bygewerk 2010-07

jongklomp
kollig


 

Kollig ... monoloog
Die wenspan se enigste ondersteuner
Jacques Cilliers en Joanie Liversage

Monoloog: Gr 8-12
Karakter:
Middeljarige man, passievolle klubrugbyondersteuner. Getrou aan sy span, uitgesproke, lief vir stories in kleur en beduie graag.
Verhoogplan: Een swart blok, middel van verhoog.

Die wenspan se enigste ondersteuner

(...) Dui 'n pouse ("spreekbeurt") aan.

(Begin agter blok praat, loop geleidelik om.) So daar sit ek, alleen verlede Saterdagmiddag. Stokflippensiel alleen! Ek het gedink ALMAL gaan daar wees. Klubrugby is nie klein nie, hoor! Die mense ruk vinnig hand uit. Ek dink toe by myself, vir SEKER gaan ek nie alleen daar opdaag nie. Ek meen, laas jaar het ons die cup gevat, en ek glo mos in my span! Dis hoogverraad as jy jou trui vir 'n ander verruil!


(...)
Wat? Ek sal NOOIT in my LEWE 'n Poublou trui dra nie!


(...)
Verlede Saterdag in die Spar?


(...)
Moes iemand anders gewees het! Nie ekke nie. Nooit nie, ek sê.
In elk geval, daar sit ek toe, Strelitzia en man-alleen, teen maklik 150 Draadkar ondersteuners. Bekommer ek my? Nooit, nie, nie ek nie. Nee wat.
(Sit op blok.)


Woes braaf, neem ek toe my plek op die Oos-Pawiljoen van Boland-Park in. Ek kry net harige kyke van die opponerende skare, maar ek worry mos nie. Ons weet wie is top of the log. Ons weet ook wie bly daar!


(...)
Ek's altyd vol vertroue. Wat noem hulle dit? BMT - "Big Match Temperament". Ons Strelitzias het dit. Elke keer.
Maar so is dit die afskop, en 'n vrotte van hul kant af. Ons vleuel, Blits Bester, raap die bal op beter as 'n netbalspeler, en hy flous helfte van die opponerende voorspelers met 'n giftige systappie. Die nommer veertien vleuel van die Draadkarre was wakkerder as wat ou Blits verwag het, en die vleuel tackle Blits dat hy hard hik. Gelukkig sien die ref hoe die vleueltjie Blits vuiste voer en hy ken darem 'n strafskop toe. Ons losskakel het vir vier jaar na skool klubrugby in Namibië gaan speel en sou saam Wêreldbeker toe gegaan het in 2007, maar hy het sy enkel buite 'n bar na die klubrugby finals daai selfde jaar lelik geswik.


(...)
Nee man, hy is 'n ordentlike ou. Designated driver tipe. Ieder geval, hy sit die bal deur die pale sonder om twee keer te mik of sy hande te vryf, terwyl die Draadkar ondersteuners hom en sy tokse uitjou.
(Pouseer, kyk of hy sy geselskap beïndruk het.)
Dié knaap het talent. Die keurders is net almal blind, want vet alleen weet hoekom hy nie twee kontrakte maandeliks kry nie! Na hierdie strafskoppie was die Draadkarre al klaar bietjie omgekrap, maar ek is nie geworry nie. Ek weet hoe my span speel en hulle gebruik meer as net hul spierkrag. Die eerste losgemaal is egter morsig. Die bal het verdwyn, maklik vir 'n halfminuut, en die ref klim in met sy fluitjie. Om een of ander rede het die bal gebars (onderlangs), met 'n fiets speek gesteek as jy my vra, en die spel word tydelik gestaak. Ons agtsteman en kaptein, Chris Venter, appelleer en word voor hy 'n dooie woord sê weggewys. Die manne lyk omgekrap en die Draadkarre lyk net plein moeg. Die spel word weer begin met 'n skrum en dis hier waar die Draadkar ondersteuners onsinnighede begin kwyt raak het. Die Draadkarre stoot ons bietjie terug, maar ons skrum hou.

Skielik skree ons loskop dat mý ore begin sing en die skrum swaai in die guns van die Draadkarre. Die bal is uit. Hy loop deur die skrumskakel, na die binne senter, na die vleuel: moeilikheid. Dis dieselfde vuil nommer veertien wat nou-nou Blits so benadeel het en daai man is vinnig. So vinnig dat hy ons vleuel laat lyk of hy draf! Die Draadkar ondersteuners begin sommer al klaar feesvier. Ek haal my hoed af. (Staan op, haal hoed af, loop na die voorverhoog.) Hierdie tipe ding gebeur nie al dag nie. Nes ek my hoed teen my bors vasklem, sweef Blits Bester soos 'n arend en duik die veertien by die kantlyn uit, net voor die vyf meter merk. (Beduie asof hy Blits is.) Blits staan op, maak sy kraag reg en gee die hele Draadkar span 'n lekker kyk terwyl hy liggies terug na sy posisie aan die ander kant van die veld draf.


(...)
Dit was beter as ou Danie se tackle teen Engeland in die World Cup Final, belowe! Soos wat Suid-Afrika verligting tóé gevoel het, so het ek gevoel. Die lynstaan gaan na ons kant toe, en ons heelagter lanseer die bal 'n goeie 60 meter veld af. 'n Netjiese hoppie uit verseker ons ingooi by die lynstaan en vol vertroue dat hier 'n drie oppad is, begin ek die pad snoepwinkel toe vat. (Stap na die ander kant van die verhoog.)

Ek kyk die wedstryd so veldlangs op pad daarna en ek sien dat die Draadkarre meer rond lyk, hoe nader ek aan hulle beweeg. Toe ek my worsbroodjie klaar bestel het, sien ek daar het nou wel nie punte gekom nie, maar dis halftyd. Ek maak my worsbroodjie klaar en oppad terug na my sitplek toe sien ek daar het tien Draadkar ondersteuners die sitplekke rondom myne ingeneem. Ek ruik toe al moeilikheid kom.

Hoe het hulle gelyk? (Beweeg na middel van verhoog, beduie.)
Wel, oor die algemeen lyk hulle maar lelik. Lekker olierige hare, nie van die Brille Creme nie, en snorre wat verby hul dimpels gegroei het. Hulle snorre doen eintlik die praatwerk. Die gemiddelde Draadkar ondersteuner besit ook net twee broeke: 'n Denim en 'n PT-broek. Hul hemde is óf die van politieke partye waarvan nie ek of jy al gehoor het nie, óf uitgewasde knopieshemde, oopgeknoop om tatoeëermerke of staalwol ten toon te stel.
Ek wou toe maar gaan kyk of enige mede ondersteuners al opgedaag het.

(...)
(Verontwaardig.) Nee, ek was nie bang nie! Ek wou... Koos van Zyl het my vroeër die week gebel om te hoor of ek die wedstryd gaan kyk, toe neem ek aan hy het die tye verkeerd gekry. Jinne! Bang. Tog! Toe ek niemand in die parkeerterrein sien nie, toe gaan kry ek vir my nog 'n worsbroodjie - jy weet mos hoe is daardie worsbrode. Die eerste een is net 'n lusmaker! Toe ek terug by die pawiljoen kom, het die son bietjie gedraai, en ek gaan sit toe bietjie hoër op die pawiljoen.


(...)
Ja, hulle het steeds daar gesit, maar dis hulle keuse om in die son te sit! Ek moet maar begin kyk na my vel, jy weet. Ek wil nie oor vyf jaar soos 'n leerhandsak lyk nie. Met die begin was dit egter 'n ander Draadkar span wat uit die kleedkamer gekom het, Ek kon hulle skaars herken! Daar was nuwe geesdrif onder die Draadkar ondersteuners, en dit was nie omdat die kroeg halftyd oopgemaak het nie. Maar die Strelitzias worry nie, want ons speel nie die man nie, ons speel die span! Die afskop van die Strelitzias was strategies perfek, maar die slotte van die Draadkarre was ewe skielik langer as ons s'n. Ons flanke was darem Springbok kwaliteit, so my kommer was nie te lank van duur nie. Toe ons ses flank egter met die bal opstaan en deur 'n Draadkar platgetrek word, begin ek wonder. Iets was nie pluis nie. Ons slotte staan op, een met 'n gebreekte arm, en die ander met 'n hinkepink soos 'n afbeen volstruis. Die Draadkar ondersteuners is op hul voete, en drie van hulle mik-mik na my kant toe. Dis nou wat my bloed begin kook het, want Strelitzias en hul ondersteuners is manne van eer. Ons staan nie vir onreg, of vuilspel nie.


(...)
Ek is ernstig! As 'n Strelitzia vuil speel, kry hy dit in die kleedkamer, en dan moet hy maar probeer sit op die bankie, as jy volg wat ek sê.


(...)
Braaiboud, slimmes. Bakoond braaiboud. Daai drie Draadkarre wat so na my kant toe gemik het, was nou oppad na my toe, en voor ek my kon kry, sit hulle langs my. Ek het nie 'n woord vir hulle te sê gehad nie, maar hulle was soos radio-omroepers! 'n Bye-korf! Ek was nou goed omgekrap, maar ek het besef ek is deeglik in die moeilikheid. Toe die Strelitzias vir 'n slag die skrum wen, maak ek keel skoon, en klap hande ter ondersteuning van die voorloper span. My handeklappery word egter verdoof deur die geskreeu van die nuwe "vriende" rondom my. Ek begin wonder of ek nie moet skuif nie, aangesien hierdie situasie op 'n slegter een afstuur. Ek weeg my opsies teen mekaar op, want hierdie een lyk by die oomblik meer gevaarlik.

Uit die bloute kom daar 'n Draadkar ondersteuner na my en gee my een van die grootste lemoene wat ek in my lewe al gewaar het. Ek kon toe nou nie vir die vyf vente in die gesig vat nie en begin toe maar skil. Laggend kry ek 'n paar klappe op die rug. Ek wonder al hoe meer hoe hierdie scenario gaan uitdraai. Dis die vreemdste ding - al wat ek wel kan onthou is dat die telling gelykop geëindig het en dat ons daarna toe nogal lekker saam gebraai het by die plaaslike hoërskool se lapa.


(Lang pouse volg.)


(...)
Was jy...? Was jy daar? Was jy een van... hulle? Was jy... ag nee man!


Kopiereg: Jacques Cilliers en Joanie Liversage

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Die tekste is geskryf deur Skryfkunsstudente aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012