2015-06

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Skaduwees
An-Mari Fouché

Monoloog (met 'n skaduwee) : graad 10 - 12

Karakters: 

‘n Vrou van ongeveer 35, formeel aangetrek. Beweeg rond soos sy praat. Baie nostalgies, tog gedetermineerde persoon.

Vyftienjarige meisie, gewone klere. Hare eers in ’n deurmekaar poniestert en later korter en meer netjies.

Stel:  Op die regterkant van die verhoog is twee enkelbeddens; foto’s en ’n plakaat van die Eiffeltoring is teen die muur geplak – tipiese jongmeisie slaapkamer. Op die linkerkant is ’n podium en ’n tafel met ’n trofee op.

Rekwisiete:   Pistool, opgevoude nota, trofee.

Skaduwees

(lig gaan links op verhoog aan; vrou staan by podium)

(slegs die vrou praat in die stuk)

VROU:  Ek was vyftien toe my tweelingsuster voor my oë deur ’n dronkbestuurder vertrap is. Ek het gesien hoe die slag haar rug in die helfte deur breek. Ek het gehoor toe haar skedel vergruis word deur die wiel wat oor haar kop ry en ek het gesien hoe dit oopbars en... en als...

Hoe herstel ’n mens daarvan? My ander helfte is skielik net weg. Ek het gevoel soos iemand wat skielik in die hospitaal wakker word en agterkom haar arms en bene is afgesaag. Hoe oorleef mens dit? Ek het amper nie.

(lig gaan regs aan, meisie sit alleen op haar bed en hou iets wat mens nie kan sien nie op haar skoot vas)

Ek was nie begrafnis toe nie. Dis nie omdat ek nie wou afskeid neem nie – inteendeel, ek was gereed om van almal afskeid te neem.

(meisie hou voorwerp op – dis ’n pistool)

Ek het my pa se pistool uit die kluis gehaal en dit vasgehou soos ’n kind ’n duif sal vashou. Ek was al klaar dood, so ek kon dit net sowel amptelik maak.

(meisie haal pistool oor, druk teen slaap)

Ek was gereed om die skoot te trek. Ek was kalm, my hande het nie gebewe nie. Ek kon nie wag vir die verligting wat dit sou bring nie – die heerlike niks!

(pistool val uit meisie se hand uit)

Die pistool is uit my hande uit geklap en op dieselfde oomblik het ek ’n stem hoor skree “Moenie!” Dit het geklink soos my eie stem maar ek het nie ’n woord gesê nie. Ek het begin skud en opgestaan om die pistool op te tel, toe sien ek ons gesinsfoto teen die muur raak. Die foto was net ’n paar weke vroeër geneem. My ouers, ek en my suster – laggend en gelukkig in ’n fotoraam.

(meisie staan op, skop pistool raak, harde skoot gaan af)

Die koeël moes seker teen iets vasgeskiet en teruggespring het, maar al wat ek weet is dat daar skielik ’n gat in die foto was -

(meisie haal foto van muur af, kyk daarna)

- ’n gat wat my en my suster se koppe uitgeskeur het. Toe ek dit sien is dit asof ek ook in twee skeur. Ek het na die foto gekyk en toe ek my ouers alleen daar sien kon ek dit nie meer hou nie.

(meisie hardloop uit, lig gaan af)

Ek kon hulle nie alleen deur die dag laat gaan nie.

Daardie dag was die eerste van ’n lang string gebeure wat ek nooit kon verklaar op ’n manier wat menslik sin maak nie. Al waaraan ek kon dink is dat my suster op een of ander manier by my gebly het. Ek het nooit vir enige iemand vertel wat daardie dag gebeur het nie, want dit was net te vreemd. Ek het myself later oortuig dat dit my verbeelding was – die geweer het maar net geval, die stem was in my verbeelding.

’n Paar jaar later was ek klaar met skool. My suster was altyd die slim een gewees, die uitblinker. Ek was tevrede daarmee om in haar skaduwee te bly leef vir die res van my lewe maar toe sy dood is was ek skielik doelloos. Ons plan was altyd om saam te gaan studeer en dan ’n besigheid te begin. Maar ek het drome gehad – geheime drome van die wêreld deurreis en foto’s neem en boeke skryf. Ek het eintlik al daarvan vergeet – toe gebeur daar nog ’n vreemde ding.

(lig gaan aan, selfde kamer met net een bed, selfde meisie – net ouer – besig om tasse te pak)

Ek was besig om te pak vir universiteit toe ek die brief van my suster kry. Hoe dit daar gekom het weet ek tot vandag toe nie, maar ek het al geleer om nie hierdie ‘gebeurtenisse’ te veel te bevraagteken nie.

(meisie kry brief in laai, gaan sit op bed en lees.)

Daar was nie ’n datum by nie en dit was ook nie ’n lang brief nie. Eintlik meer van ’n nota.

(vrou haal stukkie papier uit sak en vou dit oop)

“Die skaduwee het verdwyn. Die son skyn nou op jou. Gaan leef jou lewe – gaan wys die wêreld wie jy is! Moenie ’n dooie droom probeer bewaar nie. Gaan wys hulle wat jy het om te gee.”

(meisie sit brief op bed neer en stap uit, lig gaan af terwyl vrou brief weer bêre)

Ek het gaan werk en geld gespaar om oorsee te gaan – Frankryk toe. En my hele lewe lank was sy daar. Nie alles was so dramaties soos daardie eerste dag nie, maar sy was daar in die klein dingetjies – klein ‘toevallighede’ wat ’n mens net nie kan verklaar nie en net nie kan vergeet nie.

Sy was daar toe ek ’n verlore beursie kry en die eienaar my ’n R1000 se beloning gee – die presiese bedrag wat ek nog nodig gehad het vir ’n kaartjie Parys toe. Sy was definitief daar toe ek amper my vlug verpas het maar die vliegtuig as gevolg van “tegniese probleme” in elk geval laat was. Sy was daar toe ek in die laatnagtrein oor my eie voete geval het en amper bo-op ’n aantreklike ou beland het, en toe ons daarna so lekker begin gesels het dat hy my uitgevra het vir ete.

Sy was ’n konstante skaduwee, altyd by my. Altyd daar om my aan te moedig, om my te herinner aan iets wat ek vergeet het. Sy is nou meer deel van my as toe sy nog gelewe het.

Sy is ook vanaand hier. Ek voel haar aan in ’n manier wat ek nie kan verklaar nie. En as sy nie hier was nie dan sou ek ook nie hier gewees het nie.

(stap na tafel en tel trofee op)

Daarom, dames en here, wil ek ook hierdie toekenning vir “Reisfotograaf van die jaar” aan my suster opdra. Die skaduwee waarin ek gelewe het, het verdwyn en langs my kom staan – en so sal my ander helfte nog altyd deel van my wees.

(ligte gaan af; net die skadu’s van die vrou en ’n jong meisie wat die trofee vashou is sigbaar)


Kopiereg: An-Mari Fouché 2015

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur An-Mari Fouché. An-Mari is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.

Kopiereg An-Mari Fouché

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015