstort. Want jou huwelik was nie altyd goed nie en party aande het jy net melk in jou huis gehad, maar iewers het jy custard uitgekrap en dit vir jou kinders gemaak. Ons eie stukkie hemel. Jy was ’n vegter, Mamma, al het jy nooit met Pappa baklei nie. Jy was my ma, jy was my vriendin, jy was nog altyd my beter ek.

Jy het gesê ek moet droom en ek het.

(Opgewonde)

Van teaters en mense wat my boeke koop. Van digbundels en groot huise by die see. Van lag en heel wees en ’n reisiger skrywer word.  Van my handtekening op al wat ’n boom is in die jaard maak, want eendag gaan dit baie werd wees.

(Koud)

Toe word ek skaam toe die mans wat ek teen die pad liefkry  en vriendinne vir wie ek dit vertel, vir my lag en sê, bruinmense droom nie van daai goed nie. Ek moet van my wolk af klim en liewer saam met hulle Sewende Laan gaan kyk. 

Hulle is almal na die Universiteit van Spar, kamma om net vir die vakansie daar te werk. Hier is dit twee jaar daarna en hulle sit nog steeds daar, mak of hulle my nie sien as ek brood  en melk vakansietye loop koop.

Ek is hier om vir jou ’n graad te vang, Mamma.

Al kan ek nie saam met die ander kleurlinge studente sentrum toe stap en my studentekaart gaan swipe, vir etes wat hul NSFAS- beurs voorsien nie. NSFAS sê Pappa se salaris is te hoog. Ek wonder of hulle in die yskas kom kyk het as daar net koue water, jam en ’n koppie liefde was.

Ek is hier om vir jou graad te vang, Mamma. Sodat die swaar vir ons koebaai sal sê en die skuld minder ons geld eet. Jy het gemeen ek hoor nie hoe jy please explain vir die skuldmense as hulle jou bel en uitskel oor jy nie jou paaiemente kan betaal nie. “My dogter is op universiteit” het jy gefluister. Jy het bye gesê en doodstil aangegaan in die kombuis. Besig om suurdeeg te knie, om vir jou gesin brood te bak. Nie een keer gekla oor die eelte op jou voete en die pyn in jou hart nie.

(Praat soos haar ma)  My dogter studeer sielkunde in Engels. Ja.
(asof sy met ’n ander persoon praat. Spoggerig.)
Die eerste een in die familie. Sy studeer daar in Potchefstroom.

(Ernstig)

As jy vanaand bel en vra hoe dit gaan, sê ek goed in ek het lekker geëet, al sus die hongerpyne my soms in die donker aan die slaap. Want ek weet as ek jou sê ek het niks, kan jy vanaand weer  jou bord kos nie afkry nie. Of jy loop werk weer ekstra skofte, om vir jou kind sakgeld te kan gee. Jy het my geleer niks kom maklik in die lewe nie en “Your life is the only Bible some people will ever know.”

Partykeer glo ek nie meer in die goedheid van die mens nie, Mamma. Want die meisies in my koshuis loop met hulle blikkies kosse verby dié wat langs hulle in die koshuis bly, dié wie dit broodnodig het en loop gee dit  liewer vir liefdadigheidsprojekte waarby die koshuis betrokke is. Hulle praat met jou van buite jou kamerdeur, maar gaan in by die swart en bruin skooltjies om met die kinders daar te gaan speel.

Skaamte hou my van aan die Primaria se kamerdeur vir blikkieskos en two minute noodles klop. Want verleë wees is nie ’n lekker ding nie. In brood en tee elke aand het nog nooit iemand dood gemaak nie.

(Bly eers lank stil en gaan dan op haar knieë)

So ek kom maar op my knieë in sê vir jou Here, dankie.

Ek sal my graad vang, Mamma.

Vir jou vang, Mamma.

Want jou offer vir my was groot. Ja, Mamma, ek het hulle gesien. Die hope wat jy onder in jou kas begrawe het. Jou godgegewe talent. Die boeke vol gedigte, die verhale wat ek weet pryse sou wen.

Jy het hulle vir die Meester loop offer toe jou eerste kind gebore word. Gesê Meester, gee hulle liewer vir my kinders. Jou gebed was eg en jou hart was rein. Toe los jy jou droom van skrywer wees om jou kind  te nasien en het by Shoprite gaan werk. En jy het nie een keer gekla nie. Nooit applous of erkenning gekry nie. Jou meesterstukke net snags, as jy gemeen het ek en Noenies slaap, vir ons voorgedra. Jy het ’n vuur in my aangesteek wat geen armoede of swaarkry ooit sal kan blus. Jy is my Dalene Mathee, Mamma  my beste Antjie Krog. My ma, my vriendin, my ewige beter ek.

(Stap terug na die lessenaar en gaan sit agter haar boeke. Skakel die studeerlampie aan en sê trots terwyl die verhoogligte verflou.)

So, jou oudste dogter is hier om vir jou graad te vang, Mamma. Die een wat sy weet jy twintig jaar terug, moes kry.

(Gaan aan met skryf en lees uit die boeke op die lessenaar.)


Kopiereg: Lynthia Julius 2013

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Lynthia Julius. Lynthia is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.

Kopiereg Lynthia Julius.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013