2016-07

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Net nog 'n bietjie
Mieke Hofmeyr

Titel: Net nog 'n bietjie

Monoloog: 15+; Gr 10-12

Karakter: 16-jarige meisie wat baie onseker en negatief oor haar voorkoms is.

Stel: 'n Lang spieël wat regs agter op die verhoog staan. 'n Stoel langs die spieël met 'n grimeringsakkie op. In die grimeringsakkie moet swart oogskadu, donker lipstiffie en blosser wees. 'n Kapstok met kledingstukke staan aan die ander kant van die spieël. 'n Kombers met 'n paar kussings links voor op die verhoog wat kan dien as 'n bed.

Kostuum: Sy begin met 'n eenvoudige wit hemp, denim en kaalvoet. Op die kapstok hang 'n serp, 'n leerbaadjie, 'n hoed en 'n paar lang stringe pêrels. 'n Paar silwer hakskoene staan aan die onderkant van die kapstok. Sy trek die klere stelselmatig aan soos wat die stuk vorder en dit aangedui word in die teks.

Net nog 'n bietjie

Sit op die kussing en kombers met 'n dagboek en pen in die hand.

Ek haat dit as my ma dit vir my sê. (Maak haar ma se stem na) “Jy is so mooi my kind. Die seuns gaan nog eendag tou staan vir jou.”

Asseblief, as ek regtig so mooi was, sou iemand anders as my ma dit al raakgesien het. Ek weet ma’s is verplig om sulke goed vir hul dogters te sê om hul selfbeeld 'n hupstoot te gee. Too bad ek weet dat dit net een groot leuen is.

Roelien Strauss is mooi. Charlize Theron is mooi. Lisa du Preez is mooi. Lisa du Preez… Sy het wragtig met haar perfekte lyf heel voor in die ry gestaan toe looks uitgedeel is en niks vir mense soos my oorgelos nie.

Watter normale mens lyk soos 'n supermodel in skoolklere? Ek lyk soos 'n sak aartappels wat permanent 'n bad hair day het. Geen wonder seuns kyk nooit twee keer na my nie. Hulle oë is altyd vasgenael op Lisa en sy draai hulle om haar pinkie met net een swaai van haar bloedrooi hare en klokkielag.

(Skryf vir ʼn ruk in stilte. Hou op skryf en staar vir 'n paar sekondes voor haar uit. Staan skielik op.)

Nog 'n ding wat my irriteer is die feit dat alle seuns klaarblyklik net een tipe het: Porseleinfyn gesig, stywe boude en waatlemoen boobs. Regtig?! Ons kan nie almal soos dit LYK nie.

More is dit Ingrid se Sweet 16. Ek weet dat ek waarskynlik weer die een gaan wees wat net eenkant sit en kyk hoe almal kuier en dans. Lauren sê altyd dis my eie skuld is, sy sê ek sonder myself af. Dis regtig nie my skuld dat ek die flirting vermoë van 'n goudvis het nie. Hoekom leer hulle nie eerder dit vir mens op skool nie? Hoe gaan wiskunde my help om 'n kêrel te kry?

(Gaan staan voor die spieël en bestudeer haar lyf)

Ek lyk regtig soos 'n Sorry Suzie. Ek is seker mense voel sleg vir my as hulle sien dat ek soos die before foto van 'n grimering-advertensie lyk. My kroesie hare lyk asof ʼn vlermuis daarin nes gemaak het, maak nie saak hoe ek dit vasmaak nie.

(Beweeg weg van spieël) Dit is hoekom ek altyd eenkant sit by partytjies. Ek het vriendinne, maar hulle het almal kêrels en wie sal my kies bo jou aantreklike kêrel? Ek sal nie eers myself kies nie.

(Loop na die kapstok, trek die serp en pêrels aan, agter om die spieël)

Ek het nooit gedink ek sal dit sê nie, maar Ingrid se Sweet 16 was amazing! Ek het voor die tyd na Lauren se huis toe gegaan en sy het my hare vir my gedoen en bietjie grimering vir my aangesit. Ek het nog nooit grimering gedra nie, maar dit het gisteraand die ouens soos nerds na 'n Star Wars fliek gelok. Ek het die hele aand lank gedans en gekuier en elke oomblik was net fantasties!
(Gaan sit op bed en tel dagboek op.)

Hierdie hele tyd het ek nog probeer op om my eie mooi te lyk, maar wie wil natural beauty hê as jy grimering as jou geheime wapen kan inspan! Ek het Mamma oorreed om vir my ʼn hele nuwe make-up stel by Mac te koop en nou kan ek nie wag vir die volgende partytjie dat ek my nuut ontdekte kunsmatige skoonheid kan afshow nie! (Skryf in dagboek) Ek sien baie blomme en sonskyn wat vir my voorlê.

(Gaan lê vir ʼn paar sekondes, sit dan regop en strek soos as mens wakker word. Staan op en loop na kapstok. Sit hoed op. Haal grimering uit sakkie. Sit bietjie lipstiffie, oogskadu en blosser aan. Loop dan agterom spieël.)

Ek het nie gedink dinge kan nog beter raak as wat dit was na Ingrid se partytjie nie, maar dit het. Conrad, wat sonder twyfel die mooiste ou in die skool is, het pouse by my kom sit en my genooi vir koffie die naweek! Ek gaan uiteindelik op 'n regte date en nie saam enigiemand nie, saam Bergkruin se eie Zac Efron ewebeeld, iemand wat nooit voorheen eers twee keer in my rigting gekyk het nie. Ek het nog nooit in bonatuurlike kragte geglo nie, maar ek het beslis my goeie feë gevind en haar naam is Mac make-up. Dalk as ek net nog so bietjie meer aansit kan 'n date dalk in ʼn eerste soen verander.
 
(Loop gretig na die spieël, sit nog blush en eyeshadow en lipstiffie aan. Trek hoë hakskoene en baadjie aan en loop agterom die spieël.)

Koffie saam met Conrad was perfek. Hy het vir my gesê ek lyk sexy en hy het my nog nooit so gesien nie. Aan die einde van die aand het hy my hand vasgehou terwyl ons huis toe stap en my ʼn drukkie gegee toe ons by my huis aankom. Saterdagaand hou Jaco sy 16de verjaarsdag en Conrad het gevra of ek saam hom sal gaan. Ek sal so klein bietjie meer grimering aansit, net om by die aandfunksie te pas.

(Loop na spieël, sit nog eyeshadow, blush en lipstiffie aan, dat dit oor die lyne gaan en slegter begin lyk.)

Die aand was perfek. Conrad het my leer sokkie en het net gelag as ek op sy tone getrap het. Hy het vir my ’n koeldrank gekoop en later die aand toe vra hy vir my of ek bietjie saam hom op Jaco-hulle se plot vir gaan stap. Ons het weg van die partytjie afgeloop en langs die dam gaan sit. Conrad het gesê hy is mal oor my nuwe look en dat hy spyt is hy het my nog nooit raakgesien nie en toe soen hy my. Dit was net perfek. Vanaand gaan ons ’n fliek kyk, so ek moet begin regmaak.

(Kry wilde kyk in oë. Loop na spieël, sit nog meer makeup aan, loop om spieël. Herhaal dit twee keer en sit die grimering elke keer meer wilde en dringend aan. Na die tweede keer kyk tevrede na haarself in die spieël, loop stadig om spieël en loop dan na die middel van die verhoog.)

Nou lyk ek beter. Conrad sal nie anders kan as om my nou lief te hê nie. Die grimering is my towerstaffie wat my omskep het in 'n Hollywood superster. Wie ook al gesê het die vere maak nie die voël nie, was beslis hoog en dronk op dieselfde tyd, want sonder jou vere is jy niks, jy is onsigbaar, niemand sien jou nie, niemand gee om nie. Dis die vere wat jou raakgesien laat word, die vere wat jou maak. Dalk nog so 'n bietjie, net vir veiligheid…

(Loop terug na spieël en tel weer die lipstiffie en blosser borsel op. Ligte gaan stadig af terwyl sy nog meer grimering aansit.)


Kopiereg: Mieke Hofmeyr 2016

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur
Mieke Hofmeyr. Mieke is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg Mieke Hofmeyrr.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016