2017-12

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Is dit veronderstel om iets te beteken?
Natalie Thysse

Monoloog: 18+
Karakter:
Agtienjarige eerstejaar student. Sy dra ’n boheemse rok wat net so vier vingers bo haar knie stop. Sy het plat ooptoon sandale aan en haar hare wat neklengte geknip is hang los.


Stel: Die stuk speel op ’n warm somersaand af op ’n grasperk waar Christina sit. Die verhoog is donker en omring met swart lap, met net die gekleurde liggies wat soos sterre op die verhoog skyn. Op die verhoog sit Christina plat op die vloer besig om haar rugsak oop te maak.

Taal: Hierdie monoloog is ook in Kaapse streektaal geskryf - beskikbaar in fonetiese weergawe: Isit suppose o iets te mean?

Is dit veronderstel om iets te beteken?

(Sy sit op die gras besig om iets uit haar rugsak uit te haal. Nadat sy dit waarna sy gesoek het uitgehaal het, gaan daar net een lig aan wat gefokus is op haar.)

Ek het jou die eerste keer in die Ferdinand Postma Biblioteek gesien, ek het een van Mary Shelley se boeke gelees. Half nog so bang oor ek ’n eerste jaar is, half nog so hartseer oor ek so ver van die huis af weg is.

Ek moet my eie kos maak en probeer om so min as moontlik junk food te eet, ek moet sorg dat my wasgoed gewas is en dat dit skoon en netjies, in die kas gepak is. Net soos wat my ma geleer het.

Jy het my seker eerste gesien want ek het die swart T-hemp ’n paar maal uit die hoekie van my oog gesien verby loop en sy kop wat die heeltyd draai om te kyk wie agter die witbord sit.

Tot ek jou oog toevallig gevang het en jy so gebloos het.

Die sparks was everywhere, want ons het mekaar elke dag gesien en nog nie ’n woord vir mekaar gesê nie. Dit was asof iets vir ons altwee gesê het, sit vandag hier of sit vandag daar want om een of ander rede, waar ek was, was jy en waar jy was, was ek.

Ons was eens op ’n tyd in dieselfde kerk wat snaaks is.

Ons het eens op ’n tyd dieselfde bloublokkiehempies aangehad.

Is dit veronderstel om iets te beteken?

(frons)

Elke aand het ons ’n halfuur na-of voor mekaar van die biblioteek af geloop.

Is dit veronderstel om iets te beteken?

Ek raak soms baie jaloers wanneer ek jou in Lover's Lane sien met ander meisies kommunikeer en lekker lag terwyl ek dié ander persepsie van jou het.
Dat jy glad nie lag nie. Dat jy so ernstig is oor die lewe dat niks vir jou ’n grap is nie. Of dat niks en niemand jou laat glimlag nie.

Dis asof jy ook jaloers raak wanneer jy my in loverslane sien met ander seuns kommunikeer en lekker lag terwyl jy seker ook ’n ander persepsie van my het.

(rol haar oë)

Ons loop mekaar nooit toevallig raak nie.

Ons is altyd op voorspelbare plekke.

Ons doen elke dag dieselfde dinge en dis seker hoekom ons mekaar elke dag op dieselfde plekke sien.

Ons is elke dag in die bib, vir een of ander rede is daar seker nou nog ’n rede hoekom ons nie sommer die bib verlaat nie.

Ons hou mekaar elke dag dop, maar doen niks aan die saak nie.

Ons hou mekaar elke dag dop en dis waar dit bly.

Is dit veronderstel om iets te beteken?

Daar is party aande dan lyk jy so moeg, jou oë lyk te swaar vir jou gesig en jou lippe is ’n skakering van pers en rooi soos die kleur wanneer die dag breek. Jy is iets besonders uit die natuur.

(Sy begin opgewonde raak en begin vinniger en harder praat)

Ek tel letterlik die sekondes af en kan soms nie wag om net in die biblioteek uit te kom nie, ek kan gil van opwindendheid as daar gesê word ons gaan toets skryf want dit beteken ek gaan meer tyd in die bib spandeer.

(Praat weer stadiger en stemtoon keer terug na normaal toe)

Ek hoef jou nie te sien nie, ek kan voel wanneer jy in die bib is, ek kan voel wanneer jy inkom.

Ek kan voel wanneer jy die stoel uittrek en gaan sit en al jou skryfgereedskap uithaal.

Eerste ding wat jy gewoonlik doen is dat jy opstaan en maak asof jy toilet toe gaan maar eintlik wil jy net seker maak ek is teenwoordig.

Stry?

(Glimlag terwyl sy na die foto staar)

Ek het nie beplan om jou te ontmoet nie, soos ek sê dinge gebeur nooit toevallig wanneer dit by ek en jy kom nie.

Jou hande was yskoud en jou gesig ’n kombinasie van rooi en pienk. My hart het so vinnig soos die wêreldrekord wat Wayde Van Niekerk opgestel het, geklop.

Is dit veronderstel om iets te beteken?

My hele lyf was warm en ek het geweet dat ek ook rooi was.

Om jou hand in myne te kon voel was die vulsel in my lewe, daar het ’n gemoedsrus oor my gekom.

Ons wou nie loop nie, maar het ook niks gehad om vir mekaar te sê behalwe die dat jy net jouself aan my voorgestel het en vir my gesê het waarvandaan jy kom nie.

My naam het jy so mooi uitgespreek en jou glimlag het my herinner aan die keer toe Lover's Lane ’n bed van blare was.

(Sug en beweeg met haar vinger oor die persoon se gesig in die foto)

Ons kom van sulke verskillende wêrelde af. Ek kom van die suide van Afrika af en jy kom van midde Afrika af, hoe de hel is dit veronderstel om te werk?

(verhoog stemtoon)

Hoe de hel is dit veronderstel om te werk as dit jou vierde jaar en my eerste jaar is?

Doen jy dit met almal wie jy dink jy vir ’n gek kan hou?

Jy laat mense dinge voel wat hulle nog nooit eens gedink het bestaan nie en dan kom loop en vertel jy vir my dat dit jou laaste jaar is en dat jy van die midde Afrika is en dat…en dat jy…(gee ’n harde harde sug) en dat jy eintlik op trou staan.

Wat is dit veronderstel om te beteken?

Is dit jou idee van ’n grap?

Om te dink dat ek gedink het daar iets fout is met my, oor ek nooit eens na seuns gekyk het nie.

Nog nooit my hart vir iemand gegee het en daardie persoon dit vertrap het nie.

(Sit die foto voor haar bors en kyk op na die kleurvolle liggies wat op die verhoog skyn)

Nog nooit my eerste soen ervaar nie.

(Sy gaan lê op die naat van haar rug op die vloer en kyk na die kleurvolle liggies wat soos sterre skyn op die verhoog, die skerplig net gefokus op haar en die kleinkleurvolle liggies wat in die vorm van sterretjies in die lig hang.)

Ek het gedog jy is die een, ek het gedog dat ek jou Elizabeth en jy my Mr. Darcey is, soos in Jane Austen se Pride and Prejudice.

(Terwyl sy op die haar rug lê praat sy met die foto in haar hande)

Ek het gedog dat ek jou Anna en jy my Christian is, soos in E.L James se bekende boeke.

(Sy hou met beide hande vas en hou dit voor haar bors)

Is die feit dat ek jou met my hele hart verlang veronderstel om iets te beteken?

(’n Traan rol teen die kant van haar linkerkantste oog uit. Sy maak haar oë toe, terwyl die lig wat op haar gefokus was al hoe flouer en flouer raak totdat dit weer donker op die verhoog is en daar net kleurvolle liggies soos sterretjies op die verhoog skyn)


Kopiereg: Natalie Thyse 2017

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die monoloog is geskryf deur Natalie Thyse. Nathalie is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.

Kopiereg Natalie Thyse.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2018