2016-08

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Want my ma hou van rugby
Kimon Fritz

Titel: Want my ma hou van rugby

Monoloog: 10+; Gr 4-6

Karakter: 'n Jong seun van ongeveer 10 jaar staan in die middel van die verhoog met 'n rugbybal in die hand. Hy is kaalvoet en dra 'n rugbytrui. Voor hy begin praat, haal hy eers sy mondskerm uit. HGy lyk terneergedruk en effens ontsteld.

Want my ma hou van rugby

Nou, ouens laat ek vir julle een wille ding vertel ('n kort stilte). My ma is dol, been af, heeltemal gek… (kort stilte) na rugby. (Sug) Ja, ja, elke ma is mal daaroor om te kyk na haar kind as hy of sy 'n doel gooi of drie druk of 'n ses slaan in krieket, en ja, elke ma raak 'n bietjie luidrugtig as hulle kind die een is wat die span laat wen.

Maar my ma, my ma raak kranksinnig. Nie net as ek iets verkeerd of as ek 'n drie druk nie… nee (skud sy kop en lag half bitter onder sy asem). Sy skreeu vir die ‘ref’, vir die ander span, vir die dominee, vir die onnies, vir my en dan sommer my pa ook. "Ag nee, goeiste, Jannie, druk nou man!" (hy stamp sy voet en hou sy hand by sy mond asof hy harder wil gil. Sy stem is hoër as vroeër en hy maak sy ma na) "Go Jannie!...GOOOOOO!" en dan, dan raak sy eers opgewarm. Sy staan dan sommer penorent op daardie paviljoen en die hande swaai (hy swaai sy hande) kompleet soos 'n windmeul of 'n ligtoring in die verte. “Haai ou…” laat my spanmaats hulle dan hoor, “jou ma hou baie van rugby”. Ja, ja liewe vriende my ma hou baie van rugby. (Skud weer sy kop en gooi die bal een of twee keer op en af).

Sien, my probleem is nie die ondersteuning nie… my probleem met haar geskreeuery het begin toe sy die PEEP (hy maak 'n ‘peep’ geluid na) woorde gebruik. (Sit die bal op die vloer neer, hy fluister half en kyk rond asof hy nie wil hê iemand moet hoor nie). Die vrou raak baie behep met die PEEP woorde, veral as die ander span vuil speel. Man, as my lewe 'n strokiesprent was, sou dit kompleet met daardie sterretjies en kruisies wees in die praatborrels. ('n rukkie stil asof hy dink)

Eendag staan sy mos op en dreig om self die spel klaar te speel. “Jy luister nou baie mooi vir Mamma, Jannie, (maak sy ma na) jy wys daai skepsels! (beduie in die gehoor in met 'n frons) GO, Jannie, Mamma sê mos, go! (druk vuis in lug op). Ref, jy beter blaas as daardie bullebak weer so stamp… (wys ‘I’m watching you’). Komaan, Piet, jy kan beter… Tannie sien jou, Johan…GO … GO … (waai vuis vir aanmoediging) Ag nee, liewe Aarde, ek kan beter as dit! Jannie, as daai kind weer so aan jou stamp kom ek self na daai veld toe en wys hulle hoe dit gedoen word!”

(maak sy oë toe met sy hand en skud sy kop) Ons almal het toe ekstra hard begin speel, voluit vir die trots van ons skool, ons name en sommer ons ma’s ook.

Almal ken my ma. (Knik sy kop op en af met groot oë). Ouens, julle verstaan nie my pyn nie. (Uitdrukkingloos met arms gevou en skud sy kop in wanhoop) Almal ken (wys aanhalingstekens in die lug) ‘tannie-Jannie-se-ma’, of ‘die-tannie-wat-rugby-love’. Sy bring ook altyd Energade en lemoenskywe vir Afrika en die ouens geniet natuurlik die gratis proviand gate uit.

Almal op die paviljoen kyk dan na my ma asof sy 'n engel gestuur is van die hemel, 'n perfekte ma wat tyd en krag het vir alles. Min wis al die ander ooms en tannies hulle kinders gaan nou deurloop as referee ‘Jannie-se-ma’ aan die skreeu gaan. Wanneer my ma dan begin skreeu, of ‘cheer’ (wys aanhalingstekens) soos sy dit noem, raak die paviljoen skoon omgekrap, onrustig, en ons skool se ma's kompeteer met mekaar om te sien wie kan die hardste bulder.

“Jannie! Kry daai PEEP bal nou!”

“Alex, jy kan mos sien jy moet keer!”

“Maggies, Piet, mooi so seun kry hom!”

“Daardie PEEP ref moet oppas ek klim nou hier af!”

En dan begin die ouens in my span weer kliphard speel vir al die skreeuende ma's.

Julle wonder seker hoekom ek so aangaan oor my ma en rugby? Wel, eintlik is ek baie trots. Terwyl ander ma’s koekies bak, naaldwerk doen en hulle naels verf (maak asof hy naels droog blaas), staan my ma soos Victor Matfield (tel weer die rugbybal op) en bulder vir ons om harder te probeer, sodat ons goed doen, sodat ons die oormag kan wen met 'n bietjie probeer.

Maar om 'n lang storie kort te knip ('n kort pouse). Ons het toe die trofee vir die beste rugbyspan hierdie seisoen gewen. En ‘tannie-Jannie-se-ma’ was in die skare besig om kliphard saam met die ander ma’s te juig.

En wat sê ek, Jannie, as mense my vra hoe ek kaptein gaan word van die Springbokke?... (gooi bal weer op en af )

Ek sê doodeenvoudig (trek sy skouers op): Want my ma hou van rugby.


Kopiereg: Kimon Fritz 2016

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Kimon Fritz. Kimon is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.

Kopiereg Kimon Fritz.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016