bygewerk 2004-08-01

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Perfek
Elzebet Venter, Annelize Esterhuizen, Karen Kleynhans

Monoloog: Gr 8-10
Karakter:
Die karakter is 'n graad 11 hoërskool meisie, sy is ooglopend perfek. Sy is mooi, populêr, slim, kreatief, vriendelik en almal wil presies soos sy wees.
Sy het skoolklere aan, asook 'n ere-baadjie met 'n ry balkies op. Haar rompie is net effens te kort. Sy het ook 'n irriterende gewoonte, sy vroetel gedurig in haar nek.
Stel: Daar is 'n stoel in die middel van die verhoog, verder is die verhoog leeg. Sy het 'n boeksak by haar, waarin daar 'n spieël, 'n botteltjie wit poeier en 'n bankkaart moet wees

Perfek

(SY KOM INGESTAP IN HAAR SKOOLDRAG MET HAAR BOEKSAK OOR HAAR SKOUER. SY SIT DIE SAK LANGS HAAR STOEL NEER EN TREK HAAR ROMPIE REG VOOR SY GAAN SIT. SY SIT MET HAAR HANDE NETJIES OP MEKAAR EN HAAR BENE OOR MEKAAR GEVOU.)

Ja, meneer, dis reg meneer, ek sal seker maak dit word gedoen, meneer.
(SY SUG EN KLAP HAAR TONG, ROL HAAR Oë EN VROETEL IN HAAR NEK.)
Wat sal hulle tog sonder my doen? 'n Mens sal sweer daar is geen matrieks nie, so word alles op my afgeskuif. Ou Pottie het my vandag al weer gevra om die kunsuitstalling te organiseer. Hallo! Ek het 'n lewe! Daar's beter dinge wat ek met my tyd kan doen. (SUG) Maar daar's anyway niemand anders wat dit sal kan reg doen nie. Hulle sê mos altyd, as jy iets gedoen wil hê, doen dit self.

Hoekom die nerds nog die moeite doen om deel te neem, gaan my verstand te bowe. Ek wen in any case elke jaar. Dis net soos skoolwerk. Daar's soos in nul kompetisie! (Sê AMPER SIMPATIEK) Ek weet nie hoekom sukkel hulle almal so nie. Selfs Stefanie irriteer my partykeer, en ons is so (KRUIS HAAR WYS- EN MIDDELVINGER). Sy sê sulke dom goed. Soos nou die dag... sy het nie 'n clue wat 'n Chelsea-bun is nie. Hallo! Mens noem dit nie meer Paasbolletjies nie!
(SIT EN DINK VIR 'N OOMBLIK)

So gepraat van Paas; ons het nou die dag 'n pa en dogter aand by die skool gehou. Almal het gedink ek het 'n oulike idee gehad om bietjie die pa's te betrek. Ek het gesorg dat die saal fantasties lyk. Dis net jammer Pappa...

(HAAR GESIG VAL EN SY IS VIR 'N OOMBLIK STIL, SY VROETEL IN HAAR NEK. ASOF SY IETS ONTHOU, BEGIN SY RONDKRAP IN HAAR SKOOLTAS VIR HAAR SPIEëL. SY HOU DIE SPIEëL VOOR HAAR AFGEHALE GESIG, SODAT DIE GEHOOR DIT NIE KAN SIEN NIE. AS SY HAAR LYF DRAAI, SODAT DIE GEHOOR WEER HAAR GESIG KAN SIEN, HET HAAR GESIG WEER 'N GLIMLAG OP. SY DRUK HAAR HARE MOOI REG EN SIT DIE SPIEëL OP HAAR SKOOT NEER. SY KYK WEER NA DIE GEHOOR EN GLIMLAG.)

Ons het die naweek die Derby gewen en ek moes die beker gaan ontvang as netbalkaptein. Riaan moes die rugby-beker gaan haal het. (KORT POUSE) Ek dink ons gaan 'n cute couple maak op die matriekafskeid. (SIT DIE SPIEëL TERUG IN TAS) Ek gaan definitief iemand anders kry om my rok te maak, tannie Marie weet nie wat sy doen nie. Hierdie keer is dit Marc&Michael of niemand! Tannie Marie het 'n probleem met some, laas jaar het ek amper my nek gebreek. Daai rok was soos die duiwel, hy probeer jou die heeltyd trip.
(SY VROETEL IN HAAR NEK.)

Volgende jaar moet alles perfek wees wanneer ek die vloer moet open as hoofmeisie. Ek hoop ek doen beter as die huidige hoofmeisie. Hierdie jaar voel soos 'n ewigheid, die prefekte het geen beheer nie! Hulle probeer die heeltyd pêlle wees met die jonger kinders. Hulle kuier elke naweek saam, dis hoekom hulle nie dissipline kan handhaaf nie.
(SY STAAN OP EN STAAN LANGS DIE STOEL.)
Dis nie asof ek nie join in die fun nie, my lewe is 'n jol! Dis die een party op die ander, die uitnodigings hou net nooit op nie! So much to do, so little time... Te minste sukkel ek nie ook nog met geld nie.
(DRENTEL NA DI E ANDER KANT VAN DIE VERHOOG)

Ek wens net Stefanie wil ophou geld leen. Elke pouse is dit geld, geld, geld. Sy koop net kos elke pouse en vreet asof haar lewe daarvan afhang.
(GEE 'N SARKASTIESE LAGGIE)
En mense wonder hoekom bly sy so maer.
(BETERWETERIG)
Hoekom dink jy is sy die heeltyd in die badkamer?
(LOOP TOT AGTER DIE STOEL EN HOU VAS AAN DIE RUGRELING.)
Almal dink sy is so normaal, maar meanwhile, back at the ranch...
(NA-AAP 'N OPBRING BEWEGING EN GELUID)
Is sy besig om haarself te vernietig. Die arem ding het geen self-esteem nie!
(KORT POUSE)
Shame, miskien kan sy net nie die druk hanteer nie...

(SY GAAN SIT OP DIE STOEL EN HAAl HAAR SPIEëL UIT, KYK VLUGTIG NA HAARSELF EN HAAL 'N BOTTELTJIE WIT POEIER UIT HAAR BAADJIESAK. SY GOOI DAARVAN IN 'N SMAL ZIG-ZAG PATROON OOR DIE MIDDEL VAN DIE SPIEëL. SY HAAL HAAR BANKKAART UIT EN BEGIN DIT IN NETJIESE RYTJIES SKRAAP. DIE GORDYNE GAAN TOE TERWYL SY BESIG IS OM AF TE BUK, MAAR IS TOE VOORDAT SY SNUIF.)


Kopiereg: Elzebet Venter, Annelize Esterhuizen, Karen Kleynhans

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012