2016-07

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Kopskoot
Roné van Wyk

Titel: Kopskoot

Monoloog: 15+

Karakter:  'n 15-jarige seun met skoolklere aan. Hy is duidelik sportief en kom moeg voor terwyl hy 'n polisieverklaring vir die hoeveelste keer aflê. Hy onderdruk frustrasie en beduie met sy hande terwyl hy praat.

Stel: Die verhoog is leeg behalwe vir die seun wat in die middel daarvan staan, maar 'n entjie weg van die punt van die verhoog af. Die kollig verlig hom.

Vir Saron

Dit was net daar. Toe ek die deur oopmaak, tref die metaalreuk my soos 'n vuishou in 'n skrum.

Hel, ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek is 15 jaar oud. So toe la’t val ek my skooltas voor die deur en stap, soos die fóól wat ek is, kombuis toe. (vryf oor sy oë)

Ek het nie geweet waar hy is nie. Dit was maar net instink. Ek kom by die huis, (verduidelik met sy hande, palms oop na die gehoor, asof hy na 'n denkbeeldige tas en kombuis wys) gooi my tas neer en gaan soek kos.

Sy is altyd daar. Partykeer is sy besig met aandete, partykeer gooi sy net 'n piesang. Maar vandag was die kombuis leeg.

Ek het nie eers daaraan gedink dat iemand nog in die huis kan wees nie. Hel, ek het nog nie eers verseker geweet iets is fout nie... maar ek kon dit ruik. So, toe roep ek haar. My ma, maar sy’t nie geantwoord nie.

Ja sure, (maak 'n snorkgeluid) sy het nog nooit die beste werk gehad nie en die depressie sukkel maar van tyd tot tyd, maar sy’s altyd daar. (selfversekerd) Al is dit met Prozac in die hand.

(Die seun wag asof op ʼn vraag) Wat doen mens? Waar begin jy soek? Loop jy agter jou neus aan sitkamer toe, of hoop jy maar vir die beste en gaan soek bo - in haar kamer? (hy haal sy skouers op, laat sak sy kop en vee weer oor sy oë, asof die dit hom moed gee om aan te gaan)

Toe klim ek maar die trappe. Ek bedoel, wat het ek om te verloor? Of sy is daar… (sluk asof die volgende woorde vassteek in sy keel) of sy is nie.

(Begin weer verduidelik met sy oop palm, een hand in sy broeksak) Haar kamerdeur was 'n skrefie oop. Nie so dat ek kan insien nie, maar genoeg dat die gang nie te donker is nie. So, toe gaan ek in. (Bly stil  en luister asof  iemand met hom praat. Skud dan sy kop en sê effens ongeskik) Nee. Ek het mos gesê ek’t niks gesien nie. Die deur was net 'n skrefie oop. Dis nie vreemd nie, sy los alewig die blerrie deur oop. (vee weer oor sy gesig asof hy sy woede probeer onderdruk en vertel dan kalm verder) Daar was niks nie. Die bed was opgemaak. Ag, haar goed lê maar altyd rond, maar niks anders as die usual nie.

(Haal hoorbaar diep asem) Hel, miskien moes ek net daar gestop het. Na my kamer toe gegaan het en als gelos het. So what? (haal weer skouers op, skyf sy gewig van die een voet na die ander) miskien is sy net laat. Dit het nog nooit gebeur nie. Ek bedoel, 4 uur is ver van 5 uur af. As sy laat is, is sy nog steeds voor my daar. But it could happen (probeer homself oorreed. Los dit dan en vertel verder)

Maar ek kon nie. (lyk moedeloos) Die vrees…(beduie niksseggend) die vrees was net te veel. (Kyk die gehoor uitdagend aan) Ek speel rugby. Ek het al my fair share van bloedmonde en oop wonde gehad. Ek weet wat ek ruik.

(bly weer stil en luister na die denkbeeldige stem) Nee, sy werk nie ver van die huis af nie. Die kliniek is so vyf kilometer weg. Die dagmatrone kom laai haar altyd af. Hulle skofte eindig op dieselfde tyd.

(die stem antwoord hierop en die seun kyk af asof hy na die vraag luister) Joyce, dink ek. Ma het nooit haar van genoem nie. Hulle werk seker al twee, drie jaar dieselfde skof. Dink dit was al. (klink onseker)

(vir 'n oomblik is daar stilte en die seun gee 'n tree op sy plek voor hy weer oor sy gesig vee en moeg antwoord) So, toe loop ek sitkamer toe. Dis nie asof ons huis só groot is dat daar baie plekke is om te kyk nie. En my kamerdeur sluit ek. (haal sy skouers op)

Toe ek in die sitkamer instap, toe lê hy daar. (maak sy oë 'noomblik toe asof hy die beeld nog kan sien en lig sy ken effens. Dan keer hy terug na sy oorspronklike posisie en beduie met sy hande) (sag en kalm) Hy’t langs die koffietafel gelê. Die bloed was al amper droog op sy kop.

(Die woorde los 'n bitter smaak in sy mond) Die ou wat my ma heeltyd gepla het. (sê die volgende woorde met woede, wys met sy wysvinger na die gehoor) Die een wat ek by die rugby wou moer oor hy oral opdaag met sy kaartjies en geskenke (woede begin bou en hy gee 'n paar frustreerde tree in elke rigting) – selfs na sy vir hom gesê het sy stel nie belang nie. Hy’s gross, man. Maklik 20 jaar ouer as sy. En ʼn nikswerd, sy kan beter doen as hy.

(Nou is hy behoorlik kwaad, hy hou op loop om te luister na die stem en ontplof dan) Ek kon bleddie hel sien dis hy! Ek’t nie nodig om aan die gemors te vat nie. Hy dra elke dag daai verdomde vuil broek! (Hy haal hard asem en loop van kant tot kant oor die verhoog, sy houding is een van aggressie terwyl die stem praat)

Ek weet nie waar sy is nie, okay? Ek het jou al gesê en gesê, maar jy verdomd luister nie. EK. WEET NIE. WAAR. SY. IS NIE. (hy spoeg die laaste woorde na die gehoor toe uit en gaan staan dan stil.)

My Ma (hy klop hard met sy vingers teen sy eie bors) sal nie haar lewe weggooi om daai gemors te skiet nie. Sy is nie 'n moordenaar nie. Innocent ‘till proven guilty. Is dit nie hoe dit werk nie?

(Hy bly 'n oomblik stil en vryf deur sy hare dan laat val hy sy hande langs sy sye in moedeloosheid) Sy is my ma. (pleitend) Julle is die polisie. Julle móét haar kry. Dis júlle werk.

(Stilte hang vir 'n oomblik, voor die seun saggies, maar pleitend antwoord) Asseblief, julle moet haar kry. (Die kollig doof uit oor die seun se desperate liggaam en die pyngreep op sy gesig.)
(oorwonne) Julle moet. Sy bly my ma.

 


Kopiereg: Roné van Wyk 2016

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Roné van Wyk. Roné is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.

Kopiereg Roné van Wyk.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016