bygewerk 2004-08-01

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Wil jy nie koeksisters koop nie?
Franci Greyling

Monoloog: Gr 5-7
Karakter:
Manda, 'n 12-jarige meisie wat koeksisters verkoop. Situasie: Toneel speel af op die sypaadjie voor 'n winkelsentrum. Manda verkoop koeksisters aan die verbygangers op die sypaadjie. Die meeste mense loop net verby of soek 'n verskoning om nie koeksisters te koop nie. Wanneer sy met die mense praat, is sy baie vriendelik. Sy speel egter bietjie toneel as sy dit verkoop, want die situasie frustreer haar. Sy word ook maklik kwaad as haar skoolmaats haar terg.(Sy staan met die mandjie wat swaar word sodat sy dit 'n keer of wat na haar ander hand moet versit.)

Wil jy nie koeksisters koop nie?

(MANDA STAAN, KYK VIR DIE MENSE, HEELTYD BESIG OM MENSE TE NADER OM KOEKSISTERS TE KOOP. SY HOU ELKE KEER 'N SAKKIE OP EN GLIMLAG VRIENDELIK.)

Tannie ... ek wil nie pla nie ...
(DIE SIN RAAK BIETJIE WEG, OMDAT DIE VROU NIE AAN HAAR AANDAG GEE NIE. MANDA KYK DADELIK ROND OM TE SIEN WIE SY NOU KAN VRA.)

(PRAAT MET 'N HOND OP DIE SYPAADJIE.) Hallo Hond! Waar loop jy rond, jong?

(NADER WEER DIE VOLGENDE PERSOON.)

Wil tannie nie koeksisters koop nie? (SY LOOP 'N ENTJIE SAAM MET DIE VROU. DIE VROU IS HAASTIG EN KYK NIE EINTLIK NA MANDA NIE.) Dis net tien rand 'n pakkie. (LUISTER) Tannie eet nie koeksisters nie? Sal tannie se man nie ... (KRY 'N AFJAK.) 'Skuus tannie ...

(GLIMLAG.) Lekker koeksisters, oom. Dis net tien rand 'n pakkie. (LUISTER.) O, het oom nie nou soveel geld nie. Dis reg, Oom, ek sal môre ook hier wees.

(ARM WORD MOEG. RUIL DIE MANDJIE OM NA HAAR ANDER HAND.)

(GLIMLAG.) Lekker koeksisters. Dis net tien rand 'n pakkie. (LUISTER.) Nee... dis vars gebak. Gister. (LUISTER.) Bietjie klein? (MAAK 'N PLAN:) Jy kan dit kry vir agt rand. (LUISTER.) Ja, ek het kleingeld. (NEEM NOOT EN SOEK KLEINGELD IN HAAR SAK, KEER KLEINGELD UIT EN OORHANDIG 'N PAKKIE KOEKSISTERS.)

(TEL DIE PAKKIES IN DIE MANDJIE.) Twee, vier, vyf, sewe, agt, nege, tien. Nog tien pakkies oor. Honderd rand - as ek alles verkoop kry. Ma sal bly wees.

(STAAN NOG EN RONDKYK - SPRING DAN VINNIG UIT DIE PAD UIT.)
Simpel! (KYK AGTERNA.) Mens ry nie fiets op 'n sypaadjie nie! (ROEP AGTERNA.) Dis ook net jy, André! Weet nie van beter nie, nê! Simpel!

(PROBEER HAAR ORE TOEDRUK, MAAR DIS MOEILIK MET DIE MANDJIE WAS SY VASHOU) Ek hoor jou nie! Ek hoor jou nie! Sussie met die koeksisters, Sussie met die koeksisters!

(SY SKUD HAAR HARE AGTERTOE.) Maak of jy hulle nie hoor nie, sê Ma. (WORD DRIFTIGER.) Dis nie so maklik nie! Hulle hou so aan en aan. Pouses en in die klas en op die stoepe - altyd as die onderwysers weg is. Altyd waar net die kinders hulle kan hoor: Sussie met die koeksisters, Sussie met die koeksisters!

(SY RUK HAAR REG AS DIE VOLGENDE MENS NADER KOM.) Wil tannie nie koeksisters koop nie? (LUISTER.) Tannie het ook kinders in die skool? Dis nie vir die skool nie...

(NADER VOLGENDE PERSOON.)

Oom ... ek wil nie pla nie ... (DIE SIN RAAK BIETJIE WEG, OMDAT DIE MAN NIE AAN HAAR AANDAG GEE NIE. LAAT SAK DIE MANDJIE WAT SWAAR GEWORD HET. SY GAAN SIT MOEGERIG MET DIE MANDJIE LANGS HAAR.)

(PRAAT NA DIE GEHOOR TOE.) Nee, dis nie vir die skool nie. Dis vir onsself... dat Ma die huur kan betaal. Die hele karavaan ruik al na koeksisters - na olie en suikerstroop. (SY PRAAT ASOF SY ANTWOORDE VIR DIE VERSKILLENDE MENSE GEE.)

Dis vars oom, regtig. Ma het dit self gebak. As ek en Bennie wakker word, dan het Ma klaar die deeg geknie en gesny - reg dat ek die koeksisters kan vleg. (MAAK DIE BEWEGING SOOS MENS KOEKSISTERS VLEG EN VASDRUK.) Maar sy wag met die olie tot ons skool toe is. Sy's bang Bennie brand. En as dit gebeur, sê Ma, is daar groot probleme. (TREK HAAR SKOUERS OP.) Ma is nog erger nadat die tannie van die welsyn by ons was.

Hulle het agter in die jaart gestaan en gesels, sy en Ma, toe ons van die skool af gekom het. Dis mevrou Conradie, het Ma gesê. Sy kom net kyk hoe dit met ons gaan.

(JAAG 'N HOND WEG.) Sjoe! Voertsek hond. Jy kan nie die koeksisters eet nie! Gaan bedel op 'n ander plek!

(PRAAT WEER MET DIE GEHOOR - Opmerking: Sy kan dalk ook met die hond praat - besluit self.) Sy wou alles weet, die vrou met haar lêer en deftige hare. (BEDUIE) Of ons die oggend geëet het, of ons 'n broodjie skool toe kry, waar ek my huiswerk doen. (SKUD HAAR KOP.) Waar anders! By die tafeltjie in die karavaan - nadat ons Ma gehelp het om die sakkies te pak. Mens se hande word so taai. (LEK VINGERS AF.) Eers het ons daarvan geëet ook, maar nou nie meer nie. Naderhand eet mens dit nie meer nie. Maar ek weet dis lekker. (KNIK KOP)

Ma het haar 'n sakkie koeksisters gegee - vir die vrou van die Welsyn. "Dis tien rand, Ma!" het ek nog gesê toe die tannie in haar kar klim, "en Ma sê altyd suiker en olie en meel is so duur. En ons moet nog die gas ook betaal!"

(SKUD HAAR KOP.) Ma het net haar kop geskud en ons styf vasgehou. Sy het nie gepraat nie. Sy het eenkant toe gekyk, sodat ons nie kan sien dat daar trane in haar oë is nie.

Ma probeer wegsteek dat sy huil. Sy het gehuil toe Pa sy werk by die myn verloor het en omdat hy so baie gedrink het en ... en toe hy eendag net weggeraak het. Sy't gehuil toe ons uit die huis getrek het. (SIT BIETJIE EN DINK - TREK DAN HAAR SKOUERS REGOP.) Maar toe het sy nie meer gehuil nie. Sy sê ons sal regkom. Ons sal mekaar help. Sy maak mos staat op ons, sê sy. (SY SNUIF. STAAN OP EN VAT WEER DIE MANDJIE ASOF SY NUWE MOED HET.)

(GLIMLAG.) Lekker koeksisters, oom. Lekker koeksisters, tannie.

Lekker koeksisters, oom. Dis net tien rand 'n pakkie.

Tannie ... ek wil nie pla nie ...

(KYK BY DIE VROU VERBY.) Agge nee! Daar kom André weer. (PROBEER UIT DIE PAD UIT STAAN, MAAR ANDRé GRYP NA DIE MANDJIE. DIT PLUK HAAR VORENTOE EN DIE SAKKIES VAL UIT OP DIE SYPAADJIE.)

Haai! (SKRIK.) Simpel! Simpel, André! Kyk wat het jy nou gedoen! Al die pakkies het uitgeval.

(NABY AAN TRANE. KNIEL OP SYPAADJIE OM DIE PAKKIES KOEKSISTERS WAT VERSPREID OP DIE SYPAADJIE Lê OP TE TEL. VAN DIE PAKKIES HET OOPGEBARS.) Kyk hoe stukkend is die sakkies! Die koeksisters is almal pap!

(RAAS MET 'N HOND WAT NADERKOM.) Voertsek hond, jy kan nie hiervan eet nie! (GOOI 'N KOEKSISTER EENKANT TOE.) Nou goed, gaan vreet dan maar! Niemand kan dit tog nou eet nie.

(TEL AL DIE PAKKIES OP EN SIT DIT IN DIE MANDJIE TERUG. SIT 'N OOMBLIK SO EN LOOP DAN MOEDELOOS VAN DIE VERHOOG AF.)

(NET VOOR SY VAN DIE VERHOOG AF IS, STOP SY AS IEMAND MET HAAR PRAAT.)

Oom? Was dit lekker koeksisters, oom? Dis reg, Oom. (KYK NA DIE GEHOOR, TREK HAAR SKOUERS REGOP) Ek sal môre ook hier wees.

Vir MM
Kopiereg: Franci Greyling

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012