2017-12

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Selfoonmoord
Michelle van der Merwe

Monoloog: 15+

Karakter: Die karakter is ʼn matriekseun wat ʼn motorongeluk sien gebeur het. Die ervaring was vir hom traumaties, selfs al was hy net ʼn toeskouer. Hy is besig om ʼn verklaring aan die polisie te skryf. Hy het sy skooldrag aan met ʼn netjiese skoolbaadjie. Hy staar voor hom uit soos die gebeure weer in sy gedagtes afspeel.

Stel: Daar is ʼn stoel en lessenaar in die middel van die verhoog met ʼn pen en papier. Daar skyn ʼn kollig op die seun sodat dit voorkom asof hy in ʼn ondervragingslokaal by die polisiestasie sit. Daar staan ook ʼn glas water op die lessenaar.

Selfoonmoord

(Die kollig verlig die verhoog. Hy sit by die lessenaar, hande in sy hare met ‘n bleek, moedelose uitdrukking op sy gesig. Hy kyk op, kyk weer af en tel die pen op en begin hardop dink.)

Dit voel asof ek al vir ure lank hier sit. Die gebeure speel oor en oor in my gedagtes af, soos ʼn ou platespeler wat gebreek het en vashak op die een rif van die plaat. (Hy bewe effens.) Ek kry so koud, maar ek weet nie of dit as gevolg van skok is, of omdat die vertrek dalk werklik so koud is nie. Ek sukkel om tred te hou met die realiteit. (Hy sit vir ʼn rukkie stil en staar net voor hom uit.) Ek het gehoop dat ons saam eendag polisiestasie toe kon gaan, nie omdat ons in die moeilikheid was nie, maar om van ons ander vriende se borgtog te betaal. Nooit sou ek kon dink… (Hy vee sy oë stadig af.)

Dit was seker sewe uur vanoggend gewees. Soos gewoonlik het ek verslaap en het vinnig geloop om betyds by die skool uit te kom.
(Hy dink met die pen se doppie in sy mond.)
Ons bly so drie blokke van die skool af, maar ek hou daarvan om vroeg te wees. As mens vroeg genoeg opdaag kan jy die skool se wifi gebruik, en ek hou daarvan om op Instagram te kyk wat in die wêreld van die beroemdes aangaan. Min het ek geweet dat ek op ʼn groter ongeluk as “Brangelina” se skeiding sou teëkom.
(Vee sy oë af.)

Ek het nie geweet dat bome bakkies middeldeur kan breek nie, nog minder mense…

(Hy tel die pen op en begin skryf.)
Wit Toyata Hilux.
2014 model.
Een bestuurder, een passasier.
Een manlik, een vroulik.  
Hy het die stuurknoppie met sy duim getref, en toe die boom.
(Hy haal diep asem, en blaas dit hard uit.)

Hy was ʼn sportster, akademiese uitblinker, ʼn uitstekende leier… (Kort stilte.) En my beste vriend. Die uitdrukking op sy gesig, dis die een wat verewig by my sal spook. Dit is vasgebrand in my gedagtes.
(Hy vat ‘n slukkie water en staar voor hom uit.)

(Hy lag saggies.) Hy het net laasweek sy bestuurslisensie gekry. Ek onthou nog hoe ek hom gespot het oor hoe hy die instrukteur omgekoop het. Sy pa het hom belowe dat hy wiele van sy eie sou kry as hy sy lisensie het. Nou staan sy droommotor nog in die vertoonkamer van Volkswagen Hatfield en wag vir hom om terug te kom, soos ek…

(Hy sit agteroor en staar na die dak.)
Sy sussie was self iets besonders. Sy was ʼn jaar jonger as ons. Toppresteerder in haar graad en ʼn puik skaakspeler. Nou lê sy in die trauma-eenheid van Medforum Hospitaal. Skaakmat. Die paramedici moes haar liggaam soos pione
oor die teerpad optel.
(Hy kry ‘n koue rilling en sy lyf ruk liggies.)
Hulle sê als gebeur met ʼn doel, maar wat kon moontlik die doel hiervan gewees het?

(Woedend.) Divan! Hoe kon jy? (Hy slaan met sy vuiste teen die lessenaar en gooi die stoel om.Huilend.) Jy was my beste vriend! En nou gaan ek jou nooit weer sien nie! Wie was so belangrik? Wie het jou aandag afgetrek? Wat gaan ek nou doen? Al ons planne, universiteit, alles is net so weggesmyt omdat jy roekeloos was! Ek kan nie sonder jou nie. Ons het alles saam gedoen. Ons het mekaar deur dik en dun gedra… Nou gaan ek net jou kis dra.

(Hy gaan sit op sy hurke. sy duime druk sy ooghoeke toe. Hy sug.)
Waarom moes jy op jou selfoon gekyk het? Jy het meer skade gemaak as net om die boom om te ry. Divan, waarom Divan?

(Hy tel die stoel regop en gaan sit weer.)
Ek mis jou, en ek wens ek kon iets doen om
dit te keer. Ek is jammer my maat, ek is jammer…

(Hy skuif die papiere reg op die lessenaar. Hy lees aandagtig wat hy geskryf het.) Ek weet nie of ek meer detail sal kan gee nie. (Hartseer.) Alles het so vinnig gebeur. Ek wil net skryf wat julle vir my beteken het, Divan. Jy en Jana. Ek wens ek kon nog net vir een dag weer met jou gesels, jou vroegtydig waarsku, jou probeer red. Al wat ek van jou oor het is ʼn polisieverklaring. Ek hoop ek sien jou eendag weer.

(Die gordyne trek toe terwyl hy op sy arms gaan lê en onbeheerbaar begin huil.)


Kopiereg: Michelle van der Merwe 2017

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Michelle van der Merwe. Michelle is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.

Kopiereg Michelle van der Merwe

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2018