2013-06-15

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Oproep
Arno Yacumakis

Monoloog: Graad 8 -12
Karakter:
Edwin, 'n sestienjarige seun.
Stel: Toneel speel af in Edwin se slaapkamer. Daar is net 'n bed op die verhoog. slordig opgemaak. Op die bedkussing lê 'n duur selfoon.

Oproep

(EDWIN LOOP STADIG OP EN AF IN SLAAPKAMER TERWYL HY AFKYK. LYK DIEP INGEDAGTE.) Vandag is die dag. Dis dié dag. (HAAL DIEP ASEM EN BLAAS WEER UIT.) Oor 'n paar minute gaan ek haar sê.

(VAL NEER EN LÊ OP DIE BED.) Dis nou al twee maande wat ek my gevoelens vir myself hou. (KORT POUSE.) Maar hoe sal sy daaroor voel? Ek wonder of sy ooit aan my ook dink.

(SIT DAN REGOP EN VAT SY SELFOON VAN KUSSING AF. KYK NA SELFOON.) Ek hoop nie dis weird dat ek haar nommer moes gaan opsoek nie. Maar hoe sou ek dit ook nou andersins in die hande kon kry? (ONSEKER VAN HOMSELF.) Dis nie asof ek net eendag voor haar deur kan opdaag en sê "SURPRIZE!" nie. (SPRING OP SY VOETE MET 'SURPRIZE', MET HANDE IN DIE LUG GESTEEK.)

Miskien moet ek die gesprek nog net eenkeer deurwerk. (HAAL WEER DIEP ASEM EN LIG FOON TOT BY OOR) Hallo, Marie?

(LAAT SAK DIE FOON WEER. PRAAT INGEDAGTE.) Marie... Dis soortvan 'n – 'n plain naam. Ek wonder wat sê dit van haar. See van bitterheid, (KORT LAGGIE) dis wat Google sê die naam beteken. Dit maak seker sin, aangesien sy-

(STAAR 'N RUK LANK IN DIE VERTE. SKUD DAN KOP EN BEGIN WEER RONDLOOP.) Maak nie nou saak nie. Komaan, fokus nou! (LIG WEER FOON TOT BY OOR.) Hallo, Marie? Dis Edwin wat praat. Jy ken my nie eintlik nie, maar ek's seker jy behoort my te onthou.

(LAAT SAK FOON) Nee. Dit kan haar dalk onder druk laat voel. Net-nou druk sy die foon in my oor dood as sy 'n onbekende naam hoor. Dalk bel sy die polisie. (STAAN ONGEMAKLIK EN VRYF SY REGTERARM)

Nou's jy sommer simpel man! (HY LYK ONTSTELD MET HOMSELF.)

Sy is net nog 'n normale persoon (KALMERENDE STEMTOON. BEGIN DAN PRAAT MET TROTS.) Ek is die kaptein van Waterkloof se onder sestien rugbyspan. Ek was al twee keer in 'n nasionale debat finaal en ek speel vir die SA onder negentien krieketspan. Daai ouens boul teen 130 km/h! (MAAK DIE BOULAKSIE NA.) Hierdie gesprekkie is niks om voor bang te wees nie, Edwin.

(GEFRUSTREERD.) Ugh! Dis die probleem om met 'n blerrie vroumens te praat. Jy weet nooit hoe hulle gaan reageer nie.

(SAK WEER OP SY BED NEER. PRAAT SAG EN VOL EMOSIE.) Hoe sê mens vir so iemand jy dink sy is spesiaal en jy wil graag tyd met haar spandeer, uitvind wie sy is? Sy mag dalk nie in my belangstel nie, (VRYF 'N HAND DEUR SY HARE) maar ek moet darem probeer.

(HAAL WEER DIEP ASEM.) Okei, okei. Laaste keer. (LIG DIE FOON STADIG NA SY OOR.) Hallo, is dit Marie wat praat? (MAAK OF HY LUISTER.) Dis Edwin. Jy ken my nie regtig nie, en ek ook nie vir jou nie, (MAAK ONGEMAKLIKE BEWEGINGS, SOOS OM AAN KLERE TE VROETEL) maar uhm, ek dink ons altwee weet van mekaar. Uhm, ek verjaar vandag en bel net om, uh, te sê ek's lief vir jou en ek wil jou graag sien en-

Ag vrek man! (GOOI FOON ONSTELD LANGS HOM NEER OP DIE BED. KYK OP, MOEDELOOS.)

Wat gaan aan met my?! Ek het hierdie hele oproep nou-nou nog onder knie gehad! (VAT DIE KUSSING EN GOOI DIT EENKANT TOE MET AL SY KRAG.) Hierdie is belangrik, Edwin, jy mag dit nie opmors nie!

(SIT 'N RUK LANK EN DINK, HAAL OOK HARD ASEM. TEL DIE FOON OP EN STAAR NA DIE SKERM. BEGIN DAN MET DIE FOON PRAAT.)
Vandag is dit sestien jaar gelede wat jy my weggegee het om aangeneem te word. Ma en Pa het my vyf maande terug daarvan vertel. (POUSE.) Dit het nogal lank gevat om te verwerk, maar ek verstaan hoekom jy dit gedoen het. My ouers het jou omstandighede aan my verduidelik, dat jy skaars genoeg geld gehad het om vir jouself te sorg terwyl jy swanger was, maar dat jy my nie wou laat aborteer nie omdat jy te lief was vir my. (POUSE. LAAT SAK FOON STADIG TOT OP SKOOT, MAAR HOU DIT STEEDS VAS. PRAAT DAN ASOF IEMAND VOOR HOM STAAN.)

Ek was natuurlik kwaad vir 'n hele ruk lank, baie kwaad. (ONTSTELD.) Hoe kon jy lief wees vir 'n glips? En wat sê dit van my as my eie ma, my regte ma, dit nie die moeite werd geag het om my te hou nie?

(POUSE. WEER KALMER.) Ek het darem uiteindelik besef dat jou besluit 'n onmenslike moeilike een was om te maak. Jy het vir my die beste gedoen wat jy op daardie stadium kon. Vandag is ek so bevoorreg om 'n gesin soos hierdie te hê, die een aan wie jy my toevertrou het. (GLIMLAG) Dankie dat jy my lief genoeg gehad het om my te laat gaan.

Dit het my 'n hele maand gevat om jou nommer op te spoor, en nog een om te besluit oor wat ek gaan sê wanneer ek met jou praat. Ek wil eintlik maar net sê: As dit okei is met jou, sal ek jou graag wil ontmoet. En ek is lief vir jou.

(LANGERIGE POUSE. LIG DIE SELFOON WEER TOT BY OOGHOOGTE EN TIK DAN 'N NOMMER DAAROP IN. DIE KNOPPIES 'BLIEP' SOOS HY TIK. HY BRING DIE FOON NA SY OOR TOE EN DIT LUI HOORBAAR.)

(LUISTER.) Hallo, Marie? (STAAN OP EN LOOP VAN VERHOOG AF.) Dis Edwin wat praat... (HOU AAN PRAAT TOT AGTER GORDYNE.)


Kopiereg: Arno Yacumakis 2013

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Arno Yacumakis. Arno is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.

Kopiereg Arno Yacumakis.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013